Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21804

Gekkedag 2025: Om oor ’n swart hond te struikel

$
0
0

Foto via Pexels

  • LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Jannike Bergh se bydrae hier onder.

Ek het ’n paar jaar gelede my knie erg beseer toe ek in die donker oor ’n swart hond gestruikel het. Die volgende dag moes ek die OR Tambo-lughawe te voet probeer oorkruis. Aangekom in Kaapstad, het die Gardens Mediclinic my op ’n wildegans-gehop agter krukke aan gestuur. Kloofstraat se winkelsentrum – en die apteek met trappe – is ook nie juis disabled-vriendelik nie; mense sal reg deur jou loop, en die enigste sorgsame mense in die dae wat gevolg het, was Uber-drywers. Dit is nie net dat hulle mens in en uit die kar help nie; dit is hoe hulle dit doen, met empatiese lyftaal.

Maar diegene wat my die meeste in die wiel gery het, was Kleinmond Spar se bejaardes op Oukersdag. Daar is nie iets soos trolliegeduld op so ’n dag nie, wat nog as krukke in die pad is van al die Kersfeeskoekies op special. En so betreur ek die mensdom wat mense met beserings of gebreke net nie raaksien nie.

Kort daarna het ek twee Amerikaanse kuiergaste – Emma en Emilie – en weens Suid-Afrikaanse gasvryheid het ek my immobiliteit ontsê en hulle vergesel op ’n rooibustoer. Aangekom by Tafelberg se kabelkarretjie-ingang, staan al die Desember-toeriste in die ry. Almal van hulle. Ek begin mildelik paniekerig raak, want my afknie is reeds tot sy uiterstes beproef, van al die op en af by die bus se trappies. Hier kom ’n personeellid na ons aangestap en roep ons dat ons eerste deurgaan; uiteindelik ’n gelukkie by die ongeluk. Ek het nooit gedink ek sou met kruk-in-hand my weg navigeer bo-op die piek van een van die sewe natuurwonders van die wêreld nie.

Die volgende dag bevind ons onsself in ’n Italiaanse restaurantjie iewers in die stad. Ek is skielik buite myself starstruck toe ek sien dat Sandra Prinsloo saam met ’n vriendin by een van die tafels sit. Ek verduidelik entoesiasties aan my Amerikaanse vriendinne dat Sandra Prinsloo die Meryl Streep van Suid-Afrika is.

Later, op pad uit, loop Emma en Emilie vooruit en wag by die deur. Daar lê ’n hondjie in die pad, so tussen twee aangrensende tafels waar ek moet verbykom. Weens my paranoia oor honde wat in die pad lê en my algemene aanvaarding dat vreemdelinge nie mense in my toestand graag te hulp snel nie, het ek vir ’n rukkie soos ’n kat wat versigtig met sy poot aan water probeer raak, met die een kruk gehuiwer. Dit was vir my onduidelik of ek myself bo-oor die hondjie gaan kry.

En só is dit toe dat Sandra Prinsloo opstaan en die hondjie uit my pad skuif. Emma kyk met ’n deernisvolle glimlag vir my terwyl Suid-Afrika se grande actrice my geloof in medemenslikheid herstel. Steeds starstruck, uiter ek ’n sagte “Baie dankie”. Sy kyk op met haar oë wat glinster soos die helderblou see, en sê: “Plesier.”

Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:

1 April 2025: Gekkedag-uitnodiging

Gekkedag 2025: ’n slang in die gras

Gekkedag 2025: Die hoogtepunt van wanhoop

Gekkedag 2025: Maak vol asseblief

Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby

Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)

The post Gekkedag 2025: Om oor ’n swart hond te struikel first appeared on LitNet.

The post Gekkedag 2025: Om oor ’n swart hond te struikel appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21804


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>