
Leon Oosthuizen (foto: verskaf) en prent van trekklavier: https://www.pexels.com/photo/a-red-accordion-on-a-table-8520119/
Leon Oosthuizen praat met Naomi Meyer oor Wêreldtrekklavierdag en die vieringskonsert wat om die draai is.
Leon, dis amper tyd vir die “trekklavier is groot”-konsert op 6 Mei in die Endlersaal in Stellenbosch. Hoekom op 6 Mei? Dit klink vir my dis ’n gesamentlike partytjie.
6 Mei is die verjaardag van die trekklavier! Op dié dag in 1829 het Cyrill Demian en sy seuns ’n nuwe instrument aan die Weense owerhede voorgelê vir patentering: die trekklavier. Sedert 2009 word die dag wêreldwyd gevier onder die vaandel van die Internasionale Konfederasie van Trekklavierspelers (CIA).
...........
6 Mei is die verjaardag van die trekklavier! Op dié dag in 1829 het Cyrill Demian en sy seuns ’n nuwe instrument aan die Weense owerhede voorgelê vir patentering: die trekklavier. Sedert 2009 word die dag wêreldwyd gevier onder die vaandel van die Internasionale Konfederasie van Trekklavierspelers (CIA).
.............
Wat die dag ekstra spesiaal maak hierdie jaar, is dat dit twee dae voor die verjaardag van Afrikaans plaasvind, die eeufees van Afrikaans as amptelike taal.
Ons weet dat Afrikaanse musiek en die trekklavier ’n besondere band het, daarom vier ons ’n gesamentlike verjaardag!
Ek het in my vorige vraag verwys na die taal van musiek en die taal Afrikaans. Is jy passievol oor albei? Waar het jou liefde vir die trekklavier begin? En vertel asseblief van ’n paar hoogtepunte in jou trekklavierloopbaan – hier en oorsee.
Inderdaad. Om deur musiek en Afrikaans te kan kommunikeer, is kosbaar, ’n groot voorreg en vreugde. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Dit was in die strate van Parys, Frankryk waar ek ’n groep musikante gesien het met ’n trekklavierspeler daarby – betowerend; so ook by ’n skou in Brussel waar die akkordeon luid oor die klankstelsel ’n besonderse atmosfeer geskep het. Dit het my gemotiveer om die trekklavier te begin speel. Uiteindelik het ek gevorder en die hoogste eksamen, die Gevorderde Sertifikaat by Trinity College London, met lof geslaag.
Sedertdien het die trekklavier soveel deure vir my oopgemaak as musikant – by troues en funksies, asook met my eerste soloprojek van Uys Krige toonsettings. Deur die jare was ek in verskeie produksies en groepe betrokke met Sibanye, Cape Town Scottish Dance Band, Christine & The Kilts, SA Tango en ander. ’n Onlangse hoogtepunt was by KKNK met “Goue Boere, silwer tango”, ’n persoonlike hoogtepunt waar ek ook die boerekonsertina gespeel het.
Groot hoogtepunte oorsee sluit in die spesiale internasionale toekenning by die akkordeonfees PIF in Castelfidardo, Italië in 2019, asook toe ek as internasionale kunstenaar opgetree het gedurende FIFA World Cup Qatar 2022.
Ander hoogtepunte sluit in die persoonlike ontmoeting met Frank Marocco, ’n legendariese trekklaviermeester van Hollywood, die bywoning van die Nederlandse Akkordeon Jazz Somerkursus by ArtEZ Universiteit van die Kunste, Arnhem, die Skotse Somerskool in St Andrews, en werksaamhede by A World of Accordion Museum in Superior, Wisconsin, VSA.
Wie is die ander mense wat by die konsert gaan kom optree? Mens kan dink dat uiteenlopende instrumente se mense mekaar in orkeste sal ontmoet, maar trekklavierspelers? Hoe het julle almal mekaar se paaie gekruis? Vertel asseblief ook van die Vryerietinstrumentvereniging.
Ons is bevoorreg in die Kaap om vooraanstaande akkordeonspelers in ons geledere te hê, soos Monika Stuchlik van Zamar en Loren Ehlers, die eerste akkordeonstudent by ’n tersiêre instelling in Suid-Afrika in amper 30 jaar. Hulle gaan optree saam met ander talentvolle kunstenaars soos André van Vuuren, wat ook trekklaviere diens en regmaak. Vriendskappe in trekklaviergeledere word deur die jare gevorm met optredes saam en instrumentkwessies, maar daar is ook voortdurend nuwe bloed met leerlinge van die instrument wat na vore tree. Iemand soos Louis Verwey, ’n gebore Vrystater, het in 2023 die Wêreldtrekklavierdag feitlik eiehandig laat herleef nadat die grendeltyd alles tot stilstand laat kom het.
Bande word ook gesmee deur Safra (Suid-Afrikaanse Vryrietinstrumentvereniging), die verteenwoordigende liggaam van die Konfederasie van die Trekklavier (CMA) met die mandaat om die keuring van Suid-Afrikaanse trekklavierspelers te behartig vir deelname aan wêreldkampioenskappe. Daarmee saam bou Safra aan die versterking van die vryrietinstrumentgemeenskap met geakkrediteerde sillabusse, opleidingsgeleenthede, eisteddfods, instrumentherstelwerk en internasionale bemiddeling,
Wat kan mense wat na die konsert gaan kom luister, verwag om te hoor?
Die gehoor gaan van die mooiste Afrikaanse musiek hoor, gesing deur die Stellenbosse jeug, en werke met die akkordeon – van klassieke tot volksmusiek.
Safra is verheug om hierdie jaar te kan hande vat met die breë skoolgemeenskap van Stellenbosch. Ons is dankbaar dat kore gaan deelneem van Laerskool Stellenbosch, Hoër Meisieskool Bloemhof, Kylemore Sekondêre Skool en Weber Gedenk Primêr.
Die gehoor kan uitsien na ’n uitsonderlike belewenis van skoolkore en trekklavieruitvoerings – solo en ensemble.
Daar gaan ook ander gaskunstenaars wees – die grootste akkordeon-en-vriende-samekoms op 6 Mei in Suid-Afrika!
Watter hoogtepunte kan jy op die program uitsonder?
Stellenbosch se jeug het uitsonderlike talent en elke skoolkoor gaan uniek en verfrissend wees om na te luister.
Daar gaan selfs ’n Kersfeeskoor wees van Strandfontein – die Gladtidings Xmas Band, ’n Graad 7-perkussie-orkes, die Tygerberg Volkspelelaer, en die Wes-Kaap Orkes.
...........
Daar gaan selfs ’n Kersfeeskoor wees van Strandfontein – die Gladtidings Xmas Band, ’n Graad 7-perkussie-orkes, die Tygerberg Volkspelelaer, en die Wes-Kaap Orkes.
..............
’n Unieke item en sekerlik ’n eerste vir die Endlersaal, sal wees wanneer ’n saagspeler, Marlene van der Hoven, haar slag gaan wys.
Die Zamar-duet is ’n besliste hoogtepunt met Veronica Bell op viool en Monika Stuchlik op akkordeon.
Loren Ehlers gaan die Suite vir akkordeon van Alexander Kholminov opvoer, ’n gerekende werk in die akkordeonskatkis van klassieke musiek.
Laat weet asseblief logistiek van die konsert – waar mense kaartjies kan koop, wat dit kos, en so aan.
Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.
Daar is verskillende kategorieë vir studente (R100), pensioenarisse (R150), ouers van deelnemers (R175) en algemene toegang (R190).
Kom asseblief vroegtydig – enige tyd van 18:00 af – aangesien daar vooraf ’n alles-akkordeon-ekspo gaan wees met uitstallings van trekklaviere en konsertinas tesame met trekklaviermusiekboeke en handelsitems. Verversings sal ook beskikbaar wees.
Louis Verwey vertel ook van sy passie vir musiek en trekklaviere:
Musiek het van kleins af ’n diep indruk op my gemaak. My ma vertel hoe ek as baba, feitlik van die oomblik af toe ek regop kon sit, intens geluister het na die musiek wat op die radio gespeel het. Ek het vroeg begin klavier speel op gehoor en het gereeld by skoolfunksies opgetree, asook die skool tydens saalperiodes begelei.
...........
Musiek het van kleins af ’n diep indruk op my gemaak. My ma vertel hoe ek as baba, feitlik van die oomblik af toe ek regop kon sit, intens geluister het na die musiek wat op die radio gespeel het. Ek het vroeg begin klavier speel op gehoor en het gereeld by skoolfunksies opgetree, asook die skool tydens saalperiodes begelei.
...............
In 2016 het ek ’n Wêreldtrekklavierdagkonsert by die Brooklyn-teater in Pretoria bygewoon, aangebied deur die legendariese Sergio Zampolli. Die talent wat ek daar beleef het, het my dieptes van die trekklavier gewys wat ek nooit geweet het op ’n trekklavier kan bestaan nie. In 2017, tydens ’n kamp, het ek saam met my vriend Jaco Burger musiek gemaak – hy op trekklavier en ek op klavier. Die volgende dag het ek sy trekklavier opgetel en saam met hom gespeel. Dit was die oomblik toe ek besef het: Die trekklavier het my hart gesteel.
Ek het toe ’n 96-bas-Scandalli-trekklavier aangeskaf en dit na André van Vuuren in Kaapstad geneem vir stemming. Hy het my verwys na Stanislav Angelov, ’n trekklaviermeester en -onderwyser in Kaapstad. Nadat ek een van Stanislav se Vivaldi-konserte bygewoon het, het ek by hom begin les neem. Professionele musiekonderrig en die regte oefentegnieke het my spel en begrip van die instrument baie verdiep. Die trekklavier is ’n draagbare orkes in ’n boks en ek wil myself nie beperk tot vier knoppies in die linkerhand terwyl daar 120 knoppies is nie.
In 2023 het ek, gedryf deur my liefde vir die trekklavier, saam met die Drostdy-teater in Stellenbosch ’n Wêreldtrekklavierdagkonsert gereël. Die konsert het 15 trekklavierspelers byeengebring, en musiek van tradisionele volkswysies tot moderne komposisies, van solo-optredes tot ensemblestukke, van boeremusiek al die pad tot by die hart van klassieke skoonheid. In 2024 het ek en Leon Oosthuizen, president van Safra, die viering uitgebrei met Skotse en tangodansers, ’n trekklavierkwartet, ’n mini-ekspo en vele meer.
Hierdie jaar, op 6 Mei, vier ons die trekklavier se 196ste bestaansjaar en die 100ste herdenking van Afrikaans as amptelike taal met die konsert "Trekklavier is GROOT | Afrikaans 100 | World Accordion Day 2025" in die Endlersaal, Stellenbosch. Moenie dit misloop nie! ’n Musiekmakietie, ’n eeufees van Afrikaans as amptelike taal. Kom deel in die samesyn vir oud en jonk met uitstaande spel en sang, pure genot en trekklavierstories.
André van Vuuren deel ook sy storie oor trekklaviere en musiek:
Van kleintyd af het orkeste my geamuseer, juis omdat hulle altyd ’n basspeler, plus ’n kitaarspeler vir akkoorde, en ’n wysiespeler of sanger het. As ons gaan kamp het in 1970’s, het baie van die kampeerders hul trekklaviere saamgebring en het ek opgemerk dat ’n trekklavier basknoppies het, akkoordknoppies het, en ’n klawerbord vir wysies het, soort van n draagbare orkes!!
...........
Van kleintyd af het orkeste my geamuseer, juis omdat hulle altyd ’n basspeler, plus ’n kitaarspeler vir akkoorde, en ’n wysiespeler of sanger het. As ons gaan kamp het in 1970’s, het baie van die kampeerders hul trekklaviere saamgebring en het ek opgemerk dat ’n trekklavier basknoppies het, akkoordknoppies het, en ’n klawerbord vir wysies het, soort van n draagbare orkes!!
..............
Dit het my geweldig geamuseer en my pa het vir my ’n trekklavier aangeskaf. En daar het alles begin en het die trekklavier uiteindelik vir my baie plekke heen geneem regoor Suid-Afrika en ure se pret besorg!
Lees ook:
Leon Albert Oosthuizen vertel van die wêreldmusiekgroep Sibanye
Wêreldtrekklavierdag: ’n onderhoud met Leon Albert Oosthuizen
The post Wêreldtrekklavierdag 2025 in die Endlersaal: ’n gesprek met Leon Oosthuizen en ander entoesiastiese trekklavierspelers first appeared on LitNet.
The post Wêreldtrekklavierdag 2025 in die Endlersaal: ’n gesprek met Leon Oosthuizen en ander entoesiastiese trekklavierspelers appeared first on LitNet.