Nee, Stellenbosch is nie die Beloofde Land nie. Nie meer nie. Die tyd van ABBA, ligblou kombi’s, deurskynende albasters met tandepasta binne-in, klein Casio-calculator-armhorlosies en tapes wat jy kort-kort moet omdraai om kant A of kant B te luister, is lankal verby.
Dinge het verander.
Die dorp het nou ’n massiewe mall met ’n iFix én ’n Woolies, en iemand het Die Mystic Boer (wat jare gelede nie ’n voordeur gehad het nie) die lelikste mosterd-geel wat jy al ooit gesien het, gaan staan en verf.
Op someraande omtrent so half nege se kant, as die son agter Eikestad Mall begin wegsak en die lug soos ’n tequila sunrise of die laaste scene van Lucky Look lyk, dan, as die hemele bo Stellenbosch só lyk, dán begin Die Mystic Boer pomp. Maak nie saak watter dag van die week dit is nie, hy pomp elke aand Woensdagmusiek. Al wat jy hoor is Woensdag. Woensdag. Woensdag. Elke aand. Woensdag.
Jy kan hom myle vêr hoor. Sy binnensmondse gebrom loop deur die strate tot net voor die woonbuurte waar die ryk mense bly; marketing managers, business managers, human resource management managers en managerial administrative management strategists wat se polse te groot geword het vir hulle Casio’s en nou net Rolex dra. Monster-groot SUV’s in elke tweede driveway. Immergroen uitgelegde tuine agter pastel betonmure wat opreggeteelde miniatuur- yorkshire terriers binnehou. Die gepomp dood net voor daai huise. Die huise met die kinders wat in Hoërmeisieskool Bloemhof en Paul Roos Gimnasium is en al in graad een Khayelitsha kan spel.
Vêr uit die oog van daardie spoggerige voorstedelike woonbuurte staan Die Mystic Boer in die middel van die dorp met sy geel wange, ’n bietjie soos Van Gogh se Café Terrace at Night meesterstuk. Maar, unlike Van Gogh se pragtige skildery, is Die Mystic Boer die dorp se grootste asblik.
Hier word alles weggesmyt: Black Label-bottels, inhibisies, oorskiet- chicken schnitzels, voornemens, halfgerookte Pall Malls, voosgekoude kliphard Stimorols, you name it – dit lê en vrot in die swart smeersel oor Mystics se vloer. As jy, sê nou maar, vyftig persent afslag Shoprite-hoenderboudjies (wat reeds laasjaar begin-Desember verval het) in melk en lemoensap sou week en dit vir ten minste ses weke in die son laat gis, daai reuk. Dis hoe Mystics ruik.
Dit was nie altyd so nie. Baie jare terug, toe die plek nog vier en twintig uur ’n dag oop was (as gevolg van die gat in die muur waar die voordeur veronderstel was om te wees), het Mystics, voordat dit “Mystics” was, soos varsgemaalde koffiebone en Strawberry milkshakes geruik. Soet. Onbekende struggling akteurs, wat intussen die cover van Huisgenoot gehaal het, het daar ge-waiter. Dit was knus en gesellig. Pligsgetroue studente het in die middernagtelike ure met hulle olielampies en kerse by die tafeltjies studeer en gesels oor filosofie en God terwyl hulle koffie drink. Die plek was nooit heeltemal leeg nie. Altyd iemand êrens in ’n hoek.
Skelm onder die tafel het couples mekaar se hande of bobene styf vasgehou, so asof hulle agter in ‘n skoolbus sit, op ’n uitstappie na die akwarium, met ’n skooltrui oor die verstrengelde vingertjies om die opregtheid van hulle liefde te beskerm teen die vrees van ‘n gespottery. Mense was nog half ordentlik, want dit was die dae voor Tinder en Grindr en chat rooms en no-strings-attached hook-ups, so as jy iemand soortvan liefgehad het, het jy daai saadjie stadig en met geduld gewater tot hy ’n ma-moerse boom geword het, want dit was vir “vir ewig en altyd en nog ’n dag”. Die Universiteit se dramadepartement het suutjies aan die oorkant van die pad vir Mystics geloer en toegekyk hoe boompie na boompie opskiet.
Vandag loer die drama departement nie meer nie. Hy gluur. Mystics het ’n voordeur gekry. ’n Pleister wat al die etter binnehou. Die plek kan nie meer asemhaal nie. Sommige studente verwys nou na die plek as Mistakes. Niemand weet regtig hoekom enigiemand nog daar uithang nie. Almal haat dit. Maar, almal doen dit.
Vandag is Vrydag, vyfuur die middag, en die son sit hoog, so Die Mystic Boer se bek is nog redelik stil. Dit sal ’n sonde wees om so vroeg in die dag al te pomp. Nie dat Mystics of die drama departement omgee oor sonde óf pomp nie, maar ander regte grootmensbesighede sal hulle gaan aankla. So, vir nou, vibreer sy klanke saggies teen die vensters in afwagting vir vanaand. Nirvana is net-net hoorbaar as jy buite sit. Van binne is dit bietjie harder, maar mens kan nog steeds nie die lirieke uitmaak nie. Dit klink asof die ou sing: “I’m a llama.” Dit kan nie reg wees nie.
Binne langs die bar hang die enigste waiter op shift aan die counter en sien op na die lang aand wat voorlê. Sy oë sit een meter diep in sy oogkaste. Dit druk teen sy serebellum. Sy hoofpyn skiet regdeur alles en loop teen sy ruggraat af tot in sy stuitjie. Dit voel vir hom asof daar acid oor sy senuweestelsel uitgegooi is. Die acid waarmee sy pa altyd die dreine by die huis skoongemaak het. Alles pyn. Ja, hy is babelas en dronk. Alweer. Hy lyk soos iemand wat sopas ’n epileptiese aanval voor in ’n kerk gehad het, waar ’n dominee ’n gay demoon onsuksesvol uit hom uit probeer dryf het. Septies.
Hy werk tot môre oggend drie-uur. Dis tien ure van olierige pizzas en tequila shots agter sweterige, hormonale studente aandra. Hy is klaar moeg. Hy is altyd moeg. Met ’n bewerige hand vee hy ’n swart gekoekte sliert van sy wenkbrou af. Dit plak teen sy linkerslaap vas. Hy het sy pa se wenkbroue. Dik en hard soos die perdestert in ’n vioolboog. Vir ’n oomblik druk hy sy voorkop teen die palm van sy hand, in die hoop dat die druk van buite, die druk van binne sal verminder. Die arm wat sy hand regop hou, is vol tattoos. In plaas van ’n horlosie, spel die swart kursiewe letters in ’n sirkel reg rondom sy pols: “to fly you must fall.” Dit was een van sy eerstes gewees en is ook sy gunsteling. Tot op datum het hy iets soos nege in totaal. Hy weet nie of dit enigsins moontlik is nie, maar dit voel vir hom asof die tattoos hom vashou. Hom beskerm. Hy voel veilig in hulle. Soos in sy ma se greep om sy klein sesjarige arm, toe sy hom as kind saamgeneem het om tydens Desember Krismis-shopping te gaan doen.
Hierdie Desember gaan hy beslis nie saam met, of sonder sy ma shop nie. Hy is nie eers seker of hy sy ma enigsins gaan sien nie. Al waaraan hy nou kan dink is sy ore wat suis van al die gif wat deur sy are sukkel. Hy is hoogs geïrriteerd met homself en alles om hom. Brandy-vermengde-vloeistof drup uit sy liggaam. Die taaiheid syfer deur sy verstopte porieë en deur die waaie van sy oksels, soos slik. Hy het maklik drie dae laas gestort, maar sy shampoo is op, so what’s the use. Los dit. Hy skop daai leë shampoo bottel anyway net heeltyd per ongeluk om en vergeet elke keer om dit weg te gooi of te vervang. So hy bly maar liewer weg van die stort. Dit pla hom nie in die minste om so by die werk op te daag nie.
Sy oë pyn as hy by die deur uitkyk na die helder daglig daar buite. Hier binne Mystics is dit altyd donker. Sy stoppelbaard irriteer hom. Op dae soos dié, as dit drie en veertig grade buite is, jeuk die ding meer as gewoonlik. Asof die krapperige baard wat in patches deur sy wange steek nie erg genoeg is nie, het sy akneeprobleem van hoërskooldae nog steeds nie opgeklaar nie.
Hy het vir ’n rukkie op skool die Roacutane probeer wat die dokter vir hom voorgeskryf het, maar sy vel was so uitgedroog, sy mondhoeke het aanhoudend gebars. Dit was baie seer. Elke keer as hy sy mond bietjie te groot oopgemaak het, het dit van voor af gebloei en wanneer dit nie gebloei het nie, het hy uit verveeldheid die rofies met die punte van sy naels afgetrek..Maak nie saak hoeveel Zambuk hy met sy geel vingers uit daardie potjie met die onmoontlike deksel gegrawe het nie, daai eina’s het eina gebly.
Toe los hy die pille sonder sy ma se medewete. Sy sou nou weer iets gesê het soos: “My kind, dis vir jou eie beswil. Jy doen dit nie vir my of vir jou pa nie. Jy doen dit vir jouself, en moenie so aan jou gesig druk nie, dit gaan merke maak.” Hy het gedink dit sal vanself weggaan, self regkom, maar dit het nie. Nou, op die ouderdom van vier en twintig moet hy nog steeds daarmee deal. Dít en die feit dat hy al te lank in hierdie hool werk.
Buite die hool staan daar vier houttafels. Twee links van die deur en nog twee regs van die deur. Presies simmetries. Die tafels is een-met-hulle-stoele. Dit lyk soos daardie tafelbanke wat mens by vulstasies op die highway kry, waarby gesinne rustig hulle Steers kan eet.
Op die tafel regs van die deur sit ’n vlieg. Van die straat af kan jy hom nie sien nie, maar van die sypaadjie af lyk dit soos ’n stukkie gebrande toastie-kors wat daar lê. As jy stop en jou oë op skrefies trek en mooi kyk, kan jy sien hoe sy agterlyfie groen flits wanneer die lig reg op hom val.
Effens op sy senuwees, spoeg-lek hy die tafel in die hoop dat daar êrens tussen die krakies van die hout ’n verdwaalde chippie sal lê. Ah-ha! ’n Stukkie nacho! Hy love nacho’s. Dit is sy gunstelingding in die wêreld. Hy het dit twee dae terug ontdek in ’n drom agter ’n ander restaurant in Kerkstraat. Hy is agt dae terug gebore, in daai einste drom, en volgens die boeke het hy nog ten minste agtien dae oor om te lewe.
Hy het soveel planne en ideale en toekomsdrome. Agtien dae vir ’n vlieg, is sewe en negentig jaar vir ’n mens. Hy wil nog die trein vat Kaapstad toe en Tafelberg gaan vlieg, bietjie lywe gaan kyk op Clifton, op ’n slapende hond se nat neus gaan sit sonder om hom wakker te maak en die nommer een ding op sy bucket list: hy wil nog vreeslik graag ’n tannie iewers in Durbanville gaan irriteer. In haar kombuis. Terwyl sy Philadelphia Cream Cheese en Wellington Sweet Chilli sous uitsit vir die gaste wat later die middag kom braai. Maar – vir nou is sy droom, sy passie, sy begin en einde, hierdie stukkie nacho voor hom.
Eers kyk hy vir ’n oomblik in verwondering na die krummel wat misgevee is. Vir al wat hy weet lê die ding al vir ’n week daar, maar hy gee nie om nie. Een man se dood is ’n ander vlieg se brood. Sy oë is gevestig. Op hierdie spesifieke oomblik in tyd wentel sy hele klein vliegiewêreld net om hierdie stukkie nacho. Met twee oë wat uit ongeveer vier duisend lense elk bestaan, lyk daai een vierkante millimeter nacho soos iets op die voorblad van ’n FOOD & HOME-tydskrif. ’n Kunswerk.
Skielik.
In die hoek van sy twee duisend, vier en dertigste oog sien hy ’n swart figuur ’n paar meter van hom af weg. Dit staan in die donker. Wag. Stop. Wat is dit? Netnou is dit? Die eerste en laaste ding wat sy ma ooit vir hom gesê het, was: “Bly weg van ’n vadoek, my kind.” Is dit ’n vadoek wat voor by die figuur se ding uithang? Kan nie wees nie. Of ja, maar dis okay.
Die figuur staan doodstil. Hy gee dit ’n paar sekondes. Een. Twee. Drie. Vier. Dit beweeg nie. Dit moet dood wees.
Terug by die nacho. Sy tuitjie trek styf. Hy kan voel hoe die kwyl in hom begin opstoot. Hy hou daarvan om so bietjie terug te hou. Dis moeilik, maar die beloning is groot. As jy jouself net vir ’n paar sekondes kan beheer, fokus, en dan wag tot daar genoeg in jou is om op alles voor jou te kots, is die ervaring ’n ontploffing van lekkerte.
Uit pure opwinding begin sy klein beentjies onder hom onbeheerbaar bewe. Hy probeer homself regop hou en in amper bonatuurlike ekstase vryf hy sy voorste handjies baie vinning teen mekaar. Dit bly in hom opstoot. Hy lyk amper soos ’n grotmens wat ’n takkie beetgekry het en ’n vuurtjie probeer stook. Hy vryf al hoe vinniger tot sy een handjie begin brand. Ouch, dis seer, maar oeg, dis lekker.
Sy bene begin effens lam word. As hy ’n mens was, het hy nou sy asem opgehou tot hy blou is in die gesig, maar goddank hy het nie longe nie, en goddank hy is nie ’n mens nie, want as hy wel ’n mens was, was hierdie beslis nie nou so wonderlik nie.
Hy begin sterre om hom sien.
Letterlik.
Dit is skielik amper tien uur die aand en die son is onder. Die nag wat oor Stellenbosch kom hang het, het vinnig oor alles getrek. Daar is sterre soos klein vuurvliegies wat al skitter vêr verby die straatlampe. Hoog bo die aarde. Duisende liggies wat hang vanuit ‘n gitswart hemel.
Teen dié tyd lyk Die Mystic Boer presies soos Van Gogh se skildery.
Effens verward wonder die vliegie hoe lank hy al daar sit en staar na die stukkie nacho. Hy voel bietjie skuldig omdat hy dalk tyd gemors het, maar hy is seker dit was die moeite werd, en dán, in sy siel (want ’n vlieg het nie hart nie) weet hy dit is uiteindelik tyd.
Hy rek die punt van sy tuitjie so wyd oop as wat hy moontlik kan. “Jis, dis gross”, sê een van die massas dronk studente wat intussen by die tafel kom sit het en druk die vlieg met die bodem van ’n pienk Brutal Fruit dood. “Kan iemand net asse-fokken-blief vir die useless waiter sê hy moet hierdie tafel kom afvee?”
The post PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool: Die vlieg en die waiter appeared first on LitNet.