In die grot van die sibille
Juanita Louw
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801235
Die meeste van die gedigte in Juanita Louw se debuutbundel In die grot van die sibille (2016) is die produk van ʼn MA in kreatiewe skryfkuns wat sy in 2014 aan die Universiteit van Kaapstad behaal. As deel van haar meestersgraad voltooi sy verder ’n skripsie oor die Russiese digter Marina Tswetajewa en daar is talle verwysings na dié digter se lewe en werk in Louw se bundel [sien byvoorbeeld "Op soek na Tswetajewa" (75–7) en "Die wurm in ons hart" (82–3)].
In sy resensie van In die grot van die sibille op Versindaba gee Marius Crous ’n uitgebreide bespreking van hoe Tswetajewa se gebruik van mitiese figure soos Orfeus, Euridike en die Sibille van Cumae neerslag vind in die digkuns van Louw. Die titel van haar bundel [wat geëggo word in die laaste reël van die gedig "Fantoom" (87–8) in die gedigsiklus getiteld "Kontrapuntaal" (87–8)] is dan ook geïnspireer deur die werk van Tswetajewa.
Op ’n uiters geslaagde wyse verweef Louw haar persoonlike geskiedenis en ervarings met die mitologiese raamwerk van die bundel. Alledaagse objekte soos ’n handgerolde sigaret ["Sehnsucht" (27)] en ’n leesbril geërf van die spreker se ma in "Die verraad van beelde" (59) kry besondere betekenis. In laasgenoemde gedig skryf Louw:
Ek vryf die lense skoon,
hou die roosgoud blink—
die Egiptenare het geglo
die siel van die dooies
besoek snags hul besittings.
Arme bril,
Goudgeraamde stukke glas,
te lig vir ’n papiergewig,
te vreemd vir ’n versiering—
jou vergrootkrag
is te veel vir my oë.
In "Tas" (65-6), wat uit drie dele bestaan, word die konflik tussen die spreker se ouers versinnebeeld deur haar ma se gepakte tas in die eerste twee dele. In die derde deel koop haar ma vir die spreker ’n tas as sy Londen toe vertrek, want haar "rugsak [is] te klein/om alles in te pas". Die las van die voorgeslagte word op simboliese wyse oorgedra na die spreker. Die tas word later nie meer gebruik nie, maar die spreker raak nooit heeltemal ontslae van die las daarvan nie: "Deesdae lê die swart Samsonite / —’n sluimerende blinkdopkewer— / op die boonste rak van my kas."
Die beeld van die tas word vroeër in die bundel reeds gebruik in die gedig "Die dooies" (56), wat aansluit by een van die sentrale temas in die bundel, naamlik verganklikheid. Die dooies het egter "geen tasse om te pak nie; / hulle het ons reeds verlaat". Ten spyte daarvan dat die dooies hulle aardse besittings agtergelaat het en "nie meer omgee vir foto’s in koekblikke gebêre / of porselein-teestelle in kartonbokse gestoor nie", kom hulle nie tot rus nie: hulle "fluister heeldag in ons ore" en "sommiges leer nooit om te vergeef nie".
In ’n gesprek tussen Louw en René Bohnen op Versindaba verwoord Louw die skryfproses as volg: "Om te skryf is ʼn Orfiese reis: ons sak af in die onderwêreld van ons binneste en bring die gedig terug, asook ʼn nuwe blik op die wêreld. Ons herskep onsself. Deur taal versoen ons ons eie teenstrydighede, asook die binne- en buite-ruimte, self en wêreld."
Wat my opgeval het in die bundel, is dat die spreker gedurig hunker na hierdie onderwêreld, die wêreld van die onderbewuste, en slaap ’n manier is om dit te bereik. In "vel" (63) vertel die spreker hoe sy soms "sonder [haar] vel" wakker word, hoe sy verlang daarna om die "droompapawer se melk weer [te] drink" en haar vel slegs kan teruggroei in die nag [sien ook "Dromende denke" (61–2)].
Tydens die bekendstelling van In die grot van die sibille in Protea Boekwinkel in Stellenbosch wys Marius Swart, met spesifieke verwysing na die gedig "Die hart is ..." (20), op die humor wat aanwesig is in die bundel. ’n Speelsheid kom ook na vore in gedigte soos "Verkleurmannetjie" (38) en "Blou maan" (44). Die motto tot die bundel, ’n aanhaling van Tswetajewa wat in die oorspronklike Russies en vertaal in Afrikaans geplaas word, lui as volg: "Die digter se taak — om die verborge te ontbloot. Elke gedig is ’n uiting van die sibille." In In die grot van die sibille ontbloot Louw net genoeg om die leser in haar (onder)wêreld in te trek en te verwonder, maar steeds aan die wonder te laat. Alhoewel haar werk veelvlakkig is en gelaai is met simbolisme en verwysings wat die meeste lesers sal moet naslaan, is Louw se gedigte nie ontoeganklik nie. Dit is gedigte wat op diepgaande wyse ontleed of bloot net waardeer kan word. Om af te sluit, haal ek die gedig "Verdwyn" (29) aan wat tot enige leser behoort te spreek:
Soos die grofsmid se hamer klink
op metaal, soos die was wegsmelt
as die beeld se gietvorm verhit.
Soos ’n asemstoot in die bel
verdwyn as die glas rondom swel,
soos die sibille uitgebrand
tot net ’n stem in die holkrans—
begin jou hande, mond te kwyn
en in my bly agter ’n gat:
’n holte gevorm soos jy.
- Foto van Juanita Louw: Naomi Bruwer
The post Boekresensie: In die grot van die sibille deur Juanita Louw appeared first on LitNet.