
Foto: Unsplash
Because their wheels clattered on paving stones, chariots in ancient Rome were banned from the streets at night to prevent the noise that disrupted sleep and caused annoyance to the citizens. (Goines en Hagler 2007)
Silence is golden – reduce noise pollution. (Eco365store)
Agtergrond
Luidens ’n onlangse persberig (Pereira 2025) wat deur Euronews uitgereik is, woon meer as 20% van EU-burgers in gebiede waar verkeersgeraas hul fisieke en geestesgesondheid benadeel. Die Europese Hof van Ouditeure stel dit onomwonde dat wetgewers en plaaslike owerhede nie die geraaskwessie so ernstig opneem soos die lugbesoedelingvraagstuk nie. Meer as een uit vyf Europeërs word blootgestel aan die langtermynimpakte van geraasbesoedeling weens pad-, spoor- en lugvervoergeraas.
In die berig word aangetoon dat mense wat in gebiede woon wat deur vervoergeraas geraak word, ’n hoër risiko toon om ’n wye verskeidenheid gesondheidskwessies te ontwikkel, insluitend kardiovaskulêre, metaboliese en geestesgesondheidsiektes, in vergelyking met diegene wat nie in sulke gebiede woon nie. Volgens die Europese Omgewingsagentskap beïnvloed geraasblootstelling ook die leesbegrip en gedragspatrone van kinders nadelig tydens die vroeë kinderontwikkelingsperiode.
Pereira (2025) wys daarop dat ongeveer 14 miljoen kinders tussen die ouderdomme van 6 en 17 in Europa (insluitend Ysland, Noorweë en Switserland) blootgestel word aan gemiddelde vervoergeraasvlakke van 55 dB of hoër. In Europa word byna 550 000 gevalle van leesontwikkelingsagterstande jaarliks toegeskryf aan geraas deur omgewingsvervoer. Meer as 80% van hierdie gevalle spruit uit padverkeergeraas, gevolg deur 15% van spoorverkeer en ongeveer 1% van lugvervoer. Wat gedragsprobleme betref, word jaarliks bykans 60 000 gevalle in Europa aan geraasblootstelling toegeskryf, waarvan 86% met padverkeergeraas geassosieer word.
Die Omgewingsagentskap het maatreëls ingestel om stiller gebiede rondom skole te skep, geraasverminderingstegnologie in vervoerinfrastruktuur te gebruik, en selfs klankdigtingmetodes soos akoestiese skuim en klankdigte panele te installeer.
........
Die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne vir gemeenskapsgeluide beveel aan dat geraasvlakke op skoolterreine nie 55 dB behoort te oorskry nie, terwyl die geraasvlakke binne klaskamers laer as 35 dB moet wees.
........
Die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne vir gemeenskapsgeluide beveel aan dat geraasvlakke op skoolterreine nie 55 dB behoort te oorskry nie, terwyl die geraasvlakke binne klaskamers laer as 35 dB moet wees.
Min beleidsmaatreëls bestaan in die EU om kinders se blootstelling aan vervoergeraas te beperk. Anders as in die geval van lugbesoedeling word minder ingrypende geraasverminderingsteikens vir die EU gestel, met die gevolg dat dit lidlande ontmoedig om aksies te prioritiseer om geraasbesoedeling te verminder.
Die gehalte van die berig deur Euronews sou verbeter kon word deur die toevoeging van gevallestudies van enkele Europese stede wat besonder suksesvol was om klankbesoedeling aan bande te lê. Die vraag ontstaan verder of die syfer van meer as 20% Europeërs wat deur klankbesoedeling nadelig beïnvloed word, nie moontlik ’n onderskatting van die werklike situasie is nie, veral omdat die aard van verslagdoening- en moniteringspraktyke van EU-lidlande nie in die berig bespreek word nie. Hoe kan die aansprake in die berig geverifieer word?
Die Euronews-berig slaag egter daarin om die algemene bewustheid in verband met die gesondheidsimpak van klankbesoedeling te verhoog, alhoewel die geldigheid van die stellings oor die risiko’s wat geraasbesoedeling vir fisieke en sielkundige gesondheid inhou, deur ’n diepgaande literatuurstudie verder ondersoek behoort te word.
In aansluiting hierby verwys Van Zyl (2025) na die harde gefluit van Prasa se treine wat die inwoners van Muizenberg tot raserny dryf. Hiervolgens fluit die sirenes van nuwe lokomotiewe wat op die suidelike roete deur Prasa gebruik word, blykbaar “soggens en namiddae, elke halfuur”. Die inwoners bestempel die geraas as klankbesoedeling en het ’n petisie opgestel wat reeds deur meer as 300 persone onderteken is.
John Scott (2025), daarenteen, verwys na die sirenes van die suidelike voorstede se treine dekades gelede as een van die mees welkome en gerusstellende geluide tydens sy jeug en aktiewe werksloopbaan. Die betekenis wat hy destyds daaraan geheg het, was dat die trein op pad sowel as betyds was. Teen daardie agtergrond is die titel van sy berig, “How sweet the sound of train sirens”, te verstane. Hy spreek sy misnoeë uit met die treinpendeldiens wat met verloop van tyd in duie gestort het, en noudat die treine weer aan’t beweeg is, kla die plaaslike inwoners oor die intensiteit en toonhoogte van die sirenes.
.........
Identiese klankprikkels word deur verskillende individue op verskillende maniere geïnterpreteer op grond van vorige ervaring asook sosio-ekonomiese, persoonlikheids-, waarde- en kultuurverskille.
........
Dit blyk dus baie duidelik dat perseptuele verskille ’n betekenisvolle rol speel in wat as geraasbesoedeling beskou word. Identiese klankprikkels word deur verskillende individue op verskillende maniere geïnterpreteer op grond van vorige ervaring asook sosio-ekonomiese, persoonlikheids-, waarde- en kultuurverskille.
Wat word met geraasbesoedeling bedoel?
Die terme klank en geraas word dikwels as sinonieme terme gebruik. Daar is egter verskille tussen die klankgolwe. Golwe met ’n bepaalde golfpatroon, met ander woorde periodieke klankgolwe (soos spraak en musiek), het onder normale omstandighede aangename klankgewaarwordinge tot gevolg. Daarteenoor gee onreëlmatige of aperiodieke golfpatrone sonder harmonie aanleiding tot die gewaarwording van geraas (Du Toit en Van der Merwe 1983:216).
Babisch (2015) se verduideliking is meer subjektief van aard. Hy beweer dat klank omgeskakel word in geraas sodra klankprikkels nadelige gevolge inhou vir die luisteraar(s) se sielkundige en/of liggaamlike gesondheid. Hierdie subjektiwiteit beklemtoon weer eens dat geraas nie bloot net ’n fisiese verskynsel is nie, maar op sielkundige interpretasies gebaseer is volgens individuele voorkeure en omstandighede.
Klankprikkels verskil van mekaar wat betref hul golflengtes (of frekwensie), die intensiteit, kompleksiteit, reëlmatigheid en duur van die klank. Die frekwensie en intensiteit gee aanleiding tot die subjektiewe interpretasie van toonhoogte en hardheid. Geraasbesoedeling verwys na die verhoging van die intensiteit/hardheid van die natuurlike of heersende agtergrondgeraasvlak (ambient sound level) in ’n bepaalde omgewing as gevolg van klankgenererende menslike aktiwiteite, wat nadelige gevolge vir mens en dier kan inhou (Slabbekoorn 2019). Daar word dikwels na klankstimuli van hierdie aard as antropogene geraas verwys, teenoor natuurlike geluide soos die ritme van reëndruppels wat val, donderweer, die see, en voëls wat sing, wat van biotiese of abiotiese oorsprong is.
........
Die prominentste en mees wydverspreide bronne van antropogene geraas is snelweg-, lughawe- en lugverkeer, hawens en bootvaartverkeer, konstruksieterreingeraas, mynbouaktiwiteite en industriële kragopwekkers
........
Die prominentste en mees wydverspreide bronne van antropogene geraas is snelweg-, lughawe- en lugverkeer, hawens en bootvaartverkeer, konstruksieterreingeraas, mynbouaktiwiteite en industriële kragopwekkers, om slegs enkeles te noem (Slabbekoorn 2019).
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het aanbeveel dat die maksimum geraasvlakke waaraan individue in kommersiële en woongebiede blootgestel word, tussen 55 en 70 dB gehandhaaf word (Ashab en Lina 2023). Die Nasionale Instituut vir Beroepsveiligheid en Gesondheid het voorgestel dat blootstelling aan klankstimuli van tot 85 dB beperk moet word tot hoogstens agt uur per dag.
Volgens die geraasbeheerregulasies ingevolge afdeling 25 van die Suid-Afrikaanse Omgewingsbewaringwetgewing (Wet nommer 73 van 1989) verwys “steurende geluide” na klankprikkels wat ‘n sekere gebied se soneklankvlak (of basisklankvlak) met 7 dB oortref. Indien geen soneklankvlak vir die gebied beskikbaar is nie (met ander woorde nie vooraf deur die plaaslike owerhede amptelik vasgestel is nie), word bepaal of die geraas die ambiënte klankvlak met 7 dB of meer oortref (Anviro-Acoustic Research Sj).
Implikasies van blootstelling aan geraasbesoedeling
Die verband tussen geraasblootstelling en nadelige geestesgesondheidsuitkomste behels ’n komplekse wisselwerking van sielkundige en gedragsmeganismes. Volgens die geraas/stres-konsep wat deur die omgewingsnavorser Wolfgang Babisch ontwikkel is (Hahad, Kuntic, Al-Kindi ea 2024), bestaan twee hoofroetes waardeur geraasblootstelling nadelige gesondheidseffekte veroorsaak: die sogenaamde direkte roete, dit wil sê blootstelling aan uiters hoë desibelwaardes (>100 dB), wat direkte skade aan die gehoorstrukture aanrig, en die indirekte roete, wat verband hou met blootstelling aan laer desibelwaardes (50–70 dB) en gevolglik daaglikse aktiwiteite soos slaappatrone en kommunikasie op lang termyn ontwrig. Slaapversteurings word direk gekoppel aan geestesgesondheidsprobleme soos angs en depressie. Hierdie blootstelling aan langdurige laer geraasvlakke lei tot simpatiese en endokriene aktivering sowel as verskeie kognitiewe en emosionele stresreaksies, gekenmerk deur verhoogde streshormoonvlakke en aktivering van die simpatiese senuweestelsel.
........
Die verband tussen geraasblootstelling en nadelige geestesgesondheidsuitkomste behels ’n komplekse wisselwerking van sielkundige en gedragsmeganismes.
........
Babisch (2015) beweer verder dat dit reeds wetenskaplik aangetoon is dat laer ambiënte geraasvlakke (wat nie tot gehoordefekte aanleiding gee nie) tog wel met die voorkoms van metaboliese patologie (tipe 2 -diabetes), hoë bloeddruk (hipertensie), koronêre hartsiektes (insluitend miokardiale infarksie) en beroerte geassosieer word.
Enkele onlangse navorsingstudies (sedert Januarie 2024 gepubliseer)
- Hassan (2024), verbonde aan die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit van Zako, Irak, kom tot die gevolgtrekking, op grond van ’n literatuurstudie, dat geraasbesoedeling veral die liggaamlike en sielkundige gesondheid van kwesbare groepe soos kinders en bejaardes nadelig beïnvloed. Die ekonomiese koste van geraasbesoedeling is astronomies hoog, veral wat verbandhoudende gesondheidsorguitgawes en produktiwiteitsverliese betref, terwyl dit ook ’n negatiewe invloed op die lewensgehalte van gemeenskappe uitoefen. Dit onderstreep die dringende behoefte aan effektiewe geraasbesoedelingbestuurstrategieë, wat die implementering van regulasies, verbeterde stedelike beplanning en verhoogde openbare bewuswording insluit.
- ’n Amerikaanse navorsingsgroep (Kollia ea 2025) stel die hipotese dat alhoewel geraasbesoedeling ’n alomteenwoordige en wêreldwye probleem is, die algemene publiek nie voldoende ingelig is oor die negatiewe gevolge daarvan nie. Die neiging bestaan dat die publiek hoofsaaklik aanlyn bronne raadpleeg om inligting te bekom. YouTube is wêreldwyd ’n gewilde sosialemediaplatform. Die doel van hierdie studie was gevolglik om die inligtingsbronne oor geraasbesoedeling wat deur middel van YouTube aan die publiek beskikbaar gestel word, te ondersoek wat die verbruikersfrekwensie en die gehalte van inhoud betref.
Die gewildste 100 video’s (in Engels) wat oor geraasbesoedeling handel, is vir ontleding geselekteer. Elke video is beoordeel volgens die toepaslike inligting (inhoud) wat dit vertoon, sowel as die datum waarop die inhoud opgelaai is, die bron van die inligting (professioneel of verbruiker/publiek), die duur van die video, die getal kere wat dit afgelaai is, en die aantal erkennings (likes) wat dit ontvang het. Beskrywende statistiek is vir dataontledingdoeleindes gebruik.
Die 100 geselekteerde video’s wat tussen 2009 en 2023 geproduseer is, het in 2022 die hoogste oplaaifrekwensie (16%) getoon, met 27% wat deur die algemene publiek opgelaai is en 73% deur professionele en gesondheidsorganisasies. Kumulatief is die video’s meer as 15 miljoen keer afgelaai. Die spesifieke video’s wat deur verbruikers / die publiek opgelaai is, het ’n hoër mediaan aflaai-insidensie gehad in vergelyking met video’s wat deur professionele persone opgelaai is, wat moontlik dui op ’n voorkeur vir video’s wat deur eweknieë saamgestel is.
Professionele organisasies behoort hierdie bevindings in ag te neem ten einde die publiek se toegang en motivering vir die gebruik van professionele saamgestelde video’s te verbeter en strategies aan te moedig.
- Grimshaw-Aagaard en Bemman (2024) voer ’n eksploratiewe studie uit in verband met die aanwesigheid van ultrasoniese klankgolwe in die Deense stad Aalborg. Die navorsingsvraag is of die hoeveelheid ultrasoniese klank wat identifiseerbaar is, genoegsaam sou wees om verdere navorsing oor die implikasies daarvan te regverdig.
Die normale menslike oor is sensitief vir klankfrekwensies tussen die grense van ongeveer 20 Hz tot 20 kHz. Alle frekwensies van meer as 20 kHz word as ultrasoniese klank beskou, en onder 20 Hz as subliminaal.
Wat die blootstelling aan ultrasoniese klank betref, word oor dekades heen reeds bespiegel oor die impak daarvan op werkers wat gereeld daaraan blootgestel word. Tydelike gehoordrempelverskuiwing en elektrolitiese wanbalans word genoem, asook verskeie subjektiewe newe-effekte soos naarheid, duiseligheid, migraine, moegheid, tinnitus en ’n verhoogde sensasie van “drukking in die ore”.
Daar bestaan drie breë kategorieë van blootstelling aan ultrasoniese klank in die atmosfeer. Ultrasoniese klank word gegenereer as ’n neweproduk van die werking van apparaat wat tydens ultrasoniese skoonmaakprosesse (ultrasonic cleaning technology) gebruik word, apparaat wat die opwekking van ultrasoniese klank gebruik vir die effektiewe werking daarvan (byvoorbeeld ultrasoniese afstandmeters), en apparaat wat ultrasoniese klank gebruik om ’n einddoel suksesvol te bereik (bv plaagbeheertoestelle).
Die resultate dui daarop dat gedurende sekere periodes van die dag beduidende toenames in ultrasoniese klank voorgekom het, met ’n laer konstante voorkoms op plekke wat die verste van groot strate geleë was. In die stedelike opnames sowel as die enigste landelike opname is die hoogste persentasies ultrasoniese klank gedurende die nag waargeneem en die laagste persentasies gedurende die middag. Die metings naaste aan ’n hospitaal het die hoogste vlakke en die mees uiteenlopende ultrasoniese klankpatrone opgelewer in vergelyking met alle ander metingspunte, soos naby of in groen gebiede (byvoorbeeld parke) wat meer dikwels homogene ultrasoniese klankpatrone oplewer.
- Soos blyk uit die voorbeeld van die Muizenberg-inwoners se heftige reaksies, kan die ligging van woonbuurte, veral met betrekking tot bedrywige treinspoortrajekte, problematies wees vir sekere inwoners wat blootstelling aan geraasbesoedeling betref.
’n Studie deur ’n Indiese navorsingsgroep (Kumar ea 2025) fokus op die omgewingsmonitering en assessering van spoorweggeraasbesoedeling in stedelike gebiede en die impak daarvan op menslike gesondheid en inwoners se daaglikse aktiwiteite.
Geraasvlakke is met behulp van klankintensiteitmeters in verskillende woonbuurte gemeet. Inligting in verband met die inwoners se houdings, persepsies en standpunte is verkry deur middel van gestruktureerde vraelyste om sodoende die aard van die verband tussen geraasblootstelling, irritasievlakke en gesondheidsdefekte te bepaal.
Deur middel van faktorontleding en meervoudige regressie is die omgewingsmoniteringdata met epidemiologiese en gesondheidsdata geïntegreer om die risiko’s van blootstelling aan geraasbesoedeling te bepaal vir individue wat naby spoorlyne woon.
Die resultate dui daarop dat spoorweggeraas dikwels regulatoriese perke oorskry, en dat passasierstreine meer tot geraasbesoedeling bydra as goederetreine. Blootstelling aan geraas was ’n betroubare voorspeller van verhoogde irritasievlakke en die voorkoms van gesondheidsdefekte, en die relatiewe afstand vanaf die spoorlyn het deurgaans ’n kritiese faktor blyk te wees.
Hierdie studie beklemtoon die behoefte aan deeglike geraasmoniteringstelsels en risikobepalingstrategieë in vervoerbeplanning om sodoende gesondheidsrisiko’s te beperk, asook om die bewustheid van gemeenskappe in verband met hierdie risiko’s te bevorder.
- Yun ea (2024), verbonde aan die Departement Openbare Gesondheid, Universiteit van Yonsei, Suid-Korea, doen navorsing oor die voorkoms van depressiewe simptome by landsburgers wat aan langdurige omgewingsgeraas van hoë intensiteit blootgestel word.
Die data vir hierdie studie is verkry deur die gegewens van twee openbare toeganklike databronne te benut. Die eerste is die Koreaanse Gemeenskapsgesondheidopname wat sedert 2008 jaarliks uitgevoer word deur die Koreaanse Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming en gebaseer is op inligting oor die gesondheidstatus van plaaslike inwoners wat deur alle plaaslike openbare gesondheidsentrums verskaf moet word.
Die tweede bron is inligting soos vervat in die Koreaanse Omgewingsgeraasmetingopname van 2019, wat deur die Koreaanse Ministerie van Omgewingsake uitgevoer is om as basis te dien vir nasionale geraasbestuur en effektiewe beleidsformulering vir geraasvermindering.
Outomatiese omgewingsgeraasmoniteringstoestelle is op 67 punte in 15 stede regoor die Suid-Korea geïnstalleer, wat spesifiek gebiede teiken wat moontlik geraasverwante probleme ervaar.
Op grond van die resultate van die ontleding blyk dit dat individue wat in die gebiede met die hoogste omgewingsgeraas woon, ’n 155% groter kans het om depressiewe simptome te ontwikkel as diegene in gebiede met die minste omgewingsgeraas. Met behulp van gestratifiseerde ontleding volgens die graad van depressie het individue in gebiede met die hoogste omgewingsgeraasblootstelling ‘n beduidend hoër kans gestaan om ligte tot matige depressie te ontwikkel.
Die bevindinge dui op die noodsaaklikheid van volgehoue aandag aan en bestuur van omgewingsgeraasbesoedeling wat individue se geestesgesondheid nadelig kan beïnvloed.
Gevolgtrekkings
Geraasbesoedeling, veral deur vervoer (pad-, spoor- en lugverkeer), is ’n wydverspreide probleem wat ernstige fisieke en geestelike gesondheidsimpakte het. Meer as 20% van die Europese bevolking word hierdeur geraak, met kinders en kwesbare groepe wat besonder vatbaar is.
Langdurige blootstelling aan geraasvlakke wat 55 dB oorskry, word geassosieer met kardiovaskulêre siektes, metaboliese afwykings (soos tipe 2-diabetes), slaapversteurings, en geestesgesondheidsprobleme soos angs en depressie. By kinders beïnvloed dit leesbegrip, gedragspatrone en algemene ontwikkeling negatief.
Geraas word nie net deur die fisiese eienskappe (soos intensiteit en frekwensie) bepaal nie, maar ook deur individue se subjektiewe persepsies. Wat vir een persoon steurend is, kan vir ’n ander gerusstellend wees, soos gesien word in die uiteenlopende reaksies op die klank van die treinsirenes in Muizenberg.
In teenstelling met lugbesoedeling ontvang geraasbesoedeling minder aandag in beleidsvorming. Die EU het beperkte regulasies om geraasvlakke te beheer, veral wat skole en woongebiede betref.
........
Daar is ’n gebrek aan openbare bewustheid oor die negatiewe gevolge van geraasbesoedeling.
........
Geraasbesoedeling het hoë ekonomiese koste tot gevolg weens enorme gesondheidsorguitgawes en verlore produktiwiteit. Dit beïnvloed ook die lewensgehalte van gemeenskappe negatief.
Effektiewe strategieë, soos stadsbeplanning, interdissiplinêre navorsing, verbeterde vervoerinfrastruktuur, en openbare bewusmaking, is noodsaaklik om geraasbesoedeling te verminder. Voorbeelde sluit in die gebruik van akoestiese skuim en klankdigte panele, asook die skep van stiller sones rondom skole.
Studies oor ultrasoniese klankgolwe en spoorweggeraas toon dat verdere navorsing nodig is om die impak van spesifieke klankbronne op gesondheid en gemeenskappe beter te verstaan. Meer inligting word benodig oor die bronne van ultrasoniese klankvrystelling, byvoorbeeld plante, diere en tegnologie.
Daar is ’n gebrek aan openbare bewustheid oor die negatiewe gevolge van geraasbesoedeling. Professionele organisasies behoort meer toeganklike en relevante inligting te verskaf deur elektroniese platforms soos YouTube meer effektief te benut.
Samevattend
Daar bestaan konsensus op wetenskaplike terrein dat geraasbesoedeling ’n komplekse probleem met wye implikasies vir menslike gesondheid, die ekonomie asook die kwaliteit van gemeenskapslewe is. Dit vereis dringende beleidsingrepe, verbeterde moniteringstelsels en omgewingsimpakstudies, en samewerking tussen regerings, navorsers en die publiek om die negatiewe impakte daarvan te beperk.
.......
Wat sou die huidige stand van sake in Afrika, en spesifiek in Suid-Afrika, vereis om geraasbesoedeling doeltreffend te monitor en te voorkom?
.......
Verdere aanverwante faktore wat ondersoek behoort te word, handel oor die vraag watter rol aanpassing van die ouditiewe neurone (waartydens irrelevante ouditiewe stimuli uitgefiltreer word), asook selektiewe ouditiewe aandag (die vermoë om op spesifieke klankprikkels te konsentreer en ander te ignoreer) speel in die blootstelling aan omgewingsgeraas. Laastens, wat sou die huidige stand van sake in Afrika, en spesifiek in Suid-Afrika, vereis om geraasbesoedeling doeltreffend te monitor en te voorkom? Watter impak gaan omgewingsgeraas hê op die aanliggende woonbuurte rondom die nuwe beplande Kaapse Wynland-lughawe by Fisantekraal naby Durbanville?
Bibliografie
Anviro-Acoustic Research. Sj. Noise pollution – Acceptable noise levels and noise limits in South Africa. Noise pollution – Acceptable noise levels and noise limits in South Africa – Enviro-Acoustic Research CC.
Ashab, I en SMM Lina. 2023. Sound pollution: a silent threat to traffic police in Bangladesh. Asia Pacific Journal of Public Health, 35(2–3):232–3. DOI: 10.1177/10105395231151489. https://journals-sagepub-com.ez.sun.ac.za/doi/10.1177/10105395231151489.
Babisch, W. 2015. Cardiovascular effects of noise on man. Acoustical Society of America. Referaat gelewer 19 Mei, 169th ASA Meeting, Pittsburgh. https://acoustics.org/cardiovascular-effects-of-noise-on-man-wolfgang-babisch.
Du Toit, JM en AB van der Merwe. 1983. Sielkunde: ’n algemene inleiding. Pretoria: HAUM.
Goines, L en L Hagler. 2007. Noise pollution: a modern plague. Southern Medical Journal, 100(3):287. https://link-gale-com.ez.sun.ac.za/apps/doc/A161610863/AONE?u=27uos&sid=bookmark-AONE&xid=f7711d9f.
Grimshaw-Aagaard, M en B Bemman. 2024. Ultrasonics and urban greening: an exploratory study on ultrasound presence in urban spaces. Personal and Ubiquitous Computing, 28:677–92. https://doi.org/10.1007/s00779-024-01798-5. https://link.springer.com/article/10.1007/s00779-024-01798-5.
Hahad, O, M Kuntic, S Al-Kindi, I Kuntic, D Gilan, K Petrowski, A Daiber en T Münzel. 2024. Noise and mental health: evidence, mechanisms, and consequences. Journal of Exposure Science & Environmental Epidemiology, 35:16–23. https://doi.org/10.1038/s41370-024-00642-5. Noise and mental health: evidence, mechanisms, and consequences | Journal of Exposure Science & Environmental Epidemiology.
Hassan, NE. 2024. Noise pollution and its effects on human health. A review. International Journal of Multidisciplinary Research, 10(11):24–37. https://www.researchgate.net/publication/385655327_noise_pollution_and_its_effects_on_human_health_a_review. DOI: 10.36713/epra18872.
Kollia, B, CH Basch, E Park en H Yousaf. 2025. Social media depictions of the impact of noise pollution on communication and mental and physical Health. Journal of Community Health, 13 Maart. https://doi.org/10.1007/s10900-025-01457-7. https://link.springer.com/article/10.1007/s10900-025-01457-7#citeas.
Kumar, BS, BR Kadali en V Chowdary. 2025. Assessing the impact of railway noise on human health and daily life: a structural equation model approach for transportation and environmental planning. Environmental Monitoring and Assessment, 197(1):77. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1007/s10661-024-13571-5. https://link-springer-com.ez.sun.ac.za/article/10.1007/s10661-024-13571-5#citeas.
Pereira, IT. 2025. Too loud to ignore: How is noise pollution affecting EU citizens and their children? Euronews, 24 Januarie. Too loud to ignore: How is noise pollution affecting EU citizens and their children? | Euronews.
Scott, J. 2025. How sweet the sound of sirens. Die Burger. Forum. 29 Maart, bl 15.
Slabbekoorn, H. 2019. Noise pollution. Current Biology, 29(19):957–60. https://doi.org/10.1016/j.cub.2019.07.018. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0960982219308632.
Van Zyl, A. 2025. Treine se harde gefluit “martel” Muizenbergers. Netwerk 24, 21 Februarie. Treine se harde gefluit ‘martel’ Muizenbergers | Netwerk24.
Yun, IL, SH Lee, S Park, S-Y Jang en S-I Jang. 2024. Depressive symptoms of people living in areas with high exposure to environmental noise: a multilevel analysis. Scientific Reports,14(1):1–8. https://www.nature.com/articles/s41598-024-65497-0.
Lees ook:
The post Geraasbesoedeling first appeared on LitNet.
The post Geraasbesoedeling appeared first on LitNet.