Verwoerd: So onthou ons hom (bygewerkte weergawe)
Saamgestel deur Wilhelm J Verwoerd
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306092
Verwoerd: So onthou ons hom is ʼn bundel wat aanvanklik in 2001 uitgegee is om die 100ste herdenking van HF Verwoerd se geboortedag te vier. Verskeie medewerkers het bydraes gelewer waarin hulle hul indrukke van Verwoerd as mens, akademikus, koerantman en politikus weergee.
In 2016 is ʼn bygewerkte weergawe van hierdie publikasie deur Protea Boekhuis uitgegee. Die samesteller is Wilhelm J Verwoerd, Verwoerd se kleinseun.
Die bundel is verdeel in ʼn biografiese skets, en dan vier dele wat die verskillende arenas van Verwoerd se lewe en loopbaan volg. Deel I bestaan uit vyf hoofstukke, geskryf deur familielede, en is getitel Die Familiekring. Deel II, getitel Die Johannesburg-periode, is die mees substansiële toevoeging tot die 2016-weergawe, en bestaan uit die getranskribeerde notas van bandopnames deur Dioné Prinsloo ter voorbereiding vir haar doktorale tesis in 1978.
Deel III, Die Politieke Arena, handel meer direk oor Verwoerd se politieke loopbaan.
Die finale gedeelte, Deel IV, ʼn Wyer Kring, werp lig op sy persoonlike verhoudings met onder andere sy tandarts en, verrassend genoeg, die operasangeres Mimi Coertse.
Die samesteller verduidelik in die voorwoord dat die boek ten doel het om groter lig te werp op Verwoerd as mens, en nie soseer op sy politieke loopbaan nie. Tog word die meeste (en langste) hoofstukke in die boek aan sy politieke loopbaan gewy.
Feitlik al die bydraes maak melding van die beheerstheid en hoflikheid waarmee Verwoerd teenoor almal, ondergeskikte of gelyke, opgetree het, asook die noukeurigheid en versigtigheid waarmee hy met staatsgeld gewerk het.
Heelparty bydraes meld Verwoerd se oorredingsvermoë en sy gawe om ander van sy standpunt te oortuig. ʼn Hele paar skrywers noem dat hy nooit verkeerd was nie, ʼn stelling wat ek met moeite glo.
Daar word heelwat gewag gemaak van sy afsonderlike-ontwikkeling-beleid, maar nie een enkele skrywer was krities daaroor nie. Twee skrywers meen dat hy dit moes verfyn het om dit werkbaar te maak. Daar word inderdaad ʼn paar keer beweer dat indien Verwoerd net ‘n bietjie langer aan bewind was en sy apartheid tot volheid kon gebring het, alle volke in Suid-Afrika dan in rustigheid en vrede sou kon saamgewoon het in hulle aparte omgewings. Meer as een bydrae meld ook hoeveel waardering en ondersteuning swart mense vir sy beleid gehad het, en hoedat hulle hom vereer het. Wat ʼn jammerte, dan, dat nie een enkele swart persoon se bydrae waarin hy sy steun bevestig, in die bundel opgeneem is nie.
Die bundel is by tye onderhoudende leesstof. Ek kon egter nooit regtig die gevoel afskud dat daar ernstige pogings tot revisionisme agter die samestelling van die bundel was nie. Een skrywer verduidelik, met groot bewondering: “Hy het ʼn morele basis aan die beleid van apartheid wat oor drie eeue in Suid Afrika ontwikkel het, gegee.”
Telkemale word daar beweer dat Verwoerd nie ʼn rassis was nie, en dat hy nie apartheid geskep het nie. Keer op keer op keer beweer skrywers dat hy in die beste belang van almal in Suid-Afrika opgetree het. Niemand kan egter betwis dat apartheid onder sy entoesiastiese bestuur verwoestend effektief gemaak is nie.
Die samesteller skryf in sy voorwoord: “ʼn Nuwe biografie moet nog geskryf word, maar dit lyk of die tyd, 35 jaar na sy dood, nog nie ryp is om sy rol in die geskiedenis van Suid-Afrika behoorlik in perspektief te stel nie.”
Dis nie perspektief wat ontbreek nie. Wat ontbreek, is die gewilligheid om die inherente boosheid van die beleid waaraan hy sy lewe gewy het, oor die hoof te sien.
Die meeste van die skrywers in hierdie bundel het skynbaar nie daardie probleem nie.
Die bundel probeer te hard om Verwoerd as ʼn Suid-Afrikaanse held uit te beeld. Daar is geen balans in die wyse waarop daar oor hom gerapporteer word nie. As bron wat bydra tot ʼn beter verstaan van die man en sy politiek, is dit derhalwe geheel onbetroubaar.
The post Resensie: Verwoerd: so onthou ons hom, saamgestel deur Wilhelm J Verwoerd appeared first on LitNet.