Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21991

Israel, Iran en Navo: Toe werp Trump sy F-bom! (26 Junie 2025)

$
0
0

Soos wat diplomasie deesdae werk, is ’n vredesproses tussen Israel en Iran op 23 Junie 2025 deur Donald Trump op sosiale media aangekondig ná twaalf dae van intense oor-en-weer-aanvalle met vliegtuie, missiele en hommeltuie. Net so skielik as wat die Israeliese aanvalle begin het, so verrassend was die aankondiging dat ’n skietstaking bereik is. Hierdie aankondiging is gemaak op die vooraand van die jaarlikse Navo-spitsberaad wat vanjaar in Den Haag, Nederland plaasgevind het. Die Israel-Iran-konflik was ook hoog op die agenda van die beraad, soos wat dit die G7-beraad in Kanada oorheers het. Naas die konflik in die Midde-Ooste het die Navo-beraad gewentel om die verhouding wat die Europese lede van Navo met die Trump-administrasie het. Beide die Russies-Oekraïense konflik en Israel-Iran-gebeure speel in die verhouding ’n groot rol.

Voor die intense konflik van twaalf dae met ’n brose skietstaking beëindig is, het die VSA direk aan die konflik begin deelneem deur sy B-2-bomwerpers oor ’n geweldig groot afstand na Iran gestuur, toegerus met bomme wat baie diep kan penetreer. Hoewel Trump aanvanklik huiwerig was om direk aan die Israel-Iran-konflik deel te neem, was die strategiese geleentheid wat Israel in Iran geskep het, net te aantreklik vir hom om nie te benut nie. Die Navo-lede sou hierdie optrede ook baie fyn ontleed het, want die Trump-administrasie se deelname aan enige konflik word tans deur twee denkstrome in die Withuis oorheers. Die eerste denkstroom is van oortuiging dat die VSA direk, maar beperk, betrokke moet raak, veral waar Iran, Rusland, China of Noord-Korea betrokke sou kon wees. Die tweede denkstroom is dat Trump moet hou by sy verkiesingsbeloftes en nie direk in enige konflik buite die VSA betrokke moet raak nie. Laasgenoemde gryp terug na die Monroe-doktrine van 1823 wat verklaar dat die VSA ’n na binne gerigte beleid moet handhaaf en nie buite sy direkte landsgrense betrokke moet raak nie.

Die verrassende Amerikaanse aanval op Irannese kerninstallasies op 21 Junie 2025 het die onstuimigheid op internasionale markte die hoogte laat inskiet, veral toe Iran gesuggereer het dat die Straat van Hormuz dalk gesluit kon word. Nie alleen vloei 20% van die wêreld se ruolie daagliks deur die seestraat tussen die Persiese Golf en die Golf van Oman nie, maar 90% van die ruolie wat na China gaan, kom van Iran af. Die prys van ruolie het teen dié agtergrond met amper 20% gestyg, maar binne ’n dag of twee ná die skietstilstand op 23 Julie het die prys van ruolie gedaal na vlakke van voor die konflik.  

Aanvanklik het die skietstilstand broos begin, met ’n paar finale missielaanvalle, maar die frustrasie wat Trump ervaar het met beide Israel en Iran het oorgekook op ’n informele perskonferensie op 24 Junie toe Trump sonder seremonie verklaar het dat die twee lande al so lank in konflik verkeer dat hulle nie ’n f#@k weet wat hulle doen nie! Dit was ’n buitengewone stelling in kru taal, maar waarskynlik net Donald Trump wat dit sou kon doen en skotvry daarvan afkom.

Hierdie gebeure was die voorspel tot die Navo-spitsberaad in Nederland. Anders as met vorige ontmoetings met Navo in Trump se eerste termyn, waar die spanning tussen Europa en Trump aanvoelbaar was, het die Europeërs Trump op die hande gedra. Dit was duidelik dat Navo-lidlande vier faktore baie fyn sou moes bestuur om die verhouding met Trump en die VSA te normaliseer. Erkenning sou gegee moes word vir die rol wat die VSA in die Israel-Iran-konflik gespeel het en Trump se vermoë om ’n spoedige skietstilstand te bereik; tweedens dat Navo-lidlande hulle sou moes verbind tot verhoogde verdedigingsbesteding in die volgende paar jaar tot op die vlak van 5% van BBP. Dit is interessant dat die bepaling van 5% besteding ook die hulp wat aan Oekraïne gegee sal word, insluit. Derdens sou lidlande hulle steun aan Oekraïne moes sinkroniseer met dié van die VSA; en laastens sou dit daartoe lei dat Trump meer inskiklik sou wees rakende klousule 5 van die Noord-Atlantiese Verdrag (1949), wat lui dat alle lede van Navo mekaar sal ondersteun indien een van die lidlande militêr aangeval sou word. Die rol van Nederland se Mark Rutte as die uitvoerende hoof van Navo en sy goeie verhouding met Donald Trump het ’n groot rol in dié suksesvolle Navo-spitsberaad gespeel.

Interessante gebeure en patrone het die laaste twee weke na vore gekom in die komplekse wêreld van geopolitiek. Israel het sy lang geskiedenis van koverte operasies in Iran verruil vir hibriede operasies van overte én koverte aard omdat die lugruim in die gebied tussen Israel en Iran geen vyandigheid ingehou het nie. Beide Rusland en Sirië kon geen steun aan Iran gebied het nie, en organisasies soos Hamas, Hezbollah, die Houthi-rebelle en pro-Sjia-groepe in Irak was grootliks geneutraliseer. China het buite die konflik gebly en die VSA het daartoe toegestem dat China sanksies teen Iran mag verbreek deur al sy olievoorraad uit Iran aan te skaf. Die tariefooreenkoms tussen die VSA en China die afgelope maand het beslis hierin ’n rol gespeel. Iran se kernambisies het ’n knou gekry, maar dit sal Iran net meer vasberade maak om op lang termyn deel van die eksklusiewe kernklub te word om ’n herhaling van die 12-dag-konflik in Junie 2025 te vermy. Israel het op kort termyn vir hom meer strategiese beweegruimte geskep, maar die diep vyandskap van die Arabiese wêreld het nie verander nie. Onder die leierskap van Donald Trump het die Navo-lidlande grootliks geswig voor die druk en eise van die Amerikaners, maar dit gedoen om die VSA se verbintenis te kry ten opsigte van die voortbestaan van Navo. Navo se Europese lidlande het Trump beslis ook hulle strategiese vrese vir Rusland onder Poetin duidelik laat verstaan. Alhoewel die konflik in die Midde-Ooste die aandag van Oekraïne afgetrek het, is die Russies-Oekraïense konflik beslis weer boaan die agenda van Navo.

Lees ook:

Reguit met Robinson: Trump, Israel en Iran

Seen elsewhere: Domestic aggression turning international

Die dwaasheid van Israel se aanval op Iran se kernaanlegte

Oor ons kollektiewe vrees vir ’n nuwe wêreldoorlog

Wat sê Bettina? Trump, Iran, Los Angeles en Adriana Smith

Die komplekse konflik tussen Israel en Iran (17 Junie 2025)

Die komende Israel-Iran-oorlog?

Drawing the right lessons from Iran’s missile attack on Israel

The post Israel, Iran en Navo: Toe werp Trump sy F-bom! (26 Junie 2025) first appeared on LitNet.

The post Israel, Iran en Navo: Toe werp Trump sy F-bom! (26 Junie 2025) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21991


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>