Daar moet tog seker ’n stukkie humor in die doringklap van elke dag sit?
Ek en die buurman, die kantoorwerker by die motorhawe oorkant die straat en meeste van sy lyfwagte weet dat onse landsleier nie die mees geskikte persoon in die pos is nie.
Ja, die agbare impi-danser weet dit moontlik self ook, maar tog, wanneer die geleentheid hom voordoen en soms selfs wanneer ’n traan meer gepas sal wees, dan lag die man uit Natal uit sy maag. Hy sien die grap op sy teenstanders se gesigte terwyl hulle die afgrond van teëspoed aan die onbereikte kiesers probeer voorhou. Hy sien geleenthede vir internasionale sing en dans, terwyl hulle hofstukke voorberei; hy bestel vrouens, vliegtuie en vermaak, terwyl sy kiesafdeling bokke melk en toiletputte grawe.
Hy lag wanneer hy in sy stoet by hulle verby swiep en hulle lag, net omdat hulle hom kan sien!
“Sieke humor en ver van snaaks,” sou ek myself kon toesnou, indien niemand anders sou wou nie, maar tog ...
Ons weet dat die stakers by myne, klerefabrieke en treine deur hul massa werklose maatjies van die buurt ondersteun word – o, nee, wag – ons het nie meer klerefabrieke nie; my Edgars-onderbroek kom van China af!
Ieder geval, wanneer die munisipale werkers die grawe neervel en dromme omlê, dan is dit nie net die vuilgoed wat straat-af waai of die buurt se honde wat kwaadkat speel nie, nee, dan is dit elke loslyf wat kan voetestamp en dreunliedjies sing wat nader gehark word om deel van die optog en aksie uit te maak. Etlike gefrustreerde ontvanger van ’n staatstoelaag wat sy kaart ’n derde keer moes gaan hernu, gryp na die geleentheid om iets te skop of te breek; elke entrepreneuriese boef neem sy kans om iets te aas en te kry om te verkwansel. Dis stakingstyd, ’n jaarlikse gebeurtenis, soos Nuwejaar of braaidag, wat loodreg saam die industrie se loononderhandelings in ’n heerlike straatparty vir ’n ieder en ’n ander laat ontaard.
En dis waar die studente, of sou ek eerder sê hul “organiseerders”, hul handleiding en opleiding ontvang het. Die politieke swaargewigte en polieste praat en spekuleer oor die betrokkenheid van ’n sogenaamde “derde mag”, so al asof hulle met die heldersiende helmet gebore is en hul uitsprake hieroor kwansuis vir die res van ons nuus sal wees!
Daar was nog altyd meer as twee magte by hierdie optredes betrokke en daar is altyd ’n krimineel wat sy bronstige kloue om en agter die protesterende menigte inslaan. Netso, is daar altyd ’n politieke opportunis wat uit die stryd van die misplaastes geleentheid sien om veld te wen. Maar, dan is daar natuurlik die politieke “poppemeester”...
Die “een” wat die kuns van klemverskuiwing skynbaar vervolmaak het; die “een” wat die koekieblik op die kas plunder terwyl die ander mense rondskarrel om die miere op die grond dood te kry. Dis daai “een” vir wie ons bang moet wees.
Dis daai “een” wat agter sy skild lag ... daai “een” wat ware betekenis aan die gesegde "Nero fiddled while Rome burned" hier in Afrika gee!
Genoeg politiek!
Die uwe het werklik ’n ander meer meetbare kwelling.
Wat word van die studente se vierde kwartaal se werk?
Gaan hulle toetse skryf?
Kan hulle die sillabus voltooi?
En wat van die eindeksamen?
Sommige oningeligtes vertel dat die universiteite wat nie kan klas klaarmaak nie, die studente op hul jaarpunt van die vorige drie kwartale gaan takseer.
Dink jou dit aan.
“Dokter, ek het ’n steekpyn agter my abdomen, net hier ... waar my ribbes ophou ... wat kan dit wees?”
“Mmm ... abdomen, abdomen ... ek sal moet gaan oplees ...o ja ...ek het nie daai boek nie. Ons het mos nie eintlik die abdomen behandel nie; hoor hier, ek sal jou na ’n psigiater moet verwys.”
Gepraat van taks ... wat van die klasieke nat doek ...
“Asseblief, u moet my help! Die reëls ten opsigte van die vrywillige openbaarmaking vir belastingbetalers met nie-verklaarde bates in die buiteland, sal blykbaar vir ’n tydperk van ses maande vanaf 1 Oktober 2016 verslap word, om ons aan te moedig om ons belastingsake in ooreenstemming met die regulasies te bring ... is dit waar?”
“Mmm ...Oktober 2016...Oktober... hmmm ... ons wás wel in die openbaar, maar ek weet nie so mooi van die buitelandse dinge nie ...”
Eish!
En onbeheersd kom die woorde “wat jy saai gaan jy maai” by my op. Die landjie van ons se voorgeslagte en gatgrawers het die slegste saad gesaai wat nou ontkiem. Dit werk maar so.
Êrens in elke ou se lewe gaan die duwwels saam met die blomme opkom en die gevolge daarvan sal hy maar moet hanteer.
As jy eerlikheid, deursettingsvermoë en harde werk saai, sal jy vertroue en sukses oes. Maar as jy selfgesentreerdheid, gulsigheid en onrus bly saai, dan sál jy probleme en plooie weens ’n swak rand bly oes!
The post Die gelag van stakers in onderbroeke appeared first on LitNet.