“Saamskryf” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
*
Saamskryf
Ek het haar op die internet ontmoet. Nie op een van daardie webwerwe waar jy mooi mense kan ontmoet net om later uit te vind dat die meisiemens met wie jy so lekker intiem gesels eintlik die bure se dogter is nie. Nee, ek het haar tydens ’n skryfkursus op een van daardie aanlyn kunstefeeste ontmoet. Die kursus oor die skryf van kortverhale is deur ’n legende aangebied wat al alles wat daar te wenne is in Afrikaans ingepalm het, behalwe die Hertzogprys.
“Hoekom skryf jy?” het die legende die gesprek begin.
“Omdat ek kan,” het ’n baldadige jongeling die baan geopen.
“Om van die wrede wêreld te ontsnap,” het ’n dame met ’n strak gesig en ’n temerige stemmetjie van haar laat hoor.
“Nie ek nie.” Die mansstem het volgens die titels aan ene advokaat Benstra behoort wie se kamera nie aan was nie. Dis seker dié advokaat Benstra wat die jong dingetjie wat haar stinkryk wederhelf gif gegee het, verdedig het. Dit was so hittete of hy het haar losgekry met die mishandelingsverweer. “Ek skryf juis om die werklikheid vierkantig in die oë te kyk.” Die gesprek het skielik gebriek. Dit was asof advokaat Benstra die laaste sê op hierdie punt gehad het.
Na ’n swanger stilte het die legende weer beheer geneem. “Wat van jou, Belinda?” ’n Rustige brunet het eers oogkontak met die kamera gemaak en toe begin praat. “Ek skryf om toegang te kry tot my verbeeldingswêreld. Want dis daar waar wonderlike verassings wag om ontdek te word.” My tipe meisie, het deur my kop geskiet. Haar inset het die trant van die gesprek verander. Dit was asof die droomsmouse uit die skadu’s beweeg het om hulle produkte bekend te stel. Die gesprek het soomloos na die speelveld van die verbeelding verskuif terwyl die werklikheid tot ’n lastige noodsaaklikheid afgegradeer is. Toe my beurt kom, was ek in my element. “Ek skryf om die draaiboeke wat ek snags in my kop skryf, op papier te kry.” “Juis,” het Belinda opgemerk net voor die deelnemers in groepe verdeel is en na die aanlyn wegbreekkamers verplaas is.
Ek en Belinda beland saam met Henriëtte en Willie in een groep. ’n Spookstem nooi ons om onsself in sestig sekondes bekend te stel. Willie is ’n gefrustreerde onderwyser wat hoop om sy skryftalent beter te benut. Hy begeer ’n loopbaan in joernalistiek. Henriëtte is deel van ’n kampvegtergroepie wat die jeug probeer oortuig dat onthouding ’n beter opsie is as geboortebeperking.
“Onthouding?” vra Belinda half moedswillig. “Ja, hulle moet onthou om ’n kondoom te bring,” sterk ek haar in haar kwaad. “Weerhouding, dan,” probeer Henriëtte weer. Die paartjie moenie seks hê voor die huwelik nie. “Mooi gedagte,” steun Willie haar, “maar dit gaan nie werk nie.” “Hoekom nogal nie?” kap Henriëtte terug. Ek kan hoor sy’s opgewerk. “Wel,” se Willie. “Ek is my hele lewe lank in die onderwys. Jy kan my maar glo. Vandag se jongetjies is soos konyne. Jy gaan vir vyf minute uit die klas uit en wat kry jy as jy terugkom?” “Jy moet ons nooi dat ons met hulle kom praat,” stel Henriëtte voor. Willie frons maar sê niks.
“My beurt,” sê Belinda. Sy stel haarself voor as ’n sielkundige wat van die huis af werk. “Aanlyn, as dit kan.” “Nou jy, Ben,” gee sy die aflosstokkie vir my aan. Ek is ’n bou-inspekteur by die Stadsraad. Belinda grinnik. Waar was jy toe ek jou nodig gehad het? Ek tik ’n smiley in die skryfspasie.
“Word goeie skrywers gebore of gevorm?” vra die spookstem.
“Gevorm,” sê ek.
“Hoekom so?” vra die stem.
“Vir my is ’n goeie kortverhaal soos ’n Olimpiese medalje. Dit verg lang ure en harde werk.”
“Goeie punt,” sê Henriëtte.
“Ek stem,” sê Willie.
“Vind menige goeie idee nie maar in ’n droom sy pad na die skrywer toe nie?” vra Belinda. “Beslis,” sê Willie. “Baie Bybelse figure het hulle insigte in die vorm van drome ontvang.” “Dreams are the guiding words of the soul. Carl Jung, The Red Book,” staaf Belinda haar punt. “Drome is maar net een manier waarop idees na mens toe kom,” vervolg sy. “Partykeer verskyn dit in die rook van ’n daggazol.”
“Ek dink beslis nie so nie,” keer Henriëtte met stywe lippies.
“Hoekom dan nie?” terg Belinda verder.
“Dit waarvan jy praat is hallusinasies. Dis nie skryftemas nie.”
“En tog het baie van die groot skrywers bely dat hulle geswaai was toe hulle hulle beste werk gepleeg het,” karring Belinda moedswillig verder aan haar.
“Jy’s so reg,” steun ek haar.
“Maya Angelou het na cannabis as haar muse en vriend verwys. En Hemingway en Dorothy Parker se drinkgewoontes is goed gedokumenteer,” het sy entoesiasties uitgebrei.
“Ek weet nou nie daarvan nie, maar ek wil nie so skryf nie.” Die afkeer in haar stem was opsigtelik.
“Kom ons los nou maar eers ander skrywers uit en bepaal ons by julle eie skryfgewoontes,” gryp die spookstem in. “Wat werk vir julle en wat nie?”
Belinda se elektroniese hand verskyn op die skerm. “Ja, Belinda.” “Wat dink julle van saamskryf?” vra sy.
“Soos om saam klavier te speel. Jy tik met jou linkerhand en ek met my regterhand,” terg ek. Tot Henriëtte giggel.
“Nee simpel.” Daar speel darem ’n glimlag om haar mond.
“Nou wat dan?”
“Jy op jou laptop en ek op myne.”
“Nou hoekom sou mens so iets wou doen?” vra Willie.
“Om kreatiewe stemming te skep,” verduidelik Belinda entoesiasties. “Ek kan net skryf as ek in die mood is.”
“Ek weet darem nie,” keer Henriëtte.
“Waar gebeur so ’n saamskrywery?” wil Willie weet.
“Op my sondek. Daar’s altyd ’n briesie. Met ’n glas witwyn en die geluid van branders wat breek.”
“Sjoe,” sug Willie.
“Ek drink nie,” sê Henriëtte.
“Ek skryf net in die nag,” bely ek.
“Jy’t nog nie die vraag geantwoord nie,” herinner Belinda my. Na afloop van die kursus ruil ons kontakbesonderhede uit.
Ek hoor die volgende week van Belinda, maar nie met ’n uitnodiging om saam te skryf nie. Sy bel my in ’n toestand van paniese angs om vir hulp te vra. Haar een huurder het ’n oordosis pille gedrink en sy wat Belinda is, wag nou al veertig minute vir ’n ambulans. Sy kry nie die huurder wakker nie en wil weet wat staan haar te doen. Ek los alles en jaag dadelik deur na haar huis in Houtbaai.
Ek stop met skreeuende bande buitekant ’n imposante dubbelverdiepinghuis. Belinda storm uit. Sy is slank en effe langer as waarvoor ek gehoop het. Die modieuse wit broekpak wat sy aan het, laat haar intimiderend mooi lyk.
“Jy red my lewe,” Ben.
“Ag dis niks.”
Sy vat my aan die arm en stuur my in die rigting van ’n woonstel wat die onderste gedeelte van die huis beslaan. By die deur los sy my arm en storm die huis binne. Ek volg haar deur ’n woonvertrek tot in ’n slaapkamer waar ’n skamelgeklede middeljarige dame op haar sy op ’n driekwartbed lê. Haar asemhaling is vlak en daar is tekens van braaksel op die kussing.
“Ons sal haar by ’n hospitaal moet kry,” verwoord ek die vanselfsprekende.
“As jy haar dra, trek ek my kar uit,” stel sy voor.
“Ons vat haar sommer in my kar,” bied ek aan.
“Is jy seker?”
“Natuurlik.”
“Jy’s ’n engel.”
“Ons sal moet vinnig speel. Sy lyk nie vir my lekker nie.”
Eers toe ek buk om haar op te tel, merk ek dat haar gelaatstrekke ooreenstem met die Henriëtte wat saam met ons op die kursus was. Ek gooi die ongelukkige vrou oor my skouer en volg Belinda met my vrag tot waar my 1999-Mercedes op haar sypaadjie geparkeer is. Die vrou oor my skouer is dooiegewig. Ek kom steunend by my kar aan.
“My sleutels.” Ek beduie na my regterbroeksak. Ek voel Belinda se koue hand langs my lies. Sy glip die sleutels uit my sak en maak die agterdeur van die kar oop. Gelukkig het ek dit gister laat was. Belinda help my om die bewustelose vrou tot op die agterste sitplek te worstel. Die geur van Belinda se parfuum word deur die reuke van die vrou se braaksel gestuit. In ’n oogwink vat ons pad na die Houtbaai Mediese Sentrum in Karbonkelweg. Die diens daar is voortreflik. Binne 10 minute word die vrou op die agterste sitplek deur twee ordonnanse op ’n trollie gelaai en na die noodongevalle-gedeelte geneem. Belinda bied haar kredietkaart aan om die deposito van R2000 te dek en gee haar selfoonnommer indien sy gekontak moet word.
Eers toe ons terug in die kar is, praat sy weer.
“Duisend dankies vir wat jy vandag vir my gedoen het, Ben. Sy leun oor en gee my ’n piksoentjie op die wang. Voor ek opgewonde kan raak, trek haar kop weg en begin giggel. Daar’s lipstiffie op jou wang en ek het nie ’n snesie by my nie.” Sy giggel weer. “Jy sal moet inkom dat ek jou gesig kan skoon kry voor jy moeilikheid by die huis kry.” “Sal nie gebeur nie,” grinnik ek. “Ek is single.”
Ons sit op ’n sondek wat ’n uitsig op ’n klein stukkie see bied. “Dit het die ou plekkie se prys eksponensieel opgejaag,” lees sy my gedagtes. “Dit en die feit dat hy windbestand ingerig is. Dít tel baie punte in hierdie deel van die Kaap.” Ek knik en dink onwillekeurig aan my tuinwoonstel in Blouberg waar die wind my gereeld soos ’n vlieër rondwaai as ek ’n vissie op die kole probeer sit.
“Hy’s eintlik te groot vir my, maar ek verruil hom vir niks nie,” verklaar sy. Voor ek nog kan vra, gee sy die antwoord. “My oorlede man het hom vir ons aangeskaf. Gelukkig het ons hom afbetaal net voordat ...” Sy vat ’n sluk wyn, staar in die vertes in en sug. “Hy’t verongeluk.” Ek dink eers twee keer voor ek vra. “Motorongeluk?” Sy skud haar kop. Nee, helikopter. Hy’t op die oliebore gewerk. Hulle was op pad terug land toe, toe die ongeluk plaasgevind het. “Waar het dit gebeur?” “Iewers aan die kus van Nederland.” Haar blik is strak as sy nog ’n sluk van die wyn vat. “Die maatskappy wou my oorvlieg om te gaan kyk waar dit gebeur het, maar ek het dit bedank.” “Hoe oud was hy?” “Maak dit saak?” antwoord sy skielik kortaf.
Ek verander die gesprek na ons skryfwerk toe, maar dis asof sy toegeslaan het. Ek vra haar watse temas sy verkies, maar sy stuit my met ’n “enigiets, net nie die dood nie.” Tien minute later staan sy op. “Jy moet my verskoon, Ben. Ek het môre gaste vir ete en ek het nog geen idee wat ek gaan voorsit nie.” Sy vat my arm en begelei my ferm teen die buitetrap af deur die tuin na my kar. In die verbygaan merk ek ’n reuse- diagonale kraak in die symuur op wat die sterkte van die hele struktuur kan benadeel. (Een keer ’n bou-inspekteur, altyd ’n bou-inspekteur, het my eks altyd gesê.) ’n Vinnige piksoentjie en twee ydele beloftes later, skakel ek my kar aan. Wanneer ek huis toe ry, kan ek nie help om te dink dat my ou Mercedes haar belangstelling laat verloor het nie. Dis duidelik dat ons in twee wêrelde leef. Dit kom ook by my op dat sy net ’n ambulansman nodig gehad het. Ek maak vrede met die wete dat ek haar nie teleurgestel het nie.
Tuis gooi ek vir my ’n Klippies en Coke in en sit my oorfone op. Ek luister na die podcast van die gedeelte van die kursus oor hoe ’n skrywer ’n kortverhaal kan begin.
Begin deur spanning te skep, verduidelik die doyenne van kortverhale. Dis seker maar toe Belinda my met die vreemde versoek bel. Vir haar het dit gegaan oor lewe en dood, altans dis hoe sy dit laat klink het.
Jy kan ook begin deur jou hoofkarakter bekend te stel, maar dit op sigself is nie genoeg nie. Daar gebeur wel interessante dinge met doodgewone siele, maar dan moet jy met die interessante dinge begin. Min lesers bemoei hulle met die wel en weë van vaal grys mensies, waarsku die doyenne driftig. Dan’s ek uit en Belinda in. Dis tog ’n no brainer dat niemand ’n ou met ’n 1999-Mercedes as ’n hoofkarakter wil hê nie. Veel eerder ’n sensuele vrou wat ooglopend welaf is.
Lekker dialoog kan ook goed werk. Die doyenne beveel dit aan, veral as dialoog jou sterk punt is. Onthou om die leser so gou moontlik aan die hoofkarakter se wêreld bekend te stel. Te veel inligting oor die randkarakters kan jou storie bederf. Ek neem die doyenne se waarskuwing ter harte. Ek is juis geneig om op syspoortjies te verdwaal. Dit maak tog ook nie saak wie of wat die dame is wat die pille gesluk het nie.
Jy kan ook met een of meer terugflitse begin maar dan moet jy weet wat jy daarmee wil maak. Terugflitse kan wonderlike stemming skep, maar terugflitse kan ook verraderlik wees. Sy hoef my nie te vertel nie. Het my en Belinda se toevallige kuiertjie dan nie op die rotse geloop toe sy oor haar oorlede eggenoot begin praat het nie?
Begin met ’n raaisel, speel die doyenne haar laaste kaart. Dit werk net as hy tande het, vermaan sy vir oulaas. Daar was niks raaiselagtig aan my en Belinda se verhaal nie, behalwe miskien die feit dat daar geen leë pilhouertjies in die woonstel te siene was nie. Dit het my nie regtig gepla nie, totdat ek die Houtbaai Gemeenskapshospitaal bel om na die pasiënt se welstand te verneem. Dat sy dit nie gemaak het nie, was nie heeltemal onverwags nie. Wat wel onverwags was, is die mededeling van ’n senior saalsuster dat sersant Broodryk van die speurtak my binne die volgende paar dae sou kontak. Waaroor wou ek liewer nie weet nie.
Na ’n stywe dubbel besluit ek om verder te luister. Ek durf die podcast oor hoe om ’n kortverhaal te eindig aan. Die doyenne vra hoe leer ’n leerlingloods om ’n vliegtuig te land? Die antwoord is in ’n vlugsimulator. Ongelukkig is daar nie so iets vir ’n kortverhaalskrywer nie. Net ’n feitestel wat logika en emosie gelyktydig uitdaag. Die onus was op my.
Waar my en Belinda se storie aanvanklik soos ’n romantiese komedie begin het, was daar nou onweerswolke op die horison. Sersant Broodryk het my die volgende Maandag op kantoor kom sien. Hy het my meegedeel dat die dame wat ek hospitaal toe geneem het, waarskynlik vergiftig is. Ook dat Belinda in hegtenis geneem is en dat haar verklaring daarop dui dat ek waarskynlik medepligtig was. Toe ek weier om ’n verklaring te maak, het die sersant my aangeraai om regsverteenwoordiging te kry, aangesien my arrestasie nie uitgesluit was nie. Dit het toe wel twee dae later gebeur.
Sestig duisend rand later het dieselfde advokaat Benstra van die skryfkursus my vryheid bewerkstellig. Op die ou end het die hof bevind dat Belinda wel die vrou vergiftig het. Sy was toe nooit ’n huurder nie, maar ’n ryk weduwee van Plattekloof wat deur Belinda bedwelm en ontvoer is. Die hof het ook bevind dat haar “oorlede eggenoot” die testament vervals het. Ja, hy is toe nooit in die helikopterongeluk dood nie. Blykbaar sy plek aan ’n ou afgestaan wat vir ’n meisie op land wou gaan kuier en toe die gaping gevat om te verdwyn toe die helikopter in die see val. Alles sou vir hom uitgewerk het as ’n handskrifdeskundige hom nie met die vervalste testament verbind het nie. Aangesien daar ’n peloton van nuushonger joernaliste by die hoofingang van die hooggeregshof wag, glip ek en Benstra by ’n sy-uitgang uit. Ons loop ons egter vas in ’n verdwaalde nuushond wat ’n vraag probeer inkry. Ek was op die punt om hom uit die pad uit te skouer toe ek hom herken. “Is jy nie Willie nie?”
“Ja,” sug die outjie mismoedig. Die een van die skryfkursus.
“So, jy het toe darem ’n ander job gekry?”
Willie knik. “Maar dis nie so maklik nie. Daar verskyn nie meer koerante op straat nie. Alles gebeur deesdae aanlyn.”
“Tell me about it,” sê ek.
“Kan ek jou bel?” vra Willie.
Ek druk my besigheidskaartjie in sy hand en duik by die agterdeur in van die swart nege-reeks-BMW wat Benstra se motorbestuurder vir my oophou.
***
“Lekker storie,” sê Belinda en krap liggies my rug.
“Ek het hom gedroom,” terg ek haar.
“Ja, spot maar.”
“Ek’s doodernstig.”
“Ag nee man, Ben. Los nou die grappies en vertel my eerder hoe’t jy by die middel van die storie uitgekom?”
“Deur op te let.”
“Waar? Wanneer?”
“By die kursus, meisie.”
“O ja, nou onthou ek. Sy het iets oor die middel te sê gehad.”
“Nou kom jy by.”
“Nie regtig nie. Wat het sy gesê?”
“Skuif na ’n ander plek.”
“Hoe nou?”
“Die storie moenie net op een plek afspeel nie.”
“Okay.”
“En dis hoekom hy na haar huis in Houtbaai toe is.”
“Presies.”
“Wat nog?”
“Lui skep onsekerheid oor die karakters se motiewe ’n klokkie?”
“Dit doen, dit doen. En dis hoekom sy onseremonieel van hom ontslae raak toe hy langer wou kuier nadat hulle die huurder by die kliniek gekry het.”
“Juis.”
“En rol nuwe struikelblokke in die hoofkarakter se pad,” vervolg sy. Ek kon sien haar geheue is terug. “Sersant Broodryk se besoek aan hom op kantoor is een so ’n struikelblok. En sy arrestasie, natuurlik.”
“Dit skep daardie nuwe wending; ek dink sy’t dit ’n subplot genoem.” Belinda het oorgevat.
“En laaste maar nie die minste nie: Bring een of meer mindere karakters in. En dis waar Willie en die sersant inkom.”
“Was daar nog iets?” vra sy met ’n vonkel in die oog.
“Daar was, of liewer daar is.”
“En dit is?”
“Jy’t opgehou krap.”
“Ben,” sug sy.
“Krap nog. Daar waar jou hand nou is.”
“Okay, ek sal krap maar môre help jy my met my storie,” sê sy.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie