Afrikaans het op 8 Mei 1925 ’n amptelike taal geword. ’n Eeu later is in Oudtshoorn fees gevier om dit te gedenk. Op Donderdag 8 Mei 2025 is “Nkosi sikelel’ iAfrika” gespeel terwyl ons landsvlag voor Arbeidsgenot, CJ Langenhoven se woning, gehys is.
Daarna het die volle amptelike volkslied van Suid-Afrika gevolg.
Enoch Sontanga, wat “Nkosi” geskryf het as ’n gesang vir sy kerk, is in 1873 gebore, net soos CJ Langenhoven, wat “Die Stem” oorspronklik as ’n gesang geskryf het.
Later die aand sou die volledige teks van “Die Stem” voorgelees word, en ook HA Fagan se gedig “Nkosi sikelel’ iAfrika”.
Die vlaghysing is deur senior leerders van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn en Hoërskool Langenhoven van Riversdal behartig.
Neelsie het volgens oorlewering elke jaar op 8 Mei die landsvlag voor Arbeidsgenot gehys om die amptelike status van Afrikaans te gedenk.
Ná die vlaghysing en die speel van ons volkslied, is blomme op die grafte van Neelsie en Vroutjie geplaas.
Daardie aand is ’n viering van Afrikaans gehou in die Neelsie, ’n teater wat op Arbeidsgenot se gronde staan.
Die digter, joernalis en uitgewer Hannes Visser het die verrigtinge gelei. Saam met hom op die verhoog was die akteurspaar Lida en Johan Botha, asook André Boezak, die digter-dominee van Oudtshoorn.
Gedigte deur Langenhoven, waaronder “Die Stem”, is voorgelees, maar ook vroeër werk soos “Di Afrikaanse Taal” deur Jan Lion Cachet, en “Vergewe en vergeet” deur Totius, asook vier anonieme gedigte uit Groot verseboek, “Al woon my bokkie nog so ver”, “Kelkie sonder voet”, “Die Kaapse Parlemint” en “Die apie hang aan die moerbeiboom”. André Boezak het twee van sy eie gedigte, “G’n decent gebed” en “Skelm!” voorgelees. Hy het die aand afgesluit met die voorlees van “Nkosi sikelel’ iAfrika” deur HA Fagan.

Johan Botha

Lida Botha

André Boezak

Hannes Visser
Sien ook:
The post Afrikaans se amptelike status in Oudtshoorn gevier first appeared on LitNet.
The post Afrikaans se amptelike status in Oudtshoorn gevier appeared first on LitNet.