Hierdie teologiese besinning is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Onder ’n bloedrooi hemel. Liefde en geweld in Suid-Afrika
Skrywer: Annemarie van Niekerk
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093596
Hierdie is nie ’n resensie van die boek nie, net ’n teologiese besinning. Vir ons beteken dit bloot om die boek deur ’n teologiese bril te lees. Dit beteken nie dat ons teologie gaan soek wat daar nie is nie. Dit beteken ook nie dat ons enigsins gaan probeer om ’n teologiese of godsdienstige sousie oor die verhaal te gooi en sodoende perspektiewe inlees wat nie spontaan uit die verhaal na vore kom nie. Ons wil bloot spontaan as teoloë besin, nie deur stellings maak nie, maar deur die vrae te vra wat by ons na vore kom. Daarop sal ons voorlopige indrukke weergee sonder om op korrekte of geldige teologiese interpretasies aanspraak te maak. Ons (Julian en Niekie) kom so een keer per maand iewers in die Knysna-Plett-omgewing bymekaar en dan gesels ons oor ’n boek wat ons daardie maand aan die lees is.
Die eerste vraag wat ons onsself en teenoor mekaar moes beantwoord, is: Waarom doen ons dit? Antwoord: Wel, dit is vir ons lekker!
En waarom wil ons dit nou neerskryf? Is die lekker gesels nie op sigself genoeg nie? Dit is inderdaad verrykend en betekenisvol om sulke gesprekke te voer, maar tog waag ons dit om ons gedagtes op papier te sit omdat ons vermoed dat ander moontlik ook oor dieselfde vrae sal wonder. Tot dusver het ons nog nie iets soortgelyks tussen die verskeidenheid resensies en lesersindrukke wat gepubliseer is, gevind nie. En daarom deel ons dit maar huiwerig met ’n breër gehoor.
Die titel van die boek is ontstellend: Onder ’n bloedrooi hemel. Wat maak die hemel so bloedrooi? Wat maak die hemel vir die skrywer so bloedrooi? Die hemel is veronderstel om blou te wees, maar Van Niekerk s’n is bloedrooi. Ons wonder waarom dit net vir die Afrikaanse lesers bloedrooi geteken word en nie vir die Nederlandse lesers nie? Die Nederlandse titel is minder ontstellend: Om het hart terug te brengen. Is “hemel” in die Afrikaanse titel maar net ’n sinoniem vir “uitspansel”, of is dit ’n bedekte verwysing na God? Is dit ’n manier om God by die bloedstollende tonele en gebeure in die boek te betrek?
Daar word nie juis pertinent na God en geloof verwys in die boek nie, behalwe as dit gaan oor een van twee dinge: Eerstens God wat nie behoed en bewaar soos Hy veronderstel is om te doen nie, en tweedens verwysings na die skrywer se pa se tradisionele geloof wat die basis is van sy Afrikanerskap en wat die grondslag is vir sy verwerping van en selfs haat teenoor swart mense.
G’n wonder, dan, dat die hemele bloedrooi gekleur is nie, want God het hulle in die steek gelaat en God het hulle mislei met ’n regverdiging van apartheid. In literêre werke word rooi dikwels met bloed, revolusie, passie of intense emosies geassosieer. In al twee plaasmoorde wat in die boek beskryf word, is die slagoffers Godvresende en toegewyde gelowiges wat selfs nog dieselfde aand by huisgodsdiens gebid het om bewaring teen gevare. En haar pa se wroeging oor die veranderinge en sy weiering om haar verhouding met ’n swart persoon te aanvaar, kan nie losgemaak word van die God wat hy aanbid nie.
Die Godsbeeld wat onderliggend is aan die boek, is daardie God wat deur Nietzsche as dood verklaar is. Daardie God wat nie die twee Wêreldoorloë kon oorleef nie omdat Hy, wat sogenaamd Almagtig is, niks gedoen het om die wreedhede en bloedvergieting te keer nie. Dit is ook die basis van Van Niekerk se worsteling. Aan die een kant is sy onherroeplik verbonde aan haar pa en daarom aan sy geloof in God. Aan die ander kant rebelleer sy daarteen. Daar is nooit ’n uitdruklike verwerping van God nie, maar dit is die implikasie van die worsteling met haarself en die verhouding met haar pa. Die probleem van die boek, wat dan ook die probleem van die Afrikanerpolitiek en -godsdiens is, is dat die God van daardie ideologie nie standhoudend is nie. Hy kan nie die lyding en terugslae van die lewe oorleef nie. So gesien, is hierdie boek ’n diep teologiese boek wat, sonder om dit te verwoord, die God-is-dood-teologie in die Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse konteks verwoord.
In die boek is daar ’n beweging weg van onskuld en naïewe geloof en selfs ’n soeke na ’n spiritualiteit wat meer sin maak. Op bl 41 lees ons van Chris wat by die moordtoneel op Pinevale in sy bakkie geklim en weggery het, “weg van Pinevale, weg van die kermende stem, weg van sy jeug en weg van die laaste bietjie onskuld wat hy nog gekoester het”. Op bl 79 word die kontras tussen kinderlike onskuld en die bloeiende werklikheid baie plasties verwoord. Sy onthou hoedat haar ma haar aan die slaap gesus het met die wiegeliedjie van Jan FE Cilliers” “Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek.” Maar lank voor dit “môre vroeg” was, word sy met die dringende geklop aan die voordeur gewek. Voor die deur staan ’n swart man met bloed wat van hom afdrup. Haar pa laat hom daar op die gras sit waar daar die volgende oggend donkerrooi kolle te sien is. Haar pa, wat nie versorg nie, nie die ambulans bel nie, maar die polisie. Weer die beweging weg van die kinderlike wiegeliedjie en God wat veronderstel is om almal die volgende môre vroeg in veiligheid te laat opstaan, na die bloedige geweld en haar hartelose pa. En waar is God?
Die beweging behels ook ’n reis na binne. Dit is waarop die Nederlandse titel sinspeel: Om die hart terug te bring. Hierdie titel beklemtoon die terapeutiese reis na binne wat deur die skryf van outobiografiese herinneringe moontlik gemaak word. Maar selfs die Afrikaanse titel wat meer klem lê op die trauma en bloedige geweld, dui ook op ’n subtiele soeke na heling. Die titel is skynbaar ontleen aan die U2-liedjie “New Year’s Day” waarin die woorde “under a blood red sky” voorkom, maar waarin tog gesinspeel word op genesing en hereniging: “Though torn in two / We can be one.” Die beweging behels ’n soeke na heelheid en die vind van identiteit te midde van soveel trekkragte na alle kante.
Heelheid en genesing is natuurlik ook tipies godsdienstige temas. So ook die soeke na sin en betekenis te midde van chaotiese en traumatiese ervaringe. Die verskillende reise waarop Van Niekerk ons meeneem, is vervleg met ’n soeke na eie identiteit. Die integriteit van die boek kom juis daarin na vore dat geen antwoorde of uitkomste op die soeke aangebied word nie. Die leser word eenvoudig meegesleur en sodoende tot selfondersoek gedwing. Wie kan dit lees sonder om gekonfronteer te word met jou eie vrae oor die sin van die lewe en oor jou herkoms en jou identiteit?
Lees ook:
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n boekbespreking
Persverklaring: Annemarié van Niekerk wen enorme Nederlandse prys
The post ’n Teologiese besinning oor Annemarie van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel first appeared on LitNet.
The post ’n Teologiese besinning oor Annemarie van Niekerk se <i>Onder ’n bloedrooi hemel</i> appeared first on LitNet.