
Foto: Canva
Johan Fourie het in ’n onlangse Rapport-berig geskryf dat hy deesdae, met behulp van KI, binne ’n week ’n PhD sal kan skryf. Naomi Meyer het hom hieromtrent gevra.
Johan, jy het onlangs ’n artikel in Rapport geskryf met die titel “Ek kan binne ’n week ’n PhD skryf." Jy sê dat dit nou in byna enige onderafdeling van die sosiale wetenskappe die geval is. Kom ons aanvaar die titel van jou artikel as ’n stelling. Vertel my hoe mens dit kan doen?
Groot taalmodelle soos ChatGPT het deesdae die vermoë om diep ontledings van onderwerpe te doen. Die kwaliteit is reeds baie naby aan wat van ’n PhD-student verwag word. Natuurlik is die titel gekies om miskien effe tong-in-die-kies te wees, maar die feit dat mens dit selfs sou oorweeg as ’n moontlikheid, wys hoe ver die tegnologie reeds ontwikkel het. Ek voorspel dat ons binne ’n paar maande daar sal wees waar ons gaan sukkel om te onderskei tussen ’n middelmatige proefskrif deur ’n werklike student geskryf en een wat met behulp van kunsmatige intelligensie geskryf is.
........
Ek voorspel dat ons binne ’n paar maande daar sal wees waar ons gaan sukkel om te onderskei tussen ’n middelmatige proefskrif deur ’n werklike student geskryf en een wat met behulp van kunsmatige intelligensie geskryf is.
........
Jy beskou navorsing en kultivering van kennis as die kerndoelstellings van universiteite. Maar dan is ons terug by die eerste vraag: As PhD’s of meestersverhandelinge met behulp van KI geskryf kan word, is dit dan ware navorsing? Wat is die essensie van navorsing? En kan dit in tandem met KI plaasvind? Hierdie vraag is nie ’n “hoe?”-vraag nie, maar ’n beskouing van die disseksie van die abstrakte idee van wat navorsing is.
Navorsing is tog die soeke na ’n antwoord deur gebruik te maak van die wetenskaplike metode. Maar om hierdie metode baas te raak verg oefening. Watter proteïen sou jy vou om te verstaan waarom Alzheimer se siekte ontwikkel? Watter sterre sou jy bestudeer om te ontdek hoe aardagtige planete buite ons sonnestelsel vorm? Was die setlaarsboere in die 18de-eeuse Kaapkolonie arm? Ons kan ChatGPT hierdie vrae vra, maar op die uiteinde, om te weet of die antwoord waar is, moet ons empiriese bewyse insamel deur eksperimentering, of dit nou in die laboratorium of wêreld daar buite is. Navorsing gaan dus nie net oor vrae vra nie, maar oor die vaardigheid om self antwoorde te vind. Dit is hierdie metode wat universiteite sal moet bewaar en bevorder.
.......
Navorsing gaan dus nie net oor vrae vra nie, maar oor die vaardigheid om self antwoorde te vind. Dit is hierdie metode wat universiteite sal moet bewaar en bevorder.
.......
Jy skryf oor baie aspekte van die huidige universiteitsomgewing in hierdie artikel: studente wat swak klas bywoon; studente wat gereeld KI inspan om hul werksopdragte te skryf. Jy skryf oor hoe KI dosente se rolle kan oorneem: op die terreine van onderrig, mentorskap en lewensafrigting. Universiteite moet kritiese denke bevorder, maar as mens dit vir ’n oomblik vergeet (kan mens?): Is dit moontlik dat studente KI as assistente kan gebruik om hul toe te rus om die nodige opleiding te ontvang? Hulle moet in elk geval nog gaan eksamen skryf daarsonder, so die KI gaan net tot op ’n punt die assistent kan wees.
KI kan ’n wonderlike tutor wees, baie beter as die meerderheid dosente. Dit identifiseer presies die student se tekortkominge en help dan om dit aan te spreek. Die idee is natuurlik nie dat die KI die werk doen nie; dit moet ’n assistent wees. Die vraag is wel hoe ons gaan assesseer wat die student weet. Huidige vorme van assessering – soos opstelle – was, om eerlik te wees, selfs al voor KI nie meer baie sinvol om ’n student se vermoëns te toets nie.
Jy verwys na faktore wat binne ’n universiteitsomgewing baie belangrik is. Geleenthede wat KI bied. Gemeenskappe van studente. Jy vra of universiteitsdosente nog moet assesseer. Dis belangrike vrae om te vra. Wat is ’n alternatiewe manier om te sien hoe toegerus ’n student is met die kennis om in ’n werksomgewing toe te pas as daar nie formele assesserings bestaan nie? Noem enige alternatiewe waaraan jy kan dink.
Vernuwing is die rede hoekom ons so ryk is soos ons is. Universiteite was – en is steeds – die moederskip vir vernuwing; dis waar nuwe dinge in verskillende dissiplines uitgevind word, en waar mense opgelei word wat daardie dinge uitvind. Dus sal universiteite wat hulself as navorsingsinstellings definieer, steeds ’n belangrike rol hê. Maar vernuwing vind al hoe meer nie net by universiteite plaas nie. Kyk maar na die groot taalmodelle – dis Meta, Alphabet en OpenAI wat geweldige baie kapitaal belê om die hardeware te bou wat hierdie modelle moontlik maak. Dus vermoed ek ’n groter deel van selfs basiese navorsing gaan in die toekoms by multinasionale tegnologiemaatskappye plaasvind.
........
Die onderrigfunksie van universiteite gaan al hoe meer deur KI ondervang word; die navorsingsfunksie deur groot maatskappye.
........
Die onderrigfunksie van universiteite gaan al hoe meer deur KI ondervang word; die navorsingsfunksie deur groot maatskappye. Hoe universiteite hul waardeproposisie in die toekoms gaan definieer – veral in ’n land soos Suid-Afrika met baie ander behoeftes – is dus ’n moeilike maar bitter belangrike vraag.
Lees ook:
Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede
Agterstories: Wat Sophia ons kan leer oor die ekonomie van slawerny
Agterstories – Kwyngroei is katastrofies: ekonomiese groei vandag en môre
The post Die toekoms van die universiteit in ’n KI-wêreld: ’n onderhoud met Johan Fourie first appeared on LitNet.
The post Die toekoms van die universiteit in ’n KI-wêreld: ’n onderhoud met Johan Fourie appeared first on LitNet.