Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21657

The ephemeral nature of things: ’n onderhoud oor ’n kunsuitstalling, die natuur en die kortstondigheid van die lewe

$
0
0

Laurette de Jager, ’n kunstenaar wie se kunsuitstalling tot die 26ste April plaasvind, doen navorsing oor die vervlietende aard van die lewe en oor kuns en die natuur. Sy praat met Naomi Meyer oor haar kuns, haar lewensuitkyk en werk.

Laurette, wie is jy?

Ek is ’n vrou, ’n kunstenaar, ’n lektor, ’n ma en eggenote, ’n kat- en boekliefhebber (min of meer in gelyke hoeveelhede). Ek is lief vir die aarde en moet gereeld uit die voorstede ontsnap om asem te haal en weer mens te word. Miskien is ek ’n old-fashioned naturalist, want my kennis en passie vir kuns maak saam met die natuur spruit nie uit wetenskaplike kennis nie, maar eerder uit ’n voortdurende nuuskierigheid oor hoe ons nader en meer betekenisvol met die planeet kan omgaan. Ek sien nie myself as ’n akademikus nie, want om ’n PhD aan te pak is ’n selfgesentreerde ding – ’n mens doen dit uitsluitlik vir jouself, terwyl jy ook jouself probeer oortuig dat jy ’n bydrae tot die samelewing maak. Ek het hierdie studie in 2021 aangepak, intussen was daar vele struikelblokke op my pad, maar deurentyd was dit my toevlug en my behoud. Die werk het ’n leefwyse geword. Ek het lank reeds tot die besef gekom dat mans van lere af sal val en kinders in die hospitaal sal beland, dat dierbare vriende tot sterf mag kom en dwarsdeur dit alles sal ek voortgaan met hierdie werk, want dit is beide ’n ontvlugting en ’n skuilplek.

Jy is tans besig met jou PhD in Visuele Kuns aan Unisa. Waaroor doen jy navorsing?

Na ek in 2020 aan Unisa my meestersgraad in Visuele Kuns voltooi het, het my werk ’n ekologiese rigting ingeslaan. Gedurende die inperkingstydperk het ek ’n aanhoudende aanlyn gesprek begin voer met die Kanadese skilder Corey Hardeman, wat breedvoerig oor klimaatdroefheid geskryf het. Ons vriendskap, wat reeds sedert 2014 bestaan, het gedurende hierdie tyd verdiep, aangesien ek besef het dat ek langdurige en omvattende klimaatdroefheid ervaar. Terwyl ek hierdie verskynsel begin ondersoek het, het die besef by my opgekom dat dit ’n toestand is wat ek met talle vrouekunstenaars wêreldwyd deel, veral dié wat in noue verhouding met die natuurlike wêreld werk. Tog bestaan daar bitter min literatuur oor die onderwerp, en feitlik geen navorsing oor die invloed van klimaatdroefheid op vrouekunstenaars nie.

’n Artikel deur Don Pinnock, wat op 21 November 2021 in The Burning Planet verskyn het, het ’n beduidende rol gespeel in die vorming van die oorsprong van my studie terwyl ek my proefskrif vir ’n PhD in Kuns geformuleer het. Die artikel, getiteld “Going to ground: navigating a way out of climate grief and finding hopefulness”, was die eerste skrywe wat gevalle van klimaatdroefheid op ons eie bodem beklemtoon het. Vir my was dit ’n bevestiging van die dringende behoefte aan akademiese navorsing op hierdie gebied. Toe ek met ander Suid-Afrikaanse vrouekunstenaars, soos Lien Botha wat in fotomontage werk, begin gesels het, het ek besef dat my navorsing moontlik van waarde kan wees vir ’n gemeenskap van kunstenaars wat werk binne ’n ekologiese estetika van sorg.

Deur hierdie ontmoetings het ek tot die insig gekom dat sekere sorgverantwoordelikhede tradisioneel aan vroue toegeken is as gevolg van patriargie. Wanneer dit kom by die skep van kuns en die versorging van ons sterwende planeet, moet ons konsekwent na vroue, inheemse kulture en nie-patriargale gemeenskappe kyk vir hul wysheid en perspektiewe.

Jy beskryf jou kunspraktyk as ’n simbiotiese verhouding met die aarde. Kan jy meer deel oor hoe hierdie filosofie jou kreatiewe proses beïnvloed?

In haar boek Braiding sweetgrass bespreek Robin Wall Kimmerer hoe fungi en alge saamwerk in ’n wederkerige vennootskap. Hierdie idee het ’n diep invloed op my kunspraktyk gehad. Kimmerer verduidelik hoe lichen, ’n kombinasie van fungi en alge, organiese materiaal kan afbreek en nuwe lewe kan skep. Lichen is ’n fassinerende organisme omdat dit twee verskillende lewensrolle kombineer. Aan die een kant tree dit op as ’n ontbinder wat organiese materiaal afbreek, en aan die ander kant funksioneer dit as ’n produsent wat nuwe lewe skep. Dit beteken lichen is beide ’n geëer en ontvanger, ’n skepper en afbreker. Deur beide hierdie rolle te vervul, wys lichen die idee van reciprocity – om terug te gee soveel as wat dit neem. Hierdie konsep het my geïnspireer om na te dink oor hoe mense met die aarde kan saamwerk en dit toelaat om ’n vennoot in die kreatiewe proses te wees.

In my kunspraktyk beklemtoon ek die belangrikheid daarvan om saam met die natuur te werk. Deur my doek in die grond te begrawe, nooi ek die aarde om deel van die kreatiewe proses te wees en sy eie merke en indrukke op die doek te laat. Hierdie benadering weerspieël die komplekse verhoudings tussen mense en die omgewing.

Die idee van verlies, veral in verband met die omgewing, is ’n sterk tema in hierdie werk. Hoe probeer die kuns die kykers se verhouding met die aarde verander?

Ek dink nie dat ek probeer om die kyker se verhouding met die aarde te verander nie, soseer as wat ek probeer om aandag te vestig op die feit dat die gevoelens van verlies en rou wat hulle moontlik ervaar, te wyte kan wees aan klimaatdroefheid. Vir my is dit belangrik om ’n gemeenskap van sorg te bou – vir mekaar en vir die wêreld. Om te weet dat ’n mens nie alleen in jou rou is nie, is belangrik. Net so belangrik is dit om hierdie rou te herdenk, daarmee te sit en ’n veilige ruimte te skep om daarmee in aanraking te kom. Rou is ’n integrale deel van die menslike kondisie wat nie net verlies en hartseer insluit nie, maar ook hoop, vreugde en skoonheid.

Kuns maak kan ’n soort ritueel word wat ons help onthou van ons rou en liefde vir die wêreld, en wat hierdie gevoelens toeganklik maak vir ander. Dit is die werk van kuns in ons tyd om die atmosfeer, herinneringe en skoonheid van plekke vas te vang wat binnekort mag verdwyn. Skilderwerk kan ’n manier wees om klimaatdroefheid te hanteer, terwyl aandagtige, bewuste kreatiewe werk ons sorg vir die omgewing weerspieël. Mary Oliver het geskryf: “Attention is the beginning of devotion.” As ons noukeurige, bewuste aandag aan iets gee, bewys ons dit die sorg en aandag wat dit verdien – dit word kosbaar en dus die moeite werd om toegewyd aan te wees. Dít waaraan ons tyd spandeer, word die belangrikste ding in die wêreld vir ons. Hierdie benadering kan gesien word as ’n “ekologiese estetika van sorg”, waar ons solastalgia verwerk deur herinneringe en verlies te herbesoek deur middel van ons kreatiewe praktyk.

Waarmee is jy nou besig? Wat gebeur na die uitstalling?

Ek sien uit daarna om na afloop van hierdie uitstalling reflektief te skryf oor die werk, die installasie en veral die terugvoer op die werk. Nuwe konsepte het reeds wortel geskied en daar is ’n tweede reeks werke wat in my gedagtes wag om by hierdie werk aan te sluit. Ek beoog ’n tweede uitstalling volgende jaar en hoop om my tesis Januarie 2027 finaal in te handig.

Waar kan mense nog na jou uitstalling kom kyk?

The ephemeral nature of things

5–26 April 2025

Art.b Galery, Die Biblioteek Sentrum, Carl van Aswegenstraat, Bellville

Dins–Vry: 10:00–17:00; Saterdag: 10:00–13:00

Sondag en openbare vakansiedae: gesluit

Vir meer inligting, kontak asseblief:

Art.b Galery: +27 21 444 6500

E-pos: artbellville@gmail.com

Webwerf: https://www.artb.co.za/ephemeral-intro/

Lees ook:

Persverklaring: The ephemeral nature of things, ’n uitstalling deur Laurette de Jager

 

The post The ephemeral nature of things: ’n onderhoud oor ’n kunsuitstalling, die natuur en die kortstondigheid van die lewe first appeared on LitNet.

The post <em>The ephemeral nature of things</em>: ’n onderhoud oor ’n kunsuitstalling, die natuur en die kortstondigheid van die lewe appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21657

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>