Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784

Elders gesien: Die storie agter Koos Doep se “Herman”

$
0
0

Andries Bezuidenhout skryf op Facebook:

Vir my is “Herman” een van Koos du Plessis se heel mooiste komposisies. Ek hou van die melodie, asook daai pragtige strofe: “Waar jy vanaand is, kan ons maar net raai”.

Herman Hurter, oor wie die storie in die lied handel, was ’n vriend van Douglas (“Duif”) Davis, Koos du Plessis se heel beste vriend, wat eers onlangs oorlede is. Verlede jaar in Stellenbosch het Douglas ’n huldigingskonsert vir Koos du Plessis bygewoon en die storie van Herman vertel. Soos ek dit onthou het Koos en Herman mekaar net skrams geken, maar die enkele kere wat die twee mekaar by sosiale geleenthede gesien het, het hulle goed oor die weg gekom. Herman het Koos vertel van sy droom om eendag ’n seiljag te besit. Herman is later dood in ’n ongeluk op ’n snelweg naby Durban, sy kitaar was in die kar se kattebak en Koos het hierdie kitaar na Herman se dood ontvang. Uiteindelik, ná Koos du Plessis se dood (ook in ’n motorongeluk), is Herman se gebreekte kitaar deur Koos se ma Hester du Plessis aan die dorpsmuseum in Springs geskenk. Soms wonder ek of die kitaar nog daar is, maar dis seker nie belangrik nie.

In twee van die foto’s is Koos du Plessis en sy vriend Douglas Davis en op die ander een is Herman saam met Douglas Davis en sy vrou Heloise op die dag van hulle troue (heel bo).

Dan is daar ’n latere foto van Herman op sy eie, met ’n bier in die hand en sigaret tussen sy vingers. Hierdie is die enigste foto’s van Herman wat ek het. Hy lyk nogal ondeund, dink ek. Hy’t seker nie toe kon raai dat sy tragiese dood eendag een van die mooiste liedere in Afrikaans sou inspireer nie.

Vir hierdie opname van “Herman”, as deel van ’n album met Koos du Plessis covers, het ek ’n musikale tema uit die oorspronklike weergawe op Koos du Plessis se album “Skadu’s teen die muur” behou en my eie verwerking daar rondom gebou. Die video is saamgestel met grepe uit ou familiefilms (uit die 1930s), asook dokumentêre films uit die laat-1920s wat deur General Motors vrygestel is. Ek het iets van die nostalgiese gevoel van die lied in die video probeer vasvang.

Die hele album, Op soek na Koos Doep, kom einde Julie uit.

Hier is die video. As jy daarvan hou, doen my tog ’n guns en “like” dit op YouTube of deel dit op Facebook – dit help dat die algoritme dit met meer mense deel.

The post Elders gesien: Die storie agter Koos Doep se “Herman” first appeared on LitNet.

The post Elders gesien: Die storie agter Koos Doep se “Herman” appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>