
Jaco Deacon en Riaan van der Bergh (foto’s: verskaf)
Te min geld in die onderwys is net die oortjies van die seekoei: ‘n gesprek met Jaco Deacon en Riaan van der Bergh
Jaco Deacon en Riaan van der Bergh praat met Naomi Meyer oor die gebrek aan geld in die onderwys, oor die Bela-wetgewing, en oor die rol wat ouers in die grootmaak van jongmense wat toegerus sal wees vir die lewe, behoort te speel.
Jaco, ek sien op Netwerk24 daar word geskryf "Dankie, maar dis nie genoeg nie." Dis nou na aanleiding van berigte op Netwerk24 oor miljarde rande wat die regering bykomend tot die onderwysbegroting gaan betaal. Waarvoor is die ekstra gelde nodig?
Dit is om te voldoen aan die wetlike vereistes wat deur die huidige finansieringsmodel gestel word vir die aantal onderwysers per leerder. Die begrotingstoespraak meld dat R19 miljard geoormerk word vir die behoud van 11 000 onderwysposte oor drie jaar. Dit is egter nie duidelik hoekom daardie poste nie in die onderwysbegroting gedek word nie, en slegs jaarliks deel van die begroting moet wees. Leerders word nie minder nie en dus gaan onderwysers volgens die onderwyser-leerder-verhouding jaarliks befonds moet word. Dit is dus effe onduidelik hoekom daar in een begroting vir drie jaar se kostes begroot moet word terwyl dit ’n deurlopende bedryfsuitgawe is.
Dit is in wese R6,3 miljard per jaar wat benodig word om die 11 000 poste ter sprake te befonds. Die totale begroting is R349,6 miljard. Die R19 miljard is maar 5,4%, en indien dit deur 3 gedeel word (wat meer sou sin maak), is dit maar ’n 1,8%-verhoging. Dit klink dus meer indrukwekkend as wat dit dalk is.
Die berekening is egter ook effens duister, aangesien dit ’n gemiddelde salaris van R575 000 per jaar vir 11 000 opvoeders is. Dit is effens hoër as die gemiddelde salaris vir die deursnitonderwysers in die sektor.
Die kort en lank is dat onderwysleiers weer moet gaan kyk na besteding, omdat ons nie kan bekostig om meer as 70% aan salarisse te bestee nie. Sommige provinsies spandeer tot 94% aan salarisse, en dan is daar eenvoudig te min geld om onderwys te bedryf.
Het enige aspekte van die Bela-wetgewing, wat in Desember onderteken is, te doen met die ekstra geld wat benodig word? Dit is na my gevoel baie goed dat graad R verpligtend word, maar dit kos die regering geld. Is daar hiervoor begroot, of is dit nou skielik ’n onverwagse uitgawe en deel van die finansiële kopseer?
Ongelukkig het die Bela-proses nie te veel met die befondsingsmodel te doen nie. Die wetswysigings het wel ’n groot drukpunt op die uitgawes geplaas deur onder meer die verpligte graad R wat nou ook befonds moet word. Dit kan ’n moontlike addisionele 29 000 onderwysers beteken wat betaal moet word (en moontlik ’n soortgelyke aantal assistente). Die leerders moet ook toegeruste klaskamers, speelgebiede en leermateriaal kry, en ’n geraamd 90% van die moontlike 1 100 000 leerders sal ook by die skoolvoedingskema ingesluit moet word.
Daar is nie tussen die vorige jaar (voor Bela) en die post-Bela begroting ’n groot verhoging nie, terwyl daar ’n ekstra jaargroep in klasse en infrastruktuur geakkommodeer moet word en deur gekwalifiseerde onderwysers onderrig moet word. Leermateriaal, leerdervervoer en voedingskemas word nie eers genoem nie.
Die Bela-proses het verder niks gedoen aan die befondsingsmodel, die vrystellingsmodel of die skep van infrastruktuur in hoëdigtheidgebiede waar skole oorvol is nie.
Waar trek ons in die proses van die implementering van die Bela-wetgewing en is daar enige aanduidings van hoe die regulasies wat verfyn word, die Wet sal beïnvloed?
Die Bela-wet het die Skolewet gewysig en al die bepalings is dadelik van krag en hang nie noodwendig van die publikasie van regulasies af nie. Die gewysigde Skolewet maak dit egter vir die Minister moontlik om regulasies oor ’n aantal sake af te kondig.
Taakspanne is geskep met deelname deur belanghebbendes in die sektor. Fedsas dien in verskeie taakspanne en lewer insette op ’n hoë vlak. Die teikendatum is steeds Junie vir die afhandeling van die eerste reeks konsepregulasies. Daar is baie besonderhede in elke stel regulasies wat duidelikheid gaan gee oor die knelpunte wat onder meer toelatings en kapasiteit, verkiesings en addisionele vergoeding vir staatsamptenare insluit. Die Minister ontvang die voorstelle en dit word in die Raad van Onderwysministers (LUR’e) voorgelê. Die volgende fase is waar die regulasies vir openbare kommentaar gepubliseer moet word.
Regulasies is ondergeskikte wetgewing en verander dus nie die bepalings van die Skolewet nie. Dit gee egter inhoud aan van die bepalings deur byvoorbeeld in meer besonderhede oor prosesse te handel.
Wat is na jou gevoel die belangrikste dinge waaraan die Departement van Basiese Onderwys hul geld moet bestee?
Die sektor het verskeie uitdagings. Infrastruktuur bly ’n reuse knelpunt. Onderhoud, uitbreiding, sport- en speelgronde, internetkonnektiwiteit, ablusie en sanitasie bly agterstallig ten spyte van die feit dat sekere provinsies onderspandeer op die begroting. Dit is nie ’n besparing nie, maar ’n onderinvestering wat ons kinders beroof van menswaardigheid en die reg op onderrig. Dit is onaanvaarbaar, en dus moet infrastruktuur verbeter. In gebiede waar ontvolking plaasvind, gaan die infrastruktuur agteruit, en in gebiede waar dit digtheid toeneem, is daar nie genoeg skole nie.
Ander uitdagings sluit die voedingskema vir nagenoeg 9,7 miljoen leerders per dag in, en ook die vervoerskema. Die voedingskema (NSNP) begroot vir nagenoeg R5 per leerder per dag en dit het in 2024 in totaal R9,7 miljard beloop. Verder sien ons dat nagenoeg 80% van leerders in geenfooiskole is, terwyl die oorspronklike befondsingsmodel op ’n 60%-teiken geskoei is.
Die departement behoort onderwysers, ondersteuningspersoneel, maatskaplike werkers en beraders te befonds. Verder moet die geld die kind volg en nie in die waardeketting aan ’n groot rompslompburokrasie spandeer word nie. Die leerder-onderwyser-verhouding moet verlaag word, en dus is meer onderwysers – gekwalifiseerde onderwysers en goeie en ervare onderwysers – nodig. Die kleinste klasse behoort in die Grondslagfase te wees. Dit is belangrik om te onthou dat geen skoolstelsel beter kan presteer as die gehalte van sy onderwysers nie, en daarom moet daar deurlopend op ontwikkeling en welstand gefokus word.
Skole in die geenskoolgeldkategorie ontvang R1 754 per leerder per jaar om daardie leerder te onderrig en die skool te bedryf. Onderwysers en die klaskamer word verskaf. Daardie bedrag moet alle leermateriaal, verbruikbare produkte, munisipale dienste en skoonmaakmiddels (onder andere) befonds. Dit is nagenoeg R8,77 per dag per leerder vir die 200 skooldae per jaar. Kwintiel 4-skole ontvang R873 per leerder per jaar en kwintiel 5-skole R301 per leerder per jaar. Hierdie skole mag skoolfonds hef en dit is duidelik dat hierdie skole nie sonder skoolfonds kan oorleef nie. Die toewysing per leerder per dag moet aangepas word sodat dit die voetsoolvlak beïnvloed.
Daar is te veel projekte en programme wat niks waarde toevoeg nie of nie direk met die departement se kernbesigheid te doen het nie. Ons is ook bekommerd oor die groot aantal amptenare in provinsiale departemente terwyl die nood op skoolvlak is.
Kom ons praat gou oor wat ouers kan doen, en onderwysers, om lewensbelangrike werk in skole te doen – wat nie geld kos nie.
Ouerbetrokkenheid is ’n kardinale bestanddeel tot die sukses van ’n skool en die onderwysreis van die leerders. Deelname kos in baie gevalle niks nie (“gratis” is egter nie “verniet” nie), maar die ondersteuning skep ’n gevoel van eienaarskap, geborgenheid vir leerders.
Ouers en gemeenskappe moet hande vat met die skool en onderwysers, en gemeenskappe moet skole as bates van die gemeenskap beskerm.
Diens by of aan die skool kan baie vorme aanneem. Individue, komitees of groepe wat na die terrein kyk (onderhoud, skoonmaak en uitbreiding), funksies reël vir sosiale interaksie en fondsinsameling, onderwysers waardeer en ondersteun, en op formele strukture dien, soos die skoolbeheerliggaam (SBL), lewer ’n reuse bydrae tot die skool. Dit kos net tyd en toewyding. Dit kos niks om ’n stuk papier op te tel nie; dit kos niks om die beste van die skool te glo nie; dit kos niks om vriendelik te wees met onderwysers en personeel nie; en dit kos niks om deel te neem aan funksies by die skool nie. Dit vra betrokkenheid en bereidwilligheid om te dien.
............
Ouers behoort die skool te sien as ’n vennoot in hulle kinders se opvoeding en nie die primêre bron van opvoeding of as ’n uitgekontrakteerde diens nie. Skole en onderwysers is toenemend onder druk deur ouers wat ’n verbruikersingesteldheid openbaar, eerder as dié van ’n vennoot. Skole kan nie in sewe uur regmaak wat huishoudings en die samelewing in 17 uur breek nie.
.................
Ouers behoort die skool te sien as ’n vennoot in hulle kinders se opvoeding en nie die primêre bron van opvoeding of as ’n uitgekontrakteerde diens nie. Skole en onderwysers is toenemend onder druk deur ouers wat ’n verbruikersingesteldheid openbaar, eerder as dié van ’n vennoot. Skole kan nie in sewe uur regmaak wat huishoudings en die samelewing in 17 uur breek nie. Dit sluit waardes, moraliteit en dissipline in, en selfs die gewraakte selfoon.
Onderwysers kan ook ’n rol speel. Die rol wat onderwysers speel as rolmodelle, mentors, afrigters en ook ondersteuners vir leerders kan nie misken word nie. Persoonlike kennis van leerders om seker te maak dat die leerder se leerstyl akkommodeer word, veilige klaskamers en vriendelikheid en fermheid om dissipline te handhaaf kos oor die algemeen nie baie nie. Dit is ook belangrik dat onderwysers ontwikkel en vernuwe. Nuwe tendense en tegnologiese ontwikkeling is soms toegankliker en goedkoper as wat ons dink. Tyd en teenwoordigheid is iets wat onderwysers kan bied. Baie onderwysers doen dit reeds daagliks.
Die bekende spreekwoord "It takes a village to raise a child" som dit mooi op. Elkeen het ’n rol te speel in die lewens en onderrig van ons jongmense. Openbare skole behoort aan skoolgemeenskappe, en indien gemeenskappe nie eienaarskap hiervan neem nie, gaan die staat daardie rol oorneem.
The post Te min geld vir die onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig – en oor ouers se taak first appeared on LitNet.
The post Te min geld vir die onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig – en oor ouers se taak appeared first on LitNet.