
Foto via Pexels
- Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die wêreld het ongekende vordering gemaak met die inenting van kinders teen lewensbedreigende siektes sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie die Uitgebreide Program oor Immunisering (EPI) in 1974 gestig het. Sedert 2010 is egter groot terugslae beleef wat verder vererger is deur die COVID-19-pandemie, wat der miljoene kinders kwesbaar maak vir voorkombare siektes en die dood.
’n Reuse studie wat onlangs deur die Global Burden of Disease Study Vaccine Coverage Collaborators gedoen en in The Lancet gepubliseer is, wys ’n wêreldwye afname van 75% in die aantal kinders wat nog nooit ’n roetinekinderinenting ontvang het nie (ook bekend as nuldosiskinders), wat van 58,8 miljoen in 1980 tot 14,7 miljoen in 2019 voor die COVID-19-pandemie gedaal het.
Maar sedert 2010 het vordering in baie lande tot stilstand gekom of omgekeer, met maselsinenting wat in 100 van 204 lande tussen 2010 en 2019 afgeneem het. Terwyl 21 van 36 hoë-inkomstelande afnames in die dekking vir ten minste een entstofdosis teen difterie, tetanus, kinkhoes, masels, polio of tuberkulose ervaar het.
Die COVID-19-pandemie het die uitdagings vir kinderinentingsdekking verder vererger. In 2023 het na raming 15,7 miljoen kinders met ’n nuldosis geen dosisse van die difterie-, tetanus- en kinkhoesentstof in hul eerste lewensjaar ontvang nie – met meer as die helfte wat in slegs agt lande woon, hoofsaaklik in Afrika suid van die Sahara (53%) en Suid-Asië (13%).
Suid-Afrika se nuldosisgevalle staan op 99 140. Nigerië het 2,4 miljoen nuldosisgevalle, en alle ander lande in Afrika honderde duisende. Maar selfs in ander lande wat meer welaf is, en waar mense meer en makliker toegang het tot entstowwe, het dit afgeneem, soos Brittanje, waar 39 000 kinders geen entstowwe ontvang het nie, en Duitsland met 31 000 – die hoogste syfers in Wes-Europa. En Amerika met 166 000.
Afrika suid van die Sahara het die grootste ontwrigtings in dekking weens die COVID-19-pandemie ervaar, met ’n geraamde 6,96 miljoen minder kinders wat tussen 2020 en 2023 teen rotavirus ingeënt is, 5,31 miljoen wat immunisering teen pneumokokkale siekte misgeloop het, en 4,94 miljoen wat immunisering teen polio misgeloop het.
Dr Jonathan Mosser van die Instituut vir Gesondheidsmetrieke en -evaluering aan die, Universiteit van Washington, VSA, het in ’n verklaring gesê: “Roetine-inentings vir kinders is van die kragtigste en mees koste-effektiewe openbare gesondheidsintervensies wat beskikbaar is, maar volgehoue wêreldwye ongelykhede, uitdagings van die COVID-19-pandemie, en die groei van waninligting en huiwering oor entstowwe het alles bygedra tot die haperende vordering met immunisering.
........
Daar word geraam dat inenting verantwoordelik was vir 40% van die waargenome afname in wêreldwye babasterftes, 52% in die Afrika-streek. In 2024 is ’n kind jonger as 10 jaar 40% meer geneig om tot hul volgende verjaardag te oorleef in vergelyking met ’n hipotetiese scenario van geen historiese inenting nie.
........
“Hierdie tendense verhoog die risiko van uitbrake van siektes wat deur entstowwe voorkom kan word, insluitend masels, polio en difterie, wat die kritieke behoefte aan geteikende verbeterings onderstreep om te verseker dat alle kinders kan baat vind by lewensreddende inentings.”
EPI, wat van stapel gestuur is om alle kinders, oral, toegang tot lewensreddende entstowwe te bied, het aanvanklik gefokus op ses siektes wat deur entstowwe by kinders voorkom kan word: tuberkulose, difterie, kinkhoes, tetanus, polio en masels.
Die program het later uitgebrei om bykomende entstowwe in beide die kinderjare en dwarsdeur hul volwasse lewens in te sluit, wat beskerm teen Haemophilus influenzae tipe B, Hepatitis B, rubella, pneumokokkussiekte, rotavirus en die menslike papillomavirus.
Die EPI het al meer as 4 miljard kinders ingeënt, wat die dood van na raming 154 miljoen kinders wêreldwyd voorkom, en ’n totaal van 10,2 miljard jaar van volle gesondheid verskaf.
Daar word geraam dat inenting verantwoordelik was vir 40% van die waargenome afname in wêreldwye babasterftes, 52% in die Afrika-streek. In 2024 is ’n kind jonger as 10 jaar 40% meer geneig om tot hul volgende verjaardag te oorleef in vergelyking met ’n hipotetiese scenario van geen historiese inenting nie.
Verhoogde oorlewingswaarskynlikheid word selfs tot laat in volwassenheid waargeneem.
Toenemende getalle wilde-tipe-polio-gevalle is in Pakistan en Afghanistan aangemeld, en daar is ’n voortdurende polio-uitbraak in Papoea-Nieu-Guinee, waar minder as die helfte van die bevolking ingeënt is.
In 2024 was daar ’n byna tienvoudige toename in maselsinfeksies wat in die Europese Unie en die Europese Ekonomiese Gebied aangeteken is. Wêreldwyd was daar in 2024 byna 360 000 gevalle – die meeste in 25 jaar. Suid-Afrika sukkel ook met toenemende gevalle van masels en kinkhoes.
Mites oor entstowwe
........
Mites dat entstowwe of “kwik” met outisme geassosieer word, is versterk deur oneerlike dokters, gefrustreerde maar effektiewe ouergroepe, internasionale glanspersoonlikhede en politici soos Robert F Kennedy Jr, Amerika se minister van gesondheid.
........
Mites dat entstowwe of “kwik” met outisme geassosieer word, is versterk deur oneerlike dokters, gefrustreerde maar effektiewe ouergroepe, internasionale glanspersoonlikhede en politici soos Robert F Kennedy Jr, Amerika se minister van gesondheid.
Thimerosal (’n molekule wat etielkwik bevat) was ’n wydgebruikte preserveermiddel in entstowwe meer as 20 jaar gelede. Dit was daar om bakteriële kontaminasie in multidosis-entstofflessies te voorkom. Die byvoeging daarvan het nie net die entstofveiligheid verbeter deur die risiko van mikrobiese groei te verminder nie, maar het ook die breër gebruik van multidosisflessies moontlik gemaak, wat inenting meer toeganklik en koste-effektief gemaak het.
Etielkwik word vinnig uitgeskei en versamel nie tot skadelike vlakke nie. Thimerosal word in die liggaam tot etielkwik gemetaboliseer. Maar mense het dit met ander vorme van kwik verwar, en al was daar geen bewyse dat dit skadelik is nie, is dit in 2001 uit kinderentstowwe verwyder – juis om vaksinasie te laat toeneem.
Sedert 2001 is alle entstowwe wat roetinegewys aanbeveel word vir kinders van ses jaar en jonger, Thimerosal-vry, behalwe sommige formulasies van die ongeaktiveerde griepentstof.
Dit is te verstane dat ouers na antwoorde soek: “Hoekom het dit met my kind gebeur?” en dat ’n mens die “skuld” sou wou gee vir iets of jouself wil blameer.
Veral die entstof vir pampoentjies, masels en rubella (MMR) het die kenmerke van ’n oorsaak-gevolg-mite. Die idee dat “as B op A volg, dan is A waarskynlik die oorsaak van B” is die algemeenste waninterpretasie van oorsaak. Die MMR-entstof word vir 12 tot 18 maande oue babas toegedien. Op hierdie ouderdom begin die eerste tekens van dreigende ontwikkelingstoestande, soos outisme, insluip. Die idee dat “entstof die gebeurtenis voorafgaan, daarom veroorsaak entstof siekte” pas by die kognitiewe vooroordeel om na patrone te soek en
Die mite dat die ontwikkelende, maar steeds swak immuunstelsel van die kleuter oorgestimuleer en beskadig word deur die entstof, voeg geloofwaardigheid by dié geloof.
Maar dit is nie waar nie.
In die laat 1990’s het Andrew Wakefield, ’n Britse dokter, ’n artikel in The Lancet gepubliseer waarin hy beweer het dat hy die verklaring vir outisme in die maselsvirus gevind het. Maar aanvanklik het Wakefield berig dat die maselsvirus verantwoordelik was vir die kolonletsels wat in Crohn-siekte gesien word. Dit is gou verkeerd bewys.
Agt uit agt outistiese kinders op wie hy kolonoskopieë uitgevoer het, het die gehipotetiseerde letsels vertoon, wat hom laat beweer het dat die maselsentstofvirus outisme veroorsaak het. Skielik was dit nuus.
........
Inentings laat lewensverwagting styg.
........
In 2005 het ’n ondersoekende joernalis The Lancet se redakteurs gewaarsku dat Wakefield se studie gebrekkig was weens ernstige navorsingswangedrag, botsende belange en waarskynlik leuens.
Nadat die saak ondersoek is, het The Lancet die navorsing teruggetrek, en die Britse Mediese Vereniging het dissiplinêre stappe teen Wakefield gedoen.
Sedert die Wakefield-verslag is enige direkte verband tussen outisme en die MMR-entstof in diskrediet gebring deur dosyne groot studies wat die epidemiologie van outisme en die biologiese effekte van MMR en die pampoentjievirus ondersoek het. Geen verband is gevind nie – maar die mite leef voort.
Daar is nie getoon dat afnames in die blootstellingskoers aan MMR korreleer met soortgelyke afnames in die voorkoms van outisme nie. Inteendeel; meer en meer ouers het teen die MMR-inenting besluit, maar die voorkoms van outisme het gestyg.
Benewens immuniseringspesifieke assesserings is roetine-inentingsdekking vir kinders ook belangrik in openbare gesondheid. Deur vroeë kindersterftes te verminder – ’n belangrike bepaler van lewensverwagting – dra inentingsdekking indirek by tot lewensverwagtingprojeksies.
Inentings laat lewensverwagting styg.
Lees ook:
Op dees aarde: Vyf jaar ná Covid-19 – waar staan ons? Feite en onwaarhede
Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn
The post Op dees aarde: Nuldosiskinders first appeared on LitNet.
The post Op dees aarde: Nuldosiskinders appeared first on LitNet.