Die afgelope ruk het ’n hele paar artikels oor taal by my aangekom – seker onvermydelik, want for better or worse was woorde nog altyd ’n getroue, oorwerkte en onontbeerlike implement in die gereedskapskassie van my werkslewe.
Dis onteenseglik so, en heelparty van die artikels bevestig dit, dat homo sapiens taal begin gebruik het om kommunikasie, die oordra van gedagtes, makliker te maak. Hoe ironies, dan, dat taal heelparty kere ook die oorsaak van misverstande en konflik is.
Sedert Bybelse tye is die volgende resep gevolg: na ’n oorlog het die oorwinnaars die slimste en beste lede van die verslane nasie uitgekies, weggevoer en hulle opgevoed in die taal, kultuur en gewoontes van die oorwinnaar. Hulle is ander name gegee. Alle belangrike funksies (opvoeding, regspreking, godsdiens, ens) geskied in die taal van die oorwinnaar. Die verslane nasie word ontmoedig om hul eie taal te gebruik en aan hul eie kultuurlewe deel te neem. Soms is dit afgedwing deur wetgewing. Partykeer is dit gedoen deur sosiale druk uit te oefen, en die verslane nasie hul eie taal en kultuur as minder as, vernederend en vernederd, te laat ervaar. Almal het instinktief geweet: vervreem ’n volk van sy taal, en volkome oorwinning is binne bereik. In die meeste gevalle, as die ballingskap lank genoeg geduur het, het die verloorders so volkome assimileer dat hulle die vreemde taal en kultuur as hulle eie aanvaar het. Die Israeliete het Moses al sy dae gegee in die woestyn, omdat hulle terugverlang het na die Egiptiese speserye en kosse. Daniël het in die leeukuil beland omdat hy sy godsdiens beoefen het.
Dit gebeur vandag nog. In Iran mag Koerde nie hul eie taal besig nie. Daar’s wetgewing wat hulle verbied om in hul eie taal onderrig te word. Koerdiese gevangenes mag nie in Koerdies met besoekers praat nie – dis ’n strafbare oortreding.
In Kanada dreig Quebec-provinsie gereeld om af te stig en is daar gedurig spanning tussen die Franssprekende en Engelssprekende provinsies van die land.
In Afrika het ons voormalige kolonies wat Portugees, Frans en Engels as hul amptelike tale het. Selfs nadat die koloniseerders onttrek het, is hulle taal en kultuur in die meeste gevalle trots behou. In Suid-Afrika is daar ’n voortslepende spanning tussen Engels en Afrikaans, met laasgenoemde meer gereeld aan die verloorkant. In 1976 het die pitsweer rondom die afdwing van die taal van die koloniseerder vir Afrikaners gebars. In 2016 word taal en die daarmee gepaardgaande kultuur as deel van die spanning op universiteitskampusse uitgewys.
Selfs binne dieselfde taalgroep is daar konflik. In Afrikaans is daar toenemende druk om Kaaps haar volle regmatige plek as taal te laat inneem. Dis net een van die variante van Afrikaans wat nie erken word as volwaardige lede van die taalgemeenskap nie.
Taal is egter nie net ’n implement om gedagtes mee oor te dra nie. Meer kere is dit ook ’n merker wat status aandui, wat jou as lid van ’n bepaalde groep identifiseer, en wat op jou streeksgebondenheid dui. So byvoorbeeld word mense van Malmesbury deur die manier waarop hulle bry, uitgeken.
Baie bruin mense kies om hulle kinders Engels groot te maak, alhoewel hulle self Afrikaans is. Dis natuurlik elkeen se goeie reg om dit te doen. Soms gebeur dit egter dat hulle dan ander bruin mense wat kies om hulle kinders Afrikaans groot te maak, behandel asof hulle agterlik is. Ek het op ’n klein plattelandse dorpie grootgeword. ’n Hele paar keer het dit oor die jare gebeur dat ek by vriende is, en hulle Engelse familie van Mitchells Plain of Elsies of Bishops Lavis kom daar aan met ’n meerderwaardige houding. “Stadsmuis kom sit vir plaasmuis reg,” het die grootmense dit genoem. As kind was ek vreeslik beïndruk met die Engelse mense, tot ek later agtergekom het my Engels (en my Afrikaans) is strate beter as hulle s’n.
Die meeste van my vriende maak hulle kinders Engels groot, so ook my familie. My broer is een van die min wat sy kinders Afrikaans grootgemaak het, ’n keuse wat al raarder en brawer word.
Die keuse van watter taal om in watter omstandighede te gebruik, bepaal soms hoe die magsbalans in ’n interaksie skuif. Dis opvallend hoedat Xhosa-sprekers dadelik vriendeliker en meer behulpsaam raak wanneer ek in Xhosa probeer praat. Madiba het immers gesê: “If you speak to a man in a language he understands, it goes to his head. Speak to him in his language, and it goes to his heart.” Die insig in die menslike psige wat agter daardie eenvoudige aanhaling lê, is dalk die enkele grootste verklaring vir die wyse waarop hy daarin kon slaag om diverse groepe saam te snoer.
Taal word soms gebruik om uit te sluit. Soms gebeur dit direk, deurdat persone in ’n groep ’n taal sal gebruik wat hulle weet ander in die groep nie kan praat nie. Meer kere gebeur dit egter meer onskuldig. Professionele persone gebruik vakterme om gedagtes oor te dra aan ander in dieselfde vakrigting. Enigeen wat buite daardie veld is, word egter terselfdertyd uitgesluit van die oordra van idees, die oorspronklike doel van taal. Bendes gebruik terme wat mense buite die bende om nie verstaan nie. Dit dien om die lede van die groep hegter te bind, en gedeelde ervaringe te verstewig, maar terselfdertyd bring dit vervreemding van ander buite die groep om.
Kommunikasie is egter veel meer as taal, meer as die woorde wat jy kies of die taal waarmee jy gemaklik voel. Kommunikasie word ook gedefinieer deur die instrumente wat ons gebruik. My ma se generasie verkies om van aangesig tot aangesig te praat. Hulle sal ’n telefoon optel indien hulle wil praat. Jonger mense verkies WhatsApp of ander maniere om teksboodskappe te ruil.
Persoonlikhede bepaal ook die keuse van kommunikasiemiddele. Introverte verkies teksboodskappe, ekstroverte sal bel.
Dis altyd opvallend hoeveel van my introverte vriende welsprekend, sjarmant, slim, ironies, skreeusnaaks en veel meer op papier (of op die skerm) is. In persoon of op die telefoon kan hulle egter koud en afsydig of selfs eienaardig voorkom.
Taal kan asemrowend mooi gebesig word, of op die afgryslikste manier verwring word. Taal kan sing, of dit kan soos vingernaels oor ’n swartbord krap. Dit kan saamvoeg of dit kan uitmekaar skeur.
Toenemend kan dit nie meer net wéés nie. Onskuldig wees nie. Sonder agenda wees. Sonder bagasie wees. Want taal is aan die kern van jou menswees.
The post Van taal en kommunikasie appeared first on LitNet.