Mercy Kannemeyer het op 8 Mei 2025 ter viering van die eeufees van Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika ’n praatjie by die Universiteit van Johannesburg aangebied as deel van die geleentheid "Afrikaans se 100-jaar-bestaansvieringe: 'Kaas, wyn & woorde – ’n eeu van Afrikaans'".
Hier volg die teksweergawe van haar praatjie.
Gewone Afrikaanse mense
In die voorwoord tot Die verdwaalde land deur Abraham Phillips skryf André P Brink:
Oor die afgelope dekades is daar, nie net in Suid-Afrika nie maar oral, drasties – en tydig – begin hersien aan ons oorgelewerde konsep van “geskiedenis”. Waar dit vroeër (en nog steeds in ons skoolboeke) gegaan het om die opteken van die doen en late van die “leiers” van ’n samelewing, die sigbares op die oppervlak, die konings en generaals en hervormers en diktators, is daar deesdae ’n al groter erkenning van die noodsaak om kennis te neem van die geskiedenis van die “gewone mens”: van diegene wat, tradisioneel, nie geskiedenis “maak” nie, maar dit “ondergaan”.
Goeienaand. En welkom. My naam is Mercy Kannemeyer. Ek is 30 jaar oud. En ek is Afrikaans.
Uit die staanspoor is daar ’n paar dinge wat, indien ek dit nie noem nie, my ’n baie slegte job vanaand gaan laat doen. En dan gaan dinge net spiral, en as ’n ietwat wroegende enetjie sal dit my tot in lengte van dae pla.
So ...
Hiermee dan die volgende:
- Ons weet natuurlik Afrikaans is ouer as 100 jaar. Ons vier slegs die 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika ingestel en aanvaar is.
- Oor die afgelope paar jare moes ons toesien hoe Afrikaans as onderrigtaal aan byna alle universiteite geskrap is.
- Die tyd om pragmaties oor die taal te raak, het lankal aangebreek. So, wat doen ek en jy om die taal lewendig te hou?
Ek praat hier in my persoonlike hoedanigheid, nie as ’n werknemer van die Universiteit van Johannesburg nie. En ook nie as die ondervoorsitter van PEN Afrikaans nie. Ek praat hier net as myself. En soos Jeanne Goosen is ek wat ek is. Die meisie van Mosselbaai. Die meisie wat skryf, en skep, en opinies lewer. Die meisie van daai dokumentêr oor Afrikaans. Die meisie wat by die gewese rektor van Stellenbosch, professor Wim de Villiers, moes hoor Mercy is ’n bondeltjie energie, maar haar aannames oor Afrikaans en oor Afrikaans as onderrigtaal is verkeerd.
Ek praat ook as die meisie wat baie mooi Afrikaans praat, wat (net so terloops) glad nie ’n kompliment is nie. As mense vir my vra waar ek so mooi Afrikaans leer praat het, weet ek nie of hulle opgewonde of teleurgesteld is dat my antwoord “by die huis” is nie.
Goed.
Afrikaans is ouer as 100 jaar. Verlede jaar met die ontvangs van die Eugène Marais-prys vir sy bundel Ontaard merk Pieter Odendaal skitterend en tereg op:
Soos wat mense regmaak om volgende jaar Afrikaans te “vier”, wil ek julle met alle respek maan om te huiwer, om twee keer te dink.
Die oomblikke uit die geskiedenis wat ons kies om ons identiteit aan vas te haak, maak saak. Om op 100 jaar te fokus is om aan te hou om Afrikaansskeppers van veral die 18de en 19de eeue te sideline – die generasies wat ons taal gevorm het.
Ons is in ’n kritieke oorgangsfase – ’n diversiteit van Afrikhoinse is besig om te floreer, en kampvegters is besig om die taal op sy propperse kop te keer. Kan ons nie eerder 2025 gebruik om na te dink oor die Afrikaanse kanse in en om ons nie? En veral oor die versoeningswerk wat so broodnodig is?
Die pleister van Afrikaans100 kan nie die harde werk vervang wat nodig is om witheid in Afrikaans te desentreer nie. Slegs dan kan ons geboorte gee aan ’n nuwe tong wat in almal se monde welkom voel.
Odendaal en Brink praat uit een mond oor die geskiedenis – die geskiedenis van die gewone mens. Die gewone spreker. Die generasies wat ons taal gevorm het. Laat ons dan nou en vorentoe geweldig nugter oor die geskiedenis nadink.
Nou dit is dalk vir party ’n te groot taak. Die wrok van wit skuld hang om talle nekke. As bruin Afrikaanssprekende kan ek met jou wit skuld niks doen nie. Afrikaans kan met jou wit skuld niks doen nie. En jy, jy kan daarmee ook niks doen nie.
Afrikaans het ’n omstrede verlede. Vanuit die kombuis. Tot op die skip. Van bakboord na stuurboord. Tot in die klaskamers. Geforseer. Daar is geonderdruk. Dan is daar ook bevry. Kom ons onthou dit alles. Dit is soos Diana Ferrus in haar gedig “Versoeningstaal” skryf:
Nou, na die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
in die Afrika renaissance vind sy haar weg.
Die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan ons universiteite was ’n doodslag. Hier gaan ek nou nie in ’n ellelange relaas ingaan oor kampuspolitiek, rektors wat na politici se pype dans, of die druk van sommige studente-organisasies om Afrikaans as witmanstaal te bestempel nie. Dit was rede tot kommer. Dit is nou egter gedoen. So, wat maak ons nou?
Die tyd om pragmaties oor die taal te raak het lankal aangebreek.
So, weer eens: Wat doen ek en jy om die taal lewendig te hou?
Ek kan dit nie vir jou beantwoord nie.
Bettina Wyngaard skryf vir Daily Maverick:
It is not the village idiots who are going to take Afrikaans off life support and bring it back to life. It is the flower seller in Adderley Street, the street sweeper in Kariega, and the cattle farmer in the Free State who is reaching out and helping to build. It is they who are going to ensure that Afrikaans thrives. It is they who will celebrate the moonlight on the Taalmonument in another 50 years.
Weer eens, die gewone mens.
Ons moet aanhou dink. Aanhou brainstorm. Minder sideline. Aanhou doen. In ons taal. Vir ons taal.
Met apologie aan Etienne Leroux wil ek soos Jock Silberstein sê: Ons is nie alleen nie ... Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid.
Laastens: Laat ons ons oë vestig op diegene wat nie net geskiedenis maak nie, maar dit ondergaan. Laat ons fokus op die gewone mens. Laat ons aanhou beweeg en geraas maak.
Afrikaans is dalk ’n hoer, maar sy’s ons almal se ma.
Lees ook:
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais
The post Gewone Afrikaanse mense first appeared on LitNet.
The post Gewone Afrikaanse mense appeared first on LitNet.