
Annie Olivier (foto: verskaf); boekwinkelprent: https://www.pexels.com/photo/assorted-books-626986/
Annie Olivier praat met Naomi Meyer oor haar pad by NB-Uitgewers.
Annie, jy is sedert die begin van April die uitgewershoof van NB-Uitgewers. Baie geluk met die posisie, aan die stuur van die groot skip! Ek wil jou vra of jy grond vat, maar kom ons begin voor: Wou jy nog altyd ’n uitgewer wees? Waar en hoe het jou pad met die uitgewerswese gekruis?
Tydens my grootwordjare in die 1980’s op die plattelandse dorpie Wolseley, was uitgewer wees nie ’n loopbaan wat ooit eers by my opgekom het nie. Ek het BA studeer aan die Universiteit Stellenbosch en my vir twee nagraadse jare verbeel ek kan filosoof word voordat ek vir die BPhil in joernalistiek ingeskryf het.
Ek het uiteindelik baie toevallig in my droomwerk beland. Ná ses jaar as koerantjoernalis en -sub het ek by ’n tydskrif begin werk, maar ná anderhalf jaar daar was die werksomgewing nie meer goed vir my nie en het ek naarstig na ander werk begin soek.
Daar sien ek toe die advertensie vir ’n opdraggewende niefiksieredakteur by Tafelberg-Uitgewers. Dit het só interessant geklink, maar gegewe my gebrek aan uitgewerservaring het ek nie gedink ek het ’n kans nie. Ek het toe nog nie geweet dat uitgewershoofde dikwels in joernalistieke poele vis vir niefiksieuitgewers nie.
Nadat ek in die pos aangestel is, het ek gou besef dat my ervaring in die nuuskantoor die perfekte fondasie geskep het vir my loopbaan as uitgewer. Dit het my veral geleer watter temas Afrikaanse lesers die meeste in belangstel en my kommersiële sin help ontwikkel.
...........
Nadat ek in die pos aangestel is, het ek gou besef dat my ervaring in die nuuskantoor die perfekte fondasie geskep het vir my loopbaan as uitgewer. Dit het my veral geleer watter temas Afrikaanse lesers die meeste in belangstel en my kommersiële sin help ontwikkel.
.............
Het boeke nog altyd ’n groot rol in jou lewe gespeel? Wat was jou gunstelingvakke op skool, of jou grootste belangstellings? Om ’n uitgewer te wees, beteken mens moet ook ’n kop vir besigheid hê.
Ek was van kleintyd af ’n leser, danksy my ma wat ook baie lief is vir lees. Ek dink sy het selfs meer plesier as ek gehad aan van die boeke soos Huppelkind, Die kat kom kuier (Dr Seuss) en DJ Opperman se Kleuterverseboek wat sy vir my voorgelees het. Ek het ook ’n laerskoolonderwyseres gehad wat my aangemoedig het om klassieke Engelse werke soos dié van Jane Austen te lees, selfs al was dit eintlik bo my vuurmaakplek. Dit het ’n ander wêreld vir my oopgemaak.
Geskiedenis, Afrikaans, Engels, Duits en Xhosa was my gunstelingvakke op hoërskool. Ek was geseënd met ongelooflik toegewyde en talentvolle onderwyseresse in al vier tale. My B in hoërgraadwiskunde in matriek is een van my grootste prestasies en help dat ek die nodige boeresomme kan maak in my werk.
Die boekbesighede binne die Media24-groep is op 1 April gekonsolideer en vorentoe gaan NB-Uitgewers, Via Afrika en Van Schaik onder Jonathan Ball inskuif. Hoe raak die konsolidasie NB-Uitgewers se publikasieprogramme?
Die konsolidasieproses is grootliks daarop gemik om operasionele bedrywighede meer vaartbelyn te maak en sodoende kostes te bespaar. NB se redaksionele spanne gaan steeds onafhanklik van Jonathan Ball s’n werk en niks verander aan ons publikasieprogram nie. Ons bly soos in die verlede, veral wat niefiksieboeke betref, ook in gesonde kompetisie met Jonathan Ball, onder hul uitgewershoof, Jeremy Boraine.
Waar dit in ander afdelings sinvol is, gaan ons ook kragte saamsnoer om te verseker dat ons een van die toonaangewende uitgewershuise in Suid-Afrika bly. Ons verkope- en publisiteitspanne het byvoorbeeld reeds op sekere vlakke begin saamwerk.
Om boeke uit te gee, soos ek hier bo genoem het, is nie net ’n kwessie van hou van lees nie. Dis ’n sakebesluit, ’n waagstuk, en in sekere opsigte ’n poging tot ’n wiskundige formule. Vir ’n uitgewer om iets uit te gee, is nie sommer net ’n eenvoudige besluit nie. Wat is jou gedagtes hieromtrent?
Dit is só ’n belangrike punt, en ek hou baie van jou beskrywing van die finansiële kant as ’n poging tot ’n formule, want dit is al wat ons jaar in en jaar uit doen – ons probeer ons bes om daardie formule te vind. ’n Mens leer egter gou dat hoewel daar basiese riglyne is wat mense – “die mark” – se leesvoorkeure betref en dat sekere temas op sekere tydstippe gewilder is as ander, die mark jou gereeld sal verras en dat geluk ’n veel groter rol in die bedryf speel as wat ’n mens dalk sou dink.
Op die oomblik is misdaadfiksie of krimi’s byvoorbeeld ontsettend gewild onder Afrikaanse fiksielesers. Wat Afrikaanse niefiksie betref, vaar sakebiografieë deur prominente Afrikaanse sakelui, boeke oor die geskiedenis en militêre geskiedenis, en narratiewe niefiksie soos Dana Snyman se boeke gewoonlik goed. Daar is ook ’n sterk mark vir Christelike boeke in Afrikaans.
Elke publikasiebesluit bly in wese egter ’n waagstuk. Ek vertel altyd vir mense dat uit die tien boeke wat ek in die verlede per jaar uitgegee het, minstens twee kommersieel sou misluk. Dit ten spyte van my ervaring as uitgewer en die insette van die groter span, insluitend die verkoopsagente, op die publikasiebesluit.
Gelukkig gee ’n mens om ’n verskeidenheid redes uit en nie altyd net om topverkopers te publiseer nie. As uitgewer het jy ’n verantwoordelikheid om nuwe stemme te vind, boeke uit te gee wat vernuwend is in terme van hul styl, of wat oor vars en onbeproefde temas handel.
............
Gelukkig gee ’n mens om ’n verskeidenheid redes uit en nie altyd net om topverkopers te publiseer nie. As uitgewer het jy ’n verantwoordelikheid om nuwe stemme te vind, boeke uit te gee wat vernuwend is in terme van hul styl, of wat oor vars en onbeproefde temas handel.
.............
Wanneer jy die dag ophou waag en net projekte nastreef wat jy dink verseker is van sukses, sal jy bitter gou stagneer. In kort, jy moet die voorspelbare doen, maar terselfdertyd ook grense probeer verskuif.
As jy ’n uitgewer is, hou jy die regte van skrywers wat ure van hul lewens aan boeke se skryf spandeer het, in jou hand. Want die outeur gee sy boek se regte vir die uitgewer (binne ons, en ander gemenereglande se kopieregstelsels). Dis die uitgewer se rol om kundig met hierdie regte om te gaan en toe te sien dat die regte boeke vertaal word of die regte oplaag gedruk word, of natuurlik die taalversorging en die omslag en die boek se verpakking op ’n aantreklike wyse afgerond word. Wat dink jy is die hoofrol wat ’n uitgewer het om te speel?
Dit is inderdaad ’n groot verantwoordelikheid wat op ’n uitgewer se skouers rus. Die dinge wat jy hier bo noem, vervat die basiese pligte van ’n uitgewer en ’n uitgewershuis. In ’n sekere opsig is dit taamlik vanselfsprekend.
Wat nie altyd vanselfsprekend is nie, al behoort dit te wees, is die begeleidingsrol wat uitgewers aan skrywers moet bied. Ek glo dit is uitgewers se hoofrol om skrywers se eerste of tweede lesers te wees, die manuskrip met hulle te bespreek en hulle te adviseer oor enige leemtes wat daar mag wees en hulle by te staan om dit verder te ontwikkel.
Van die beste uitgewers wat ek ken, sit ure en ure lank om skrywers te help om storielyne te verbeter, karakters uit te bou, die logiese vloei te verbeter, of kommentare te laat om skrywers te lei om self verder te werk. Dikwels sukkel die skrywer om die nodige veranderinge aan te bring en dan spring jy self in en doen die nodige werk.
Dit is ons sogenaamde USP (unique sales point of unieke verkoopspunt) en een van die dinge wat sorg vir die grootste verskil tussen selfpublikasie en om by ’n uitgewershuis uit te gee.
.............
Van die beste uitgewers wat ek ken, sit ure en ure lank om skrywers te help om storielyne te verbeter, karakters uit te bou, die logiese vloei te verbeter, of kommentare te laat om skrywers te lei om self verder te werk. Dikwels sukkel die skrywer om die nodige veranderinge aan te bring en dan spring jy self in en doen die nodige werk.
Dit is ons sogenaamde USP (unique sales point of unieke verkoopspunt) en een van die dinge wat sorg vir die grootste verskil tussen selfpublikasie en om by ’n uitgewershuis uit te gee.
...............
Manuskripontwikkeling is toevallig ook die deel van my werk wat ek die meeste geniet, spesifiek om strukturele veranderinge aan te bring om die vloei van tekste te verbeter, herhalings uit te sny, te kyk vir feitefoute en te identifiseer waar daar gapings is wat aangevul moet word.
In jou lewe het jy seker ook reeds gesien hoe mense se leesgewoontes verander. Wat het jou deur die jare opgeval?
Mense se leesgewoontes het natuurlik dramaties verander sedert die internetrevolusie. Vandag kan jy ’n gedrukte boek koop, die e-boek op ’n Kindle/iPad aflaai, of deur ’n verskeidenheid toestelle daarna luister.
Een van die grootste verwikkelinge die afgelope tien jaar is waarskynlik die koms van die oudioboek of luisterboek. In Suid-Afrika kry dit dalk nog nie soveel aftrek nie, maar oorsee wel, waar ’n groot mark daarvoor bestaan. As jy na ’n boek geluister het, het jy dit tog ook “gelees”.
Sedert die koms van televisie, en deesdae stromingsdienste, kan jy sê dat mense miskien minder (boeke) lees. Tog wonder ek of mense in die algemeen nie vandag meer lees as tevore nie. Of hulle nou iets navors op hul rekenaars, hulle verdiep in ’n boek, op hul slimfone die nuus lees of op sosialemediaplatforms rondsnuffel ... hulle lees.
Daar is wel ook al ’n hele paar artikels en boeke geskryf oor hoe mense se aandagspan verkort het. In hierdie opsig het die internetrevolusie waarskynlik ’n negatiewe impak op mense se leesgewoontes gehad. Dit beteken dat ons mooi dink oor die lengte van manuskripte. As jy byvoorbeeld regte vir ’n niefiksieboek by die Frankfurtse Boekebeurs wil verkoop en die boek is 125 000 of meer woorde lank, sal uitgewers of agente sommer maklik vir jou sê dis te lank en dit dan nie wil oorweeg nie.
Ek wil jou oor iets vra wat te doen het met die vyfde en sesde vrae hier bo. Daar is so baie take wat ’n uitgewer het, en tog ook baie dinge wat in die samelewing verander het. Daar is die sosiale media, waar almal op ’n seepkis kan klim en iets sê – partykeer baie sinvol, en ander kere nie. Daar is mense wat nie wil wag nie en behoeftes vinnig bevredig wil hê. Daar is ’n gevoel van elke ou se narratief maak saak en niemand moet vir andere voorsê nie. Waarom moet daar nog uitgewers bestaan?
Ek dink die inhoud wat mense op sosiale media en aanlyn deel en die inhoud wat in boekformaat gepubliseer word, verskil nogals van mekaar. Ja, dit staan enigiemand vry om hulle sê aanlyn te sê, en uitgewers kyk ook toenemend na smaakmakers en bekendes se blogs en selfs YouTube-kanale vir moontlike inhoud vir ’n boek.
..............
Ek dink die inhoud wat mense op sosiale media en aanlyn deel en die inhoud wat in boekformaat gepubliseer word, verskil nogals van mekaar. Ja, dit staan enigiemand vry om hulle sê aanlyn te sê, en uitgewers kyk ook toenemend na smaakmakers en bekendes se blogs en selfs YouTube-kanale vir moontlike inhoud vir ’n boek.
...............
Dit verg egter ’n ander dissipline om ’n boek van byvoorbeeld 65 000 of 80 000 woorde te skryf. Dit neem tyd en baie dinkwerk om ’n storielyn te bou, om jou navorsing logies en toeganklik aan te bied, of om ’n argument oor etlike hoofstukke te formuleer. Dit verg moeite en geduld, veral wanneer jou uitgewer met allerlei slim voorstelle kom vir hoe die manuskrip verbeter kan word en jy in die herskryf-skryf-herskryf-siklus beland.
Uitgewers tree op as kurators van inhoud, en ’n deel van hul werk is juis om te besluit of iets publiseerbaar is al dan nie. Hulle is daar om literêre, taalkundige en ander publikasiestandaarde te handhaaf. Dit is waarskynlik waarom daar steeds ’n groot mate van status daaraan verbonde is om jou boek deur ’n erkende uitgewershuis te laat uitgee.
Enigeen kan ’n plasing op sosiale media maak of ’n blog skryf, maar nie almal kan ’n manuskrip vir publikasie aanvaar kry nie.
.............
Enigeen kan ’n plasing op sosiale media maak of ’n blog skryf, maar nie almal kan ’n manuskrip vir publikasie aanvaar kry nie.
.............
Watter soorte boeke behoort uitgewers uit te gee? Is dit die verkeerde vraag?
In die Suid-Afrikaanse konteks behoort uitgewers meer boeke uit te gee wat op die swart middelklas gerig is. ’n Ongelooflik opwindende ding het verlede jaar in die Suid-Afrikaanse boekbedryf gebeur: Vir die eerste keer sedert 1994 was twee van die topverkoperskrywers jong, swart vroue wat nié oor die politiek geskryf het nie. Mpoomy Ledwaba is ’n smaakmaker wat haar memoires neergepen het en Rorisang Thandekiso is ’n radio- en televisiepersoonlikheid wat ’n Christelike boek geskryf het.
Dit volg op die sukses van Dudu Busani-Dube se Hlomu-fiksiereeks van enkele jaar gelede. Dit gee my oneindige hoop dat ons uiteindelik besig is om die meerderheid lesers in die land te bereik.
Daar word wysigings beoog aan die kopieregwetgewing (die President moet dit nog net onderteken). Wat is die belang van kopieregwetgewing en die beskerming wat dit moet bied, maar ook die toegang wat dit moet verleen, mits dit voldoen aan die verskillende verwere wat onder fair dealing in die wetgewing uiteengesit is?
Dit is so moeilik vir Suid-Afrikaanse kunstenaars in alle velde om ’n bestaan te maak uit hul skeppende werk. Boonop skep die internet en KI reeds soveel geleentheid vir kopieregskendings. Kunstenaars verdien die beskerming wat omvattende kopieregwetgewing hulle bied, en dit is in hierdie tye uiters belangrik.
Dit wat ek tot op hede oor die kopieregwysigingswet en fair dealing gelees het, maak my skepties oor die regering se ware intensies in terme van groter toegang wat dit moet bied en of hulle die wetgewing doeltreffend sal kan toepas.
Mense het hierdie soort gesprekke tog van die begin van die geskiedenis af: hoe die enigste ding wat voorspelbaar is, onvoorspelbaarheid en verandering is. Wat die uitgewersbedryf betref, het die drukpers alles verander – dit het sake vergemaklik, want meer boeke kon vinniger gedruk word, maar die teenkant van die muntstuk is dat meer boeke gereproduseer en sonder toestemming van die regtehouer gedruk en versprei kon word. Hierdie selfde storie geld steeds – nou is dit net die tegnologie wat meer gesofistikeerd geword het. WhatsApp-groepe, e-posse, verspreiding en kopieermoontlikhede is net soveel makliker. Wat is die grootste uitdagings vir uitgewers in hierdie stadium van die geskiedenis?
Die onwettige verspreiding van boeke is beslis ’n groot bedreiging vir die bedryf, maar daar is deesdae darem groter bewussyn daaroor dat dit verkeerd is, veral ná Media24 se optrede teen individue wat die groep se inhoud wederregtelik versprei het.
In Suid-Afrika wek die swak ekonomie ook kommer onder uitgewers, want mense het minder besteebare inkomste. Toe ek 16 jaar gelede tot die bedryf toegetree het, was ons gemiddelde eerste oplae 3 000–3 500 eksemplare. Vandag is dit 2 000 – dus ’n volle derde minder.
Laastens bied die koms van KI wonderlike geleenthede, maar ook talle bedreigings. Honderde duisende onwettig gekopieerde (pirated) boeke, waaronder dié van talle van ons eie skrywers, is sonder toestemming deur maatskappy soos Meta, OpenAI en Microsoft gebruik om hul large learning models (LLM’s) op te lei en skeppende (generative) KI te skep.
Daar is tans talle hofsake in Amerika teen hierdie maatskappye aan die gang. Meta het onlangs in die hofsaak teen hom juis aangevoer dat hy nie kopiereg geskend het nie, maar dat sy gebruik van die boeke fair use was.
KI en die uitgewersbedryf. Hoe kan KI help, en hoe bedreig dit?
Dis ’n krities belangrike vraag! KI is ’n werklikheid, en as jy dit ignoreer, sal jy agtergelaat word. Ons besef nie aldag in watter mate KI reeds deel van ons lewe is nie – ek dink byvoorbeeld aan Microsoft se speltoetsfunksie.
Die boekebesighede binne Media24 eksperimenteer al vir anderhalf jaar met KI. Dit kan ’n uitgewer byvoorbeeld help om niefiksieboeke te konseptualiseer deur vir jou idees te gee vir hoofstukke oor ’n sekere tema, om met boektitels vir fiksie en niefiksie vorendag te kom, om ’n manuskrip op te som, of om ’n basiese lokteks vir die agterblad te skryf wat jy dan self verder kan verfyn.
Daar is ook talle soorte KI wat redigeer- en proefleeswerk doen – na my kennis tans hoofsaaklik in Engels. Dit kan jou ook help om ’n basiese omslag te konseptualiseer en as verwysingspunt te gebruik wanneer jy ’n (menslike) ontwerper opdrag gee. Daar is internasionaal wel reeds uitgewers wat omslae volledig deur KI laat ontwerp.
Die bedreigings is veelvoudig. Voortaan kan mense boeke deur KI laat skryf en dit as hul eie werk aanbied. Ons kontrakte vereis wel dat skrywers bevestig dat hul werk oorspronklik is en nie deur KI geskep nie. Soos wat KI se vertaalvermoë verbeter, mag vertalers se werk bedreig word. Ons glo dit gaan nog geruime tyd wees voordat KI literêre fiksie goed kan vertaal, maar ’n basiese feitegedrewe niefiksieteks kan reeds betreklik goed deur KI vertaal en deur ’n menslike taalversorger skoongemaak word.
Ek glo voorts dat KI met die nodige gedetailleerde instruksies mettertyd ook sal kan uitwys watter leemtes daar in ’n teks is en op watter wyses dit verbeter kan word. Dalk kan KI dit reeds doen! Ons hou ontwikkelinge op die KI-front dus fyn dop.
’n Interessante en positiewe verwikkeling is dat daar intussen ’n maatskappy geskep is met die naam Created by Humans, wat hulself beskryf as ’n brug tussen menslike skeppers en KI-maatskappye. Hulle verkoop die KI-regte op skrywers (wat daartoe instem) se werk aan KI-maatskappye en verseker dat die skrywers die nodige erkenning en vergoeding kry.
Dit is dus die teenoorgestelde van wat Meta, OpenAI en ander gedoen het toe hulle skrywers se werk bloot van die internet af geskraap het.
Kinders se leesgewoontes het verander, en volwassenes s’n ook. Die sosiale media speel ’n reusagtige rol. Die prente wat jy sien, en wat ander mense op die sosiale media doen, is die soort stories wat mense volg, dalk soms ten koste van boeke. Dalk is dit maar net nog veranderinge en voortsettings van my vorige vrae. Wat dink jy?
Die boekbedryf ding beslis mee met stromingsdienste en ook sosiale media om mense se tyd en aandag. Dit is een van die uitdagings waardeur ons in hierdie era gekonfronteer word.
So ja, soms sal mense eerder ’n reeks kyk as wat hulle ’n boek sal lees. Ek glo egter solank daar genoeg aangrypende stories in boeke vertel word, sal mense nie ophou lees nie. Hulle aandag is deesdae net oor meerdere punte versprei.
Watter hoogtepunte staan tot dusver vir jou uit in jou lewe as uitgewer? Enige boeke en skrywers wat jou lewe verryk het? Of ander mense in die boekbedryf?
Amper elke boek wat ek al uitgegee het en elke skrywer saam met wie ek gewerk het, het nuwe kennis en perspektiewe gebring en ryke tekstuur aan my lewe gegee. Ek het al sulke fassinerende mense ontmoet – van fluitjieblasers en oudrecce’s tot ’n forensiese patoloog. Dan praat ek nie eens van die historici nie – my gunstelingmense. Omdat dit só ’n intieme proses is om ’n boek uit te gee, word baie van hulle lewenslange kennisse en sommige selfs vriende.
Een van die mooiste boeke wat ek al uitgegee het en wat gewoon soveel pret was om te maak, was Die Anglo-Boereoorlog in 100 objekte saam met die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Toe die voorwerpe afgeneem is, kon ek vir twee dae saam met die wonderlike span van die museum in hul store rondloop en items sien wat nie uitgestal word nie. Vir ’n ou geskiedenisbleeksiel soos ek was dit soos om in die hemel te wees!
My eerste bestuurder, Erika Oosthuysen (niefiksiehoof by Tafelberg), en mense soos Linette Viljoen, Ansie Kamffer en ander by NB was uitstekende leermeesters. Eugene Ashton, Jonathan Ball se uitvoerende hoof en nou uitvoerende hoof van Media24 Boeke, se passie vir boeke, toewyding aan skrywers en leergierigheid was die afgelope nege jaar ’n groot inspirasie. Hy het my ook geleer om nie bang te wees om te eksperimenteer nie. By Jeremy Boraine het ek weer soveel geleer oor die Engelse liberale beleweniswêreld en van slim boekkonsepte uitdink.
Wat is vir jou die beste rede om uitgewer te wees? Waarom staan jy op en stap die dag met vreugde tegemoet?
Ek is versot op my werk, want ek mag my daagliks met ander mense se skeppende werk bemoei. Ek leer soveel en vind dit oneindig stimulerend.
Hoe sien jy die toekoms van NB-Uitgewers onder Jonathan Ball?
Die konsolidasie met Jonathan Ball kan ons net versterk, onder meer omdat Eugene Ashton so ’n visioenêre leier is en onblusbare energie het. NB het ’n uiters ervare en geweldig bekwame span, wat ek glo selfs nóg groter hoogtes kan bereik. So, ek is bitter opgewonde oor wat voorlê.
...........
Die konsolidasie met Jonathan Ball kan ons net versterk, onder meer omdat Eugene Ashton so ’n visioenêre leier is en onblusbare energie het. NB het ’n uiters ervare en geweldig bekwame span, wat ek glo selfs nóg groter hoogtes kan bereik. So, ek is bitter opgewonde oor wat voorlê.
..............
My persoonlike visie is om seker te maak ons doen grensverskuiwende dinge in Afrikaans en ondersoek nuwe geleenthede vir groei in Afrikaans én in Engels.
Lees ook:
"Dit het begin by my liefde vir boeke en lees": ’n onderhoud met Marga Stoffer
Wêreldboek-en-kopieregdag 2025: Gys Visser vertel waarom kopiereg saakmaak
The post NB-Uitgewers se nuwe uitgewershoof: ’n gesprek met Annie Olivier first appeared on LitNet.
The post NB-Uitgewers se nuwe uitgewershoof: ’n gesprek met Annie Olivier appeared first on LitNet.