Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Gordhan se dagvaarding: Rule of Law, of state capture op steroïdes?

$
0
0

Die aankondiging dat Pravin Gordhan, minister van finansies, aangekla word van bedrog, was skaars koud of die hof van leunstoelregsgeleerdes was in sitting.

Daar is skynbaar twee hoofstrome: dié wat glo die aanklag is deel van ʼn politieke sameswering en Gordhan moes nie aangekla word nie, en die ander wat glo dis Rule of Law en die proses moet sy gang gaan.

Die meeste van die politieke partye, soos die EFF, die DA en – verrassend genoeg – die SAKP val in die eerste groep. Die UDM se Bantu Holomisa is die opvallende uitsondering wat hom aan die kant van die ANC skaar.

Daar hang geruime tyd reeds ʼn swaard oor Gordhan se kop, en die aanklagte is dus geen verrassing nie. Ministers van finansies wat nietighede soos governance en austerity measures wil toepas hou immers nie lank in die Zuma-administrasie nie.

Dié wat Rule of Law beweer – en ek vermoed daar is bitter min persone met ʼn regsagtergrond in hierdie groep – verstaan die term skynbaar as sou dit beteken dat almal gelyk voor die reg is en dat Gordhan nie op grond van sy posisie beter behandeling moet verwag nie.

Die vereiste van gelykheid voor die reg is inderdaad een been van die Rule of Law. Dis egter nie die enigste nie. Dit beteken ook dat die howe onafhanklik moet wees van politieke inmenging. Dit beteken dat amptenare van die hof hulle werk op onpartydige wyse moet doen. Terwyl die algemene publiek teen hierdie tyd goed verstaan dat dit beteken die regters moet onafhanklik wees, verstaan hulle nie altyd dat ook staatsaanklaers en prokureurs en advokate amptenare van die hof is en dat hulle eerste plig teenoor die hof is nie.

Daar kan nie onafhanklike howe wees indien enige been van die sisteem onderworpe is aan politieke beïnvloeding nie. Daar kan nie gelykheid voor die reg wees indien ʼn politieke party of ʼn politieke figuur die staatsmasjinerie, soos die polisie of die nasionale vervolger, kan gebruik om teëstanders in die hande te kry nie.

Die DA het gewys op die rampspoedige gevolge wat Gordhan se vervolging op die ekonomie sal hê. Die rand het reeds met meer as drie persent geval sedert die aankondiging. Die moontlikheid dat ons ekonomie tot rommelstatus verlaag sal word, is groot. Goedere word noodwendig duurder, en die armes word die swaarste getref hierdeur.

Hulle kommentaar gaan egter nie ver genoeg nie.

Die markte reageer op die manier wat hulle doen omdat daar geen geloof meer in ons regstelsel is nie. Net ʼn paar maande gelede was ons howe geprys nadat die grondwetlike hof in die openbare beskermer se guns beslis het teen Zuma. In Augustus het die verkiesings ons hoop gegee dat Zuma die boodskap sal ontvang dat sy leierskap nie meer welkom is nie.

Nou word die openbare vervolger gebruik om wat al meer na ʼn politieke geskil lyk te besleg. Dis waar die ekonomiese reaksie vandaan kom. ʼn Persoon wie se integriteit bo verdenking was, word aangekla. Dieselfde vervolgingsgesag wat so haastig is om dit te doen, sleep voete met die 783 aanklagte teen Zuma. Daar was reeds ʼn hofbeslissing dat Zuma moet antwoord op daardie aanklagte, maar steeds word daar nie haas gemaak nie. Dit maak versekerings van onpartydigheid en ontkennings van politieke inmenging in besluitneming van die openbare vervolger lagwekkend.

Vir enige demokratiese bestel om te kan voortbestaan, is geloof in die onpartydigheid van die polisie, die vervolger en die howe kardinaal.

Dit begin egter al meer lyk asof hierdie president blaadjies uit die reëlboek van die apartheidsregering onder Vorster en PW Botha neem. Gebruik staatsorgane om jou politieke doelwitte te bereik en te verseker dat jy wen, maak nie saak of jy in die proses die land en al sy burgers vertrap nie.

Mugabe se polisie is ʼn kwalik verskuilde kriminele bende wat die reg misbruik om vyande van die korrupte staat aan die kaak te stel. Die veiligheidspolisie in apartheid-Suid-Afrika se hoofdoel was om apartheid ten alle koste in stand te hou, selfs al beteken dit burgers moet vermoor word. Erdogan se Turkse polisie voer sy persoonlike wil uit, en nie meer dié van die staat nie.

Die polisie en weermag het ontstaan om wetsgehoorsame burgers te beskerm. Een van die eerste tekens dat demokrasie terminaal siek is, is wanneer hulle daardie funksie vergeet en burgers eerder onderdruk.

Die Valke is in sonde gebore. Nadat die Skerpioene, ʼn eenheid gekenmerk deur integriteit, ontbind was, moes ʼn meer beheerbare alternatief gevind word. Die Valke was die antwoord. Enige hoop dat hulle ten minste onafhanklik sou optree, is vroeg in die kiem gesmoor. Met elke polities gemotiveerde ondersoek begin hulle al meer soos Zuma se poppekas en minder soos ʼn elite ondersoekeenheid lyk. Teen die pas wat hulle aangaan, het hulle binnekort nog net ʼn Vlakplaas nodig om in ons hedendaagse “veiligheidspolisie” te transformeer.

Elke tweede dag is daar berigte van sg state capture in die koerante. Dit begin al meer lyk asof die Valke, en dele van die openbare vervolger, alreeds slagoffers van sodanige staatskaping was.

Die EFF se oproep vir landsburgers om op 2 November, wanneer Gordhan in Pretoria moet voorkom, die strate van Pretoria te vul, vervul ʼn belangrike simboliese rol. Dis al wat dit is. ʼn Simbool. Dit sal nie die openbare vervolger beweeg om die saak terug te trek nie. Die howe kan nie weier om dit aan te hoor nie.

Selfs indien daar ʼn wonderwerk gebeur en die ANC Gordhan ondersteun en Zuma herroep (en hy gehoor gee) stuit dit nog nie die vervolging nie.

Die #FeesMustFall-protes die afgelope week het duidelik bewys dat die polisie toenemend gewillig is om vreedsame protes met geweld teen te staan. Die moontlikheid dat daar op 2 November ʼn bloedbad in die strate van Pretoria kan plaasvind, kan nie uitgesluit word nie.

Tussen nou en 2019, vermoed ek, gaan daar toenemend inkrimping van demokratiese regte plaasvind. Gaan daar nog genoeg van ʼn demokrasie oorbly om die verkiesings as vry en regverdig te bestempel? Net as ons standpunt inneem, en van ons regering eis om verantwoording te doen vir die wyse waarop hulle regeer.

Hierdie verhoor gaan nie regtig oor Gordhan nie. Dit gaan nie eers oor die ekonomie nie.

Toenemend is ons besig om te veg vir die hart van die reënboognasie, die hart van ons demokrasie. Dit is die uiteindelike oogmerk van al die capture wat om ons aan die gang is.

The post Gordhan se dagvaarding: Rule of Law, of state capture op steroïdes? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>