Een van die dinge van oudword is dat jy voel niemand verstaan jou nie. Ja, glo dit maar, net soos 'n tienderjarige glo sy ouers verstaan hom nie, kan 'n oumens ook voel daar is nie volkome begrip vir hom nie. Niemand ken sy gevoelens en gedagtes presies nie, niemand ken sy bekommernisse en sy hoop nie. En hy voel daar is niemand teenoor wie hy sy hart kan ontboesem nie.
Wat weet ander van sy verlange na die wat al verhuis het na die ewige woning? Sy blywende skok oor die jonges wat skielik dood is, hulle wat nog nie moes sterf nie? Hy het gevoel hy moes nog gryp om te keer, toe is hulle al weg.
Daar is plekke wat hy nooit weer sal sien nie, mense wat hy dalk nooit weer sal sien nie, al leef hulle nog. Want hulle is ook al oud en swakheid, artritis pyn en die karige pensioentjie waarvan hy en baie ander moet leef, maak dit onmoontlik om te reis.
Die land het drasties verander, dinge is nie meer soos in sy jeug nie en hy weet nie of sy taal en sy mense sal kan bly staan teen die voortdurende aanslae op hulle nie.
Dit gaan ook oor die materiële dinge, hoe sal sy goedjies hanteer word na sy dood? Al is daar 'n testament, vertel dit nie alles nie. Wat sal van sy geliefdes word na sy dood? Geen mens kan dit met sekerheid weet nie, maar hy wil tóg weet daar sal altyd iemand wees wat omgee an versorg. Met dit as troos sal dit makliker wees om die oorgang te maak.
Varkspek
The post Oor oudword appeared first on LitNet.