Ek het Jans Rautenbach die eerste keer by die Kriterion-filmfees in Amsterdam ontmoet. Dit was Oktober 1995. Hy was daar om oor sy skitterende werk te praat. Jans het in ’n tyd toe sy tydgenote in die jare sestig Afrikaanse melodramas en romantiese musiekfilms vervaardig het, drie rolprente gemaak wat meer as 40 jaar later nog as baanbrekerswerk beskou word: Die kandidaat, Katrina en Jannie totsiens.
Gedurende die jare sewentig en vroeë tagtigs het nog films gevolg, wat uiteindelik ’n besonderse oeuvre vorm. Jans se nalatenskap is sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse filmkuns as ’n vernuwer en ’n ware skrywer-regisseur. In al sy rolprente het hy die medium gebruik vir sy persoonlike wêreldbeskouing en het hy vrae gestel oor wie en wat die Afrikaner is. Hy was ’n Afrikaner wat van binne die Afrikanergemeenskap krities na die gevolge van apartheid gekyk het. Hy was ook ’n humanis wat besef het hoedat die apartheidsisteem talle van sy medemense van hul menswaardigheid beroof het. Rolprente was vir hom ’n kunsvorm, op dieselfde vlak as die ander kunste. Dit was ’n merkwaardige nuwe benadering tot die Afrikaanse filmkuns. Hoewel filmmakers soos Joseph Albrecht met Moedertjie (1931), Pierre de Wet met Geboortegrond (1946) en Jamie Uys met Daar doer in die Bosveld (1951) belangrike bydraes tot die ontwikkeling van die Afrikaanstalige filmkuns gemaak het, was die klem steeds op vermaak. In die geval van Rautenbach het die klem op selfuitdrukking geval, om die filmmedium te gebruik as die spreekwoordelike auteur.
Jans het instinktief gewerk. Hy het nie ’n geskiedenis gehad van hoe dit gedoen moes word nie. Hy het geen filmervaring of filmkennis gehad nie. Hy het nie blootstelling gehad aan ’n internasionale filmkultuur wat groot name en auteurs soos Ingmar Bergman, Michelangelo Antonioni, Federico Fellini of Jean-Luc Godard ingesluit het nie. Maar onbewustelik het hy die medium op dieselfde wyse begin gebruik: vir persoonlike uitdrukking en om mee te eksperimenteer. Met sy films sou hy juis die Afrikaanse film daardeur vernuwe: esteties, tematies en as ’n vorm van sosiopolitieke kommentaar.
Ek het Jans weer in 1999 ontmoet. Ons was saam op die raad van die Kaapse Filmkommissie. Hy het die Kannaland-distrik verteenwoordig. Ek het aan hom genoem dat ek ’n boek oor sy werk wou skryf. Hy het belangstel, maar gesê dat ek Oulap toe moet kom. Ek moet kom kyk waar hy bly. Sy wêreld beleef.
In 2004 het die eerste besoek plaasgevind. Twintig kilometer buite die skilderagtige dorp De Rust, op die pad na Willowmore, is daar ’n bord wat die roete na Vlakteplaas en Oulap aanwys. ’n Grondpad neem ’n mens verby witgeverfde huisies, volstruise, garingbome en ’n klein treinstasie. ’n Mens ry in die rigting van die Swartberge en as dit bykans lyk of jy jou teen die hange gaan vasry, draai die pad na regs en begin dit uitkronkel. Dit maak ’n skerp draai, ’n steil spiraal, totdat dit uiteindelik by ’n kliphuis eindig.
Die huis is met die hand gebou uit duisende rotse wat uit die Swartberge gehaal is. Die rotse is opgebreek in kleiner klippe, wat gekap is totdat dit as bakstene, as boumateriaal, gebruik kon word. Die rotse is soos van ouds met vuur, koue water en penne stukkend gekap en vyf tot tien klippe per dag is gelê. Waar die klippe gebruik is om die hoeke van die huis te vorm, is dit verstommend 90 grade. Die huis is oor ’n periode van 13 jaar gebou. In die voorste tuin, wat ’n panoramiese uitsig op die Swartberge het, staan allerlei beeldhouwerke, waarvan Jans self die geskiedenis in sy memoires vertel. Dit is die wêreld wat Jans verbeeld het in sy laaste film, Abraham (2015). En ’n mens moet dit sien om Abraham beter te verstaan en te waardeer. Soos in ’n toneel in die film waarin Jans se vrou, Almeri, vir Abraham al die kunswerke in die huis wys, het ek self daardie ontdekkingstoer gemaak. Daar is al die artefakte van Jans se rolprente: die raadsaaldeur wat in Die kandidaat (1968) gebruik is, die skilderye uit Jannie totsiens (1970) en van Abraham se kunswerke.
Ek was bevoorreg om die eerste weergawe van Abraham (2015) te sien. Sonder die krediettitels. Ek het die volgende vir Jans in ’n e-pos geskryf:
Ek is in vervoering oor Abraham. Dit is jou mees persoonlike film, 'n uiters sensitiewe en roerende blik op marginaliteit, die kreatiewe proses en verhoudinge. Dit som so baie van jou temas op. Die marginalisering van bruin mense in Suid-Afrika – wat reeds al sedert Katrina en Die Kandidaat ter sprake was. Die feit dat sulke ongelooflike kreatiwiteit en armoede saam bestaan! Dit is uiters selfreflekterend – oor kuns, oor jou rol as filmmaker en jou rolprente, oor jou verhoudinge, 'n baie persoonlike blik wat vir ander oopgemaak word. Ek sien die herhalende motiewe en die stilistiese ooreenkomste met al jou ander werk, veral Pappa Lap en Broer Matie. Ook die wonderlike gebruik van kore en liedere, die skitterende aanwending van landskap – ook 'n loflied aan Kannaland. En Oulap word een van die karakters. As 'n laaste hoofstuk in my boek oor jou sal dit so netjies struktureel werk met OULAP as die eerste hoofstuk in die boek. Ek kan nog baie meer skryf – oor die sensitiewe vertolking, Koos Roets se stemmingsvolle fotografie, die subtiliteit ... As ek een voorstel kan maak, is dit dat 'n mens Engelse byskrifte ook moet skep vir die liedere – dit is so 'n belangrike deel van die betekenisgewing. Ek voel so bevoorreg dat jy dit met my gedeel het – en omdat ek so lank met jou werk saamleef, by Oulap.
My eerste onderhoud met Jans het oor ’n naweek plaasgevind. Meer as ses ure is op band vasgevang. Hy het my vertel van sy jeugjare, dié van ’n kind gebore in die Depressie van die jare dertig. “Ons was die kinders van vroegmoeg ouers wat in stinkende donker onderaardse tonnels goud vir die ryk mynbase in Houghton moes uitgrawe. My pa het 22 myl ver gewerk en het op ’n fiets heen en weer getrap. Vier-en-veertig myl per dag, winter en somer, van donker tot donker, tot hy 69 jaar oud was. En toe het hy aan myntering gesterf – ’n lang roggelende dood.”
As kind het Jans al gedroom om uit sy omgewing te ontsnap na die fantasiewêreld wat hy geskep het. “Ons het nie boeke of tydskrifte in die huis gehad nie – wel later ’n blikkerige bekkelaait radio wat Saterdae boeremusiek, die Mielieblaarklub, Willie Liebenberg en Manie Maritz se rofstoei, en Eie Versoeke uitgesaai het.” Op Laerskool Baanbreker het hy geleer van “Dingaan, Da Gama, Jan van Riebeeck, Piet Retief en die Voortrekkers. Maar van ander wêrelde oorkant die einders het ek niks geleer of gehoor nie. Ek het nie geweet dat daar baie lande en plekke sonder mynhope en kreperende armoede was nie.”
Hy het in die middae op sy “eentjie in die geel sianiedsandhope, tussen afgeleefde masjinerie by verlate mynskagte met geroeste doringdraad omhein” gespeel – “vasgevang in ’n verbeeldingswêreld van seerowers, konings en dapper helde”. Hy was “’n reisiger in die ewige wonderland van kaalvoet seuntjies”. Boeke het daardie ander wonderland vir hom ontsluit. Dit het waarskynlik raakpunte met die Jans in sy laaste film wat aan Abraham ’n boek gee.
Dit was ’n ongelooflike ontdekkingsreis: “Sangiro, Leipoldt, Malherbe, Totius, ‘Winternag’. Daar het eens ’n doringboompie gestaan waarlangs sware ossewaens gaan ... Toe kom die Engelse boekontdekkinge. Boys own annual, Biggles, St Trinians. Toe die digters Shelley, Keats. “Home is the hunter, home from the hill. I am the captain of my soul, the master of my fate.”
In standerd vyf, op 12 jaar, het die bibliotekaris vir Jans toegelaat om sy eerste boek huis toe te neem: “Ek het boek na boek verslind. Later jare ook Mark Twain, Von Hildebrand, Daniel Defoe, Shakespeare, Somerset Maugham, Walt Whitman. Ek het aanhou lees en lees – in die hoërskoolvakansies tot twee biblioteekboeke ’n dag. Ek had nou ’n droomwêreld so wyd as die Heer se genade. Ek was nooit weer eensaam nie.”
Sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse filmbedryf is in my boek Jans Rautenbach: Dromer, baanbreker en auteur gedokumenteer. Sy grootste film, Die kandidaat (1968), was ongelooflik ambisieus vir ’n Afrikaanstalige film in die jare sestig. Waar die meeste Afrikaanstalige films bloot verstrooiingsvermaak was, het Jans ernstige vrae oor die rol van die Afrikaner in ’n multikulturele samelewing gevra. Ten spyte van probleme met die destydse Publikasieraad was die ontvangs van Die kandidaat met sy veelvlakkige siening van Afrikaner-identiteit en moderniteit sensasioneel. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Afrikaanstalige filmkuns was daar ’n eweknie vir die literêre werk van die sestigerskrywers soos Etienne Leroux, André Brink, Breyten Breytenbach en Jan Rabie. Suid-Afrikaanse filmkuns is met een film tot op die vlak van ons letterkunde verhef.
Met Die kandidaat het Rautenbach die stelling gemaak dat die wit Afrikaner vir hom “’n malhuis gaan skep met sy ideologieë en dogmas”. Die sestigerskrywer-karakter in die film, Du Toit, is die figuur waarmee Rautenbach die Afrikaner ondersoek en sy valshede ontbloot. Die karakter stel baie delikate vrae, soos of ’n persoon van Katolieke afkoms dan nie ook ’n Christen is nie.
Die film is deur akademici en resensente ontleed en talle leitmotiewe is geïdentifiseer. In baie opsigte bevat Die kandidaat al die temas wat Rautenbach in sy oeuvre sou ontgin, vanaf sy eerste film as regisseur tot by Broer Matie in 1984. ’n Hooftema dwarsdeur sy werk is die identiteit van die Afrikaner. Wie en wat is die Afrikaner? Wie kan as ’n ware Afrikaner gereken word, as daar so iets is? In die proses ontleed Jans die klasse- en ideologiese verskille en standpunte binne die wit Afrikanervolk.
Danksy die lof wat Die kandidaat ontvang het, het Jans selfvertroue ontwikkel. Met sy volgende film, Katrina (1969), wou hy en sy kollega Emil Nofal die groot problematiek rondom mense wat as blank, swart of bruin in die apartheidstaat geklassifiseer is, aansny. Na die voltooiing van Katrina het Rautenbach ook groot probleme ondervind met die Publikasieraad, wat verskeie tonele wou sny. NP Van Wyk Louw, een van die literêre reuse in die Afrikaanse letterkunde, het hom egter ondersteun. Van Wyk Louw het na die film gekyk en ’n stuk vir die pers geskryf waarin hy Katrina verdedig het. Hy het die film as ’n baie simpatieke uiteensetting van Suid-Afrika se “kleurprobleem” bestempel. Katrina is ’n voortsetting van ’n sentrale tema in Rautenbach se werk, naamlik kulturele identiteit.
Met Jannie totsiens (1970) het Rautenbach die plaaslike filmkuns radikaal vernuwe, veral in sy aansluiting by politieke modernisme in die Europese kunsfilm. Dit is ’n vernuwing in terme van die wegbeweeg van die klassieke narratiewe struktuur wat tot 1970 in die plaaslike film dominant was. Dit sluit aan by die werk van die sestigerskrywers soos Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Brink se Lobola vir die lewe. Rautenbach het die punt gedurende dié tyd gemaak dat hy wens hierdie skrywers sou by draaiboeke vir die plaaslike filmbedryf betrokke raak. Volgens hom sou dit ’n belangrike invloed op die tekste van ons filmkuns gehad het.
Jans se oeuvre raak aan onderwerpe soos Afrikaner-identiteit, die klasseverskille tussen Afrikaners, binnestanders en buitestanders, en meer subtiele kommentaar oor die Afrikaner-kerngesin.
Talle individue in die rolprentbedryf is deur Jans beïnvloed en het hulle eerste leerskool in die filmbedryf by hom ervaar: Katinka Heyns, Koos Roets, Regardt van den Bergh, Jana Cilliers en baie ander. ’n Nuwe geslag filmmakers het die diepe humanisme wat in werke soos Katrina en Broer Matie uitgestraal het, in hul eie werk ingebring. Johan Blignaut, wat met Mamza (1985) ook na die bruin gemeenskap en hul pyn sou kyk, is ’n uitstekende voorbeeld.
Aan die einde van my laaste onderhoud het hy sy lewe soos volg opgesom:
My beroep vandag is dromer. En as ek ’n vorm moet invul en daar staan “beroep”, dan skryf ek “dromer”. Wat ek is, is om te droom en nuwe moontlikhede te droom en om ander aan te moedig en te sê: “Sonder ’n droom het jy nie ’n toekoms nie. Jy moet ’n droom hê en jy moet daardie droom vergestalt. Al is jy stokoud en jy kan nie jou bene beweeg nie, moet jy nog altyd ’n droom hê. As ek terugkyk na my lewe kan ek sê dit was een lang helse droom gewees. Drome wat ek gebring het, wat ek self geleef het. Ek het vir my kinders gesê as julle ooit vir my ’n grafskrif wil gee, skryf maar net daarop: “Hy was ’n dromer.”
- Martin Botha is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en is die skrywer van ’n boek oor Jans Rautenbach.
The post Jans Rautenbach (1936–2016) appeared first on LitNet.