- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
.........
Dit bring ons by ’n ongemaklike laaste vraag: Wie is vandag se voorste Afrikaanse publieke intellektueles? Wie waag dit steeds om hul stem te laat hoor in die hedendaagse mark van idees, en met watter doelwitte? En watter hedendaagse platforms bevorder die soort intellektuele, openbare debat waarvoor iemand soos De Vos gepleit het?
.........
Op 6 Junie 1906 het Pieter de Vos ’n petisie aan die Kaapse parlement oorhandig. Die petisie was ’n versoek om ’n ondersoek in te stel “na die posisie van die Nederlandse taal in skole, by openbare geleenthede, in die Staatsdiens, Geregshowe en elders”. Hoewel dit versigtig geformuleer is, was die bedoeling duidelik om weerstand te bied teen die geleidelike ondermyning van die taal wat die meerderheid van die kolonie se wit bevolking gepraat het. In ’n tyd toe Engels vinnig besig was om die enigste taal van die staat, en dus ’n “magstaal” te word, was De Vos een van die eerstes om ’n droom vir taalgelykheid te verwoord, nog lank voordat Afrikaans as ’n amptelike taal erken sou word.
De Vos se gesag het nie vanuit ’n politieke posisie of amp gespruit nie, maar uit sy geleerdheid. Hy is in 1842 op die plaas Olifantsberg naby Worcester gebore en hy het sy vroeë opleiding by die South African College ontvang voordat hy aangesluit het by die pasgestigte Teologiese Seminarium (Kweekskool) in Stellenbosch. Verdere studies het hom oorsee geneem na Edinburgh se New College, gevolg deur ’n kort akademiese verblyf in Utrecht. Terug op tuisbodem, is hy beroep na die gemeente op Piketberg, waar sy toewyding aan die onderwys gou duidelik geword het. Weens die gebrekkige onderrig in die omgewing, en Nederlandstalige onderrig spesifiek, het hy ’n kerkskool gestig. Dít was ’n eenvoudige, stil verklaring van onafhanklikheid teen koloniale heersers en die verwaarlosing van hulle pligte.
Dit was egter van 1882 af in Stellenbosch waar De Vos sy nalatenskap as een van die invloedryke figure in die bevordering van Afrikaans gevestig het. As professor in Dogmatiek aan die Kweekskool het hy sy akademiese gesag gebruik om die regte en erkenning van Afrikaans as ’n taal van hoëronderrig en openbare lewe te bevorder. In 1890 was hy medestigter van die Suid-Afrikaanse Taalbond – die eerste organisasie wat spesifiek gewy is aan die bevordering van Afrikaans – en het hy vir twee dekades as voorsitter gedien. Onder sy leiding het die Taalbond die vroeë intellektuele fondament gelê wat uiteindelik daartoe sou lei dat Afrikaans as ’n gelyke teenoor Engels erken is.
Op 8 Mei vanjaar word die eeufees van Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika gevier – ’n belangrike mylpaal wat ’n lang stryd vir taalerkenning herdenk. Tog strek daardie erkenning veel verder terug as net ’n eeu.
’n Mens sou dit kon terugvoer na 23 April 1914, ’n dekade vroeër, toe Afrikaans ’n amptelike onderrigtaal in die Kaap geword het, te danke aan ’n mosie deur CJ Langenhoven, nadat hy kort tevore tot die Kaapse Provinsiale Raad verkies is. Langenhoven, wat vas geglo het dat Afrikaans net soveel status as Engels verdien, het politieke kanale gebruik om die erkenning te verseker waarvoor intellektueles soos De Vos reeds lank gestaan het.
Of verder terug, na 14 Augustus 1875, toe agt mense in die Paarl byeengekom het om die Genootskap van Regte Afrikaners te stig. Arnoldus Pannevis, SJ du Toit en hul kring het besef dat ’n taal sonder literatuur en intellektuele produksie min kans staan teen Engels se oorheersing. Die Afrikaanse Patriot het ’n stem gegee aan ’n groeiende gemeenskapsidentiteit.
Of dalk kan ons dit nóg verder terugvoer. Hein Willemse en Wannie Carstens herinner ons daaraan dat Afrikaans nie uitsluitlik uit Europese wortels ontstaan het nie, maar ontwikkel het uit die veeltalige wisselwerking tussen inheemse Khoi- en Sanvolke, slawe uit Suidoos-Asië en Oos-Afrika en Europese setlaars aan die Kaap. Afrikaans was van meet af aan ’n kreooltaal – gebore uit noodsaaklikheid, as gemeenskaplike kommunikasiemiddel tussen uiteenlopende groepe. Die eerste geskrewe Afrikaans is immers in Arabiese ortografie aangeteken toe Sjeg Abu Bakr Effendi skrifgedeeltes uit die Koran vir sy leerlinge aan die Kaapse madrassa neergeskryf het. Willemse beklemtoon dat Afrikaans nog altyd wyer, ryker en meer kompleks was as slegs ’n koloniale nasaat en nagedagte. Afrikaans is nie in die sitkamers van die elite gevorm nie, maar in die strate, plase en kombuise van gewone mense wat net verstaan wou word. En Afrikaans is nie staties nie – kyk na die groeiende profiel van Kaaps vandag, ’n variëteit van Afrikaans met ’n lang geskiedenis van marginalisering wat nou besig is om tot die voorgrond te tree.
Laat ons terugkeer na De Vos. Hy was, saam met Arnoldus Pannevis, Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) en Koot Sauer (vader van Paul Sauer), een van die eerste intellektuele wat openlik gepleit het vir die institusionalisering en erkenning van Afrikaans. Hy het verstaan dat taal formele status en intellektuele respek nodig het om te oorleef en te floreer. Sy petisie aan die Kaapse parlement in 1906 was ’n belangrike stap in hierdie rigting.
Deur hierdie mans “openbare intellektueles” (public intellectuals) te noem, plaas ons hulle in ’n tradisie van denkers wat meer doen as net kennis produseer – hulle tree op, daag uit en vorm openbare diskoers. Maar wat behels daardie rol presies? In sy eenvoudigste vorm is ’n openbare denker iemand wat aktief met die breër samelewing oor idees kommunikeer. Anders as tradisionele akademici, strek hul invloed buite die lesinglokale van universiteite en beïnvloed hulle die breër samelewing se waardes, debatte en beleid.
Openbare denkers word gewoonlik óf gevier óf met agterdog bejeën. Aan die een kant is daar mense soos Edward Said, wat die morele moed en sosiale noodsaaklikheid van die intellektueel se openbare rol beklemtoon. In Representations of the intellectual beskryf hy die ideale intellektueel as ’n buitestander – iemand wat nie maklik in magstrukture opgeneem word nie en wat daarop aandring om teen hierdie mag te praat. Said se eie lewe is gekenmerk deur sy pleidooi vir Palestynse regte en kritiek teen Westerse imperialisme en is dus ’n voorbeeld van hierdie soort verset. Hy waarsku dat openbare denkers versigtig moet wees vir die versoeking van roem en toegang tot mag, anders word hulle insiders eerder as waarheidsprekers.
Michel Foucault bied ’n meer skeptiese blik. Hy onderskei tussen die “universele intellektueel” wat namens die hele mensdom praat, en die “spesifieke intellektueel” wat in ’n bepaalde vakgebied gesetel is. Vir Foucault is die moderne intellektueel nie meer die groot, profetiese figuur van die Verligting nie, maar ’n kenner wat slegs in spesifieke kontekste optree – kernkrag, gevangenishervorming, gesondheid. Tog laat Foucault ruimte vir politieke betrokkenheid – die “spesifieke intellektueel” kan steeds magsisteme ontwrig, al is dit vanaf ’n nederiger posisie.
Jürgen Habermas gee op sy beurt ’n strukturele perspektief. Hy fokus nie op die intellektueel as individu nie, maar op die openbare sfeer – die ruimte van rasionele debat tussen burger en staat. Van koffiehuise in 18de-eeuse Europa tot moderne media, wys Habermas hoe intellektueles sulke ruimtes help skep het. Sy klem lê op die voorwaardes wat oop, ingeligte, demokratiese diskoers moontlik maak – en wat dit belemmer. In hierdie opsig bied sy teorie ’n nuttige brug na die ekonomiese perspektief, veral as dit kom by die vraag watter instellings en watter soort insentiewe openbare redevoering in die eerste plek moontlik maak.
En hier verskyn ekonomiese denkers soos Richard Posner en Friedrich Hayek op die toneel. Vir Posner is die openbare sfeer nie ’n arena van rasionaliteit nie, maar ’n mark – een waar idees verhandel word en intellektueles meeding vir aandag. In Public intellectuals: a study of decline voer hy aan dat die oorvloed media van vandag gehaltebeheer ondermyn en openbare kommentaar tot kits-intellektuele vermaak gereduseer het. Hayek skryf etlike dekades voor Posner en bied ’n effe ander, maar steeds komplementêre blik. Hy sien intellektueles nie as oorspronklike denkers nie, maar as “tweedehandse handelaars van idees”. As die verspreiders van idees lê hul mag en aansien daarin dat hulle bepaal watter idees Jan en San Alleman bereik.
Wie was dan die groot Afrikaanse publieke intellektueles van die twintigste eeu? Mense soos Abdullah Abdurahman, Neville Alexander, Breyten Breytenbach, Jaap Durand, Ferdinand Deist, Willie Esterhuyse, Hermann Giliomee, Jakes Gerwel, Johan Heyns, Elsa Joubert, Christina Landman, NP van Wyk Louw, DF Malan, Eugène Marais, DJ Opperman, Sol Plaatje, Anton Rupert, Maria Elizabeth Rothmann, Paul Sauer, Franklin Sonn, Adam Small, Jan Smuts, Frederik van Zyl Slabbert, Sampie Terreblanche, Erika Theron, Richard van der Ross, Lourens van der Post en Hendrik Verwoerd het almal op verskillende maniere hierdie rol gespeel. Hulle invloed het nie net in hul denke gelê nie, maar in hul vermoë om idees – goed of sleg – van die rand na die sentrum te skuif. Party was revolusionêr, ander wou hervorm; sommige het deur universiteite of die pers gewerk, ander deur parlemente en preekstoele. Die inhoud van hul oortuigings is uiteenlopend, maar wat hulle almal gemeen het is eerder hul vermoë om komplekse idees te vertaal na oortuigende en sterk boodskappe wat weerklank gevind het by ’n Afrikaanse publiek.
Soos Richard Posner uitwys, het die voorwaardes vir openbare intellektuele lewe egter dramaties verander. Waar daar vroeër ’n handjievol uitgesoekte platforms was (koerante, openbare uitsaaiers, akademiese tydskrifte) wat bepaal het wie se stemme gehoor word, is vandag se mediaruimte gefragmenteer. Enigeen met ’n internetverbinding kan nou analiseer, kritiseer en kommentaar lewer wat vir ewig in die kuberruim bestaan. In teorie demokratiseer dit die debat, maar in die praktyk kan dit ook die strukture verswak wat ons help onderskei tussen ware, goeie idees en die geraas daarbuite. Die ideemark, waarsku Posner, beloon nou spoed en skouspelagtigheid – eienskappe wat nie altyd met wysheid saamval nie.
Dit bring ons by ’n ongemaklike laaste vraag: Wie is vandag se voorste Afrikaanse publieke intellektueles? Wie waag dit steeds om hul stem te laat hoor in die hedendaagse mark van idees, en met watter doelwitte? En watter hedendaagse platforms bevorder die soort intellektuele, openbare debat waarvoor iemand soos De Vos gepleit het?
The post Agterstories – Ideesmouse first appeared on LitNet.
The post Agterstories – Ideesmouse appeared first on LitNet.