Gister sê ’n broeder in die gees dat ons kalmte moet kry en van die woede in ons borskasse ontslae moet raak. Ek beaam dit en stel voor dat Onse Vader ons eerder net genoeg genade hiervoor sal gee, want krag om ’n ou pak te gee, dié het ons genoeg van! (Of dan moontlik eerder hy as ek – hy was ten minste ’n voorspeler op sy dag!)
Ek kan onthou dat die sogenaamde ouer mense, waarvan ek blykbaar nou amper deel is, by male sonder tal se geleenthede gekla het oor “vandag se jeug” of die “mensdom se agteruitgaan” en die besorgde sug-stelling wat kon volg met “ek weet nie wat van hierdie wêreld gaan word nie ...”
Wel, my geliefde geborenes van weleer, ek weet nog minder!
Oupa sou soms op die punt van sy stoel sit en met sy elmboë op sy knieë en sy ken rustend op sy handpalms, kopskuddend onderlangs mompel, “hulle is almal besig om mal te raak.”
Oupa was nie ’n besonderse geleerde man nie, maar sonder dat hy soms self besef het, was sy ontledende uitsprake oor die gekheid van ons gebroeders en susters se optrede nogal nader aan die waarheid as wat menige hom voor erkenning wou gee.
Skets saam met my die prentjie in jou geestesoog ...
In ’n voorstedelike huis aan die buitewyke van Kaapstad word ’n hond wakker met haar maag wat grom. Die eersgeborene van die seuns in die huis hoor die hond se ongemak en sonder aarseling of bemoeidgeit om sy slapende ouers nie wakker te maak nie, word die hondjie uit hul kamer na die groen-groen gras vir ’n ontlastingsessie geneem en terugbesorg.
Die pappie, ’n middeljarige effens gesette haarlose salaristrekker, wat oor ’n klompie ure moet wakker word en opstaan sodat hy sy deel van die gesin se brood- en konfytgeld kan gaan verdien, lê grootoog, stil die gebeure en aanskou uit die warmte van sy bedjie wat hy met sy sag-snorkende vroutjie deel. Hy hét geslaap, maar na dese slaap hy nie meer nie. Dis tien minute na twaalf.
Plötzlich klingelte das Telefon! (Dis omtrent die enigste behoorlike sin wat ek van my Duitse klas in standerd 6 onthou – uiteraard is dit nie ’n verwysing na die effektiewe onderrig van ons Mnr Grobbelaar nie, inteendeel, indien dit was, moes Mev Arnold vandag hopeloos gevoel het want ek het niks van haar Laerskool Xhoza-klas onthou nie!)
Terug by die prentjie...
Die oorle Graham Bell se agter-agter kleinkind gil en vibreer en hop op die houtbedkassie en die pappie skrik sy droom droog terwyl hy opspring om die boosdoener te gryp en te antwoord.
Dis ’n huurder ... skelms het sy hek voor sy fabriek probeer steel; die fabriek wat hy by Pappie se mense huur en die hek met die heining wat Pappie vir hulle laat opsit het om die einste skelms weg te hou.
Die huurder gil, vloek en rammel soos ’n stotterende sersant-majoor ’n relaas van gebeure wat sekuriteit, die polisie en die hek wat teruggevind is, alles in een sin kon saamvat.
Hy wou net laat weet.
Pappie is weer wakker en die einste slaapversteurende selfoon sê dat dit nege minute na twee is; nie smiddag nie, maar stik nag donker!
Die pappie se blaas stuur ’n sein en hy en die bene sukkel badkamer toe met die ding. Sy kop is dik van die hooikoors omdat die wingerdboere gif of iets spuit en die blomme in die tuin ook hul bes doen om sy neus waterig en sy oë geswel te hou. Hy voel nie baie lekker nie.
Tien oor vyf en die voëltjies word saam met eerste lig wakker ... hy ook, en sy gemoed is swaar en sy moer hang sommer ente ver uit. Vandag gaan hy iemand se strot toedruk en mooi vertel wat selfoon-etiket behoort te wees en hoe ’n ordentlike mens oproepe met respek maak. En, as die huurder nie wil gehoor gee nie, dan gaan die bloed maar moet spat! Tot hier toe en nie verder nie!
Soggens is ons huisgesin lank reeds voor ses wakker en soms op. Maar, ons stuur nie dan vir vriende, kennisse, kollegas of kliënte boodskappe om die dag of selfs volgende week se afsprake te reël nie. Moontlik is ons die uitsondering in die dorp en moontlik is die mense wat dit wel doen, nou reeds so in die meerderheid dat sosiale gebruik gesonde verstand en goeie maniere vervang het. Wie sal weet?
“The world is your oyster” klink die gedagte aan die Ingelse idioom in my geestes-oor op. Die wêreld het verander en jy het die vermoë en die vryheid om te doen presies wat jy wil. Meer nog, jy verwag dat alles en almal hierdie gevleuelde vryheid moet help moontlik maak; as jy wil navraag doen oor die gesloer met jou paspoort, dan moet die goewerment se oproepsentrum 21:00 tot jou beskikking wees en wanneer die geldjies min raak en die fasiliteit aangepas moet word, dan behoort jy 07:00 die “bankbestuurder” te bel en die rekening verder oortrokke te kry. Hulle adverteer dit dan so.
Sou die bevlieging jou beetpak om met my ’n bekendstellingsafspraak vir êrens in volgende week te reël; doen dit dan onmiddellik, ongeag of dit 05:50 of vroeër is. Dis vir my lekker om na die wellinge en kwellinge van mense wat nie wil wag tot ná 08:00 nie, twee-uur in die oggend te luister!
Na gister, dink sommige van hulle egter nie meer so nie.
As jy ooit weer die behoefte ontwikkel om iemand in die middel van die nag te bel en om dan aggressief en beledigend te kla oor iets wat kon wag tot besigheidsure, wees dan bereid om te aanvaar dat daardie persoon dit aanstootlik sal vind, wees ook verder bereid om met dieselfde minagting en disrespek wat jy daarmee uitgedeel het, begroet te word.
Tot hier toe en nie verder nie; ons hoef nie álmal mallerig te raak nie!
The post Tot hiertoe en nie verder nie appeared first on LitNet.