
Akkedis is Rudi Dennis (tromme, akoestiese kitaar en sang), AJ Graham (baskitaar) en Arthur Dennis (elektriese kitaar en sang). Foto: verskaf
Somerset-Wes-inboorlinge en geliefde Kaapse rock band Akkedis is bésig, speel nooit presies dieselfde show twee keer nie en rus net op Maandae.
Tweelingbroers Rudi en Arthur Dennis, aktief as Akkedis sedert die groot alternatiewe Afrikaanse rock boom van die 1990’s, is ondernemend: Wanneer hulle nie met hulle toerbussie vol instrumente en trinkets en hulle getroue baskitaarspeler AJ Graham hulle tuisdorp in die Helderberg tydelik verlaat om Valsbaai te oorkruis van Kalkbaai tot Hangklip nie – of hoekom nie die Karoo Saloon tot Namibië via Soweto nie – maak hulle hulle eie Akkedis-wyn saam met Bertus Osbloed, kom vorendag met unieke ontwerpe vir Akkedis merchandise en timmer aan eksentriese DIY-projekte. Hulle draai die horlosie selfs terug om daglig te wen vir aktiwiteite soos poker speel en visvang.
Dié band is nie vir ’n oomblik verveeld of vervelig nie, en met ’n onbeperkte repertoire deel hulle ook somtyds die verhoog met mede-musikante in die blues-rock-wêreld, soos The Black Cat Bones en Jake Gunn. Hulle musikale loopbaan is veral gekenmerk deur ’n jarelange broederskap met die rocklegende Piet Botha, wat in 2019 oorlede is.
Hierdie Saterdag, 10 Mei, herenig Akkedis met Valiant Swart, ’n Stellenbosse sê-nou-maar-supergroep wat momenteel in die 1990’s saam getoer en gespeel het. In hierdie onderhoud vertel trom- en kitaarspeler Rudi Dennis meer oor hierdie geleentheid wat by die Lourensford Kelder in Somerset-Wes plaasvind.

AJ Graham, Valiant Swart, Rudi Dennis en Arthur Dennis (foto: verskaf)
Die onderhoud
Jannike Bergh: Ek het eers met die aankondiging van ’n Akkedis-Valiant Swart-reünie uitgevind dat julle op ’n stadium sy backing band was. Hoe het dit gebeur?
Rudi Dennis: Ja, ons het saam getoer in 1998. Vier ouens, twee bands. Valiant was op dromme vir Akkedis en ek op acoustic. Dan switch ek en Valiant en word dit die Valiant Swart Band!

Valiant Swart speel hier tromme vir Akkedis in 1998. (Foto: verskaf)
Gaan julle iets soortgelyks doen by die reunion show?
Jirre. Valiant is met vakansie. Ek het vir Jake Gunn ingekry om te back, just in case ... Ons skiet uit die heup!
[Nota: Akkedis het intussen vir Valiant Swart opgespoor. Hy het in Jeffreysbaai saam met Koos Kombuis gespeel en sal betyds terug wees vir die kleedrepetisie.]
Wat is julle gunsteling- Valiant Swart song(s) om te speel?
Ons favourite song is “Die donker kom jou haal”. Ons speel dit seker elke show; ons het daai song seker al meer gejol as wat Valiant dit self gejol het. Ek onthou ons het dit gespeel voor hy dit nog opgeneem het. Toe hy eendag by ’n show aankom, sê hy: “Nee, fok, ouens, man. Ek het die song nog nie eers opgeneem nie en nou speel julle dit klaar beter as ek. Stop’it, man.”
Hoe het Akkedis begin?
Valiant het vir Eckard Potgieter van Wildebeest Records ingekry om vir ons te record en toe het ons nog nie ’n naam gehad nie. So tussen ons en Eckard en Valiant en so ’n paar bottels tequila, moes Akkedis toe besluit op ’n naam. Nie een van ons weet hoe nie, maar dis hoe dit gebeur het. En Valiant het baskitaar gespeel op ons eerste album. En toe ons gaan toer die eerste keer, het hy vir ons dromme gejol.
Ek kan onthou toe ek Valiant die eerste keer gesien het!
Met wie het hy daai tyd gespeel?
Dit was in 1990; hy het solo gespeel. Ons het ge-AWOL uit die weermag.
Kan Valiant ook darem ’n paar Akkedis-liedjies speel?
Ja, Valiant kan Akkedis songs jol. Valiant kan enigiets jol. Hy het my vertel hoe hy een aand “Dronk wees” [Akkedis-liedjie] gespeel het by ’n jol waar die crowd bietjie moeilik was, wat die ys gebreek het. Hy het ook so ’n hele paar jaar terug saam met ons in Grootbrak saam met Piet [Botha] op die stage geklim en twee sets saam met ons gejol. Hy kan ’n ou volg. So, hy gaan ons miskien join daar in die Kelder daar by Lourensford vir ’n paar tunes.
Hoe het Akkedis en Piet Botha se paaie gekruis?
Ons het vir Piet in die vroeë 90’s ontmoet. Jack Hammer het baie afgekom Stellenbosch toe en daar in die Hidden Cellar gespeel. Ek onthou een oggend het Piet en Johnathan Martin met so klein bakkie daar aangekom, met ’n moerse tjello vasgestrap op die dak, seker hier so tussen een- en tweeuur in die oggend. Toe het ou Josie vir ons ’n klomp ou Tassenberg-bottels oopgemaak. Hulle het nog kurke in gehad. Toe het ons daar in De Akker gesit en kuier saam met Josie en Piet en Johno totdat die son opgekom het.
Die eerste keer wat ons saam met Piet gespeel het, was latere jare in Londen gewees, by Walkabout. Ons het daai aand net een song saam met hom gespeel en het toe die res van die toer twee sets elke aand saam met hulle gedoen. Dit is hoe ons saam met hom begin jol het.
En hy het hier by 2013, 2014 afgetrek Kaap toe en by ons ingetrek, en toe het ons twee albums saam opgeneem, onder die naam Lyzyrd Kyngs.
Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band vind plaas by die Lourensford Kelder in Somerset-Wes op Saterdag 10 Mei van 18:00–21:00. Volg hierdie skakel vir meer inligting en om kaartjies te bespreek.
Lees ook:
The post Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band: ’n onderhoud met Rudi Dennis first appeared on LitNet.
The post <em>Die Reünie in die Kelder: Valiant Swart en die Akkedis Band</em>: ’n onderhoud met Rudi Dennis appeared first on LitNet.