Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 22080

Omtrent die misdaad in my buurt: Asielsoeker-blues

$
0
0
Die inhoud van hierdie stuk mag sensitiewe lesers ontstel.

Prent: Canva

"Misdaad gee nie om oor kleur nie," het Bettina Wyngaard in ’n onlangse rubriek op LitNet geskryf. Hierdie betrokke rubriek het gehandel oor moorde wat nie die koerant haal nie. In hierdie selfde rubriek het daar ook gestaan: "Die narratief rondom misdaad wat ons alte gereeld hoor, en wat die afgelope tyd met die Afrikaner-eksodus na Trumpland weer opvlam, is dat die slagoffers van misdaad wit en welaf is. Die narratief is dat wit mense veral geteiken word oor hulle kleur en oor hulle ekonomiese status." LitNet het in reaksie hierop vir ’n paar lesers gevra om hul ervarings rondom misdaad in hul eie buurte te deel. Hier onder is Les Javan se bydrae. 

Genesing vat tyd. Tyd kos geld, en geld soek heeldag na geduld. Die lied van ’n gemeenskap wat in ’n vreemde wêreld met vreemde mense, dinge en dade moes integreer.   

........
Dit was ’n mistige Maandagoggend toe ’n man se liggaam deur skoolkinders gevind word op die veldjie oorkant ons eerste muurhuis in Proteaville, Bellville-Suid.
............

Dit was ’n mistige Maandagoggend toe ’n man se liggaam deur skoolkinders gevind word op die veldjie oorkant ons eerste muurhuis in Proteaville, Bellville-Suid. Van waar ek gestaan het, kon ek die man sien lê in sy bloed.

"Sy geslagsdele was uitgesny en in sy mond geprop voor sy keel afgesny is," het ons die grootmense in die pad hoor sê vir mekaar.

Dis nie wat ’n kind van sewe jaar oud of enige ander ouderdom moet sien of aanhoor nie. Ek verstaan deesdae hoekom gemeenskappe in skok is. Daar was nooit genesing nie. Almal van ons was in skok, maar iemand het darem die gedagte gehad om die kinders daar weg te kry, al was dit te laat.

Tog het ek amper twee jaar later gesien hoe ’n man se kop half afgekap word in ’n bendegeveg. Dit en nog meer het deel van my realiteit geword soos ek in Bellville-Suid, Piketberg en al die ander plekke in die Wes-Kaap en Weskus sou bly oor die eerste 20 jaar van my lewe.

Maar dis wat gebeur as jy mense ontwortel, families uitmekaar skeur en dan tussen ’n klomp vreemde mense en situasies gaan plaas in ’n plek wat toe ’n “township” genoem word. Daai skip wat net daar bly en vir niemand nooit na “êrens” toe bring behalwe in die moeilikheid nie. Alles voor dit is ten gronde. Families en gemeenskappe moes van vooraf weer begin lewe en ’n bestaan probeer maak terwyl daar geen hulp was van die einste goewerment wat hulle daar geplaas het nie. Die jong mans / kinders het slaags geraak, bendes gevorm en was dan in die tronk gestop en van vergeet. ’n Generasie het verdwyn voor my oë oor ’n 18-jaar-periode in my lewe. Weg, net weg. Ons onthou hulle amper nie meer nie.

........
Die eerste keer dat die hoofstroommedia vir bruin mense op die Kaapse Vlakte en ander soortgelyke areas ernstig opgevat het, was met die “station strangler”-saak in die tagtigerjare.
.........

Die eerste keer dat die hoofstroommedia vir bruin mense op die Kaapse Vlakte en ander soortgelyke areas ernstig opgevat het, was met die “station strangler”-saak in die tagtigerjare.

Digters, skrywers, komponiste en individue se bydraes tot die breë kunste wat ’n voetspoor gelaat het oor die jare en ons storie vertel, het elke keer ’n generasie van skeppende kunstenaars in hulle eie veld opgelewer. Ongelukkig het die meeste gemeenskapswerk in hierdie verband erg skipbreuk gely in die einste townships en klein dorpies.

Oor die laaste 50 jaar het mense met amazing projekte opgekom, maar die infrastruktuur was almal ontneem deur veral die vuilspel van politiek. Nog ’n “knock” virrie township-idee. Eers deur die apartheidgoewerment en toe deur die huidige goewerment.

As ek die statistieke so lees en deur Westbury ry om my kind na Raheema Moosa-hospitaal toe te neem hier in Johannesburg, dan sien ek weer die Kaap. Dis hartseer om te sien hoe my volk in armoede bly. Oor die jare het ek liedjies geskryf om die verskillende areas en “strate van my hart” te beskryf, en êrens in my kop weg te kom van die waarheid, maar dis moeilik as die waarheid soos koue reën by die karvenster inwaai en jou heeltyd in die gesig klap.

Niemand is onsensitief as hulle sê daar is nie net plaasmoorde in Suid Afrika nie. Nee, mense gee net die feite van die geskiedenis waaroor daar gepraat word tot binne-in die Withuis in die VSA deesdae. Baie Suid-Afrikaners is nie meer geskok oor hoe die stuk uitspeel nie. Die storie speel af soos ’n stuk wat lankal terug geskryf is, en hier en daar val daar ’n “conspiracy theory” uit by die kar se deur en rol af in ’n systraat soos dit maar gewoonlik gebeur. Die kleur-onderrok hang nou al so ver uit dat dit al deel van die buitemondering geword het en die “driver” van die kar kom niks agter nie. Die “Forty-niners Club” het ’n gulde geleentheid aangegryp om die land te verlaat, maar terselfdertyd die deur wawyd oop gelos vir ’n muishond om in te kom en almal se dag te kom ontsier.

Dis nou al baie jare terug dat ek Bellville-Suid, Piketberg, asook die Kaapse Vlakte verlaat het, en ek wonder soms oor die kinders saam met wie ek grootgeword het. Ons het almal dieselfde pyn ervaar.

........
Ek was gelukkig dat ek ’n uitlaatklep het deur musiek te komponeer en liedjies te skryf oor my ervaringe. Dis my terapie, maar hoe het hulle “gecope” oor die jare? Hoe hanteer mense die pyn van swaarkry, verkragting, roof en moord in die townships en dorpies?
.........

Ek was gelukkig dat ek ’n uitlaatklep het deur musiek te komponeer en liedjies te skryf oor my ervaringe. Dis my terapie, maar hoe het hulle “gecope” oor die jare? Hoe hanteer mense die pyn van swaarkry, verkragting, roof en moord in die townships en dorpies? Daar is te veel vrae wat deur my kop gegaan het toe ek lees van die “Forty- niners Club” wat spekvet hier weg is as “refugees”. Ons gun vir almal ’n nuwe toekoms, maar ’n mens wonder maar oor sekere goed.

Lees ook:

Omtrent die misdaad in my buurt: Lewe en laat lewe

Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal

 

The post Omtrent die misdaad in my buurt: Asielsoeker-blues first appeared on LitNet.

The post Omtrent die misdaad in my buurt: Asielsoeker-blues appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 22080

Latest Images