Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21658

Ver genoeg

$
0
0

“Ver genoeg” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

*

Ver genoeg

Toe ek vanoggend wakker word, het ek nie geweet dit is die dag van my dood nie. Mens verwag nie sulke goed nie, en nog minder weet jy hoe om jouself daarop voor te berei. Ag wel, daar is seker niks wat ek nou daaraan kan doen nie. Dit is soos dit is.

Ek wens ek kon sê dit was ’n mooi dag, dat die lug blouer was as ooit tevore en dat die voëltjies almal saam in ’n koor gesing het vir ons. Helaas, die wind was so sterk, my wasgoedstaander het doer onder teen die heining gelê, sodat ek die wasgoed ook weer moes was. Wie wil regtig wasgoed doen op sy laaste dag?

Die ou Kenwood-koffiemasjien wat ek by my ma geërf het, wou ook nie saamwerk nie. In sy ’70’s-bruin-en-geel het hy nou al vir hoe lank elke oggend my koffie gemaak, en vandag, van alle dae, het hy besluit dit is nou klaar – so asof hy geweet het. Ek staan en kyk die masjien so, en wonder skielik hoekom alles uit die ’70’s bruin is.

Ten spyte van die wind en die koffielose begin van die dag het ek steeds my woonstel in Parow met ’n effense huppel verlaat. Ek het ’n middagete-afspraak met my suster, wat ek omtrent ses jaar laas gesien het, voor sy en die nuwe man sak en pak Londen toe getrek het. Hulle noem loadshedding en veiligheid as redes, maar hulle huis hier se dak het amper heeltemal uit sonpanele bestaan, en hulle het in ’n fancy estate in Durbanville gebly – so veilig dat jy nie eers sonder aankondiging die toilet kan besoek nie, of die wagte tel dit op.

Nou is sy terug, alleen. Ek weet nie wat skeefgeloop het nie, en ek vra ook nie. Ondervinding het my geleer dat dit tien teen een sy skuld is, en sy ly nou aan nog ’n nuwe angsversteuring na dese. Sy gaan my in elk geval vertel oor middagete. Daarvan is ek seker.

Dit is nogtans lekker om die enigste familie wat ek het, terug te hê.

Ek kry so ’n diep giggel in my keel toe ek afkyk terwyl ek teen die lamppaal leun en vir die taxi wag. Sou ek nou wragtig my bruin broek aangetrek het vandag. Ek is wel in die ’70’s gebore, maar die kleurskema van daardie tyd het nooit ’n blywende indruk op my gemaak nie.

Die taxi Rondebosch toe is reeds baie vol, maar ek wurm myself in tussen ’n stil verpleegster en ’n luidrugtige huiswerker. Laasgenoemde kan nie ophou praat nie, en nog voor die taxi wegtrek, weet ek reeds dat dit môre haar verjaarsdag is, dat sy ná werk vandag by die Pick n Pay moet aangaan om te kyk of hulle chocolate koek het, en ook dat sy hierdie wind verpes. Ten spyte van die swaar vrag ry die taxibestuurder asof dit net hy in die bussie is, en ook asof dit net hy op die pad is. Ek maak my oë toe asof ek bid. As ek nou terugkyk, sou dit waarskynlik die beter opsie gewees het.

Veertig minute later sit ek my sak in die lessenaar se laai, en met hande op die heupe bekyk ek die stapels nuwe lêers wat sedert Vrydag bygekom het. Dit is ook maar goed ek werk nie op ’n rekenaar nie, want hier is wragtig nie plek vir een nie. My werk, nou al vir sewe jaar, is om al die nuwe sake wat inkom by Truter & Kloete Ingelyf mooi te maak en dan in alfabetiese rakkies in staalkabinette te gaan sit. Dit is nie rocket science nie, en meestal erg vervelig, maar dit gee my genoeg geld om die pophuiswoonstelletjie te kan bekostig en te kan eet – al is dit nou nie Woolies nie.

Eers ’n koppie koffie: goedkoop, soos my hele lewe, maar ek gee nie om nie. Daar is nog steeds die middagete wat voorlê, en my suster sal vir seker betaal – dit is sy wat voorgestel het dat ons by RocoMamas gaan eet. Miskien, as ek iets baie groot bestel, sal daar ’n doggy bag wees vir vanaand by die huis ook.

Die oggend sleep verby. Min van my kollegas stel regtig belang in die ou by die stoorkamer. In werklikheid dink ek nie een van hulle weet eers wat my naam is nie. Hulle is almal te geleerd en verhewe om aandag te gee aan die lêerklerk. Party dae is dit hemels om so in isolasie te werk, maar ander dae, soos vandag, wens ek dat iemand ‘n bietjie by my lessenaar sal kom staan. Net om te vra hoe die park run Saterdag was, of om my vir drankies ná werk uit te nooi – al sou ek dit waarskynlik nie kon bekostig nie.

Presies om 12:29 haal ek my sak uit die laai, stop Spotify op my foon en glip by die agterdeur van die gebou uit. Ek stap af in die stegie langs die gebou, verby die Chinese restaurant se vullisdromme en leë kartondose, en dan drie strate verder na die RocoMamas in die Riverside Mall. Ek sweer ek kan die burger al proe toe ek by die deur instap.

Vir ’n Maandagmiddagete is die restaurant uitermate vol. Vir ’n oomblik wonder ek of my suster darem vroeg genoeg sou opdaag om vir ons ’n tafel te kry, want ek sien nie ’n enkele oop stoel nie. Ek loop deur die restaurant en scan die gesigte, maar sien nêrens vir Rienie nie. Kon sy so baie verander het oor die afgelope ses jaar?

Ek begin terugstap na die ingang. Gelukkig het ek my foon by my, so ek sal haar maar gou bel. Wie weet, dalk is sy laat. Toe ek egter amper by die deur is, voel ek iemand aan my arm vat. Ek ken nie die groot ou met die poniestert en ’n week oue baard nie. Nog minder hou ek van die harde vat van sy massiewe hand op my elmboog.

“Sy wag vir jou,” sê hy in ’n verbasend sagte stem. Onmiddellik is ek vies. Kon my suster nie maar iemand beter gekies het nadat dinge met Charl nie uitgewerk het nie? Charl was nie die gaafste ou nie, en ook nie ’n oil painting nie, maar hy was stabiel, en jy het geweet wat jy kry nog voordat hy sy mond oopgemaak het. Maar hierdie ou? Hy is ’n klas wat ek nooit by my suster sou geplaas het nie.

My bene beweeg egter vanself in die rigting waarin hy my stuur. Hy lei my nie na ’n tafel toe nie, maar links van die toonbank waar die vrolike ouens staan en burgers flip, na ’n deur wat lyk asof dit na ’n stoorkamer lei. Voor ek nog kan vra waarheen ons gaan, is die deur agter ons toe, en word ek hard neergeplak op ’n wankelrige stoel tussen mure van plastiekhouers en ongevoude wegneemboksies. Dit is toe eers wat ek die rewolwer sien. Nie ’n speelgoed-een nie. Hierdie een is professioneel ... een wat seer kan maak.

Die man praat nie verder nie. Hy staan net en speel met die rewolwer se knippie totdat ek voel ek gaan nou oor alles wat ek al ooit verkeerd gedoen het bieg – reg hier in die stoorkamer van RocoMamas. Vir die volgende paar minute staar hy net na my, asof hy wag vir my om iets te openbaar, maar ek weet nie wat dit is nie. Teen dié tyd begin die honger erg pla, en ek wonder heimlik of my suster moed opgegee het en geloop het. Dit sal tragies wees.

Toe haal hy sy selfoon uit, druk vinnig met sy regterduim iets daarop, en druk dit weer terug in sy broeksak. Hy gluur weer na my. Na wat soos ’n ewigheid voel, stap ’n tingerige ou by die stoorkamer in. Hy dra ’n RocoMamas-T-hemp, en vir ’n oomblik dink ek die ou gaan my nou red. Hy kyk egter net so kwaai na my en knik vir die man met die ponytail.

“Waar is sy?” blaf hy.

Ek neem aan hy praat van my suster, want sy is werklik die enigste “sy” in my lewe – so pateties soos dit ook al mag klink.

“Ek weet nie. Ek het haar gesoek net voor hierdie bosaap my hierheen gesleep het.”

Dit blyk egter die verkeerde antwoord te wees. Ponytail storm op my af, maar ek spring vinnig op. Hy is nogal groot en stadig in die klein spasie. Die waiter-ou maak my nie bang nie, so ek sidestep hom en glip by die deur uit. Ek hou nie van drama nie, en ek weet daar is geen manier dat die waiter-ou ’n scene gaan maak in sy werkplek nie. Ek stap dus ‘n bietjie stadiger deur die restaurant na die uitgang toe. Ek fokus op my asemhaling, maar is ook reg om te hardloop asof sewe soorte hel agter my aan is sodra ek buite kom.

Net voor ek by die deur is, hoor ek egter ’n bekende stem:

“Daar’s jy! Ek wag al ’n kwartier.”

Dis Rienie, alleen by ’n tafel. Twee van daardie vormpies wat jy invul vir jou bestelling lê op die tafel, en ’n driekwart vol Savannah Light staan voor haar. Ek gaan sit, maar trek dadelik weg met ’n tirade oor Ponytail en die waiter in die stoorkamer.

“Ek meen, weet jy daar is gevaarlike ouens wat agter jou aan is?”

Sy ignoreer my egter heeltemal en praat sommer bo-oor my. Ek wil my net vervies toe ek die ou sien wat langs my op die bank sit. Wie de hel is die dude? Hy staar na Rienie asof sy ’n item op die spyskaart is. Toe ek na haar loer, sien ek sy kyk presies dieselfde na hom. Dit voel of my asem nie wil uitkom nie.

“Sorry, daar was ’n traffic jam op die M5. Een of ander taxi het ’n ou ge-nip.”

“Dis oukei, dankie dat jy gekom het.”

“Dis nou al ses jaar, nè? Tyd vlieg regtig. Jy kom nog steeds elke jaar terug na hierdie RocoMamas?”

“Ek doen – dis die laaste keer wat ek hom lewend gesien het.”

“Is die aanvallers nog in die tronk?”

“Ja, maar hulle parool behoort binnekort op te kom. Ek weet nie of ek dit kan deurgaan nie – dit sal net alles weer oopkrap.”

“Het jy nog nie gedink aan teruggaan Londen toe nie?”

“Ja, maar tog wil ek nie die herinnering aan Boeta verloor nie. Weet jy dat hy nie eers daai dag een happie van sy burger kon vat nie?”

“Ek verstaan, maar jy het tog al ’n lang pad gekom met hierdie – al die terapie en pille. Miskien is dit nou ver genoeg.”

Ek skuif uit by die bank, en met geboë skouers stap ek na die deur toe. Niks maak sin nie. Rienie roep my nie eers terug nie, en geen van die kelners groet of dring aan op betaling nie. Ek sien ook nie die waiter en Ponytail nie – het dit dan nie gebeur nie?

Ek stap ’n halfuur ná my middagete by die kantoor in. Niemand gee eers om nie. Die hoop lêers op my lessenaar het meer geword in die tyd wat ek uit was; ek is amper seker sommige van hulle het ek vanoggend reeds deurgewerk.

Ek gaan sit op die kantoorstoel en probeer my gedagtes orden. Dis moeilik, want een van die skoonmakers het ’n radio in die kombuis langsaan aangesit. Die omroeper kondig luidkeels aan dat hy binnekort die nommer 1-treffer van 2019 gaan speel; ons moet solank opwarm met ’n ander treffer.

Iets maak nie sin nie. Rienie kon tog nie ’n dubbele bespreking gedoen het nie, en selfs as sy het, hoekom het sy my net so geïgnoreer? Geen jammerte of voorstelling van die knaap by die tafel nie.

Ek staan maar op en stap na die staalkabinette aan die ander kant van die kombuis. ’n Laag stof laat my wonder hoekom ons enigsins ’n skoonmaker by die kantoor het. Ek gaan sit op ’n plastiekkrat waarin die melk jare terug afgelewer is toe hierdie nog ’n groot versekeringsmaatskappy was. My arm rus op ’n stapel ou Cape Times, en my oog vang die opskrif op die boonste een:

                Armed robbery at RocoMamas leaves one dead.

Ek kry weer die gevoel dat ek nie asem kry nie. Die vertrek spin, en my fokus is minder skerp. Woorde soos wat, waar en wanneer hardloop deur my kop teen ’n spoed – en in ’n sirkel.

Dit hou eers op toe ek na die datum van die koerant loer: 2 Desember 2013.

Die ou was reg. Ons het bleddie ver gekom. En dalk is dit nou uiteindelik ver genoeg.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post Ver genoeg first appeared on LitNet.

The post Ver genoeg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21658

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>