Gun jou woorde poëtiese vlerke by Taalmonument
Bekroonde skrywer lei slypskool vir stokperdjie-digters
Vir diegene wat dalk soms ’n bietjie dig voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ’n gedig op te tower, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens ’n poëtiese oplossing: ’n slypskool op Saterdag 7 Junie 2025, met die beminde digter, vryskutjoernalis, musiekskrywer en omroeper Danie Marais.
Die dag – wat deel uitmaak van die ATM se Jeugdagherdenking – sal verskeie aspekte van digkuns informeel bespreek asook ’n praktiese afdeling bied waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf en geslyp sal word. Dit sal op ’n opbouende en vermaaklike manier plaasvind om almal se woordkuns en selfvertroue op te bou. Aangesien die slypskool gemik is op belangstellendes wat reeds dig, word hulle aangemoedig om minstens een van hul gedigte saam te bring.
Marais se debuutdigbundel, In die buitenste ruimte (Tafelberg, 2006), het die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuutprys verower. Aan sy tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand is die South African Literary Award (SALA) vir Afrikaanse poësie toegeken. Intussen het hy nog hoogs-aangeskrewe digbundels, Solank verlange die sweep swaai asook Ek en jy bestaan nie, die lig laat sien. Sy rubriek- en essay-bundel, Pruimtwak en skaduboksers, het die kortlys van twee vir die SALA Nadine Gordimer Short Story Award gehaal.
Die slypskool vind in die monument se konferensielokaal in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg vanaf 09:00 tot 15:00 plaas. Dit kos slegs R250 per persoon, wat ’n gratis besoek aan die monument asook verversings en skryfbehoeftes insluit. Deelnemers kan ’n middagete saambring of die plaaslike bistro ondersteun. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief voor 4 Junie via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 076 017 6026 (WA) waarna ’n kort aanlynvorm voltooi moet word.
Die slypskool vorm deel van die ATM se mandaat om Afrikaans te bevorder deur middel van ’n interaktiewe en skeppende manier, en om plaaslike inwoners, veral jonges, die geleentheid te bied om hul talente uit te leef.
- Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za, teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram en die WA-kanaal. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 856 1871.
The post Persverklaring: Bekroonde skrywer Danie Marais lei slypskool vir stokperdjie-digters op 7 Junie 2025 by die Taalmonument first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: Bekroonde skrywer Danie Marais lei slypskool vir stokperdjie-digters op 7 Junie 2025 by die Taalmonument appeared first on LitNet.