
Foto: Canva
Memoires
Ek stap weer vanaand,
kort voor skemeraand,
op die kalkgrondpad
langs vaal wintergras,
met die son, met die son,
met die sterwende son,
en ’n soel wind wat waai,
wat die klanke oplaai.
In my blik: ’n murasie,
deur die stilte verteer.
Elke spoor is ’n stasie
wat met tyd sal verweer.
As die reën weer kom,
sal die pan tydelik vol word,
en die paddagesange
sal die aand weer begelei.
In die vroegoggenduur,
met die aarde wat rus,
bulder oor donker vlaktes
weer die lokomotief –
getuienis van ’n wêreld
ver anderkant die spoor,
’n rustelose labirint,
vol van haat,
vol van lief.