Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21695

Springmielies: Oor kuberboelies en keyboard warriors

$
0
0

Foto: Pexels

Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Ons almal onthou daardie speelgrondboelie (gewoonlik ’n seun) wat ander kinders, kleiner of weerloser, afgeknou het. Soms het dit gelei tot ’n geveg (agter die pawiljoen of fietsloods) ná skool, of tydens langpouse. “Fight! Fight! Fight!” sou sommiges geskree het, aangevuur deur die adrenalien van jeugdige geweld. As ek terugdink aan sulke insidente op skool, krink ek ineen. ’n Boelie word verkeerdelik verwar met ’n alfaman of -vrou (en ja, daar is vroulike boelies ook). Meisies wat met dieselfde taktiek ander meisies probeer seermaak of verneder. Ek het op skool hierdie meisies, kleiner of tengerder, probeer beskerm teen boelies – en het meermale self met blou kolle of skrape daarvan afgekom. Maar vir my was dit ’n beginselsaak.

In Amerikaanse films sien mens hierdie tienerboelies, gewoonlik in die gange by die sluitkassies of in die aantrekkamers waar die slagoffers geïntimideer word. Ek dink nou vlugtig aan die film Pay it forward, waarin die kleingeboude Trevor McKinney deurloop onder die brutale gedrag van die (groter) boelies. Die verstommendste is altyd die hoofboelie se meelopers; In die reël is dit seuns wat nie onder andersins “normale” omstandighede weerlose kinders sou boelie nie, maar as betapersoonlikhede meedoen, of aangehits word deur die leier om deel te neem aan hierdie gedrag, want dit gee aan hulle ’n gevoel van sekuriteit en meerderwaardigheid.

En met kuberboeliegedrag is dit dieselfde. ’n Moontlike verklaring vir hierdie verskynsel is dat die digitale wêreld en sosialemediaplatforms ’n mikrokosmos van die samelewing is en gevolglik spontane stratifikasie ondergaan.

........
Span ’n mens ’n soekenjin in om inligting rondom kuberteistering of -boeliegedrag te bekom, val dit op dat by verre die meeste artikels oor hierdie verskynsel handel oor kinders/leerders en veral tieners. Daar is aansienlik minder inligting oor volwasse kuberboelies – wat mens bring by die afleiding dat kuberteistering per se infantiele gedrag is.
........

Span ’n mens ’n soekenjin in om inligting rondom kuberteistering of -boeliegedrag te bekom, val dit op dat by verre die meeste artikels oor hierdie verskynsel handel oor kinders/leerders en veral tieners. Daar is aansienlik minder inligting oor volwasse kuberboelies – wat mens bring by die afleiding dat kuberteistering per se infantiele gedrag is. ’n Volwasse kuberboelie se wangedrag is inderdaad kinderagtig.

Kuberafknouery, in die wydste sin van die woord, behels die gebruik van tegnologie om iemand te teister, te intimideer of te dreig, dikwels deur sosiale media, boodskaptoepassings of ander aanlyn platforms. Dit kan ernstige gevolge hê vir ’n persoon se geestelike en fisieke gesondheid, hulle welstand en selfs hul fisieke veiligheid.

Algemene vorme van kuberafknouery sluit in: die stuur van gemene of kwetsende boodskappe of e-posse; die plasing van foto’s of video’s van die slagoffer, met die doel om die persoon te verneder; die aanlyn verspreiding van gerugte of leuens oor ’n persoon; aggressiewe belediging (flaming) (hierdie vorm van boeliery behels persoonlike  aanvalle en beledigings, vergesel van hoofletters, simbole, grafika, kodetaal en metafore, en emotikons om woede, haat, sarkasme of hoon uit te druk, en dié soort afknouery loop gewoonlik uit op hewige argumente – wat die kuberboelie terdeë geniet, want hy soek aandag, of dit nou positief of negatief is); die uitsluiting van iemand van aanlyn groepe of gesprekke; kuberagtervolging, wat beteken dat die boelie sy slagoffer dophou, volg of monitor, met kwaadwillige bedoelings; naamskending, wat verwys na die daad om lasterlike of vals inligting oor die slagoffer te versprei deur openbare plasings of privaat boodskappe, en om sodoende óf die persoon se reputasie, óf sy verhoudings met ander mense skade te berokken; en vermomming, ’n soort kuberafknouery waarin ’n boelie ’n vals sosiale profiel of rekening skep om ’n persoon anoniem aanlyn te teister. En hierdie lys is nie naastenby volledig nie; dit is skaars die punt van die ysberg.

Aanlyn teistering op sosialemediaplatforms het met ander woorde ten doel om die geteikende persoon te verneder, te intimideer of sy/haar reputasie te skaad. Die platforms waar hierdie boeliegedrag voorkom, is via SMS- en WhatsApp-boodskappe; aanlyn klets- of boodskapprogramme; sosialemediaplatforms (soos Facebook, X, TikTok, en ander), webwerwe en videospeletjiegemeenskappe.

........
’n Mens sidder om te dink dat daar kuberboelies so jonk as agt jaar is!
........

Daar bestaan reeds ’n legio programme, gidse en kursusse vir skoolkinders om hulle teen hierdie aanlyn predatore te beveilig. ’n Platform soos Maroela Media doen besonder baie moeite om ouers, onderwysers en leerders te bemagtig teen kuberteistering – soos die Taai Meraai-program, asook AfriForum se teenboelieveldtogprogramme en kuberboeliegidse. ’n Mens sidder om te dink dat daar kuberboelies so jonk as agt jaar is!

Jeugdiges wat deurloop onder kuberboelies, ontwikkel depressie, angs, ’n swak selfbeeld en ander sielkundige probleme wat op hul beurt lei tot swakker akademiese prestasie en persoonlike funksionering. In die VSA het heelparty tieners, wat deur kuberboelies geteister was, al selfmoord gepleeg.

En alhoewel daar talle beskermende aksies is wat die jeug inlig rondom kuberboeliery, trek volwassenes aan die kortste ent wanneer dit by hierdie gedrag kom. Algemene raad om jouself teen kuberafknouery te beveilig sluit die volgende in:

– Moenie op enige boelieboodskappe antwoord, reageer, kommentaar lewer of die boelieplasings deel nie. Wanneer ’n slagoffer sy kuberboelie “antwoord”, al is dit ook hoe onskuldig, word die slagoffer dalk sélf beskuldig van kuberboeliery, wat in effek neerkom op dubbele viktimisering. Die slagoffer is figuurlik gemuilband.

– Neem, en berg, skermskote van die boelie- en teisteringsinhoud.

– Hou rekord van die datums, tye en gebruikersname van die betrokke persone.

– Berg enige relevante skakels of webwerfadresse (URL’e).

– Blokkeer die persoon wat jou boelie, of verander jou e-pos-adres of selfoonnommer indien nodig.

– Verander jou privaatheidstellings op sosiale media sodat net die mense wat jy ken en vertrou, jou plasings kan sien of daarop kan reageer.

– Rapporteer die kuberboeliery. Die meeste sosialemediaplatforms het ingeboude rapporteermeganismes. Soek vir opsies soos “rapporteer” of “rapporteer misbruik”, en meld die betrokke profiele aan. Verskaf duidelike en gedetailleerde inligting oor die voorval, en heg skermgrepe of ander bewyse aan.

Dit is ongelukkig so dat ’n platform soos Facebook se gemeenskapstandaarde, wat ’n veilige digitale ruimte voorstaan waarin gebruikers mekaar respekteer, ’n mens in baie opsigte in die steek laat. Die algoritmes “verstaan” nie die fyner nuanses van kuberboeliery nie – nie noodwendig in Engels nie, en veral nie in Afrikaans nie. Net soos op die skoolspeelgrond van ouds, is kuberteistering soms so fyn, bedek of subtiel dat dit die slagoffer nie baat om hierdie wangedrag te rapporteer nie, en daar kom dadels van. Ironies genoeg word Facebook se klagteplatform juis deur kuberboelies misbruik vir hul eie teistering – om hulle slagoffers mee te viktimiseer.   

In Suid-Afrika bestaan daar wetgewing om aanlyn gebruikers teen kuberboeliegedrag te beskerm – en regskanale wat in hierdie verband gevolg kan word. Hierdie wetgewing behels die volgende: Protection from Harassment Act 17 of 2011; Electronic Communications and Transactions Act 25 of 2002 (ECTA); Cybercrimes Act 19 of 2020; Film and Publications Act 65 of 1996. Die Grondwet nr 108 van 1996 beskerm insgelyks aanlyn gebruikers, met verwysing na onder meer artikels 9, 10, 12 en andere. Klik gerus op die skakel om meer oor hierdie wetgewing te lees: https://schoemanlaw.co.za/cyberbullying-in-south-africa-a-legal-perspective

As jy seker is kuberboeliery is onwettig, opsetlik en ’n ernstige aantasting van jou waardigheid (soos kuberagtervolging of naamskending), kan dit tot ʼn strafregtelike saak lei. Sou jy (die slagoffer) die boelie wil dagvaar vir crimen injuria of laster, sal dit ʼn siviele saak wees waarin die slagoffer deur ʼn prokureur verteenwoordig moet word. Ongelukkig kan so ’n saak die persoon ’n klomp geld uit die sak jaag. Die slagoffer kan ook aansoek doen vir ʼn tussentydse beskermingsbevel wat toegestaan sal word indien die hof oortuig is dat die respondent (boelie) die aansoeker (slagoffer) geteister het, of steeds teister, en dat dit skade berokken.

.........
Soms is naamskending, laster of crimen injuria só fyn gedoen dat dit haas onmoontlik is om aan ’n polisiebeampte die konteks van die teistering te verduidelik.
.........

In Suid-Afrika is dit problematies om by die SAPD ’n klag teen ’n kuberboelie te lê. Die Afrikaanse taal het baie nuanses, idiomatiese gebruik en “bedekte” betekenisse wat selfs talle moedertaalsprekers sal ontgaan. Soms is naamskending, laster of crimen injuria só fyn gedoen dat dit haas onmoontlik is om aan ’n polisiebeampte die konteks van die teistering te verduidelik.

Kuberteistering is inderwaarheid meer kompleks as wat die meeste mense dink. ’n Kuberboelie kan muteer, soos die draak met die sewe koppe van ouds, en nuwe of ánder vals profiele skep om sy slagoffers mee te teister. En as die hoofboelie se meelopers – almal word nou skielik keyboard warriors – kollektief ’n slagoffer teiken, raak dit moeilik – indien nie onmoontlik nie – om iets aan die saak te doen. Dit is verstommend hoe hierdie aanhangers lustig meedoen aan kuberteistering, dikwels mense van wie jy dit die minste sou verwag. Voel hierdie afknouers skielik magtig, of skuil daar ’n dormante boelie in sommige mense wat tot uiting kom wanneer die baasspeler die leiding met sy kwetsende aanmerkings neem? Kollektiewe kuberboeliery neig na tropgedrag.

........
Hoe lyk die (tipiese) profiel van ’n volwasse kuberafknouer?
........

Nou is die vraag: Hoe lyk die (tipiese) profiel van ’n volwasse kuberafknouer?

Hierdie volwassenes is hulle laat twintiger- tot vyftigerjare, of selfs ouer. Hulle beskik oor ’n gebrekkige emosionele intelligensie en verstaan nie altyd die sosiale gevolge van hulle dade nie.

Terwyl kuberafknouery by mans én vroue voorkom, dui navorsing daarop dat mans meer geneig is om betrokke te raak by direkte, aggressiewe vorme van kuberafknouery, terwyl vroue meer geneig mag wees tot indirekte en agterbakse aanlyn afknouery (soos die verspreiding van gerugte, of sosiale uitsluiting).

Kuberafknouery oorskry sosio-ekonomiese grense en klasverskille. Dit is nie beperk tot ’n spesifieke inkomste- of opvoedkundige vlak nie.

Kuberboelies kan enkellopend, getroud, geskei of weduwees/wewenaars wees. Paradoksaal genoeg mag sommiges sosiaal geïsoleerd of eensaam voel, en aanlyn aggressie gebruik as ’n manier om met netwerke te skakel om aandag te kry, selfs al is dit negatiewe aandag.

Hulle beskik oor ’n gevorderde vlak van aanlyn bedrewenheid.

Sommige kuberboelies mag ’n geskiedenis van fisieke of ander soorte afknougedrag gehad het, byvoorbeeld gedurende hul kinderjare of adolessensie waartydens hulle speelgrondboelies was of waar hulle sélf geboelie was. Hierdie gedragspatroon het dan intussen na die aanlyn omgewing verskuif.

Hierdie mense het lae empatievlakke en sukkel om die emosionele impak van hulle optrede op die slagoffer te verstaan, of ’n duit daarvoor om te gee.

Sommige kuberafknouers mag eienskappe van narsisme vertoon, insluitend ’n gevoel van geregtigheid, grandeur, ’n behoefte aan bewondering, en ’n gebrek aan aanspreeklikheid vir hul optrede. Hulle mag selfs glo dat hulle meerderwaardig en geregverdig is in hulle gedrag. In sommige gevalle kan impulsbeheerprobleme tot boeliegedrag lei.

Kuberafknouery spruit uit ’n begeerte om magtig en in beheer te voel. Volwasse kuberboelies mag individue teiken wat hulle as swakker, kwesbaar of van ’n laer sosiale status beskou. In sommige gevalle kan kuberafknouery teenstrydig met laasgenoemde gemotiveer word, deur afguns of jaloesie teenoor die slagoffer se vermeende sukses, geluk of sosiale status.

Hierdie boelies kan kuberafknouery gebruik as ’n uitlaatklep vir frustrasie, woede of teleurstelling wat spruit uit ander areas van hul lewens (byvoorbeeld werk en verhoudings).

Sommige volwasse kuberafknouers mag impulsief optree deur kwetsende kommentaar te plaas, of deur betrokke te raak by aanlyn teistering sonder om die gevolge te oorweeg. Dit kan ook begin as gevolg van verveling, of bloot uit ’n begeerte vir hulle eie vermaak.

Van hierdie kuberafknouers boelie aanlyn gebruikers uit wraak vir vermeende beledigings of oortredings, werklik of denkbeeldig.

Ongelukkig is dit so dat aggressiewe gedrag in sekere aanlyn gemeenskappe (verkeerdelik) gesien word as ’n manier om status of goedkeuring binne ’n groep te verkry. Die hoofboelie het dan ook talle bewonderaars en volgelinge.

In party gevalle kan volwasse kuberafknouery gedryf word deur sterk ideologiese of politieke oortuigings, wat daartoe lei dat individue diegene met ander beskouings teiken.

Sommige kuberboelies gebruik vals profiele of anonieme rekeninge om hul identiteit te verberg en aanspreeklikheid te ontduik.

Dit is noodsaaklik om te onthou dat elke geval uniek is en dat ’n deeglike assessering van ’n kuberafknouer se agtergrond en gedrag in ag geneem moet word.

Bogenoemde is bloot oorkoepelende eienskappe wat by kuberboelies voorkom; nie al hierdie eienskappe kom by een individu alleen voor nie.  

Uiteindelik is ’n kuberboelie net ’n groot kind wat met die skyngevoel van mag agter sy toestel skuil. ’n Lafaard. Bejammerenswaardig, eintlik; ten spyte van die skade.  

Lees ook:

Springmielies: Intro- en ekstroversie – ’n digotomie, of viering van diversiteit?

Vonnisbespreking: Boelie kry op sy baadjie: Moes die skool gered het?

Ontgroening in skole: ’n ondersoek na gewilde diskoerse

Practical protection orders: How to stop harassment

Digitale dood

Elders gesien: 'n Griefskrif deur Nini Bennett

Doodgeswyg?

Ghosting: In die vallei van doodgeswygdes

 

The post Springmielies: Oor kuberboelies en keyboard warriors first appeared on LitNet.

The post Springmielies: Oor kuberboelies en keyboard warriors appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21695

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!