Binne die parlementêre kompleks: somber pakke klere, hare netjies geknip vir die geleentheid, protokol word met groot waardigheid en eerbied gevolg.
Buite die kompleks: studente wat toi-toi, rubberkoeëls, stun grenades, plastiekdromme wat al brandend swart rookkolomme die lug instuur.
Binne: beskaafde laggies op die regte geleenthede, glase water wat met klein teugies gesluk word, spitsvondighede wat gemoedelik heen en weer vlieg.
Buite: waterkanonne en gebreekte bakstene meet kragte.
Binne: die kompleks word gesluit; niemand word tydens verrigtinge in- of uitgelaat nie. Die enigste persone wat graag wil uit. is in elk geval net die joernaliste.
Buite: studente hardloop die hele middestad vol, plunder, rig skade aan sover hulle kan, met die polisie ’n kortkop agter. Dis by tye moeilik om te weet waar die joernaliste eindig en die protesterende studente begin.
Binne probeer Gordhan ’n gemoedelike atmosfeer handhaaf. Hy het reeds met die studente ontmoet en het ’n memorandum ontvang wat hy onderneem om binne die volgende week aan aandag te skenk.
Daar is egter nie veel om oor gemoedelik te wees indien daar na sy verslag gekyk word nie.
Suid-Afrika se skuld is meer as R2 triljoen.
Ons uitgawes oorskry ons inkomste, en terwyl hy binne probeer verslag gee, is niebelastingbetalers buite besig om ons uitgawes verder op te jaag.
Daar is nie regtig veel verskil tussen Suid-Afrika se balansstaat en dié van ’n gewone huishouding nie. Die land sit net aansienlik meer nulle by hulle bedrae. Die basiese beginsels is egter dieselfde: om in ’n gesonde ekonomiese toestand te wees, moet jy meer geld inbring as wat jy uitgee. Op die oomblik gebeur dit nie in Suid-Afrika nie.
Daar moet dus ’n koersverandering kom, en die enigste manier om dit te doen is deur uitgawes te verminder en inkomste te vermeerder. Eenvoudig genoeg, maar hoe doen ons dit as ’n land?
Daar is twee basiese maniere om inkomste te vermeerder. Die een is om ’n groter bydrae van jou burgers te vra. Eenvoudig gestel, meer belasting. Gordhan het nie hierop uitgebrei nie, maar ek vermoed dat daar met Februarie 2017 se begrotingstoespraak ’n paar onaangename skokke wag.
Die tweede manier om inkomste te vermeerder is deur geld te leen. Ons skuld alreeds meer as R2 triljoen. Daar sal waarskynlik nog geld geleen moet word. Intussen is daar die moontlikheid dat ons ekonomie in Desember óf tot rommelstatus verklaar sal word, óf in elk geval verdere afgradering sal deurgaan. Dit beteken ons sal minder geld kan leen teen waarskynlik hoër rentekoerse. Dis beslis nie ’n gesonde situasie om in te wees nie.
Aan die ander kant van die balansstaat moet uitgawes verminder word. Persele wat deur studente beskadig word, sal ten minste gedeeltelik met staatsgeld herstel moet word. SAA het onlangs gevra vir verdere hulpverlening om uit hulle finansiële verknorsing te kom. Hulle het dit gekry. Intussen is daar nie enige daadwerklike tekens dat hulle erns maak daarvan om uit die gemors te kom nie. SABC ploeter net so voort, gerus in die wete die staat sal inspring en help, maak nie saak hoeveel hulle mors nie. Ditto Eskom. Die Poskantoor se moeilikhede hou nie op nie.
Berigte van ministers wat in hotelle eerder as hulle ampswonings bly, teen astronomiese koste, word gereeld gepubliseer. So ook berigte oor splinternuwe ampsmotors wat met nog nuwer, duurder motors vervang word, want die ministers kan. Koste van onnodige oorsese reise.
Elke hofgeding wat Zuma en kie aangaan om sy bas te beskerm, word op staatskoste aangegaan. Ek wil amper voorstel dat daar ’n aparte item op die begroting behoort te kom – iets soos Zuma Verdedigingsfonds. Dit het tyd geword dat ons kan sien presies wat hy ons land kos, in reële terme.
Die lys gaan aan. En hoe meer belastingbetalers lees van die vergrype van hulle verkose amptenare, hoe minder lus is hulle om belasting te betaal.
Ons is in die moeilikheid. Gordhan het die vergelyking gemaak van: “If lions don’t work together, they will not even be able to bring down a limping buffalo.”
Die enigste persoon wat skynbaar belangstel om fiskale dissipline te handhaaf, word eersdaags voor die hof gedaag. Ons kan nie voortgaan op ons huidige pad nie. Iewers gaan iets meegee.
Dit begin al meer lyk of ons land die “limping buffalo” is, en die hiënas het bloed geruik.
The post Die mediumtermynbegroting 2016 – in presies hoeveel moeilikheid is ons? appeared first on LitNet.