
Antoinette Kellerman (foto: Maryna Cotton)
Vanjaar se 22ste Suidoosterfees wat van 30 April tot 4 Mei in Kaapstad by die Kunstekaapsentrum gehou word, se tema is “Kuns is alles” en daar is vele hoogtepunte en debute. Een hiervan is Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk, Verwelkingslied, ’n roerende swanesang wat hy aan Antoinette Kellerman en Marthinus Basson opgedra het. Maryke Roberts gesels met Antoinette oor haar rol in die stuk. Sy is teenoor Dawid Minnaar daarin te sien.
Marí Borstlap is die regisseur en ontwerper en Tessa Louw het Breytenbach se teks vir die verhoog aangepas. Dawid speel ’n dooie digter, herkenbaar as Breyten Breytenbach, wat sy laaste woorde aan die teaterwêreld lewer, waarin hy sy dood en begrafnis beskryf. Antoinette speel die rol van ’n ou verhoogaktrise.
Breytenbach is in November 2024 oorlede en sy laaste toneelstuk is spesiaal vir die Suidoosterfees geskryf en sou verlede jaar met die fees se mondigwording opgevoer word. Dit het egter nie gebeur nie en debuteer nou vanjaar daar.
Die feesprogram lui as volg:
’n Ko-produksie van Suidoosterfees & Momentum Beleggings Aardklop; moontlik gemaak deur NATi & Het Jan Marais Nationale Fonds. In Breytenbach se laaste toneelstuk word ons op reis geneem deur die meester wat homself by sy eie begrafnis voorstel. Breyten tree hier in ’n bewussyn-verruimende asook intieme gesprek met ’n ou verhoogaktrise. Vir oulaas wil hy álles opweeg – maar kan die ou aktrise sy laaste woorde na waarde vertolk?
Dat sy stuk in Afrikaans oor sy eie begrafnis in die Moederstad opgevoer word – 52 jaar nadat hy en sy vrou in 1973 die Sestiger-Somerskool aan die Universiteit van Kaapstad bygewoon het en hy sy omstrede uitlatings oor Afrikaans gemaak het – is ’n viering op sigself.
Dié optrede was sy eerste in Suid-Afrika sedert hy in 1960 na Parys is. Hy sê daar tydens die skool voor 800 mense: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind.”
........
“Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind.” – Breyten Breytenbach tydens die Sestiger-Somerskool in Kaapstad, 1973
........
Toe is sy woorde nie goed deur die Afrikaanse regering en baie Afrikaanssprekendes ontvang nie; vandag is hy ’n volksheld en word ná sy dood as die grootste digter en skrywer wat hierdie land nog opgelewer het, geprys.
Louise Viljoen, akademikus van die Universiteit Stellenbosch, skryf met sy dood:
Breyten Breytenbach het in sy poësie herhaaldelik geskryf oor die dood. Reeds in sy eerste gedig, “Bedreiging van die siekes”, gepubliseer in 1964 toe hy maar 25 jaar oud was, het hy hom die toneel van sy begrafnis op ’n nat dag, wanneer “die blare en oorryp blomme gekleur en geknak is van die nat”, voorgestel. En nou het die papierdood werklikheid geword. Met sy dood het die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse letterkunde een van sy mees ikoniese figure verloor. Dit gaan moeilik wees om die omvang van sy bydrae tot die artistieke en intellektuele landskap van Suid-Afrika na waarde te skat.
Breyten, Antoinette en Marthinus het die afgelope paar dekades baie saamgewerk. Enkeles wat uitstaan, is onder meer die veelbesproke toneelstuk Boklied (KKNK, 1998) wat die De Kat-Herrieprys en agt ENB Vita-Streekteatertoekennings vir 1997/1998 wen – vir beste produksie, beste akteur (Dawid Minnaar), beste byspeler (Duma Mnembe), beste byspeelster (Antoinette Kellermann), beste nuweling (Emile Serfontein) en beste regisseur en stel- en kostuumontwerp (albei Marthinus Basson) en beligting (Laddy Czerepowicz).
Ook die bekroonde toneelstuk, Die toneelstuk, waarin Jan Ellis die hoofrol van Dawid gespeel het.
Toneelstukke waaraan Antoinette, Dawid Minnaar en Marthinus saamgewerk het, sluit onder meer in Ek, Anna van Wyk; Mamma Medea; Aars; Macbeth:slapeloos; Bloed en rose; en Die huis van Bernarda Alba.
Breytenbach se vorige teenwoordigheid in die Kunstekaapsentrum was in 2013, toe sy kunswerke deel was van die fees. Die uitgestalde werke op papier, doek en as objekte is ingedeel in 10 vingerverhale en elke “verhaal” het uit ’n aantal werke bestaan; behalwe die vyfde “verhaal”, het hulle meer as een uitdrukkingsvorm oorvleuel.

Antoinette Kellerman (foto: Maryna Cotton)
In Desember 2023 is die Stad Kaapstad se burgerlike eerbewyse vir die eerste keer in 12 jaar toegeken. Breyten het saam met Albie Sachs, Athol Fugard, Pieter-Dirk Uys, aartsbiskop Thabo Makgoba, Brenda Fassie (postuum) en Basil D’Oliveira (postuum) die eerbewys van die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, ontvang vir sy uitsonderlike bydrae tot Kaapstad en die gemeenskap; sy enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse poësie en letterkunde; en sy diepgaande persoonlike opoffering in sy stryd teen apartheid.
Breyten het in sy bedankingstoespraak ’n lang lys name genoem en gesê: “Die lot het almal iets gebring na hierdie sjebien van die see – hoop, behoeftes, drome en sommige het gekom in vrees vir hul lewe om tronk toe te gaan of te sterf. Hulle was hier, het weggegaan en het teruggekeer.”
Net so was hy hier, het weggegaan en keer nou terug met sy laaste toneelstuk.
Vrae vir Antoinette:
MR: Waar het jou pad die eerste maal met Breyten s’n gekruis?
AK: Ek ken Breyten se poësie van my US-dae af. Na sy vrylating uit die gevangenis, het ek en ’n vriendin by KRUIK ’n program saamgestel uit sy werk tot en met die verskyning van Skryt. Om die stilte te verbreek het deur die Oos-Kaap, Vrystaat en Wes-Kaap getoer. Baie jare later is ek genader om deel te wees van Boklied. Breyten en Yolande het ’n repetisie in Oudtshoorn bygewoon. Twee jaar later het Die toneelstuk gevolg. Ek was gereeld betrokke by voorlesings by die Breytenbach-sentrum wanneer nuwe bundels bekendgestel is. In 2008 is ek en Breyten deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer en het ons ’n spesiale tydjie deurgebring. Hy is en was nog altyd vir my ’n uitsonderlike digter en baie na aan my hart.
MR: Hoekom kon mens nie “nee” sê om een van sy toneelstukke te speel nie? Wat het jou as aktrise só aangetrek?
AK: Die respek en die liefde wat ek vir hom en sy werk het.
MR: Wat het jou die meeste van hom bekoor?
AK: Praat jy van sy werk of van die man, Breyten? Dan is my antwoord op albei: die respek en die liefde wat ek vir hom en sy werk het. En ek verwys hier ook na sy hele oeuvre.
MR: Wat was jou gunsteling-Breytenbach-stuk waarin jy gespeel het?
AK: Ek het in twee stukke van hom gespeel en altwee was uiters uitdagend en alhoewel nie noodwendig suksesvol nie, was dit ’n innige en lewensveranderende ervaring.
MR: Hoe het jy gevoel dat hy sy laaste toneelstuk aan jou en Marthinus opgedra het? Is dit ’n eer of ’n moeilike verantwoordelikheid wat verwagtinge skep waaraan jy bang is jy nie kan voldoen nie?
AK: Dis baie spesiaal dat hy sy laaste teks aan my en MB opgedra het. Dis ’n digte teks, maar ek staan nie terug vir die verantwoordelikheid of uitdagings van die teks nie.
........
As jy van BB se woordkuns en teater hou, maak jou gereed vir ’n interessante reis deur ’n groot kunstenaar se kreatiewe padkaart van ’n geleefde lewe.
........
MR: Hoe moeilik is dit om voor te berei vir hierdie stuk en te weet hy gaan dit nooit sien nie?
AK: Ek het al met baie ontslape dramaturge of digters se werk te doen gekry, en dat Breyten dit nie gaan sien nie, maak dit nie moeiliker nie – net meer dringend om reg daaraan te laat geskied. Soos met enige teks.
MR: Hoekom is Marthinus nie die regisseur nie?
AK: Dis ’n vraag vir die SOF-bestuur.
MR: Hoekom kan ek nie bekostig om die stuk mis te loop nie?
AK: As jy van BB se woordkuns en teater hou, maak jou gereed vir ’n interessante reis deur ’n groot kunstenaar se kreatiewe padkaart van ’n geleefde lewe.
MR: Hoekom is die Suidoosterfees die geskikte fees vir hierdie stuk?
AK: Verwelkingslied was ’n opdragwerk deur die SOF en dis nie net die Suidoosterfees wat geskik is vir die produksie nie, maar die hele land en al die feeste. Die SOF was dapper genoeg om dit na die Kaapse teatergehore te bring. En dit behoort ’n raklewe te hê van ten minste twee na drie weke.
MR: Wat het jy by Breyten geleer wat jy saam met jou dra?
AK: Sy liefde vir die taal.
MR: Wat is die onderliggende boodskap van hierdie toneelstuk wat jou sal bybly lank ná die stuk nie meer speel nie?
AK: Dis nie ’n preek met ’n onderliggende boodskap nie. Dis ’n teaterervaring met ’n skeppende regisseur en twee veteraanakteurs wat eer betoon aan ’n groot woordkunstenaar. En lank na die stuk nie meer speel nie, sal ek dit in my geheue herleef en dit weer en weer wil ontgin. Ek sal nooit al die antwoorde kry nie.
- Verwelkingslied speel op 30 April om 14:30, 1 Mei om 20:30 en 2 Mei om 10:00 in die Phoebe Gerwel Arena. Kaartjies kos R150 elk. Meer inligting by: https://www.suidoosterfees.co.za.
Lees ook:
Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien
KKNK en Suidoosterfees 2025: ’n Bespreking van Sonde met die spoke deur Marianne Thamm
Suidoosterfees 2025: Hoek, lyn en sinker – ’n onderhoud met Nelandi Boshoff
Suidoosterfees 2025: Liewe Heksie en die wals – ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck
Persverklaring: Suidoosterfees bied ’n groot verskeidenheid opwindende teaterproduksies
KKNK 2024-teaterresensie: Die stoele ontleed die absurditeit van belangrikheid eerlik
The post Suidoosterfees 2025: Verwelkingslied – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann first appeared on LitNet.
The post Suidoosterfees 2025: <em>Verwelkingslied</em> – ’n onderhoud met Antoinette Kellermann appeared first on LitNet.