sonder kind of kraai met niemand wat enigiets van haar af weet miskien net somtyds
groet iewers op die tweede vloer se trap
lê sy haar neer in kamer 9xx in Ocean View
met stukke blokke van haar gedagtes wat teen die berg aanwaai die see
slaan teen die dolosse in die wind
trek haar beste aan in swart en kam haar grys hare vir die een wat haar met die botteltjie wit gaan vind
eksplisiet beveel
dit was ‘n grys dag die finale stap alleen
met uitsig op die see die berg die visserskepe wat beurend in die branders spat die honde uitgelate in die sand
hoe het jy daar gekom? ‘n über-taxi gekry?
het julle oor die wind gepraat of stilwyend aangery?
in jou foto kyk jou oë stil en effens verleë na al die mense wat vinnig die beriggie lees op bladsy 5 ‘n wyle wag en aanhou blaai na die sport op die agterblad