Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21810

Witwarm gesprekke, heerlike Karoo-kos en knetterende vure vir die Etienne van Heerden Veldsoirée van 2025

$
0
0

Om van 25 tot 27 Julie 2025, in die middel van die winter, ’n klomp mense oor boeke te laat gesels in die Karoo, kan net lekker wees. Darryl David, die baasbrein van boekefeeste in Suid-Afrika, vra mooi dat almal hulle serpe en musse en jasse sal inpak teen die koue, maar die program wat hy en die res van die span vir die Etienne van Heerden Veldsoirée saamgestel het, sal mense se harte warm maak.

As jy nog nie jou slaapplek in Nxuba/Cradock bespreek het nie, sou dit jou die moeite loon om nóú seker te maak dat jy ook in die vreugde kan deel. (Kyk hier onder hoe jy kan bespreek.)

Vanjaar sal diepsinnige en kritiese gesprekke weer afgewissel word met vroliker praatjies en ’n aantal musiekitems.

Die ATKV-Skryfskool vind weer tydens die Veldsoirée plaas teen ’n koste van slegs R380 per persoon. Bernard Odendaal bied ’n poësiekursus aan en Hannes Barnard ’n prosakursus. Die program is so beplan dat kursusgangers geen van die ander praatjies tydens die Veldsoirée hoef mis te loop nie.

Die ATKV-Skryfskool begin om 09:00 Vrydagoggend 25 Julie en duur tot Saterdagoggend gedurende tye wanneer daar nie praatjies aangebied word nie.

Die Veldsoirée se opening vind om 12:30 op 25 Julie plaas. Daar is baie om na uit te sien.

AJ Opperman, Anschen Conradie en Mercia Coetzee

AJ Opperman, die Netwerk24-kunsjoernalis wat bekend is vir sy menslike stories, sal kom vertel hoe hy digitale nuus meer maak as droë feite. Anschen Conradie, gewoonlik skugter vir die kollig, sal haar verskyning maak om te gesels oor haar boekery, haar perde, haar regsagtergrond en natuurlik die hoofmeisieskap van Lekkerleesboek, ’n ruimte wat steeds groei en mense bekoor. Mercia Coetzee sal die gesprek lei.

Bo: Andile Bhali, Christof Berg en Luna Page; onder: Burgert Senekal en André Hattingh

Andile Bhali, die orrelis en oud-Drakie wat deesdae die Oos-Kaapse toerismebedryf help bemark, sal met sy suiwer falsettostem Afrikaanse volksliedjies sing. Christof Berg het ’n diep basstem wat gaste op die Saterdagaand sal laat lekkerkry, en Luna Page, met haar sprankelende verhoogpersoonlikheid, gaan Vrydagaand gaste vermaak. Burgert Senekal gaan sy stoute skoene aantrek om konferensiegangers te vergas met ’n aanbieding oor die meer obskure klanke in Afrikaanse musiek. Die bekende aktrise André Hattingh gaan ook van musiek gebruik maak om haar digbundel oor bome op ’n unieke wyse toe te lig.

Riana Scheepers en PJO Jonker

Boeke bly natuurlik ’n baie belangrike deel van die Veldsoirée. Riana Scheepers se teenwoordigheid op die program is dus nie om dowe neute nie; ditto PJO Jonker, wat sy plaas tydelik sal verlaat om aan verrigtinge deel te neem.

Bo: Albert Grundlingh, Anthony Akerman, Rory Riordan en Selwyn Milborrow: onder: Bernard Odendaal, Darryl David en Hannes Barnard

Albert Grundlingh sal meer vertel oor die lewe en werk van Frederik Van Zyl Slabbert. Anthony Akerman sal Guy Butler se lewe en werk toelig, terwyl sy vrou, André, vir Akerman gaan uitvra oor sy eie boek, Lucky bastard. Rory Riordan sal gaste vermaak met feite en staaltjies oor die lewe en werk van Athol Fugard. Selwyn Milborrow sal ’n lesing hou oor die Cradock-digter Clinton V du Plessis se werk. Bernard Odendaal, self ’n digter, sal gesels oor die manier waarop versboutradisies in Afrikaans oor die jare verander het. Hannes Barnard sal ’n praatjie aanbied oor jeugverhale, terwyl Darryl David gaan vra watter boeke ons as die belangrikste werke in Afrikaans sou kon beskou.

Bo: Ena Jansen, Alwyn Roux en Yves T'Sjoen; onder: Juliana Pistorius en Ingrid Glorie

Soos verlede jaar, sal ’n aantal sprekers tydens die Veldsoirée lesings gee wat deel is van die LitNet25-Skrywersberaad. Ena Jansen, Alwyn Roux, Yves T'Sjoen en Juliana Pistorius gaan kyk na die manier waarop die Afrikaanse letterkunde steeds in gesprek tree met die letterkundes van België, Nederland en die vorige Nederlandse kolonies. Ingrid Glorie sal ’n lesing gee oor haar rol as brugbouer tussen die Lae Lande en Suid-Afrika.

Hein Willemse, Heindrich Wyngaard en Hein Viljoen

Hein Willemse se bydrae tot die LitNet25-Skrywersberaad sal ’n lesing oor Arabiese Afrikaans wees. Heindrich Wyngaard sal identiteitspolitiek onder die loep neem, en Hein Viljoen gaan sy tong in sy kies druk en vra of die verskil tussen ’n resensent en ’n smaakmaker dalk dieselfde is as dié tussen ’n cappuccino en ’n flat white.

Frederik de Jager, Luan Staphorst en Mphuthumi Ntabeni

Frederik de Jager sal gesels oor die manier waarop ’n romanteks omvorm kan word na ’n rolprent. Luan Staphorst gaan praat oor die belang van argiewe en Mphuthumi Ntabeni sal kyk na die rol van orale oorlewering in moderne historiografie.

Peter Vale en Nolwazi Mahlangu

Peter Vale sal die jaar 1947 se impak op ons lewens in 2025 toelig, en Nolwazi Mahlangu sal vertel hoe ons lywe stories kan vertel. Mahlangu sal ook ’n werkswinkel aanbied vir skoolkinders van Nxuba net voor die aanvang van die Veldsoirée.

Elsabé Brits op die insetsel

Tradisioneel word die Veldsoirée afgesluit met ’n rit in 4x4-bakkies na skrywer en aktivis Olive Schreiner se sarkofaag bo-op Buffelskop. Vanjaar sal Elsabé Brits daar gesels oor aktivis Emily Hobhouse se lewe en werk, en die manier waarop Hobhouse en Schreiner met mekaar in interaksie getree het. Die bakkies sal laatmiddag weer teen die berg afry, waarna die amptelike program verby sal wees. Kursusgangers sou egter maklik nog ’n nag kon oorbly om die volgende dag in die Nasionale Bergkwaggapark (Mountain Zebra National Park), of die dorp se museums rond te loop.

Teresa Fogarty van Fogarty’s Bookshop

Fogarty’s Bookshop, een van die bekendste boekwinkels in die Oos-Kaap, is weer genooi om boeke by die geleentheid te verkoop.

Bring julle warmste klere! Dit gaan ’n wonderlike ervaring wees.

Hoe om te bespreek

Om deel te neem aan die ATKV-Skryfskool teen ’n koste van R380 per persoon, kontak asseblief vir Elsje by reservations@tuishuise.co.za. Dié fooi sluit alle kursusmateriaal in. Deelnemers kry ook gratis toegang tot die gespreksessies tydens die Veldsoirée. Benewens die kursusfooi hoef deelnemers slegs vir hul eie etes en verblyf te betaal.

Dit is nie nodig om vooraf te bespreek vir die gespreksessies van die Veldsorée nie. Kaartjies, wat die prys van ’n koppie koffie kos, sal te koop wees by die deur. Dit is egter noodsaaklik om verblyf te bespreek. Verblyf by die Tuishuise & Victoria Manor kan bespreek word by reservations@tuishuise.co.za. Verblyf by die Buffelshoek DiRosie Lodge kan bespreek word by buffelshoek.gamelodge@gmail.com.

Die rit na Olive Schreiner se sarkofaag, waar Elsabé Brits sal optree, kos R250 per persoon. Dit is noodsaaklik om vooraf te bespreek, want die aantal sitplekke op die bakkies is beperk. Kontak asseblief vir Pieter by buffelshoek.gamelodge@gmail.com as jy wil saamgaan.

Die organiseerders van die Etienne van Heerden Veldsoirée is baie dankbaar vir die volgehoue ondersteuning en borgskappe van Die Tuishuise & Victoria Manor en Buffelshoek DiRosie Lodge. Sonder dié twee ankerborge sou die geleentheid nie moontlik wees nie. Beide instansies bied ook bekostigbare etes aan tydens die Veldsoirée.

Meer oor die ATKV-Skryfskool

Slegs R380 vir die ATKV-Skryfskool én skouers skuur met skrywers

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise en Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Amazwi

Lees en kyk ook:

Skrywers, boekliefhebbers, navorsers en musikante op pad na die Karoo

Fotoblad 1: Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Fotoblad 2: Etienne van Heerden Veldsoirée, LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad en die ATKV-skryfskool

Fotoblad 3: Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Die groot "Ek is": heuning uit die karkas van ’n leeu

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Suksesse, uitdagings en beproewinge in die Suid-Afrikaanse landbou | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

Conversations beyond the comfort zone | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

The post Witwarm gesprekke, heerlike Karoo-kos en knetterende vure vir die Etienne van Heerden Veldsoirée van 2025 first appeared on LitNet.

The post Witwarm gesprekke, heerlike Karoo-kos en knetterende vure vir die Etienne van Heerden Veldsoirée van 2025 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21810


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>