Beste lid van PEN Afrikaans
Ek vestig graag jou aandag op:
PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool vir belowende jong skrywers
Al ons lede word hartlik uitgenooi om te gaan kyk na ons eerste aanlyn slypskool op ons LitNet-webportaal.
By hierdie laasgenoemde skakel vind jy agtergrond oor die slypskool waarmee ons hoop om twee talentvolle jong skrywers, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, met 'n paar kritiese hupstote te ondersteun en aan te moedig. Gaan lees asseblief hulle kortverhale en lewer gerus opbouende kommentaar.
Elisha Zeeman se kortverhaal, "Die vlieg en die waiter", kan hier gelees word.
Jaco du Plooy se kortverhaal, "In alle veiligheid", is hier beskikbaar.
Izak de Vries en Danie Marais se kort keurverslae met aanbevelings sal eersdaags geplaas word.
Hierna sal die twee deelnemende skrywers twee weke kry om hul aanbevelings te verwerk en ’n geredigeerde weergawe vir publikasie op PEN Afrikaans se LitNet-webportaal terug te stuur.
Danie en Izak sal ook keurverslae met voorstelle oor die tweede weergawe op LitNet publiseer en daarna sal die skrywers geleentheid hê om ’n finale weergawe vir aanlyn publikasie in te dien.
Die Universal Periodic Review (UPR) aan die Menseregte Raad in Genève oor die stand van menseregte en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika
PEN Afrikaans het aan die einde van September in samewerking met PEN South Africa en PEN International op uitnodiging van die Hoë Kommissaris van die Menseregte Raad (Human Rights Council) in Genève 'n Universal Periodic Review-verslag oor die menseregteklimaat in Suid-Afrika voorgelê. Die verslag fokus primêr op die plaaslike situasie en verwikkelinge rondom uitdrukkingsvryheid sedert die vorige UPR van 31 Mei 2012. Hierdie 2012-UPR is deur PEN SA en PEN International gelewer en die bestuur van PEN Afrikaans is dus bly dat daar vanjaar ook vir ons sentrum die geleentheid tot in- en meespraak was.
Die 2016 UPR-verslag bevat 'n nuttige oorsig oor kommerwekkende verwikkelinge en aanslae op persvryheid in die afgelope vier jaar. Belangstellendes kan dit hier as Word.doc aflaai.
Ek bedank alle bestuurslede wat insette gelewer het en veral vir Izak de Vries, wat waardevolle toevoegings tot hierdie bestekopname gemaak het.
Internasionale Vertaaldag 2016 – Afrikaanse vertaling van 'n gedig deur die Palestynse digter Dareen Tatour
Internasionale Vertaaldag word elke jaar sedert 1953 op 30 September gevier – die datum van die fees van Sint Jerome, die Bybelvertaler wat as die beskermheilige van vertalers beskou word.
Ter viering van Internasionale Vertaaldag 2016 is alle PEN-sentrums uitgenooi om Dareen Tatour se gedig "A Poet Behind Bars" te vertaal. Verskeie van hierdie vertalings is by 'n middagete gedurende die 82ste PEN International-kongres op 30 September in Braga, Portugal, voorgelees.
Die voorlesing van 'n gedig deur Tatour was besonder relevant, aangesien Tatour, wat tans in aanhouding is, beweer die hele saak teen haar berus op 'n verkeerde vertaling van haar gedig "Qawim ya sha’abi, qawimhum (Resist, my people, resist them)", wat sy beskou as wettige en legitieme protes teen die misdade van die Israelse setlaars en soldate wat Palestynse grond beset. Die aanklaers het na bewering die hof versoek om nie Tatour se verdedigingspan toe te laat om 'n alternatiewe vertaling van haar gedig van Arabies in Hebreeus toe te laat nie.
Tatour sal in November vanjaar weer in die hof verskyn.
Hier is Danie Marais se Afrikaanse vertaling van "A Poet Behind Bars":
'n Digter agter tralies – Dareen Tatour
Vertaal vanuit die Englelse vertaling deur Tariq al Haydar
In die tronk het ek mense ontmoet
te veel om te tel:
moordenaar en misdadiger,
dief en leuenaar,
die eerlikes en ongelowiges,
die verlorenes en verwardes,
die ellendiges en hongeres.
Dan, die siekes van my tuisland,
gebore uit pyn,
dié wat geweier het om meelopers van ongeregtigheid te wees
tot hulle kinders geword het
wie se onskuld geskend is.
Die wêreld se dwang het hulle verlam.
Hulle het ouer geword.
Nee, hulle hartseer het gegroei,
gedy in onderdrukking,
soos rose in brak grond.
Hulle het liefde vreesloos omhels,
en is verdoem vir hul verklaring:
“Ons het die land eindeloos lief,”
salig onbewus van hul dade …
Só het hul liefde hulle bevry.
Sien, die tronk is vir liefhebbers.
Ek het my siel ondervra
in oomblikke van twyfel en verstrooiing:
“Wat van jou misdaad?”
Die betekenis daarvan ontgaan my nou.
Ek het ‘n ding gesê en my gedagtes openbaar;
ek het geskryf oor die huidige onreg,
wense in ink,
‘n gedig …
Die aanklag dra my liggaam,
van kop tot tone,
want ek is ‘n digter in die tronk,
‘n digter in die land van kuns.
Ek word beskuldig van woorde,
my pen die instrument.
Ink – bloed van die hart – getuig
en lees die aanklagte voor.
Luister, my noodlot, my lewe,
die regter het gesê:
‘n Gedig staan aangekla,
my gedig verander in ‘n misdaad.
In die land van vryheid,
is die gevangenis die kunstenaar se lot.
Geskryf op:
2 November 2015
Jelemeh-gevangenis
****
Klik hier vir verdere inligting oor Tatour en hier vir die Engelse en ander vertalings van die gedig.
Die 82ste PEN International-kongres in Ourense, Spanje – 'n reaksie in versvorm
Danie Marais saam met Beatrice Lamwaka van PEN Uganda (links) en Grace Tafadzwa Mutandwa van PEN Zimbabwe by die ingang na die konferensiesaal in Ourense
PEN Afrikaanse se afgevaardigde in die konferensiesaal waar getolk word na Engels, Frans en Spaans – PEN International se drie amptelike tale
'n PEN International-kongres is, soos ek verlede jaar jaar in Québec reeds vasgestel het, nie 'n droë aangeleentheid nie – dis 'n lig verbysterende ervaring en 'n ambisieuse jaarlikse eksperiment in die naam van die bevordering van letterkunde, wedersydse begrip en uitdrukkingsvryheid. Hierdie groot samekoms van skrywers, uitgewers en joernaliste van dwarsoor die wêreld is ook 'n verbysterende bevestiging van die mensdom se skouspelagtige diversiteit enersyds en lotsgebondenheid andersyds. Dit laat 'n mens hoop dat Afrikaanse skrywers nooit weer afgesny sal word van die internasionale skrywersgemeenskap soos wat in die donker isolasiejare onder apartheid die geval was nie.
Daarmee saam was vanjaar se kongres ook vir my 'n tweesnydende herinnering dat ons taalgemeenskap genadiglik van muishondstatus verlos is en vry is om deel te neem, maar ook dat die geskiedenis steeds in die afsienbare toekoms om ons taal se nek gaan hang – 'n feit wat geleenthede soos hierdie om oor grense heen te gesels selfs kosbaarder maak.
Ek sal in 'n volgende nuusbrief, wanneer meer materiaal aanlyn op PEN International se webwerf beskikbaar sal wees, meer sê oor die resolusies wat op die kongres bespreek is. In oorleg met die bestuur van PEN Afrikaans het ek egter besluit om eers hierdie gedig te deel wat geskryf is as gevolg van die groot indruk wat vanjaar se kongres gemaak het. Dit getuig uiteraard van 'n heel subjektiewe ervaring, maar ek hoop dat dit ook iets vasvang van die soort ingewikkelde kwessies waarmee PEN International erns maak en die interaksies wat as gevolg daarvan plaasvind.
Die afgevaardigde weifel voor my hotelkamerspieël
By die 82ste PEN-kongres in Ourense –
die Galisiese deel van Spanje waarvan hy eintlik
niks geweet het nie –
word die enigste afgevaardigde van PEN Afrikaans verras
deur ’n onbekende Galisiese lied in sy hart vreemde roeringe
in al sy tentakels en ’n rou snik
in die keel
wat hy soms sukkel om te beteuel
wanneer hy luister na ’n elegie verpak
as ’n verslag met ’n treffende Powerpoint
oor verplaaste mense,
displaced people.
51% van vlugtelinge,
het die Katallaanse Carles Torner in sy vlot Frans gesê,
is kinders.
Die afgevaardigde besef alle grootmense is
verplaaste, misplaasde kinders,
maar wat word van vlugtende kinders?
Die gelukkiges land seker soos hy in konferensies
soos dié met ’n rou snik
wat dreig om sy hele ou menslike labrador-shtick
te versuip.
Maar waar presies kom daardie rou
snik regtig vandaan?
Is dit net ’n bars in die glimlag van sy nuwe antidepressante?
Is dit die trane in die stem van die Kurdiese vrou
wanneer sy met blink bolwange
en moeite
in haar gebroke Engels,
wankelende selfbeheersing
probeer verduidelik hoe sy en haar mense eintlik
nêrens mag bestaan nie; sag
dog met nadruk verklaar op ’n manier
wat ’n mens amper verlig maak namens die gejagtes
wat reeds die genadeskoot
van hul maghebbende veragters ontvang het?
Is dit die welsprekende stilte van ’n saal vol mense wat
so deeglik dink voor hulle nooit skiet nie wat
so in sy keel opswel?
Of bloot die stilte van ’n hele saal vol kwalik ingehoue rou
snikke wat maak of hulle vurig beleefd
oor vergrype van die mensdom
teen die mensdom vergader?
Het die afgevaardigde miskien eenvoudig ’n aangebore knop
in sy sluk-sluk ’n onsigbare affektasie
wat van sy ma se kant van die familie kom?
Is hy net die ou tjankbalie van die verenigde nasies van woordwerkers
waar ten minste die helfte van die saal sekerlik
al baie meer dooie drome as hy
in krummelende arms gewieg het?
Die verteenwoordiger van PEN Libanon maak immers ’n geldige punt:
“Ek het 15 jaar in ’n oorlog geleef,” sê sy, “oorlog
stop ons nie.
Ons het gaan dans,
kinders gehad, teaterstukke opgevoer –
ín die oorlog.
’n Mens moet aangaan!”
Kan dit regtig wees dat die witterige afgevaardigde
uit Suid-Afrika
in ’n versameling van denkers, digters en aktiviste
kom sit het
met die kinderlike begeerte
om vrygespreek te word eensklaps
van die verdag
wat alle witterige mense in en uit Afrika altyd
sal naloop tot ’n wrede nuwe werklikheid
die kollektiewe ervaring van 500 jaar
ongenadiglik ophef?
Is daar ’n vervaldatum op die sondes van eeue
se godvreeslike vaders
net om die draai
van die volgende paneelbespreking oor gender-gebaseerde geweld?
Kan dit wees dat die afgevaardigde nietemin vannag
vriende gemaak het met ’n dronk digter van Kenia
wat waaragtig vir hom
kort na middernag
met ’n broederlike hand op die skouer
empatiek uit die bloute gesê het:
“I can see you are not
an evil Boer, man, actually
I can see it –
in your eyes.”
Mag die afgevaardigde hom glo hier
in die nanag se verraderlike niemandsland
sy “onskuldige” oë salig sluit hier
in die knus donker kis
van die eenster- Hotel Miño vannag
so genadiglik ver
van Afrika?
Maar hoekom kan hy dan nie
die twee troebelgroen gate
in my kop
in die spieël lees nie?
Hoekom skrop hy steeds
my tande
soos iemand wat bloed
uit ’n mat probeer kry?
Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober
Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Oktober se publikasielys kan hier afgelaai word.
Warm gelukwense ook aan al die wenners van die 2016 kykNET-Rapport Boekpryse. Klik hier vir die commendatio's en Naomi Bruwer se mooi foto's van die prystoekenningsaand.
Baie geluk ook aan ons lede wat vir 'n 2016 SALA (South African Literary Award) genomineer is. Verdere inligting en die lys van nominasies is hier beskikbaar.
Die 2016 SALA-wenners sal op 7 November tydens 'n glansgeleentheid by Unisa bekend gemaak word.
Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans
The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Oktober 2016 appeared first on LitNet.