NB-Uitgewers is op soek na nuwe stemme. Hier is nog inligting. Naomi Meyer het vir Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers, die twee keurders, oor die projek uitgevra. Hieronder is Charl-Pierre Naudé aan die woord.
Charl-Pierre, daar is baie jong digters en ander mense wat gedigte skryf. Wat sal jou oog tref as jy na ‘n inskrywing kyk?
Naomi, ’n mens kan dikwels dadelik sien of ’n skryfsel ’n “siel” het of nie. Soms is dit egter nie met die eerste oogopslag merkbaar nie. Dan lees ’n mens maar weer. En soms kom jy agter dis wel ’n gedig.
Ek moet jou korrigeer op jou term “jong digters”. ’n Nuwe stem hoef nie noodwendig ’n jong digter te wees nie. Jy kan ’n vars 95 jaar oud wees wees, en as jy lus voel om jou lyf nuwestem te hou, maak asseblief so.
My oog sal soek na vars stelswyses, treffende formulerings en oorspronklike idees. Ek sal ook op die uitkyk wees vir tekens van taal- en skryfvaardigheid. Soms kan ’n idee so oud soos die berge wees, en opnuut nuut wees net omdat die digter ’n nuwe manier gevind het om dit te stel.
Ek sal kyk of die voorlegger tekens toon van vertroudheid met gedigte, of daar tekens van is dat die persoon gedigte lees of nie. Dis baie selde, maar nie onmoontlik nie, dat iemand wat nie gedigte lees nie ’n gedig kan skryf nie. Onthou dit asseblief. Ek soek nie iemand wat onlangs begin oefen het nie. Tensy jy ’n prodigy is. Wat moontlik is, maar onwaarskynlik.
Myns insiens soek Nuwe Stemme egter in die eerste plek belofte, nie afgerondheid en beslis nie noodwendig grootsheid nie. So as jy iemand is wat erns het met gedigte skryf, moenie bang wees om gedigte in te stuur nie. ’n Mens moet iewers begin. En ek en Bibi is hier vir julle. Voorleggers wat belofte toon, sal gehelp word om hul pennevrugte te verbeter indien nodig, en om te groei in hul ambag.
Vertel asseblief ook waarna is jy nie op soek nie?
Ek hoop Bibi en my eie verwagtinge verskil so ’n bietjie van mekaar, sodat ons mekaar kan aanvul as “bespieders” van die aankomende woord.
’n Samesteller moet versigtig wees om te selfversekerd te wees oor waarna hy of sy nié soek nie. Maar soos ek reeds gesê het, soek ek nie mense wat onvertroud is met die ambag van gedigte skryf nie, en ook nie geleentheidsversmakers wat onlangs deur ‘n liefdesteleurstelling was of iets dergeliks nie.
So, om jou vraag te beantwoord: Ek weet nie heeltemal waarna ek nié soek nie. Die digkuns is te verrassend en te ontwykend vir enige leser, selfs geskoolde lesers, om te dink hulle weet altyd waarna hulle soek of nie soek nie.
Maar ek sal wel weet waarna ek gesoek het wanneer ek dit vind.
Het jy wenke vir die skryf van goeie gedigte? Of bestaan daar nie juis iets soos algemene wenke vir die skryf van gedigte nie – jy het dit, of nie?
Daar bestaan algemene wenke ja. Die kan ’n mens gewoonlik vind in algemene handleidings. Dit kan nuttig wees, en ek kan dit vir aspirante en digtendes aanbeveel. Leti Kleyn en Bernard Odendaal het onlangs so ’n handleiding saamgestel en daar is ’n leesbare hoofstuk in oor die skryf van gedigte, geskryf as ek reg onthou, deur die digter Gilbert Gibson.
Maar ’n mens moet handleidings óók met ’n knippie sout neem (nadat jy dit eers gelees het!). Gewoonlik toon sulke handleidings onder meer die smaak van die oomblik. Tans, en vir geruime tyd reeds, word die reëlgedrewe, sogenaamd instinktiewe of “spontane” gedig gesien as die metier van poësie in Afrikaans. Maar dis slegs een soort gedig. Dis maar een manier om die appelkarretjie te pak. (Wel ’n goeie manier, as jy dit goed kan doen.) Maar nie die enigste manier van gedigte konstrueer nie, nie die enigste soort siel vir gedigte nie.
Die skryf van gedigte behels verskillende kombinasies van gevoel, intellek, mymering, en selfs argumentasie met mekaar. Of soms is dit net een van hierdie elemente.
Jy kry gedigte waarin die kapstok vir die leser in die afsonderlike reël geleë is, en die digter skryf gewoonlik sulke gedigte van reël na reël. Met sommige ánder gedigte, weer, is die uiteindelike betekenis konteksgebonde: die leser kry ’n “snuifie” van ’n uitgestelde betekenis, wat deur die konteks verklap sal word sodra die leser die gedig klaar gelees het, of selfs eers wanneer die leser dit meer as een keer klaar gelees het.
Sulke gedigte word gewoonlik geskryf met ’n vae idee, of selfs ’n volledige idee in gedagte. En dan eers word die “idee”, of die “ideebeeld” uitgebou in die reëls. Die soort gedig word as’t ware “van buite na binne gebou”. Die eerste soort gedig waarna ek verwys het, word van “binne na buite” (vanuit die reëls bewegende na die konteks), as’t ware gebou. Voorleggers hoef nie sin te maak van wat ek hier sê nie, teoretiese kennis of bespiegeling oor hoe ’n gedig werk kan jou help, maar dit is nie die ding wat jou gedig vir jou gaan skryf nie. Hou wat ek hier sê maar onderbewustelik in gedagte of nie.
Die punt is: Elke gedig se skryf is sy eie heelal met sy eie reëls. Jou eie “heelal” gaan die gedig vir jou skryf.
En die onderskeid wat ek hierbo gemaak het tussen twee soorte skryf van ’n gedig, is maar een onderskeid van vele wat getref kan word. Die digkuns is in beginsel onvatbaar veelsydig.
Die probleem is net: Nadat jou gedig geskryf is, móét dit in staat wees om met lesers te kommunikeer. Dit moenie te voor die hand liggend wees nie, en ook nie te duister nie. Ek gaan weer terugkom op hierdie saak oor soorte gedigte in my antwoord op een van jou latere vrae, Naomi.
In watter soort Afrikaans moet die gedigte geskryf wees: in suiwer, outydse grammatikaal-korrekte Afrikaans?
In absoluut enige Afrikaans, en as jy dit wil doen in ’n Afrikaans wat nog nie uitgevind is nie, doen dit gerus. Terloops, grammatikaal-korrek is NIE outyds nie. En ongrammatikaal is beslis nie noodwendig skeppend en kragtig nie. Maar ek weet wat jy bedoel, Naomi.
Wie is jou gunstelingdigter?
Ek het nie so iets nie. Nie meer nie. Ek hou van vele digters.
Maar nou ja. Ek hou van beeldende gedigte, gedigte met goeie segswyses, gedigte wat tegnies speels is; ek hou van idee-gedigte ook. Ek hou onder meer van die reguit stelswyse wat absoluut alledaags en gewoon lyk, maar as jy daaraan krap, kom jy agter dit bevraagteken juis die aanvaarde alledaagsheid met ’n omweg, of op ’n vermomde manier, kan ’n mens sê.
Ek hou ook van gedigte wat nuwe woorde skep. Afrikaans leen homself tot die skryf van hierdie soort gedig.
Hoekom skryf jy gedigte?
Om iets te sê wat nie op ’n ander manier gesê kan word nie, of in enige ander kunsvorm tot stand kan kom nie. Ek het dit al voorheen gesê, of miskien was dit iemand wat ek aangehaal het, ek kan nie nou meer onthou nie: Ek skryf om die onsêbare te sê.
Hoekom lees jy gedigte?
’n Heerlike vraag. Om verras te word, om elegansie van uitdrukkingskrag te ervaar, om ruheid van gevoel en gedagte en ingewing opnuut te ontdek, om nie televisie hoef te kyk nie.
Watter soort reaksie behoort 'n goeie gedig uit te lok?
For want of a better word, die aha!-gevoel.
Skryf 'n gedig in so min woorde moontlik.
’n Baie interessante vraag, Naomi. Maar jy kon my ook gevra het om ’n gedig te skryf in sovéél woorde as moontlik, nie waar nie?
Bob Dylan, wat pas die Nobelprys gekry het, se boek Tarantula is presies so ’n gedig in sy verskillende geledinge. (Ek moet sê, sy liedjies is my gunsteling, nie hierdie boek nie.) Maar wat ek wil sê: Gedigte het nie noodwendig te make met min woorde nie. Maar dikwels het dit wel, en ek sou meen beknoptheid (nie min woorde nie, dié twee betekenisse verskil) is wél ’n wesenseienskap van digkuns. (En is dit nie ’n wesenseienskap van prosa ook nie?)
Soos reeds vermeld, beteken beknoptheid nie noodwendig kort gedigte of gedigte met min woorde nie. ’n Mens kry verskillende vorme van beknoptheid, verskillende soorte wewings daarvan, verskillende soorte ritmes en teksture en dimensies van “beknoptheid”. Onder seldsame omstandighede kan uitgesponnenheid óók ’n vorm van beknoptheid wees. Dit gaan afhang van wat die gedig probeer vermag. Maar ek moet die volgende noem: Die vormgewing van ’n gedig is belangrik. Met vormgewing bedoel ek nie ’n sonnet of ’n epos of wat ook al nie, ek bedoel die stelswyses en tegniek van die gedig, die unieke vorm van dáárdie gedig: hoe dit loop, hoe dit self lyk.
Maar, nou ja, hier is my eie “min woorde gedig”, wat jy aangevra het. Eers verskyn die titel, en daaronder my baie kort gedig.
"Nag op die strand"
Weerlig trap
die bloublasies af.
Ek gaan jou uitnodiging wéér aanvaar, asof ek die eerste keer nie gehoor het nie, as jy sal my moet verskoon, Naomi. Ek gaan ’n tweede kort gediggie, of ’n poging daartoe, aanbied, Naomi.
Ek wil met my tweede gediggie, wat die leser moet vergelyk met die eerste kort gediggie, die verskil illustreer tussen ’n vers wat binne homself (op die papier, as ’t ware) die meeste leidrade tot sy ontsluiting van betekenis bevat (my eerste kort gedig); en ’n ander soort vers (die tweede een, hier onder) waar die leser buitekennis of agtergrondskennis nodig het om die vers te ontsluit. So hier is my tweede kort gediggie:
"Kort-kort gediggie"
Vat so!
Opperman
Wat beteken my versie? Gaan nie sê nie. Dis dan ’n gedig. (Of miskien ’n amper-gedig.)
Maar as ek die leser was, sou ek twee leidrade in die gedig as beginpunt vir my soektog gebruik: “kort-kort gediggie” (die titel) en die naam “Opperman”. Opperman was ’n groot digter in Afrikaans en ook ‘n teoretikus van die digkuns. Die derde leidraad, wat die leser uit die gevoel van my vers kan aflei, is die volgende: Opperman se idees oor die digkuns is deesdae omstrede. Die skrywer van die vers (ek self) sê dan juis “vat so”, ’n sinsnede wat dikwels in strokiesprente in die borrels verskyn het as een karakter ’n ander karakter ’n opstopper gee. Dink aan daardie strokie, “Die Skim”.
Met hierdie drie leidrade moet die leser dan die agtergrondskennis vir ’n begrip van my versie eers gaan nalees, ten einde die vers te verstaan.
Hierdie voorbeeld is maar net nog ’n verskil tussen hoe verskillende gedigte verskillend kan werk. Elke gedig is ’n unieke dier.
Stuur asseblief vir my 'n onlangse foto van jou. En ’n foto of ’n prent wat so hard praat soos ‘n gedig?
Dis albei aangeheg (sien bo). En moet liefs nie met mekaar verwar word nie, Naomi.
Die foto is deur die Italiaanse fotograaf Mario Giacomelli. Ek het dit te siene gekry in ’n museum in Senigallia, Italië. Die foto doen dinge wat net fotografie kan vermag. Soos gedigte doen wat nie in foto’s gedoen kan word nie. Giacomelli het gehou daarvan om priesters en nonne af te neem.
En is hulle nie pragtig nie? Gaan kyk op die internet. Net so mooi soos bikini-girls!
The post Nuwe Stemme 6: Onderhoud met Charl-Pierre Naudé appeared first on LitNet.