Van sy generasie skrywers was Jaco Botha die voorste stilis. Hy't met sy beste werk meedoënlose prosa geskryf.
Vir my begin skryftalent met 'n manier van kyk na die wêreld. Hoedat die talentvolle skrywer dinge sien wat ander mense met meer konvensionele blikhoeke nie sien nie. Die talentvolle skrywer kyk anders, en vertaal wat hy sien na woorde, en skep sodoende 'n eie, kenmerkende wêreld. Só dat mens kan sê: Daardie skrywer het 'n eie stem. In sy verhale kom 'n wêreld tot stand waaroor hy sy naam kan skrywe.
In Jaco se geval is dit nie soseer 'n eksentrieke blik nie. Dit sou veels te gesellig wees om sy blik op die lewe só te beskryf. Dit was eerder 'n seer kyk, en meer dikwels 'n desperate siening van die mens in sy gestrooptheid.
Dis kyk sonder 'n skil op die oog. Kyk as straf. Die stipste blik van sy generasie.
In die verhaal "Sweisbril" uit sy gelyknamige bundel haal 'n man sy sweisbril af en kyk in die oog van die son in totdat hy blind is.
Dis 'n lang, gedwonge en oplaas verwoestende kyk.
Daardie manier van kyk was Jack, soos ek hom genoem het, se talent.
Toe hy as Skeppende Skryfwerk-student sy eerste stuk prosa na my gebring het, het ek hom onmiddellik verwys na 'n ewe desperate gees, die Amerikaner Raymond Carver. Dit was 'n berekende risiko, maar Jack, kant nog wal, het 'n tuiskoms nodig gehad.
As kunstenaar moes hy moontlikhede sien wat na my gevoel op daardie stadium waarskynlik was.
Dit was vir hom 'n bepalende en inspirerende ontdekking. Hy't as normaalweg stadige leser Carver se "Where I'm calling from" blitsig verslind, met weens sy gesigsgebrek daardie kenmerkende leeshouding van hom: skuinsweg, een wang wat byna teen die bladsy skuur, asof hy deur 'n vergrootglas kyk.
Asof hy die boek bekruip.
Nadat hy die teks gelees het, het ons baie gesels oor hoe hy 'n eie stem kon vind, en hoedat hy by Carver kon leer, maar terselfdertyd van die groot skaduwee wat die Amerikaner gooi, kon wegskryf.
Hy kon myns insiens daarin slaag.
As kortverhaalskrywer, met die meer gefokuste doek om op te skep as wat dit die geval met die roman is, was hy op sy skerpste. Die roman het vir sy manier van kyk te breed geraak, te wyd. Te langasem, en miskien te bourgeois.
Maar in sy kortverhale is hy op sy stipste beste. Dis verhale wat tydens die lees by jou inbrand.
Ek sal die toneel nie vergeet nie. Jaco, gehurk op die badkamervloer, hier by my aan huis, een laatnag. Hy huil hartverskeurend en voor hom op die vloer is 'n poeletjie trane. "Ek het nooit geweet traankliere kan soveel water produseer nie," het ek hom agterna vertel. Hy hurk daar, gebuig oor die poeletjie op die badkamerteëls, asof hy diep inkyk in die Groot Verdriet.
Jaco, wat tien persent visie gehad het, se bynaam by die Pionierskool op Worcester was Tien.
Nie verniet dat "Tien" rym met "sien" nie.
Jaco het skerper en meer gesien as die meeste siendes.
Dit was 'n ongemaklike blik, en hy't baie mense ongemaklik gemaak. Ook in vriendskapsverband kon hy blind indonner waar hy eerder moes wegbly. Maar dit was Jack. Om te ontsetel was vir hom 'n opdrag.
So intens was sy blik, kom dit by my op nadat ek van sy selfdood gehoor het, dat hy dwarsdeur die oog van die galg gekyk het.
Dit was sy laaste dans, daar aan die selfdoodtou in Knysna.
Gedryf deur depressie en sy stryd om sonder sy pille klaar te kom sodat hy kon bly skryf.
Ek kan nie dink dat so 'n woelgees in vrede kan rus nie. Hy gaan die engele ontstig met daardie sardoniese blik van hom, daarvan is ek oortuig.
Jack, die lewe is 'n fokker.
Maar die dood is 'n bliksem.
Bly kyk, Tien.
The post Die laaste dans van Jaco Botha appeared first on LitNet.