
Foto: verskaf
- LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Renette Vosloo se bydrae hier onder.
My laag-op-die-grond Honda is gepak soos ’n Gypsey-karavaan. Daar hang nog net nie gordyntjies nie. Die kattebak is laag vir laag tussen komberse en handdoeke tot kapasiteit met potte, panne, borde, messe en vurke en als wat ek dink ek gaan nodig hê vir ’n piepklein huisrestaurantjie in ’n klein Vrystaatse dorpie. Ek moes mooi maneuver om die kap se arms beweging te gee met die laaste toedruk en sjoe! Dis in!
My klere, ook laag vir laag, lê op die agtersitplek. Ál my klere. Bo-oor, amper teen die dak, my vere duvet. Net genoeg plek vir die twee katte om lê te kry en te kan uitkyk by die ruite.
Gucci sit voor, haar sitplek ook gestapel met goed, maar nét so dat sy lekker lê en ook goed kan uitloer in die ry.
14 uur se ry lê voor. Ons verlaat die Kaap na ’n nuwe lewe toe, in die Vrystaat.
Die eerste deel is net tot in Beaufort-Wes waar ons gaan braai en oornag by lekker mense. Dit gaan eintlik om die kuier; dis nie heeltemal halfpad nie, maar ten minste breek ons die rytyd op en kalmeer eers bietjie. Min wetende ...
Die kuier hou aan tot na drie (oggendure, dit). Ja. Eina nommer een vir Skof Twee.
Ons vat die pad so skuins na agt. Antie Google “finding best route” met haar irriterende stem tussen my playlist deur.
Man, ek kry swaar. Naar, kopseer. Waar was my kop? Maar joe, ons hét lekker gekuier.
Smaak my ál ons vorder nie so flink soos gister nie.
Ek druk deur tot by Colesberg, met my maag wat al ’n klomp kilometers voor dié plek baie hard met my begin praat. Ek mik na die petrolport net buite die dorp waar mens kan lekker toilet, eet, geld trek en sommer als verfris. Maar ek sit al lig op my sitplek en knyp vir die vale.
Padblokkade. Ek moet links af. My moed en my maag draai skuinsbedonnerd. My hand maak alreeds my beursie oop vir my bestuursliksensiekaart.
Die vriendelike polisieman kom aan en my kop is al by die venster uit; ek smile breed maar wat uitkom, klink so benoud as wat dit nie bedoel was nie. “Oe asseblief, kan dit gou wees, ek benodig ’n toilet, man, die skilpad steek al sy kop uit!”
Die man ruk soos hy lag, kyk skrams my lisensie en sê vir die ander om opsy te staan sodat ek kan draai.
Ek en Gucci het ons draaie geloop. Die mense kloek om my kar vir die twee katte wat uitloer en rustig lê.
Anderkant Colesberg split die pad. Bloemfontein of Senekal. Antie Google sê ek gaan nie Bloemfontein toe nie; ek moet af. My jirre, dis dan ’n grondpad!
Ek stop, bel die mense van Rosendal. Linda, wetende, laat dadelik vir Willem antwoord. Sien, ek het hulle laat location share; hulle kan sien waar is ek. “Hoekom is jy dáár?” Ek hoor die ontsteld staan regop in sy stem. Dis Google! sê ek, ewe onseker-ontsteld. Sal ek omdraai, of is die grondpad nie lank nie ... My kar is laag op die grond! Hy seg nee, jy’s te ver nou; dit sal ’n hengse draai wees. Druk eerder maar die 70 km deur, maar “ry mooi”.
Nou. Kyk. Grondpad is klaar ’n f*-op op sy beste. Maar een bestrooi met klippe wat eintlik miniatuur rotse is, is erger. Dié het ek in die Tankwa met my Audi Quattro al geleer ... Ek hét daai prys al betaal.
Ek wil begin tjank, skaars 200 m in op dié donnerse pad.
Die klippe slaat onder die kar; ek probeer mik na kleineres, ek bekommer my oor die bande! In my geestesoog sien ek al hoe moet ek en ’n boer my hele negosie agter in daai kattebak uitpak om by die spaarwiel uit te kom. Nie mooi daar gedink nie, nè Renette?
Dit kap en klap. Ek sit die musiek onbehoorlik hard; die katte sit vervaard. My gille rol soos sporadiese skokskote uit my keel uit soos ek mik-mik probeer ry met geen sukses.
Skielik ’n blinkswart streep oor die pad voor my. Amper te laat, besef ek dis ’n slang en met my ruit oop probeer ek die javel mis ry. Oor die punt van sy stert! In my truspieël staan daai man bakkop, sissend my agterna en gluur! Nóú is die histerie ’n lag wat ek dink ek kan verkoop aan mense wat klankopnames vir radiostories maak. Op daardie oomblik is ek besig met ’n stemboodskap op WhatsApp na Linda in Rosendal. Sy hoor die slangpetalje eerstehands. Saam met die knope en my verligting dat die arme kêrel nog leef, maar my gewis ter helle vervloek het. Agterna laat weet ek sy moet asseblief nie daai voice note hardop voor haar kinders luister nie.
Die aanwysings na Wepener begin minder kilometers wys, so die einde raak in sig, maar ek weet êrens het ’n moerse ding my kar agter raker as raak geslaan. My blaas is ook nie meer gelukkig nie, maar ná die rinkhals gaan ek nie aftrek en in die veld piepie óf kyk hoe seer Suster Honda gekry het nie.
Hoe bly is ek om duskant Hobhouse ’n teerpad op te klim.
Ai. Ja. Jai. Nog is’t einde niet aan my verdriet. Die slaggate lê geil dwarsoor die pad van links tot regs. Selfs die grondskouer is al be-slaggat. Nou moet ek kies watter ene lyk die gaafste. Ek tjank. Ek gee oor. My moed lê in my blaas wat nou wil bars en in my traankliere. Die streepkat kom lê tussen die ratte, styf teen my bobeen. Sy weet.
Nodeloos. Ons het Rosendal via Ficksburg bereik; die laaste stuk was ’n mooi pad. Maar dit raak al donker en ek wou eintlik nog ’n paar goed by ’n supermark kry, want ons kom by ’n leë huisie aan.
Linda het laat weet sy kry vir my Russians en chips by die Pakistani-winkel en sy het vir my twee bottels koue wyn.
Rosendal hier kom ons vier. Die Vrystaat hier is mooi in die sonsondergang.
Ek het op die grasperk in die donker agter die rooi Swaeltjiehuis my eerste water gelaat op die deel van die aarde wat godweet nie plat en nie maklik is nie.
Maar eind goed, als goed. Dis amper gekkedag; dis einde Maart. Môre skyn die son.
Lees ook:
Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)
The post Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby first appeared on LitNet.
The post Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby appeared first on LitNet.