Die buitengewone Algemene Sinode-sitting van die NG Kerk vind volgende week (7–10 November) plaas. Een van die belangrike sake wat bespreek gaan word, handel oor selfdegeslagverhoudings.
Ons weet teen hierdie tyd dat die twee basiese groepe rakende die verstaan van die Bybel en selfdegeslagverhoudings – die meer fundamentalistiese en die meer kritiese – mekaar nie sommer gaan oortuig nie.
Hoe hanteer ’n kerk ’n saak waaroor daar sulke sterk uiteenlopende menings onder haar lidmate bestaan?
Thomas Kuhn skryf in sy bekende boek The Structure of Scientific Revolutions baie insiggewend oor die feit dat wetenskaplike kennis altyd binne paradigmas funksioneer. Alhoewel Kuhn hierdie teorie van hom op die natuurwetenskap van toepassing maak, kan dit uiteraard nuttig gebruik word ook op ander sisteme van kennis, soos godsdiens – en meer spesifiek op oortuigings rakende sekere kwessies binne daardie godsdiens of geloof.
Vir lank is daar op ’n min of meer eenduidige manier oor homoseksualiteit binne die Christelike geloof, en dan meer spesifiek binne die NG Kerk, gedink. Vir lank het die vrae en antwoorde oor hierdie saak sonder veel teenspraak en spanning op mekaar gepas. Homoseksualiteit was volgens die Bybel sonde. Punt.
Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het stemme van kritiek binne die NG Kerk, maar ook daarbuite, hierteen begin opklink. Die saad van onrus is geplant.
Hoe werk paradigmaskuiwe?
Vóór die onrus, sê Kuhn, verstaan almal ’n bepaalde saak min of meer dieselfde. Daar heers ’n groot mate van stabiliteit en vrede daaroor. Op al die vrae rakende ’n sekere saak is daar goeie antwoorde. Só ’n sisteem van denke kan vir lank goed funksioneer.
Die oomblik wat daar egter ’n krisis ontstaan, of wanneer bestaande oortuigings indringend getoets word, word die balans van ’n bepaalde paradigma versteur. Dit bring spanning. Die vrede binne daardie paradigma of geslote sisteem van denke word geskud en bedreig.
Daar word dán gewoonlik gevoel dat die nuwe inligting/kennis wat hierdie onrus teweegbring, ten alle koste teengestaan moet word, want dít bring ’n klomp vrae mee wat nie meer bevredigend beantwoord kan word nie. Onder sulke omstandighede word daar dan ook dikwels deur leiers ’n oproep gemaak om so ver moontlik die aanvaarde, gangbare oortuigings met lojaliteit en (Skriftuurlike) getrouheid te onderskryf.
Ons het hierdie verloop wat selfdegeslagverhoudings betref, binne die NG Kerk spesifiek, oor die laaste aantal jare sien gebeur.
Hierdie spanning kan vir ’n tyd met “noodmaatreëls” bestuur word, maar mettertyd raak die sisteem of paradigma onstabiel en ongeloofwaardig. En dit lei dan tot die ontstaan van ’n nuwe paradigma of sisteem van denke.
In godsdiens – en dit is wat paradigmaskuiwe hier moeilik maak – kan premoderne en moderne denke saam met postmoderne denke funksioneer. Dit vloei in mekaar en nuwe denke skakel nie noodwendig ou denke uit op pad na ’n nuwe paradigma nie.
Kenmerke van paradigmaskuiwe
Volgens Kuhn verstaan die aanhangers van die nuwe paradigma die ou paradigma – hulle kom immers van daar – alhoewel hulle dit nie meer kan onderskryf nie. Die omgekeerde is nie moontlik nie. Die aanhangers van die ou paradigma verstaan nie werklik die nuwe een en die noodsaaklikheid daarvan nie.
Die ou-paradigma-aanhangers ervaar die nuwe een as ’n bedreiging en hulle reageer reaksionêr daarop. Die aanhangers van die nuwe paradigma is gewoonlik meer genaakbaar en verdraagsaam.
As gevolg van hierdie spanning ontstaan daar dikwels binne die ou, bestaande paradigma ’n nuwe konserwatisme. Alles word (vir oulaas) in die stryd gewerp om die bestaande te beskerm en te behou.
Die nuwe-paradigma-mense is in staat om inklusief te dink, ook teenoor die ou paradigma, maar die persone binne die ou paradigma hou vas aan eksklusiwiteit. Hulle beskou húl siening as die enigste, en as reg.
Op die ou end word sinvolle kommunikasie tussen hierdie paradigmas feitlik onmoontlik, want rasionele argumente hiertussen verskil net te veel. En só kan ’n sogenaamde kommunikasie-dissonansie tussen paradigmas ontstaan.
Nag ou grote?
Die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudings is in hierdie opsig werklik uitstekend. Dit skep meer ruimte vir meer mense, sonder enige dwang. Dit is inklusief. Hierdie besluit hou op ’n manier twee paradigmas vas, in sover mens dit kan doen. En dít is eintlik waarvoor die “elf lidmate” en soveel ander ook vra: stel hierdie besondere goeie besluit volledig in werking!
Ek glo deur hierdie saak volgens die bestaande Sinodebesluit te hanteer, ál meer mense vorentoe op grond van volgehoue blootstelling aan onweerlegbare nuwe insigte en inligting, asook aan gay persone, tot ’n punt sal kom waar die ou paradigma toenemend as uitgedien beleef sal word en die nuwe een aanvaar sal word, sonder dat die kerk hoef te skeur.
Indien die ou-paradigma-aanhangers egter op allerlei maniere voortgaan om húlle oortuigings op ’n hele kerk te probeer afdwing en die kerk sodoende daardeur gevangene gaan hou, gaan mense in nóg groter getalle spiritueel en intellektueel uit die kerk verhuis na ruimtes wat deur nuwe-paradigma-denke gekenmerk word.
Die Hollandse dominee Okke Jager het by geleentheid gesê: die beste manier om lidmate in die kerk te hou, is om die risiko te loop om hulle te verloor. Mag die dapper 2015-AS-besluit volgende week volledig in werking gestel word. Indien ons gaan versuim om hierdie moreel-regte ding te doen, gaan ons vir onsself ’n blinde sambok skep. Een wat ons gaan aanhou looi – en as ons halsstarrig binne die ou paradigma gaan bly vasskop, ons gaan looi totdat ons uiteindelik gaan kwyn en mense sal sê: Nag ou grote!
Ons weet mos die geskiedenis is besig om die ou paradigma oor hierdie saak verkeerd te bewys. Die kerk kan haar tog nie langer in hierdie opsig deur die ou-paradigma-argumente op sleeptou laat neem nie. Mag die sinodegangers volgende week die hedendaagse uitdagings langs die omweg van die toekoms bedink! Só tree mens profeties op – en hoe nodig het die wêreldkerk dít nie!
Bron: Ben du Toit. 2012. God? Geloof in ’n postmoderne tyd.
The post Kerk benodig ’n paradigmaskuif oor gays appeared first on LitNet.