Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21657

Sorgelose kinderjare

$
0
0

“Sorgelose kinderjare” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

*

Sorgelose kinderjare

Die geheim is om te weg te smelt in die sirkel se rand. Jy moet deel van die sirkelmuur vorm en nie aandag trek nie. Ek skuifel my voete soos ʼn sprinkaan. Net vinnig genoeg, maar versigtig om nie uit te staan nie.

“Asseblief, los my ...” pleit-huil Leon. Sy stem bewe erger as my dikderm. Vir sy moeite kry hy ’n harde stamp in die rug. Hy trek soos ’n dronk vlermuis en koop ’n plaas in die middel van die sirkel. Ek sien die rooi nerwe op sy knieë. Sy dik bril sit skeef, maar dit klou verbete agter sy ore vas.

Hy kom onvas op sy voete. Druk sy bril reg. Sy handjies fladder soos verskrikte duifies rond. Ek kreun innerlik. As hy net partykeer sy hande reg sal hou. Sy hele houding skree harder “Boelie my!” as die pinball-masjien se getingel by die Griek se kafee.

“Ou Leontjie lyk miskien soos sy pa, maar sit en piepie soos sy ma ...” Die ouer seuns in die kring lag hard saam. Die ander meer geforseerd.

Leon kyk met die desperaatheid van ’n vasgekeerde kat rond vir hulp. Ek laat my oë vinnig sak. My maag trek op ’n knop. Ek is skaam vir my lafhartigheid. Maar ek is nog steeds banger as skaam.

“Help my! Asseblief.” Ek voel sy blik op my. Verdomp, hier kom stront.

Ek sien haar uit die hoek van my oog. Blas vel. Swart hare. Kurwes. Bruin oë wat die petalje afkeurend dophou. Die Griek se dogter. Diep binne my roer iets. Of miskien is dit net my maag wat wil werk.

“Hou op, julle. Los hom uit.” Ek steek my hand uit. “Kom, Leon.” Een tree vorentoe.

Tot halfpad in die sirkel.

’n Ongelowige stilte daal op die pousegrond neer. Vir ’n oomblik dink ek dit gaan werk.

Die stamp agter my skouers pers die lug uit my longe en ons bots kop teen kop. Leon val weer neer, sy bril nou skeef teen sy oor. Ek bly staande. ’n Warm gevoel sprei oor my voorkop en af teen my neus. My oë traan van die pyn.

“Moenie nou begin tjank nie, slimgat.” Ek vee ergerlik oor my oë en neus met my palm. Die trane, bloed en snot maak nie ’n mooi prentjie nie. Honende hiënagelag omring ons. Maar ons is nie twee dapper leeus nie, veel eerder vasgekeerde vlakhase.

Die sirkel trek onheilspellend stywer rondom ons. Leon kom orent. Probeer agter my skuil. Hy klou vas aan my arms. Ek probeer losskud. Maar hy klou soos ’n weeluis aan ’n donskombers. Paniek begin my oorweldig.

Vaatjie tref die kring op steroïdes soos ’n ghoen wat ’n versameling albasters aanval. Die kring van spotters twyfel. Almal staan versigtig agteruit. Die groot seuns bondel bymekaar. Gluur ons aan. Maar ek kan die onsekerheid ruik.

Want almal vermoed, Vaatjie is nie heeltemal tien-vier nie.

En hy is ons vriend.

*

Niemand kan uitwis hoe ons drie vriende geword het nie. Ek weet ... ons is die uitgewekenes wat net nie lekker inpas nie. Leon en sy fladderende gewrigte, maniertjies en dik bril. Ek met my ooraktiewe brein en veral slimgatmond.

En Vaatjie. Hy is ... hy is Vaatjie. So rond soos ’n opblaasstrandbal. Deurmekaar hare. Meestal ruik hy nie te goed nie. Ek is al immuun daarteen. Maar Leon se gestel is meer sensitief – hy smeer partykeer ongesiens ’n bietjie Samboksalf onder sy neus as hulpmiddel.

Bowenal is Vaatjie heeltemal onvoorspelbaar.

Soos die keer toe juffrou Riekert hom huis toe stuur om te gaan stort. Eintlik dink ek dis omdat hy net eenvoudig weier om huiswerk te doen op Dinsdae. Ons het hom al daaroor gepols, maar hy trek net sy skouers op. Ek dink nie hy weet self hoekom nie.

Hy weier egter botweg om die klas te verlaat. Sy gryp hom aan die arm en probeer hom by die klas uitsmyt. Sy het al ’n paar ander kinders soos vrot velle uitgeslinger. Sy is breed en gespierd. Dra net kakiebroeke en leerstewels. Eenkeer het sy ’n eerstespanslot met een hand om sy keel opgetel en herhaaldelik teen die swartbord vasgeslaan. Blykbaar het sy spelpeil erg gekwyn na die voorval.

Voor ons kan roer, het sy en Vaatjie mekaar in ’n beergreep. Ons kyk verstom hoe hulle soos twee Japannese soemo-stoeiers mekaar pak. Ek sien Vaatjie stoei met volle oorgawe. Nie een kry die oorhand nie. Maar sy gladde skoolskoene gly en sy tuimel bo-op hom neer.

Dit het ons amper ’n minuut gevat om haar af te kry. Enigiemand sou dood wees as daai juffrou op jou val, maar nie Vaatjie nie. Hy het net daar op die grond rondgerol en gelag dat die trane rol. Onophoudelik.

Die onderhoof het ingestorm. Vaatjie moes huis toe gaan en is vir ’n hele week geskors. Die juffrou ook. Albei rooi in die gesig van die stoeigeveg. Vaatjie onophoudelik aan die skater. Maar ek dink nie hy het gaan stort nie. Sy pa het nooit uitgevind nie – hy is maar min by die huis gedurende die dag.

Of soos toe sy pa ’n pinkie afgesaag het met die vleissaag. Vaatjie het vir ’n week by die skool rondgeloop en die bebloede vinger vir almal gewys. In ’n leë sigaretpakkie vol rooi en wit watte. Heeltyd dieselfde storie vertel. “Hy gaan nou nie meer so in sy neus kan krap nie. Kyk, hy het spesiaal sy pinkie se nael langer laat groei. Kyk, sien jy?”

Dit het eers gestop na van die ouers by ou Eksteen, die vroom skoolhoof, kom kla het. Almal was verlig. Selfs ek en Leon.

Vaatjie het weer vir ’n week vakansie gekry.

*

Ons doen alles saam. Elke Vrydagaand doen ons die toktokkie-ding in die dorp.

My ouers speel vingerbord by die bure. So ek kan maklik uitglip. Hulle dink in elk geval ek lees een of ander dik boek in my kamer.

Vaatjie se ma het lankal die hasepad gekies. Sy pa is oudergewoonte tot laat by die hotel. Almal weet sy pa is ’n dronklap wat moeilikheid maak en gereeld dik getik word in die kroeg. Ek het al gehoor as my ouers gedemp praat oor hoe hy hom uit sy vrou en winkel gesuip het.

Sedert Leon se broer op die grens doodgeskiet is, het hy, in sy eie woorde, “onsigbaar” geword by die huis. “Hulle sien my nie eers meer raak nie.” Hy praat selfs sagter as gewoonlik. “Miskien sal ek ook ’n parabat moet word soos hy. Dan sal ek weer tel, veral by Mamma.”

Ek skuif ongemaklik rond as ek aan sy ma en haar kurwes dink. Ek weet dis verkeerd om so oor my vriend se ma te fantaseer. Ter versagting, sy is mooier as die meisies op Scope se binneblad. Vandat ek my pa se verbode stapel tydskrifte in die motorhuis ontdek het, kyk ek met ander oë na die wêreld.

“Ek weet nie waaroor jy so kla nie.” Vaatjie vryf ongemerk aan die blou kolle op sy voorarm. “Ek wens ek kon partykeer onsigbaar wees.” Die pers vingermerke om sy polse is duidelik sigbaar. Hy trek nooit voor ons sy hemp uit nie. Eers het ek gedink hy is skaam oor sy gewig. Nou weet ek nie so mooi nie.

“Daar is ou Eksteen se huis.” Dadelik verskerp ons houding.

Dit is donker en die straatligte dof. Dis na nege en die sirene op die dorp se klipkoppie het al skril geskree soos ’n lugaanvalwaarskuwing – die teken dat die swart mense nie meer op straat moet wees nie en die dorp moet ontruim na die lokasie toe. Of stil moet wees in die dorp se bediendekamers. Ons kyk versigtig rond. Partykeer ry die geel polisie-van rond om seker te maak hulle gehoorsaam die aandklokreël.

Ons ken ons storie en teister die dorp gereeld. Die skoolhoof het al die hele skool gedreig oor wat sal gebeur as hulle die kwaaddoeners vang. Die berugte toktokkiebende. Niemand verdink ons drie bleeksiele nie.

Vanaand is dit juis die vroom oujongkêrel se beurt. Ons beplan die veldslag met hom al lank. Dit is riskant, maar ons is vol selfvertroue. Elkeen van ons het sy rol en is ’n spesialis.

Vaatjie hou wag, omtrent ’n halwe blok op in die straat agter die ou bloekomboom. Hy sien goed en kan hard soos ’n uil roep om ons te waarsku, maar kan nie te vinnig hardloop nie. Hy moet dus die agterhoede dek.

Leon maak die tuinhekkie oop. Hy kruip nader, na die voordeur toe. Hy is ’n supersluiper en hier regtig amper onsigbaar. Op ’n goeie manier. Hy staan reg met sy hand en kyk terug na my. Met sy vrye gewrigsbewegings kan hy ’n hond uit ’n bos klop op ’n voordeur.

Ek span my regterarm en lig my linkerduim. Hy lui die deurklokkie en kap hard met sy kneukels op die deur. Terwyl hy omspring en laat spaander, gooi ek die klip hoog in die lug en pak tekkies uit. Halfpad na Vaatjie kletter die klip op die dak.

Uitasem bondel ons agter Vaatjie in. Dik van die lag. Eksteen pluk die deur oop en storm uit. Hy het net ’n rugbybroekie aan en sy bleek boep wip rond. Sy flits skyn en verdwyn soos ’n springhaas. Hy vloek gedemp. Ons giggel onbeheers.

Na omtrent vyf minute kom ’n vrou te voorskyn in die deur. Sy het een van daai kort deurskynende nagrokkies aan. Met die skerp lig agter haar laat dit nie veel vir die verbeelding nie. Ons snak na asem.

Sy roep hom stroperig. “Kom, Liefie. Hulle is vort.” Hy loop brom-brom terug, neem haar hand en klap die deur hard toe.

Ons bly vir nog vyf minute doodstil staan. Ons weet hulle sal skelm deur die gordyne probeer loer. Ons blaas die aftog en gaan skuil tussen die bosse op die klipkoppie. Party mense bel die polisie, maar vanaand lyk alles stil. Ek dink die skynheilige bliksem wil nie onnodig aandag trek met sy skelmpie wat aan huis is nie.

Ons giggel nie meer nie. Selfs Vaatjie weet om eerder te swyg. Ek sit my arm op Leon se skouer. Hy skud dit af en kort daarna blaas ons die aftog. Elkeen nadenkend na sy eie huis.

Ons het al drie Leon se ma in die deur herken.

*

By my huis wag die moeilikheid. Sophia, ons huishulp, staan met haar hande op die heupe in my kamer en wag as ek deur die venster glip.

“Waar was jy? Jy is baie baie stout. Ek het my dood bekommer. Ek gaan jou pa vertel jy loop rond in die aand. Julle wit kinders luister nie. “

Sy werk al amper twintig jaar by my ouers. My pa verwys na haar as die “goeie ou soort” wat nog haar plek ken. Nie soos die “nuwe klomp ondankbare en opstandige kommuniste” nie.

“Nee wat, Sophia. Los dit eerder.” Ek paai mooi. “Hy sal vir jou en vir my kwaad wees.” Ek weet sy sal my nie verklik nie. Sy maak my groot vandat ek kan onthou en dit is nie die eerste keer dat sy my uitvang nie.

“Jy raak heeltemal te slim. Weet nie wat leer hulle jou daar by die skool nie.” Sy druk haar vinger in my gesig. “En bly weg by daai Griek se kafee ...”

Sy loop al tongklikkende af in die gang na die kamertjie agter die huis.

*

Die kerkdiens is ons ander gunstelingspeletjie. Die kerk verveel my gewoonlik, maar nie as Vaatjie daar is nie.

Hy kom so dan en wan kerk toe. Alleen. Elke keer soek hy ’n ander sitplek. Dit is nie hoe dit hier werk nie – almal het ’n gereelde sitplek, so hy ontwrig elke keer ’n ander familie.

Ek en Leon het ’n staande weddenskap en hou telling. Ek kry ’n punt as die mense ongemerk eerder ’n ander kerkbank soek. Leon kry ’n punt as hulle maar met vroom gesigte langs Vaatjie indruk. Ek wen gewoonlik.

“Die duiwel loop soos ’n brullende leeu rond hier in ons strate ...” bulder dominee vanaf die preekstoel. Maar ek luister nie regtig vandag nie. Veral nie nou as Vaatjie daar is nie.

Hy speel sy ontwrigtende rol pragtig met een van sy ander talente. Hy sal – sodra die dominee bid – saggies ’n stinkbom laat gaan. Dit is soos ’n supertalent. As hy wil, dan kan hy. En dis nie wys om dan naby hom vasgekeer te wees nie.

Ons twee hou die storie deur skrefie-ogies dop. In die kerk is iets snaaks mos net nog snaakser. My maag pyn partykeer soos ek die lag onderdruk. My ma moes my al ’n paar keer ongesiens knyp en groot oë maak as my skouers begin ruk. My pa weet van niks. Hy is in die voorste ouderlingsbank met sy swart pak – daar langs ou Eksteen.

Aan die ander kant van die kerk sien ek haar. Sy en haar familie sit in die heel agterste bank. My pa het vir my ma vertel dat daar heelwat gebrom was oor die Grieke wat ook die kerk bywoon. Hy is van mening dat die ortodokse Grieke, en veral die Katolieke, reguit hel toe gaan. Maar die kerkraad het dit laat begaan nadat haar pa ’n stewige donasie gemaak het vir die kerk se nuwe dak.

Sy kyk op en sien my. Vir ’n lang minuut staar ons in mekaar se oë oor die kerkbanke. Met elke sekonde skuif my bloedtemperatuur met ’n paar grade op. Ek breek eerste weg, maar van toe af is sy in my kop, in my lyf en in my gedagtes. Ek skuif noodgedwonge my Bybel strategies tot op my skoot. Vervlaks.

Ek hop soos ek skrik toe die dominee weer desibels optel. “Die rooi gevaar is orals. Broeders en susters. Julle moet waaksaam wees ... Die propaganda mislei al klaar die mense oorkant die treinspoor. Dit terwyl ons eie jong manne veg op die grens om ons vryheid te bewaar.”

Ek sug. Ek het al probeer met my pa redeneer oor die geskiedenis van Afrika, wat orals gebeur het en hoekom dit nie ook hier gaan gebeur nie. Toe ek vir hom noem ek dink die Mandela-man gaan uit die tronk kom en eerste minister word, het hy amper ’n aar gebars. Ek het probeer verduidelik van Kenyatta in Kenia, Amin in Uganda, Samora Machel ... my mond het ’n hele lesing kafgedraf.

Hy het my aan die arm rondgepluk. “Dis hoekom jy nie vriende het nie! Jy is te verdomp slim vir jou eie gesondheid ...” Hy was rooi in die gesig. “Gaan kamer toe. Ek gaan jou gatvelle aftrek.”

Gelukkig het my ma hom gepaai, anders was daar perde. Ek was gehok vir ’n maand.

Maar ek weet hy is reg. Ek hou my te slim.

*

In die verbrokkelende sirkel blaas en skrop Vaatjie soos ’n brahmaanbul. Die bondel matriekseuns skep moed en begin dreigend nader beweeg. Vooraan is die hoofbelhamel. Soos enige boelie weet hy en sy trawante daar is nou baie op die spel.

Leon sleep-trek sy bril doelgerig tot op sy neus. Hy lyk oes, bebloede knieë en vol stof. Maar ek kan sien die laaste paar weke het hom oor die drumpel gestoot. Hy is gatvol. Hy trek sy moue op en tree vorentoe tot langs Vaatjie. Hy buk in ’n tipe dreigende houding en spoeg bloederige speeksel op die grond.

Sy voorkoms word effens bederf deur sy bewende bene en gebuigde gewrigte. Die bloedspoeg wat teen sy ken afloop, help egter om daarvoor te vergoed. Sy hande is in kloue soos ’n arend. Sy houding is so iets van ’n Bruce Lee gemeng met ’n foksterriër. Hy grom saggies.

Ek kan haar nie sien nie, maar ek weet sy hou ons dop. Flip, dis nou of nooit. Ek tree ook vorentoe en lig my vuiste. Probeer staan soos Kallie Knoetze se prentjie in die Huisgenoot. Hopelik skrik dit hulle af – ek weet ek of Leon is nie veel werd in ’n geveg nie.

Skielik gil Vaatjie en storm. Dis nog ’n verrassende eienskap van Vaatjie. Oor vyf meter is sy versnelling beter as my pa se Ford Cortina s’n. Vaatjie loop die lummel uit die aarde. Sy skril stem trek deur die skoolgrond soos naels op ’n swartbord. Hy val-sit op die boelie. Sy boude omsluit die seun se wange soos die kake van ’n walvis.

Ek en Leon spring nader. Ons gil ook heeltyd. Die bondel seuns tree verdwaas agteruit. Ons stemme, die stof, die boelie se geskop en Vaatjie se harde poepe maak ’n helse kabaal.

Die boelie spartel en skop, kom uiteindelik onder Vaatjie uit. Hy kruip hande-viervoet weg en gooi op in die stof. Leon skop hom van agter tussen die bene. Hy bly lê en hap na asem soos ’n baber op droë grond.

Steeds skreeu ons dat die spoeg spat. Met ontblote tande doen ons vals stormlopies in alle rigtings. Leon se arendkloue maak ’n windmeul voor hom. My wilde houe swaai gate in die lug. Die boelies maak hulle vinnig uit die voete. Ons bly moeg in die middel van die skoolveld staan.

Vaatjie gryp ons twee om die skouers en trek ons nader. Hy hou ons daar en draai stadig rondomtalie terwyl hy almal aangluur. Ek sien hoe Leon iets onder sy neus invryf. Maar hy het ’n groot glimlag op sy skraal gesig. Ek dink hy weet hy is nie onsigbaar nie.

Die hele skool staar geskok na ons. Party kinders giggel sag agter hulle hande. Hier en daar hou ’n paar selfs vir ons skelmpies ’n duim omhoog.

Soos ons draai, vang ek haar oog.

Sy glimlag breed en kopskuddend terwyl sy my uitdagend aankyk.

Ek loop doelgerig na haar.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post Sorgelose kinderjare first appeared on LitNet.

The post Sorgelose kinderjare appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21657

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>