“Op die punt van haar tong” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
*
Op die punt van haar tong
Ses maande na sy aankoms in Die Kaap van Goeie Hoop koop Heindrick Seitz vir hom ’n vrou. ’n Nodige belegging, skat hy, vir die lewe anderkant die Breederivier en die Swartberge wat op hom wag. Die pag grond wat aan hom toegeken is, is ’n Godvreemde plek wat hy kwalik ’n benul het waar om te vind en op sy eie wil hy nie daar gaan boer nie.
Sy was deel van ’n groep vrouens wat dié oggend in 1726 by Die Kasteel onder bod sou kom. Hy let haar dadelik op terwyl hy saam met die ander mans op die Kompanjie se afslaer wag. Pols tot pols is die slaafvroue aan mekaar gebind. Aangesig tot agterkop. Die meeste is kort van statuur met windverwaaide hare, plooierige gesigte en oor die algemeen verweerd in aansien. Nie minder of meer vreemd is hul voorkoms aan hom as die tipe mans en vrouens wat hy die afgelope week by die Slawekwartier sien nie. Hulle verlaat almal Die Kasteel as gebonde arbeiders.
Maar sy is anders. Langer. Sy toring bo die ander uit. Slank ook en haar hande lyk sag. Sy was nie blootgestel aan die ongenaakbare wind, reën en son wat hierdie wilde kontinent pal teister nie. Haar vel is die kleur van donker, skoongeskraapte leer. Dit blink soos ingesmeerde skaapvet op ’n perdesaal. Haar lyf vertoon soepel. Hy verbeel homself dat sy rats sal wees. Iemand wat sal weghardloop. Of handig te pas sal kom as hy met die wa die berge moet oor.
Vir lank wag hulle op die Kompanjie se administrateurs. Hy kyk om hom rond. Die laatmiddagson kaats oor die wye glasvensters waaragter die goewerneur en sy boontjietellers skuil. Met ’n morrende klank, praat die mans onderlangs. Uiteindelik verskyn ’n koddige man wat swaar aan ’n dik boek dra. Die vrouens word met stokke gedu totdat hulle in die middel van die vyfhoek staan. Hy is, soos die ander burgers, hier om hul skamele artillerie van werkshande te vervang of aan te vul. Belangstellend staan hulle nader. Die fyngetooide Duitsers, Hollanders en Fransmanne stap rondom die vrouens. Hier en daar maak een ’n aanmerking. Afkeurend van aard in die meeste van die gevalle.
Hy kyk ook. Een rondte rondom die weemoedige versameling mense wat aanhoudend na hul voete of die dor, verlate grond bly staar is vir hom genoeg. Hy gaan soek weer skuiling in die inham wat die gebou bied. Vandaar bak hy sy hand bo sy wenkbroue. Môre, soos vandag, gaan ’n bloedwarm dag wees. Vurig fel die son op hulle neer. Dit brand teen haar kul rug. Fyn sweetdruppels verskyn op haar gladde vel. Sy begin soos kristal te glinster.
Na byna ’n uur verskyn die afslaer. Hy is, soos sy kollega, ’n kort, stewige man met ’n bollerige neus en rooi, rooi wange. Hans Steyn kom van Rotterdam af, het Heindrick gehoor en aan sy aksent weet hy dat dit heel waarskynlik so is. Haastig rammel Hans Steyn die inventaris en die verkoopterme af. Die frille van sy wydgemoude hemp swaai heen en weer soos hy geïrriteerd na vlieë begin klap. Hy wys slegs terloops na die vrouens voordat hy hulle een vir een na die houtkis wat as podium dien, laat ontbied. Hulle kan netsowel van die wilde ganse en kwartels wees wat die Kompanjie gister verkwansel het.
Twee dosyn word twaalf. Toe ses. Uiteindelik bly daar net vier van die vrouens oor. Sy oë bly op haar.
Soos die donker kolle op ’n Holstein-bees, lyk haar vel vir hom. Sy is eksoties en vreemd. ’n Voorkop breed met ’n wye mond. Vol lippe. Sy is jonk ook. Haar ontblote borste het nog nie die pyn van ’n gulsige suigeling se mond gevoel nie. Volrond en ferm hang dit voor haar maer borskas. Sy draai haar gesig in die rigting van die saffierblou see toe hulle haar tot op die houtkis tel. Haar hande is steeds deur dik tou gebind, maar nou agter haar rug vasgemaak. Haar hare is kort stopsels. Onlangs is dit tot teen die skedelbeen gesny. Haar oë word twee diep, donker, onrustige poele toe die afslaer begin praat en die mans nuuskierig naderstaan.
Sy maak nie soos die res toe Hans die bedrae wat op haar gebie word, begin uitroep nie. Háár oë skram nie van die kopers af weg nie. Haar kykers brand die verkoopte vrouens in hul skamele kledingstukke. Die mans wat rondom haar staan en stilswyend toekyk hoe haar lot volstrek word. Die kompanjiegoedere verder weg in houtkratte en goiingsakke teen die mure gepak. Sy sien dit alles en tog verklap haar blik geen gedagte of opinie oor wat sy sien nie. Asof sy verhewe is bo die herberg van klip en steen wat na mans se sweet, perdekak en tabak ruik, kyk sy op hulle neer. Dit is nie ’n podium nie. Dit is ’n troon.
Soos weerlig voel dit toe haar oë syne ontmoet. Sy is nie deel van hierdie transaksie wat nou plaasvind nie, besef Heindrick.
Toe die bod op haar by ’n handvol munte vasslaan, lig hy sy hand. Die ander bieër slaan sy hakke na die wind toe hy dubbeld die koopsom aanbied. Van die ander vryburgers stap kopskuddend weg toe hy die geldstukke aan Steyn oorhandig.
Die eerste weke saam met haar was hel. Myle voor die Breederivier, tussen die Groot en die Klein Drakensteenberge, verskyn ’n vlakvark vanuit nêrens.
“Gefahr! Gefahr!” skree hy in sy swaar Oos-Frankoniese aksent toe die ritseling tussen die lang gras ontvou.
Te laat.
Die vark met die breedte van ’n kis en die gesig van die duiwel peil vanuit die ruigtes, mis die voorlopers, vleg tussen die stampende, balkende osse deur, skeur ’n stuk uit die wa se onderstel en sny ’n diep keep uit die vrou se bobeen toe hy bo-oor haar weer die bosse in verdwyn.
Deur die opgeskopte stofwolk tas hy na haar. Die dierasie het haar platgetrek. As die ergste sand en klippe weer lêplek vind en die blou lug soos saffier bo hulle glim, sien hy dat sy bloei.
“Jetzt bist du verletzt! Wenn ich Gefahr nenne, musst du Schutz suchen!”
Sy kyk hom aan asof hy iets aan haar wil doen. Iets ergers as die wilde vark met sy vlymskerp voortande. Hy wil aanbied om haar wond vir haar te versorg, maar sy wikkel haarself van onder hom uit. Gaan staan gedwee meters van hom af weg. En dít is waar sy bly.
Die somer het warm geword. Warmer as die somers in Stattin waarvandaan hy kom. Heimlik en effe bedroef wonder hy of al die somers dan só sal wees.
Teen middel-Januarie bereik hulle die plek waar die Sonderend- en die Breederivier mekaar ontmoet. Die Swartberge toring soos een van Keulen se katedrale bo hom. Die reën bly weg. Die osse kry swaar. Met die bietjie geld waarmee hy hier aangekom het, kon hy kwalik genoeg bymekaarskraap om die twee waens ordentlik van proviand te voorsien. Genoeg hande kon hy ook nie bekostig nie. Sy, saam met hom en die vyf mans, maak sewe die wildernis in.
Daar is vier mans, twee ouer, twee jonger, wat voorloop. Links van die krakende, ratelende wawiele stap ’n ander man. Ook gevorder in sy jare. Regs van die wa bly hy. Alewig op die uitkyk vir bergluiperds bedags en snags vir jakkalse. En amper heeltyd vir vlakvarke.
Sy mantra bly dieselfde en hy kan homself al in die nag in sy drome hoor uitroep: Gefahr! Gefahr! terwyl hy koorsagtig die Potzdam laai en afvuur. Laai en afvuur.
Anderkant die Breederivier verander die plantegroei. Dit is asof die woestyn waarvan hy vertel is vanself nader en nader aan hulle kruip. Teen die einde van die eerste maand bestaan daar ’n kameraadskap van soorte tussen hom en die ander mans. ’n Geneentheid vir oorlewing: Trek saam of vrek saam. Van die junge knabe sal selfs wegskiet, uit eie wil, om dan met die afgeslagte karkas van ’n kleinerige bok of vet dassies terug te keer. Hy is dankbaar vir die vleis. Al kan hulle nie sy taal praat nie en hy nie hulle s’n nie, het hulle tog ’n werkbare manier gekry om mekaar te verstaan: ’n hand gelig in die rigting van ’n veraf tafelkop dui rigting. Arms wat swaai en hy wat in Duits swets as daar met die trekosse gesukkel word. Sy diep, angstige stem wat in sy moedertaal waarsku en beveel: “Hier schlafen wir heute Nacht. Achten Sie auf Gefahren.”
Hulle antwoord hom met kliekgeluide en tongklappe. Onder mekaar praat hulle ook. Klinkers en klanke wat in hul monde verstrengel raak om soos ’n onverwagte vloed verby hul lippe te vloei. Blitsvinnig kommunikeer hulle om dan weer vir lang tye in absolute stilte met mekaar te verval.
Hy beny en vertrou hulle. Van die vrou bly hy onseker.
Sy stap agter. Op haar hakke ’n stoet beeste wat naby dertig koppe tel en drie hanslammers wat nou al vet vertoon. Op ’n manier het sy die diep wond bo haar dy genees. Verder spreek sy geen woord in haar taal nie. Maak sy nie ’n enkele geluid nie. Asof sy daarvoor gebore is en hulle dit verstaan, stap sy slegs agter die wa aan met die diere wat haar gehoorsaam volg. Vir ’n weerbarstige bees wat wil dwarstrek of ’n lammer wat wil wegdwaal het sy niks meer nodig as die streng kyk van haar donker oë nie.
Saans, wanneer die sterre soos duisende vuurkooltjies bo hul koppe glinster en die mans snorkend onder en langs die wa lê, verdwyn sy die bosse in. Hy is so bitter bang dat sy sal wegloop. Dat hy homself een oggend van onder sy komberse sal wikkel om te vind dat sy nié deur die nag terugkeer nie. Tog, elke oggend, vind hy haar opgekrul op die matjie van fyn dekriet wat sy self gevleg het. Haar asemhaling en dié van die beeste en die hanslammers wat styf teen haar opgekrul lê, een gedierte.
Hy probeer met haar kommunikeer. Wanneer hy sien dat die mans té gulsig met die gerantsoeneerde vleis, heuning, mieliemeelpap of verdorde brood omgaan, wend hy hom na haar: “Komm her. Komm und iss. Du musst essen.”
Sy kyk hom aan asof hy iets banaals kwytraak. Stom draai sy van hom af weg en hy begin wonder of dit die manier is waarop hy met haar praat en of dit die barheid van sy moedertong is wat haar ontsenu om met hom te probeer terugpraat.
Sy vrese word bewaarheid, maar nie op die manier wat hy gedink het iemand sou hom versaak nie. Met ’n week en ’n half se trek oor, word hy siek. ’n Nare koors deurtrek sy lyf. In die dag loop hy straks honderd voet of meer van die waens af. In ’n naarstigtelike paniek soek hy die skaduwees van bome, struike en kliprante op. In die aand kry hy nie geslaap nie. Hy rol rond. Stoei deur skrikwekkende, kort nagmerries. Mompelend en deurweek met sweet ontwaak hy keer op keer. Hy eet min. Geen eetlus oorval hom meer nie. Hy bly dors, so ficken dors. Gereeld stuur hy een van die jongeres uit om water te gaan soek.
Op ’n dag wat hy voel dat hy hierdie aarde gaan verlaat, bring hy die twee waens, die osse en sy geselskap tot stilstand. Hulle is by die voet van ’n steil helling. Die koppe vertoon vir hom soos die kranse van Zugspitze. Hy beduie vir die mans dat hul vir hulself moet sorg. Na hout en ’n stroom moet soek. Dan kruip hy onder die voorste wa in en verval hy in ’n droomlose slaap.
Verward skrik hy wakker toe hy die musket nie meer langs hom raakvat nie. In sy gespanne dwaal het hy omgerol en nie die harde, koue staal van die loop teen hom gevoel nie.
Hy beweeg nie vanwaar hy onder die geelhoutplanke van die wa se onderkant lê nie. Versigtig kyk hy om hom rond. Hy sien die osse se bene. Die lammers se wollerige rugkante. Rustig staan die diere in die gras en wei. Hy verstel sy blik om die mans te vind. Gewoonlik sal hy hul donker, naakte rugkante iewers tussen die valerige gras bespeur. Hy luister of hy die kenmerklike klanke van hul taal kan hoor. Net die ligte bries en die olienhoutbome wat daarin kraak en wieg, kan gehoor word. Hy spits sy ore. Net sonbesies verder.
Stadigaan rol hy homself van onder die wa uit. Verslae toe hy vorentoe kyk en die ander wa nie daar sien staan nie. Dit was die wyer, langer wa. Die een met die sakke saad daarop. Eiendom van die Kompanjie. Houer van sy toekoms anderkant die Swartberge.
Ontnugter stap hy tot in die oopte waar hy wéét die wa ure tevore nog gestaan het. Met sy hande in sy sye en sy bloed wat in sy ore begin bruis, roep hy verslae uit: “Wohin bist du mit meinem Einkaufswagen gegangen? Ich bringe euch alle um!”
’n Ritseling in die gras. ’n Vinnige beweging agter die bome. Herauskommen! roep hy woedend die figuur na. Soos ’n glasogie tussen die takke, skiet die figuur weg om tussen die gras te verdwyn.
Hy is buite homself van woede. Met ’n paar tree is hy by die oorblywende wa. Sy hande soek blindelings onder die lappe en tussen die glasflesse en koffers vir die geweer. Dit is nie daar nie. Dan lig hy homself oor die reling. Begin verwoed kiste ooppluk op soek na die Flintlock. Verdwaas tree hy terug toe hy die inhoud van die kis wat die rewolwer bevat, oor die rand van die wa stuur en niks verder binnekant vind nie. Hulle het hom beroof! Hy is totaal en al wapenloos, sink die besef sekondes later by hom in.
Sy hart bons in sy keel toe hy voetval agter die wa hoor. Wer ist das? roep hy diepstem uit. Hy kan die onsekerheid vanuit sy keel hoor en in die kruis van sy lende voel.
Soos ’n voorbode staan sy daar tussen die beeste met haar hande wat sy agter haar rug hou. As sy kwaad of dalk bang was, verklap haar gesig dit geensins. Asof na hul ma, haas die lammer hulself tot langs haar sy. Die wit van hul wol is in skerp teenstelling met haar teergekleurde vel wat soos goud in die namiddagson skitter.
Waar is die mans en my geweer? Wat gaan hier aan? vra hy in Duits met ’n skorstem asof sy hom gaan verstaan en sy op ’n manier verantwoordelik is.
Sy bly roerloos staan. Haar hande agter haar rug.
Wankelend klim hy van die wa af sonder om haar uit sy sig te neem.
“G ...” sê sy toe hy naby haar kom.
Hy wil haar vertel dat hy haar nie kan verstaan nie, maar verstar toe sy stadig haar hande van agter haar rug tot voor haar bring. Die Flintlock hang tussen haar duim en wysvinger. Asof sy ’n stinkende ding vashou, strek sy haar arm van haar af weg.
“G ...” sê sy weer en toe dringend. “Gah ...”
Vraend kyk hy haar aan.
“Gah ...” Haar oë word wild asof sy verstik. “Gah!”
“Wat?” skree hy gefrustreerd op haar.
Dit klink asof sy met haar mond geboorte gee.
“Gah! Gah! Gah ... v .... v ...” Asof die Heilige Here vanself Sy vingers tot in haar keel druk om die woorde van agter haar kleintong tot op die punt van haar tong te dwing, kom die woord uit. “Gevaar! Gevaar! Gevaar!”
Hy kry nie tyd om iets terug te sê nie. Eerder reageer hy onmiddellik op haar waarskuwing toe sy die rewolwer na hom slinger en sy verskrik na agter hom wys. Die jong mans wat hy tot nou toe voor gesorg het en wie hy geskat het sy kamerade is, kom teen die koppie af. By hulle is nog mans. Dieselfde bou en lengte. Spiese in hul hande. Moord in hul oë.
Hy sê ’n skietgebed op toe hy die Flintlock in ’n stewige greep beetkry. Dié rewolwer het geen vlam nodig nie. Sy wysvinger wat om die sneller trek, is genoeg. Hy mik en skiet sonder die sekerheid of die buskruit nog enige fut daarin oor het.
’n Oorverdowende knal klink op. ’n Swerm spreeus duik vanuit die naaste boom om in ’n kakofoniese gekwetter die blou lug in te skiet. Die aanvallers spat in twee groepe. Manstemme wat roep en dreig vul die lug. In die warboel wat volg, struikelval hy na die wa om die Flintlock te herlaai terwyl die beeste elk hul eie rigting inslaan. Al balkend en met hoewe wat klippe opskiet en die lammers vertrap, verdwyn hulle ook. Doef! gaan die tweede skoot af. Hy wil hom verbeel dat die roepende, klaende stemme verder en verder van hom af opklink, maar hy kan niks deur die waas van stof, grashalms en sy koorsbenewelde verstand vertrou nie.
Dit voel asof iemand agter sy ribbes roei, so klop sy hart. Die rewolwer bewe tussen sy hande. Hy het dit blitsig herlaai. Met stokstywe voorarms en sy vinger krampagtig om die sneller, rig hy dit op die bedreiging. Wanneer die stof gaan lê, is dit duidelik dat hulle die koppe in is.
Dit neem hom die meeste van die middag en ’n stukkie van die aand om die beeste bymekaar te maak. Daarna slag hy die vleis van die lammers se gebreekte bene af, braai daarvan en pekel die res. Die velle drapeer hy oor die wawiele. In die glimmer van die vuur, wat heelaand lank sal moet brand, neem hy bestek van sy voorraad en beplan hy aan ’n uitkoms. Hier is hy te ver weg van Die Kasteel om vir hulp te vra en omdraai gaan hy nie.
Die koors waaraan hy steeds ly, laat hom indompel. Sy liggaam ruk toe hy wakkerskrik. Halfverbaas, halfverlig sien hy haar reliëf wat tussen die beeste staan.
Sy kom nader. Gooi hout op die vuur.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
The post Op die punt van haar tong first appeared on LitNet.
The post Op die punt van haar tong appeared first on LitNet.