Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se suidelike bekroningsgeleentheid het Vrydagaand in Stellenbosch plaasgevind.
Wessel Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het die pryse oorhandig.
Sias Mostert, voorsitter van die Stellenbosch-werksgemeenskap, het as seremoniemeester opgetree.
Poortprys vir prosa
Annemarie Wüst van Hoërskool Stellenberg het die Poortprys vir prosa gewen.
Douw Greeff-prys
Die Douw Greeff-prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is. Die prys is toegeken aan Koot Reinecke, Sophie Reinecke en Mia van Wyk vir hulle artikel "Kan die gevoeligheid van grondlewende organismes bydra om die volhoubaarheid van landbewerking van olieraffinadery-afval te beoordeel?" Die huldigingswoord is gelewer deur Kobus Eloff.
Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur
Die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur word toegeken vir enige literêre werk in die kategorie kinderliteratuur, dws die groep lesers van sewe tot twaalf. Die prys word vanjaar toegeken aan Kobus Geldenhuys vir sy vertaalde werk Hoekom die walvisse gekom het. In die huldigingswoord, opgestel deur Helize van Vuuren en gelewer deur Marisa Keuris, is die lees van die boek as ’n besonder verrykende ervaring beskryf.
Kobus Geldenhuys het sy dank uitgespreek teenoor Protea Boekhuis, wat vir ons Afrikaanse jeug ’n letterkunde skep wat oor die hele wêreld strek.
Scheepersprys vir jeugliteratuur
Die Scheepersprys vir jeugliteratuur word toegeken vir die bevordering van hoogstaande Afrikaanse jeugliteratuur en moet van goeie letterkundige en/of opvoedkundige gehalte getuig. Die prys is toegeken aan Marita van der Vyver vir Swemlesse vir ’n meermin.
In die huldigingswoord, wat deur Daniel Hugo gelewer is, beskryf Thys Human Swemlesse vir ’n meermin as ’n onderhoudende, spitsvondige, maar terselfdertyd ook uiters geloofwaardige jeugroman. Volgens Marita van der Vyver voel dit of hierdie prys ’n sirkel in haar skrywersloopbaan voltooi, aangesien sy meer as drie dekades gelede met jeugboeke gedebuteer het.
Protea Boekhuisprys vir beste gepubliseerde boek in Afrikaans oor geskiedenis of kultuurgeskiedenis
Die prys kan jaarliks om die beurt toegeken word vir die beste gepubliseerde geskiedeniswerk in Afrikaans, beste geskiedenisverhandeling in Afrikaans, of beste geskiedenisproefskrif in Afrikaans. Die prys is toegeken aan Carel van der Merwe vir Donker stroom. Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.
In sy huldigingswoord het Fransjohan Pretorius Donker stroom as briljante geskiedskrywing beskryf.
Carel van der Merwe het gesê dis ’n besondere voorreg om die prys vir ’n geskiedenisboek oor spesifiek Eugène Marais te ontvang, aangesien hy ses jaar gelede die Eugène Marais-prys vir ’n roman ontvang het.
Eugène Maraisprys
Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ’n persoon toegeken word. Die prys is aan Stephanus Muller vir Nagmusiek toegeken.
In sy huldigingswoord, wat deur Daniel Hugo gelewer is, het Willie Burger Nagmusiek as ’n grensverskuiwende en grensverleggende werk beskryf. "Dit is die soort werk wat ’n mens laat glo in die krag van die geskrewe woord. In die vermoë van taal om dinge gesê te kry wat eintlik onsêbaar is, maar wat, as mens versigtig genoeg daarrondom bly praat, tog kommunikeerbaar word."
Stephanus Muller het die stigting van ’n Arnold van Wyk Eeufeesfonds aangekondig. Hierdie fonds sal toegewy word daaraan om Van Wyk se musiek te publiseer, uit te voer en op te neem. Muller het, tesame met die outeurstantieme van Nagmusiek, ook die prysgeld van die Eugène Maraisprys as vestigingskapitaal vir hierdie fonds geskenk.
Besondere erepenning van die Akademie
Die erepenning is toegeken aan Renata Coetzee, skrywer van onder meer Garob Un: A feast from nature wat oor die Khoi-Khoin-koskultuur handel.
Die erepenning is aan Coetzee gegee vir haar lewenslange bydrae tot internasionale bewustheid en kennis van, en waardering vir, die koskultuurerfenis van die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika.
Erepenning vir televisiedrama in Afrikaans
Die erepenning is aan die regisseur John Trengove vir Swartwater (episode 1) toegeken.
In sy huldigingswoord het Leon van Nierop daarop gewys dat John Trengove wegbeweeg van die voorspelbare konvensies van televisie met sy komposisies en die wyse waarop hy melodrama teenwerk.
Erepenning vir rolprentkuns
Die erepenning vir rolprentkuns is vanjaar aan Katinka Heyns toegeken.
Katinka Heyns het vertel dat sy haar lewe lank omring was deur goeie storievertellers, onder meer Truida Louw, née Pohl, wat haar bewus gemaak het van visuele grammatika. Die meesterstorieverteller in haar lewe was egter Chris Barnard. "Hy het my baie geleer, van die liefde ... vir Afrikaans, vir taal, vir die woord, vir die grond; van vergifnis vir als; en van ironie." Katinka Heyns het die erepenning aan Chris Barnard opgedra.
Huberte Rupertprys vir klassieke musiek
Die prys is toegeken aan die pianis Ben Schoeman.
Hendrik Hofmeyr het dit in sy huldigingswoord gestel dat Ben Schoeman op die ouderdom van 32 reeds een van die blinkste sterre op die Suid-Afrikaanse musiekhorison geword.
Ben Schoeman het gesê dis vir hom ’n voorreg om ’n toekenning met die naam Huberte Rupert te ontvang, want hy waardeer en eer haar nagedagtenis en haar bydrae tot die kunste.
Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans
Die prys is vanjaar toegeken aan Paul C Venter vir Vlug na Egipte (episode 3) en Terug na Egipte (episode 6).
In sy huldigingswoord het Leon van Nierop ’n goeie draaiboek vergelyk met ’n padkaart: "die reguit pad tussen die begin en ’n eindpunt word duidelik aangeskryf, maar dis die onverwagte afdraaipaadjies wat weer by die hoofintrige inskakel, wat die reis bekoorlik maak."
Stalsprys vir Ekonomie
Die prys is toegeken aan Estian Calitz, emeritus professor in Ekonomie, Universiteit Stellenbosch.
Estian Calitz het op die ekonoom se twee funksies in die wêreld van ekonomiese beleid gewys. Die eerste is om die bes moontlike advies voor te stel. Meestal koop politici dit nie, dan skop die skadebeheerfunksie in: om op die mins nadelige alternatief te wys.
Stalsprys vir geskiedwetenskappe
Die prys word toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks van hoogstaande publikasies, by voorkeur in Afrikaans, asook vir individuele of gesamentlike produkte hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gemaak word.
Die prys is vanjaar toegeken aan Ernst Stals, navorsingsgenoot in die Geskiedenisdepartement, Universiteit Stellenbosch. Stals woon tans in Windhoek, Namibië.
Ernst Stals het gesê dat Afrikaanssprekende historici veral in die tye wat ons leef ’n besef moet hê van die besondere verantwoordelikheid wat op hulle skouers rus om ’n historiese bewussyn by die breër Afrikaanse gemeenskap te voed.
Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek
Die prys is al om die drie jaar beskikbaar vir literatuurwetenskaplike werk in Afrikaans, met inbegrip van letterkundige kritiek.
Die prys is vanjaar toegeken aan Louise Viljoen, verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch.
In sy huldigingswoord het Hennie van Coller onder meer daarop gewys dat opvallend baie van Louise Viljoen se afgestudeerde magister- en doktorsgraadstudente ook akademiese loopbane volg. "Dit spreek boekdele van haar akademiese leiding."
Goue akademiemedalje
Die medalje is toegeken vir verdienstelike werk op die gebied van die natuurwetenskap, tegnologie of geneeskunde. Die prys kan driejaarliks toegeken word.
Die medalje is toegeken aan Michael Samways, uitgelese professor en akademiese prinsipaal in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch.
Michael Samways word erken as wêreldkundige op die gebied van biodiversiteit, met die hoogste navorsingsuitsette in die veld van insekbewaring, waarin hy die grondslag help lê het. Sy akademiese rekord sluit in: meer as 320 artikels, 57 boekhoofstukke, 15 boeke en vele ander spesiale uitgawes wat voortspruit uit sy werk en loopbaan. Hy was verder verantwoordelik vir verskeie uitvindings wat as van groot belang vir die mensdom beskou word, byvoorbeeld die ontwikkeling van ’n unieke benadering tot ’n geïntegreerde beheer van sitrusplae, unieke praktyke ten opsigte van bewaring in agrobosbou, sowel as die assessering van riviere en vleilande.
Frans du Toitmedalje vir bedryfsleiding
Die medalje word driejaarliks toegeken. Die prys word as die kroon op ’n lewenstaak beskou en kan slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.
Die prys is toegeken aan Johan van Zyl.
In sy huldigingswoord het Andreas van Wyk die Universiteit van Pretoria se ontwikkelingsnetwerke in Afrika noord van Suid-Afrika se grense as ’n monument vir Johan van Zyl beskryf.
Hertzogprys vir prosa
Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.
Die Hertzogprys is vanjaar aan Willem Anker vir Buys: ’n Grensroman toegeken.
In sy huldigingswoord het Andries Visagie die pryswennerroman as volg beskryf: "In sy onverskrokke eiesoortigheid is Anker se Buys ’n roman wat die prosa innoverend verryk sonder om te ver af te dwaal van die goedgevestigde tradisie van betrokke literatuur in Afrikaans."
In sy dankwoord het Willem Anker gesê dat hy ses maande na die aankondiging van die prys, dit steeds verrassend vind. "Ek het ses maande gehad om na te dink oor wat ek vanaand wil sê. Ek wou graag iets sê oor skrywerwees in hierdie heel vreemde hier-en-nou in 2016 in Suid-Afrika en in Afrikaans. Ek moet julle teleurstel: ek kon aan niks ondubbelsinnig dink nie. Ek dink die plek vir dubbelsinnigheid is die letterkunde en nie bedankingstoesprake nie."
Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is die hoogste toekenning van die SA Akademie. Die Akademieraad kan ’n persoon tot erelid van die Akademie verkies ter erkenning van buitengewone dienste aan Suid-Afrika, aan die Afrikaanse taal, of aan die Akademie in die besonder.
Erelidmaatskap is aan Adam Small toegeken as erkenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal.
Die volledige huldingswoord, opgestel deur Steward van Wyk en Wessel Pienaar, kan hier gelees word.
In haar dankwoord het Rosalie Small die volgende gedig van Adam Small uit Klawerjas voorgelees:
’n Soort chemiese proses
Die skryf van poësie tref my soms
as ’n soort chemiese proses.
Jy sit ’n woord, ’n frase, ’n reël neer
op papier, en dis ’n klein kern, ’n pit,
wat dan fomenteer, bruis en skuim
met die taal rondom, totdat daar –
dit verstom jou – ’n gedig vorm
en jou papier versier.
The post Foto's: Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se suidelike bekroningsgeleentheid appeared first on LitNet.