
Foto via Pexels
Ek het vir baie jare die woord ritueel geassosieer met bepaalde kulturele aktiwiteite soos tradisionele danse, die dra van maskers, toordokterhandelinge en ander vaste kulturele gebruike, soos die maak van tee by die Japannese, die uitblaas van kersies op ’n verjaardagkoek, en dies meer.
Natuurlik is dit ’n eng beskouing van die betekenis van die woord, want ons kom alledaags in aanraking met rituele. Daar is byvoorbeeld die bepaalde geordende handelinge in die kerk (ook genoem rites) soos die doop, nagmaal, liturgie, huweliksbevestiging en dies meer, en ook die rituele van die regbank, byvoorbeeld aanspreekvorme, orde en die volgorde in vergaderingsprosedures en vele meer.
Kortom: Rituele kan omskryf word as die opeenvolging van handelinge in ’n bepaalde volgorde gewoonlik op ’n bepaalde plek. Dit word voorgeskryf, soms afgedwing, deur tradisie, insluitend religieuse tradisie.
Dis interessant dat sommige rituele ook gepaardgaan met vaste, geykte taalgebruik. Ons praat ook van geykte taalhandelinge, want hierdie uitdrukkings is dade op sigself wat onomkeerbare toestande bewerkstellig. Ons kan dit illustreer aan die hand van die doophandeling. Die geykte taalvorm is: “Ek doop jou ...” Die ritueel van, sê nou maar, besprinkeling met water gaan saam met die uitspreek van die geykte taalvorm. Ander word voltrek deur slegs die uitspraak van bepaalde woorde, soos: “Ek verklaar hiermee dat julle wettig getroud is” en “Hiermee vonnis ek jou tot ...”
Daar is natuurlik streng voorwaardes waaronder die handelinge geldig of wettig is. Net iemand wat daartoe verorden is, mag iemand doop. Net ’n landdros of regter kan ’n vonnis vel; net iemand wat daartoe gemagtig is, kan oorlog verklaar of ’n huwelik voltrek. Dit moet ook gewoonlik in formele, geykte omstandighede plaasvind, byvoorbeeld in ‘n kerk of in ‘n hof.
Verder, en dit is belangrik, bring die uitspreek van die woorde (tesame met die uiterlike handeling waar van toepassing) ’n onomkeerbare situasie teweeg. ’n Kind wat gedoop is, kan nooit weer ongedoop word nie; ’n huwelik wat bevestig word, is ’n onomkeerbare, wettige situasie, wat alleen maar deur ’n hof gekanselleer kan word, maar nie die feit dat die persone getroud was nie.
Dié vaste feit word ook in die taal weerspieël. Adjektiewe het gewoonlik trappe van vergelyking, byvoorbeeld mooi, mooier, die mooiste. Maar jy kry nie ’n gedoopter of die gedoopste kind of ’n getrouder paartjie nie.
En dit bring my nou by die rituele in Afrikaans en dié wat ons onnadenkend elke dag gebruik.
Alle Afrikaanssprekendes wat met mekaar kommunikeer, gebruik gespreksrituele. Een daarvan is die groetritueel. Kom ons kyk bietjie hierna.
Piet: “Môre Jan.”
Jan: “Môre Piet. Hoe gaan dit met jou?”
Piet: “Goed en met jou?”
Jan: “Baie goed, dankie.”
Daar is natuurlik baie variasies op die patroon hier bo, maar let op: Elkeen kry twee spreekbeurte – dis die normale ritueel (soms word die eerste beurt weggelaat). En dis ’n vaste ritueel. Dit is deel van ons kultuur, en die patroon word deur tradisie voorgeskryf. En nou is die vraag dit: Het dit letterlike betekenis? Met ander woorde, as Piet groet met “Goeiemôre Jan”, dan sê hy eintlik “Ek wens jou ’n goeie môre toe.” Werklik? Nou sê Jan: “Môre, hoe gaan dit met jou?” Wil hy werklik weet hoe dit met Piet gaan? Nee, want as Piet nou begin uitpak oor sy slegte nagrus en die honde wat hom gepla het en bla, bla, bla, sal Jan redelik vies wees, want Piet verbreek die verwagtingspatroon van die ritueel. Hy oortree nie ’n taalreël nie, maar ’n sosiale reël. Van hom word verwag om positief te antwoord en dieselfde vraag aan Jan te vra. En Jan moet dan weer met iets positiefs reageer.
Die dankie hier bo is natuurlik ook deel van die ritueel. Met “dankie” betuig ons gewoonlik werklike dank aan iemand vir iets wat gedoen is, byvoorbeeld in “Baie dankie vir die ete, Marie.” Die dankie in die groetritueel is egter nie werklik ’n dankbetuiging nie. Is dit “dankie” dat jy met my praat of uitvra na my welstand? Nee, dis net ’n hoflikheidsuiting. En let maar op: Baie van ons “dankies” is nie dankbetuigings nie.
Hoekom so ’n ritueel? Ons is sosiale wesens en gebruik die ritueel eintlik maar net om mekaar as wesens te erken. Ons noem dit “goeie maniere”. En ons rammel dit af. Word die patroon verbreek, kan dit as ongeskik beskou word. Die ritueel bestaan dus uit ’n klomp sogenaamde leë woorde, maar hulle is sosiaal en kultureel uiters belangrik. Die Engelse noem dit social grooming en ons kan dalk praat van “sosiale rugkrappery” of iets dergeliks. Ter wille van goeie menseverhoudinge moet ons deur die niksseggende ritueel wandel. Dis een manier om vir die ander sê: “Ek erken jou menswees.” Jan en Piet hoef nie eers van mekaar te hou nie.
Maar hoe “betekenisloos” die groetritueel is, blyk duidelik uit die gebruik daarvan as kuiermense opdaag. Almal gaan deur die ritueel met soene en handdrukke (ook rituele) daarby. En as almal rustig in die sitkamer sit, sal een vra: “Nou sê nou: Hoe gaan dit met julle hier in die dorp?” Dan kan die ander vertel van hoe sleg die water is, hoe baie keer die krag af is, hoe hoog die grondbelasting is en ... en ... want hierdie vraag het letterlike betekenis en soek regtig ’n antwoord met inligting.
Verbreek die ritueel en dit vertel ’n hele storie; vergelyk:
“Goeiemore, Jan.”
“Ja ...”
Hiermee gee Jan te kenne dat hy nie van Piet hou nie, of vir hom kwaad is, of sommer net de moer in is vir iets, afhangende van die situasie waarin hulle hulle bevind. Die verbreking van die ritueel is ’n hele boodskap op sy eie.
Dié ritueel kan natuurlik uiters formeel wees met titels soos Professor, Doktor, U Edele ens, en met die gebruik van u uiters informeel, maar dit volg altyd min of meer dieselfde patroon:
“Jis, tjom.”
“Howzit my bra?”
“Lekker man, lekker. Hoesit?”
“Nee, tjap man, honkiedôries!”
Die ritueel by die afsluiting van ’n gesprek is net so interessant. Gewoonlik sal een van die deelnemers iets sê soos “Jong, ons sien mekaar later weer” of “Waar stap die tyd heen. Ek moet waai.”
Dit dui aan dat die spreker nou die gesprek wil beëindig. En dis ’n wenk vir die ander een om op te hou praat en by die afsluitingsritueel in te val.
“Goed, hoop ons sien gou weer” of “Dit was lekker om met jou te gesels. Ons moet dit meer doen.”
“Nou gaaf dan, tot weersiens.”
“Tot siens. Gaan jou goed.”
Ook hier is die inhoud van die woorde nie om inligting oor te dra nie, maar net om in goeie vriendskap sonder kwade gevoelens uitmekaar te gaan.
Ons gebruik dus oral in ons gesprekke, en selfs in geskrewe taal in aanhewwe van briewe en boodskappe, byvoorbeeld “Liewe lesers”, sulke ritualistiese woorde en uitdrukkings ter wille van vriendskap, wellewendheid, hoflikheid, goeie maniere en die erkenning van die bestaan van ander.
“Tot kijk,” sê ons vriende wat Nederlands praat.
Dit is nie ’n baie vaste reël nie, maar dis hoflik dat in Afrikaans minderman eerste groet. Die gebruik van ’n vokatief of aanspreekvorm, byvoorbeeld Oom, Pa, Meneer, Professor, U Edele, dui aan hoe minderman sy/haar sosiale verhouding met meerderman1 beskou of wat die situasie hom verplig om te gebruik, byvoorbeeld in die hof.
Omdat die rituele taal- en kultuurgebonde is, kom daar soms misverstand voor.
In die swart kulture volg die groetritueel tradisioneel ’n ander patroon. Minderman moet wag tot meerderman hom groet voor hy kan praat. Dit kom uit die gebruik dat die leier of kaptein eers vir minderman as mens moet erken en as’t ware toestemming gee vir minderman om te praat voor daar ’n gesprek kan plaasvind. Die eerste twee beurte is dan ook gewoonlik (in Sotho):
Meerderman: Dumela (Goeiedag)
Minderman: Eh (dankie)
Meerderman: O kae? (Hoe gaan dit?)
Hier duik ’n verdere verskil op. O kae word letterlik opgeneem. Minderman kan dus letterlik uitwei oor hoe dit met hom gaan, sy probleme en dies meer. Abel was ons fakulteit se bode destyds toe Andries Snyman dekaan was van Lettere en Wysbegeerte by Kovsies. Abel het elke môre by die kantoor van die dekaan kom groet en dan vra prof Snyman, ordentlike mens wat hy is, hoe dit met Abel gaan. En dan val Abel weg en vertel uitvoerig van sy huis, sy vrou, sy kinders en sy probleme.
Dit kan tot interkulturele misverstande lei. Meerder- of minderman kan byvoorbeeld wag vir die ander om eerste te groet. Word die verwagting verbreek, kan dit as ongeskik, selfs vyandig ervaar word.
Daar is mense wat óf nie die afsluitingsritueel ken nie óf dit gewoon ignoreer. Tydens gesprekke sal ’n gespreksgenoot ’n afsluitingswenk gee, byvoorbeeld “Nou ja, dit was lekker om met jou te gesels”, of “Nou toe, ek moet aanskuif”, of “Ons moet ’n slag lekker kuier”, of iets dergeliks. Hoflikheidsreëls bepaal dat die gespreksgenoot begrip sal hê en reageer met iets soos “Ja, dit was nou regtig lekker”, wat aandui hy snap en aanvaar dat die gesprek nou afgesluit gaan word. Dis uiters onhoflik om nie by die gespreksafsluiting in te val nie.
Sommige mense kry nie end nie! Hulle weet nie wanneer om “tot siens” te sê nie.
Mag dit nooit van my gesê word nie.
Eindnota
1 Die terme meerderman en minderman is ontleen aan Combrink (1987:15) in GJ van Jaarsveld (red) 1987: Wat bedoel jy? Serva-Uitgewers.
Lees ook:
Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais
Afrikaans: 100 jaar as amptelike taal – ’n erfenis om te vier of om te verwerp?
The post Rituele in Afrikaans? first appeared on LitNet.
The post Rituele in Afrikaans? appeared first on LitNet.