Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784

Godgegewe opdrag of misplaaste welsyn?

$
0
0

Foto: Aigars Jansons op Pexels

Op ’n winderige herfsdag in 1980 tel ek en my man Tienie ’n briefie op ’n klein enkelvelleltjie papier tussen die murasies van ’n sendingstasie in Zimbabwe op. Tienie het ná die onafhanklikwording van dié land ’n kantoor in Harare vir die destydse Nasionale Pers geopen.

Die sendelinge aan wie hul gelowige vriendin in Engeland dié geselsbriefie gerig het, het ’n paar jaar tevore slagoffers geword van ’n vlaag van vergelding teen hul koloniale regering soos elders in Afrika.

Die brief is gedateer Februarie 1977 en ek het dit vir amper 50 jaar gebêre. Dit het baie rondtrek oorleef, en toe die klein velletjie skryfpapier oplaas weer by my aanmeld tydens ’n noodgedwonge vermindering van besittings, het ek geweet ek kan nie langer wag om sy stil getuienis te deel nie. Ook met die gehate “Kill the boer” weer op die voorgrond en die ANC wat nie bereid is om dit ondubbelsinnig te veroordeel weens vrees vir die verlies van steun uit radikale geledere ter wille van die wins van Afrikanersteun nie, is dit dalk relevant om dit ’n oomblik in die kollig te plaas. Daarby is dit op 18 April 45 jaar sedert Zimbabwe onafhanklik geword het. Is die regering van Suid-Afrika bereid om te leer uit die foute van Zanu-PF se twee regeerders sedert 1980?

........
Die sendelinge aan wie hul gelowige vriendin in Engeland dié geselsbriefie gerig het, het ’n paar jaar tevore slagoffers geword van ’n vlaag van vergelding teen hul koloniale regering soos elders in Afrika.
........

Twee jong getroudes uit Engeland, Sue en Phil Evans, het geroepe gevoel om met hul klein dogtertjie, Rebecca, by ’n sendingskool in Afrika hul Christelike evangelisasie-opdrag te gaan uitleef.

Met die onontbeerlike hulp van Google wat ek nie destyds gehad het nie, soek ek toe die gebeure op en kom af op die joernalis David Ottaway se berig in die Washington Post van 25 Junie 1978 onder die opskrif “Guerrillas slay 12 at Rhodesian Mission School”. Hy noem dit die ergste massamoord van blanke kerkverteenwoordigers in Rhodesië se wreder wordende oorlog.

Die sekondêre skool is bestuur deur die Elim-missie van ‘n pinksterkerk met sy basis in Cheltenham, Engeland. Die sendinggenootskap was in tien lande bedrywig, met vier sendingstasies in Afrika, waarvan drie in die destydse Rhodesië.

Een oggend is vier van die vyf vroulike personeellede oorval en verkrag, en nog een is tot in die bosse gesleep en ook vir dood agtergelaat. Sy is in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem. ’n Man, wat later nie ’n woord kon uitkry nie, het ook net-net oorleef. Hulle is in die middag gevind, maar dit het geblyk dat hulle vroeg die oggend verras is. ’n Byl is in een vrou se rug gelaat en vier klein kindertjies het saamgebondel in hul kamerjassies rondom ’n ander een gelê. Nog ’n man, dalk die 29-jarige Phil Evans, se hande is agter sy rug vasgebind voordat hy doodgekap is.

........
Die moorde was een van ’n reeks aanvalle wat altesame 33 sendelinge en hul gesinne uitgewis het.
........

Die moorde was een van ’n reeks aanvalle wat altesame 33 sendelinge en hul gesinne uitgewis het. Ottaway skryf dit lyk of die terroriste se oogmerk was om die regering van Ian Smith se beheer in die landelike gebiede te ondermyn. Maar baie sendelinge het geglo die guerrillas was Marxiste wat daarop uit was om die Christelike invloed in die land te stuit.

Daar was geen ooggetuies van die slagting nie, hoewel van die leerders vertel het hulle is ’n paar dae gegee om die terrein te verlaat en huis toe te gaan. Dit het later geblyk dat die sendelinge binne dae na ’n veiliger plek verskuif sou word, maar die dringende noodsaaklikheid van die personeel is misgekyk. Rhodesiese veiligheidsmagte het die aanvallers agterna gesit, maar die sendingstasie en skool was geleë in die mistige, bosbegroeide berge suidoos van die destydse dorp Umtali (nou Mutare) op die oosgrens met Mosambiek en die skuldiges het in die buurland in verdwyn.

Die skool se naam? Emmanuel – “God met ons”. Maar hoe kry ’n mens, veral gelowiges, sin gemaak van so ’n slagting van welmenende Westerlinge? Meer nog: As leser van die folteringsverhaal ervaar jy self trauma wat jou lank bybly. Om berusting te probeer vind vir die misterie van God se wil, wonder jy of die oogpunt waaruit hierdie aanvalle beplan en uitgevoer is, bloot boos was. Kon die motivering dalk gekom het vanuit ’n voorvaderopdrag om koloniale onreg te wreek, of iets meer verstaanbaar as bloedlus?

Het die Evanse se vriendin, Joan, wat in haar brief vertel hoe sy en haar man hulle voorberei vir die geboorte van hul eersteling en haar brief afsluit met die woorde “God bless”, daarna besef die ontvangers van Westerse welsyn is nie noodwendig dankbaar vir die “lig” wat sendelinge na Afrika gebring het nie? Dit het immers sedert Bybelse tye deur die geskiedenis met Christene gebeur dat die boodskap wat hulle ongevraag gebring het, met weerstand en selfs moord beantwoord is. Vandag is Christelike kerkplanters, landboukenners en medici steeds besig met hulp in Afrika, maar vermoedelik met sensitiwiteit en respek vir plaaslike waardes.

........
Maar wat dan van die ondubbelsinnige sendingopdrag aan Christene? Hierop is ook nie ’n maklike antwoord nie. Sendelinge na die Nuwe Wêreld het dikwels verskuilde agendas gehad.
........

Maar wat dan van die ondubbelsinnige sendingopdrag aan Christene? Hierop is ook nie ’n maklike antwoord nie. Sendelinge na die Nuwe Wêreld het dikwels verskuilde agendas gehad, soos dié na Suid-Amerika. In 18de-eeuse China was sendelinge dikwels kop in een mus met opiumhandelaars uit Brittanje weens die Britse regering se beleid om verslawende opium aan Chinese te verkoop, want die opbrengs was nodig om die handel in tee moontlik te maak. Tot vandag toe word sendelinge in China nie geduld of vertrou nie, en Westerse kerke word toegelaat om ekspats te bedien slegs op voorwaarde dat hulle die verbod op die bywoning van eredienste deur Chinese streng gehoorsaam.

Zimbabwe met sy groot potensiaal aan erfenis, hulpbronne en veral menslike kapitaal is na amper ’n halfeeu van onafhanklikheid steeds nie op die wenpad nie en tree hardvogtig teenoor enige kritici op. Wanneer gaan hulle dit regkry om ’n beter lewe met meer lewensmiddele vir hul mense te skep?

Ons ken Zimbabwiërs as van die beste werkers in Suid-Afrika wat voordeel trek uit n onderwysstelsel wat in sekere opsigte ons eie oortref. Diegene wat nog daar uithou omdat hulle moet, ondanks tekorte aan voedsel, brandstof en die blokkasie van die internet, is gewoonlik taamlik lankmoedig, maar onlangs juis weer besig met protesoptrede teen hul regeerders vir wie mag en eiebelang al is wat tel.

Lees ook:

Xinjiang – skaakmat?

’n Teologies-etiese oorweging van die christelike sending en die invloed daarvan op morele waardes in Suid-Afrika

Holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis: ’n Pastoraal-hermeneutiese perspektief

The art of prayer (in Zimbabwe)

When a State turns on its Citizens: Mugabe's Zimbabwe: A history written in blood

Nou in die verlede: Rhodesië, Zimbabwe en "die verkeerde kant van die geskiedenis"

Revolution à la Zimbabwe

Zimbabwe: another false dawn

 

The post Godgegewe opdrag of misplaaste welsyn? first appeared on LitNet.

The post Godgegewe opdrag of misplaaste welsyn? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>