Die Kaapse rockgroep Kelderflux, besaai met ervare musikante, stel binnekort amptelik hul eerste album bekend. André Terblanche, hoofsanger van die groep, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, André. Hoe's dinge?
Hi, hi, lekker dankie. Kan nie kla nie.
Du Toit Kemp, André Terblanche, Wietsche Calitz en Wilken Calitz
Die amptelike bekendstelling van Kelderflux se eerste album vind eersdaags plaas – geluk daarmee! Dit is ’n besonder ongewone en interessante versameling snitte – byna elke song voel of dit deur ’n verskeidenheid fases of hoofstukke beweeg, en tog voel dit of als op die ou end gemaklik inmekaar vloei. Hoe het julle die beplanning van die album en die songs aangepak in daardie opsig? Wou die lede van Kelderflux hê daar moet deurlopende temas of elemente aangeraak word in die lirieke en die musiek self, of was dit maar ’n vat-dit-soos-dit-kom situasie? Terugskouend hierop, dink jy julle sal enigiets omtrent die beplanning- en werkproses verander met die oog op toekomstige albums?
Baie dankie. Ons hou van ongewoon en interessant. Dit was vir ons belangrik dat daar ’n sinergie vorm tussen die storie of opinie wat die lirieke vorm en die klank wat die musiek meebring, sonder om noodwendig te dink aan die konvensies van wat kommersieel in aanvraag is. Suid-Afrika is egter ’n deurlopende tema in die album, so ek sal sê die enigste kriteria was die gegewe: ons is vier bevoorregte wit Suid-Afrikaanse mans wat reflekteer op ons omgewing en ons onderskeie ervarings daarbinne. Wilken was verantwoordelik vir die meerderheid van die musiek en lirieke, met Wietsche wat twee songs geskryf het en dan het ek hier en daar saamgeskryf en help ontwikkel aan die musiek.
Ek dink oor ek en Wilken al vir baie lank saamwerk in die teater- en musiekbedryf, het hy die musiek en lirieke benader met my stem en spesifieke vertolking, sowel as Wietsche se amazing tegniese skills in gedagte. Aanvanklik was dit net ek, Wilken en Wietsche wat die album ontwikkel het en het ons ná die albumopname besluit om ’n drummer by te kry vir live optredes. Dit is waar Du Toit bygekom het. Ek dink tog die andersheid van die musiek het baie te make met die verskillende agtergronde waaruit ons kom en die diversiteit van wat elkeen van ons na die tafel bring. Wietsche is byvoorbeeld ’n elektroniese ingenieur van beroep, ek kom uit ’n teateragtergrond en Wilken oorspronklik vanuit ’n klassiekemusiek-agtergrond. Wilken het natuurlik te veel kwalifikasies om op te noem (bless his soul), maar ek sou sê dit is sy agtergrond in skeppende skryfkuns en musiekkomposisie vir die teater wat sy bydrae so besonders maak.
Ek dink in die toekoms sal ons meer aandag gee aan die elemente van wat musiek meer toeganklik oftewel meer verbruikersvriendelik maak, sonder om in te boet op gehalte. Ek glo daar is ’n middeweg te vind tussen iets betekenisvol en massaproduksie. Ons beoog om in die toekoms meer saam te jam en gelyke kragte in te span in die skryfproses.
Die diversiteit van die songs verdien nog ’n nadere kyk ... Songs soos "Big man" en "Not alone" voel asof dit tuis sal wees op enige radiostasie, in terme van die treffer-elemente wat dit bevat, terwyl andere, soos "Ayisafani" en "(Hypotheses non) Fingo" veel meer ... ek skat intellektuele pogings is wat die luisteraar eerder met herhaalde luisterslae beloon as met daai saamsing-kwaliteit. Het julle spesifiek ’n strategie gehad in terme van ’n balans tussen treffers en dan ook snitte wat meer uitdagend is vir julself? Het jy en die band ’n filosofie van wat ’n meer radiovriendelike (ek weet dis ’n aaklige woord) song moet bevat, of hoe beskou jy die saak? Wat die "moeiliker" songs betref – op watter maniere hou jy en die res van Kelderflux spesifiek daarvan om julself uit te daag in terme van die musiek en wat die snitte te sê het?
Nee, ek glo as ’n mens eerlik en oopkop te werk gaan, gebeur dit vanself dat sommige songs oor meer trefferelemente beskik en ander dalk meer avant-garde voorkom. Ons almal is soms cool en soms effens af. As al die songs op jou album dieselfde klink, kon jy dieselfde gesê het in ’n single. Daar is wel sekere sogenaamde formules wat gevolg word om musiek meer “radiovriendelik” te maak, maar ons het met hierdie album probeer om daardie slaggate mis te trap. Ek glo die doel agter ’n album is juis om van die vryheid gebruik te maak om jou gehoor deur verskillende vlakke van bewustheid te neem, sommige lig en sommige meer donker. “Big man” het byvoorbeeld te make met substance abuse (''dwelmmisbruik'' klink effens pretensieus) en “Fingo” verwys na Kafka se “A report to an academy”.
Jy kan seker sê daar is ’n eksistensiële element teenwoordig in die meeste van die songs. Amper asof dit musikale besinnings is eerder as radio hits. Tog is konvensies soos die lengte van die songs, die toonkleur van die instrumentasie en die relevansie van die lirieke en betrokke temas in oorweging gebring met die meer radiovriendelike songs.
Wat die uitdagings wat ons aan onsself stel betref, dink ek ’n song soos “Prophet House Party” is nogal waaghalsig en in jou gesig. Definitief nie baie polities korrek nie. Die vocal lines of singbaarheid van sekere van die melodieë was vir my besonder uitdagend. Wilken het daarin geslaag om my soms so hoog te laat sing dat slegs honde en dolfyne sommige van die note kan hoor. Tog was dit ’n ongelooflik kreatiewe en vervullende ervaring. Vertolkingsgewys het ek die vryheid gehad om van verskeie stemregisters gebruik te maak, Wietsche kon eksperimenteer met die crazyste analoog synth-klanke en Wilken kon sy ongesensorde mening lug terwyl hy viool en elektriese kitare laat dans.
Die albumbekendstelling vind wel binnekort plaas, maar die 10 snitte wat Kelderflux tot dusver beskikbaar het, is al byna ’n jaar lank op Soundcloud beskikbaar vir enigiemand om na te luister. Dit lyk ook of die band tot dusver relatief onder die radar bly in terme van sosiale media en ander webaktiwiteite. Wat is of was julle plan in hierdie opsig? Hoe beskou jy die waarde van sites soos Soundcloud en hoe dit dan saamwerk met meer tradisionele albumvrystellings, veral met jul ongewone aanslag in ag genome? Dink jy julle sal voorts met die webplatform meer dikwels singles vrystel, of bly daar vir jou waarde in die aanslag wat ’n groot versameling – effektief ’n album – behels?
Wat hierdie album betref, was dit geskik om al die songs saam as ’n eenheid uit te reik. Dit kan as losstaande songs geniet word, maar ek dink die onderliggende gesprekvoering tussen sekere van die snitte kom meer na vore wanneer jy dit as ’n geheel ervaar. Ek wil glo dit is meer soos ’n road trip as ’n dag see toe.
Ons beplan om meer gebruik te maak van sosiale platforms en ander netwerk- en bemarkingshulpmiddele. Vir eers wou ons die album ’n ruk laat asemhaal en het ons dit wel hier en daar uitgegee aan vriende en medemusikante om te hoor hoe dit met die publiek resoneer. Soundcloud was natuurlik perfek hiervoor. Die songs was beskikbaar om na te luister, maar taamlik onder die radar, tot ons gereed was vir die amptelike album launch, lewende optredes en alles wat daarmee gepaardgaan. Van die begin af was die idee om nie gejaagd of enigsins verplig te voel met die skep van die album nie. Dit was dalk juis oor ons elkeen afsonderlik al vir so lank aan ander mense se projekte werk dat Wilken spesifiek ’n ruimte wou skep waarbinne hy, en later ons, kon werk aan ons eie stuff, met die mense wat ons mee saam wil werk, oor die temas wat vir ons saak maak, binne die klank wat ons as interessant en uitdagend beskou. ’n Tydsame, maar bevrydende eksperiment.
Ons wil ook moontlik afwyk van die tradisionele albumvrystelling, waar die betrokke band die album opvoer aan ’n klompie belangstellendes wat hopelik met die album huis toe gaan en aan die wêreld verkondig hoe great die free drinks en snacks was. Ons wil egter graag hê ons gehoor moet engage in ons gesprekvoering en besinnings. Ons het ’n paar ape in ons moue geprop wat ons later in verband hiermee sal uitlaat.
Saam met jou in Kelderflux is verskeie gesoute musikante wat nie vreemdelinge aan LitNet is nie – onder meer die broers Wietsche (ook bekend as Rembrandt) en Wilken Calitz (bekend as die Chromatique-kitaarspeler en lid van Die Skynmaagde). Hoe het julle as groep bymekaargekom? Hoe werk die dinamiek binne Kelderflux in terme van besluite wat geneem word oor die musiek – die strukture, hoe dit moet klink, en dies meer? Is daar ’n spesifieke skryf- en opnameproses wat die beste vir julle werk, of is dit meer ’n onderliggende gedeelde filosofie wat dit alles onderstreep?
Wilken was beslis die inisieerder van die kollektief wat ons later besluit het om Kelderflux te noem. Soos genoem, het Wilken die meeste van die songs geskryf. Ek sou sekere van die melodielyne effens aanpas om dit meer performable te maak en eksperimenteer met alternatiewe en interessante harmonieë. Wietsche het twee van die snitte geskryf, speel bass op die album en was die engineer wat al die tracking gedoen het. Ons het basies sy hele huis oorgeneem en alles daar self getrack. Die badkamer is ingerig met matrasse, komberse en ander klankabsorberende huishoudelike items en het gedien as vocal booth. Wilken se guitar amp is in die kelder onder Wietsche se huis toegerol in komberse, opge-mic en oop gecrank, met ’n lang draad wat alles aan mekaar verbind. Wietsche het ’n arsenaal analoog synths, meestal wat hy self gebou het, drum machines en midi controllers ingespan om die klank verder te manipuleer en te eksperimenteer totdat die gewenste klank gevind is of iets meer interessant kop uitgesteek het. Selfs ’n Woodstock kriek feature as session muso op die album. Uiteindelik is die tracks gemix deur Jürgin von Wechmar van Sunset Recording Studios en gemaster deur Tim Lengfeld. Wilken sou, soos hy besig is met ’n song, ’n rowwe mix of guide vir my stuur, ek sou daarna luister en dan sou ons saam ’n guide opneem – hy op kitaar en ek op vocals – wat dan gebruik sou word om die geography en orkestrasie van die song uit te werk.
Ons het natuurlik baie moontlikhede oorweeg in terme van struktuur en komposisie, tot in die fynste besonderhede. Elkeen het deel gehad hieraan. Niks behoort ongemotiveerd te wees nie. Tensy dít natuurlik gemotiveer kan word … In die toekoms sal ons die ontginningsproses egter ietwat anders benader. Ons sal reg van die begin af meer workshop aan songs en meer stemme toevoeg. Ons nuwe uitdaging is dus om opnuut ’n sinergie te vind tussen die vier van ons en ’n produk te lewer wat resoneer met ander Suid-Afrikaners en selfs oorsee. Met ander woorde iets wat betekenisvol en oorspronklik is, maar aanklank vind by ’n groter gehoor.
Jy het drama op universiteit studeer en het ook opleiding in klassieke sang ontvang. Nou is jy die voorsanger van ’n pop rock groep. Dis duidelik uit die opnames dat jy oor ’n geweldig sterk stem beskik en ook nie skrik vir oktaafspeletjies nie. Is daar spesifieke elemente uit jou agtergrond in klassieke sang wat jy toepas in die Kelderflux songs? Wat sou jy sê is die moeilikste spronge om te maak tussen klassiek en rock, beide in terme van mindset en wat jy met jou longe en stembande doen? Wat is die sterkste raakpunte en hoe sal jy dit nog in die toekoms wil verken?
Sangtegniek is besonder belangrik ongeag watter genre jy sing. Dit ontsluit meer moontlikhede in terme van dinamiek en vertolking. My grootste uitdaging was om buite die konvensies van ’n goeie afgeronde vertolking te dink en eerder te fokus op hoe eerlik die vertolking is en wat met frasering moet gebeur. ’n Goeie asemstut is ook baie belangrik, veral in ons musiek, aangesien die vocal performance redelik uitdagend is in sekere songs, soos byvoorbeeld in “Bright baloons” en “Fingo”. Die plekke in jou gesig, keel en bors waar die klank resoneer is ook anders in alternatiewe musiek, so dit was iets om aan gewoond te raak. Ek dink jy vat dit raak wanneer jy die woord “mindset” gebruik. As jou tegniek solid is, kan jy ’n ander mindset aanneem en jou stem verken. Die lirieke was ook nie aanvanklik baie liries of maklik singbaar nie. So frasering was ’n baie belangrike komponent en ek moes hier en daar versigtig wees met te veel vibrato.
In die toekoms sal ek graag nog wil eksperimenteer met falsetto, en in teenstelling met die grootsheid van die vocals op baie van die tracks sal ek graag wil verken hoe intiem en gestroop ’n mens met die stem kan gaan, sonder om te isoteries te gaan. Baie sangers hou van ’n sekere klank of van ’n spesifieke vocalist se vibe en probeer dit naboots. Ek dink egter jy verraai jouself en jou gehoor wanneer jy dit doen. Alles wat jy is tot op die oomblik wat jy op die verhoog staan, is wat jy het om vir jou gehoor te gee. Om dit te onderdruk en jou stem te vervorm tot ’n klank wat jy dink cool is, is nie net vals nie, maar ook gevaarlik. Dit kan dikwels daartoe lei dat die stem onder te veel druk funksioneer en op ’n dag net ingee. Cito van Wonderboom is die perfekte voorbeeld van ’n vocalist wat die uniekheid van sy stem koester en verken. Nie net het hy ’n ongelooflik groot omvang ontsluit deur met sy stem te eksperimenteer nie, maar hy pas dit ook goed op. Die idee dat ’n rock star daagliks twee pakkies filter moet rook vir daai outentieke karaktervolle Marge Simpson-stem klink dalk baie hardcore in ’n onderhoud, maar jy gaan êrens inboet op iets.
Dit is nooit ’n maklike tyd vir ’n nuwe band om vinnig naam te maak in Suid-Afrika nie, maar dit voel of dinge veral op die rocktoneel deesdae stil is, of bloot so vinnig verander dat ’n mens nie meer weet watter platform wat bied nie. Wat is jou gevoel oor die toestand van die Suid-Afrikaanse musiektoneel? Wat is lekker, en wat is aaklig? Wat dink jy is Kelderflux se ideale posisionering op hierdie landskap, en hoe kan dít bereik word?
Ek dink nie vinnig naam maak is op ons agenda nie. Ons wil graag in die toekoms stadium gigs doen, maar is bereid om deur die vuurdoop te gaan. Die een sy van die Suid-Afrikaanse musiektoneel is besonder verbruikersgedrewe en moeilik vir my om mee te assosieer. Ek het die laaste paar jaar vryskutwerk gedoen op baie verskillende projekte, van Afrikaanse radiovervolgverhale tot kinderliedjies vir apps tot sing saam met simfonie-orkeste, en een ding is seker: as jou musiek nie geld maak nie, kan jy nie eet nie. Ongelukkig gee dit lewe aan opportuniste met meer bemarkingsvaardighede as musiekvernuf, maar ook frustreer dit genoeg musiekentoesiaste om ander bands en nuwe musiek te gaan opsoek. Die musiektoneel in die Kaap is baie inklusief en eksklusief gelyktydig. Daar is soveel klein nisvertonings dat daar letterlik iets is vir almal.
Die uitdaging is egter om, indien jy dit jou beroep wil maak, aan planne te werk om dit hoofstroom te bemark. Ek dink die gemiddelde Kelderflux-luisteraar, met verwysing na die eerste album, sal min of meer die tipe mense wees wat ons in die band is. Ouderdom 25–40 jaar, middelklas, moontlik educated, liberaal – en dalk ook glad nie dit nie. Ons is nie noodwendig ’n rock band nie, maar ons musiek beskik oor elemente vanuit baie verskillende genres en ek glo dit is wat dit redelik toeganklik maak. Uiteindelik gaan al die songs oor Suid-Afrika, so ons glo enige Suid-Afrikaner sal ’n onmiddellike assosiasie ervaar, tog sal ons graag die internasionale mark wil betree en stadium gigs wil doen.
Kelderflux het nog nie ’n magdom optredes agter die rug nie, maar in die enkeles, en dan ook jou vorige optredes (in verskeie hoedanighede), moes daar seker ’n paar onvergeetlike oomblikke gewees . Enige spesifieke hoogtepunte vir jou? Enige gebeure te vreemd om waar te wees (maar tog is)?
Ja, die ryk tannies hou daarvan om my en Wilken te betas wanneer hulle volstoom op die wyntrein is, maar ek dink Wilken hou daarvan … Ek het onlangs by ’n wynfees in die Breedekloof opgetree waar ’n ouer vrou reg voor my kom staan het terwyl ek sing, met haar selfoon basies 30 cm van my gesig af, besig om ’n video te neem, terwyl sy uit volle bors saamsing en luid verklaar sy het ’n BMus met baie vibrato en ’n geaffekteerdheid in haar stem. Die tannie was oor die ses voet en die enigste ongewenste persoon saam met my op die stage. Ek was bang. Ek vermoed almal was bang, want niemand het haar verwyder nie. Natuurlik is club gigs ook altyd moeilik. Menige ongebalanseerde student wat jou kitaar wil “uit try” terwyl jy besig is om die intiemste song in jou set te speel. En dan natuurlik daai een ou wat jou vertel van elke indie en underground band denkbaar, die modelname van Lego-kitare, pedals en amps verbatim resiteer en uiteindelik vra of jy vir hom R30 het vir nog ’n bier en moontlik ’n lift kan gee huis toe.
Hoogtepunte is natuurlik wanneer jy ’n lekker sound guy het en al die gear werk. As daai stuff uitgesorteer is, kan die magic gebeur.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir André Terblanche en vir Kelderflux, in so verre jy en jou medebandlede dit kan beheer?
Ons hoop mense daar buite vind aanklank by die album en wil graag meer Suid-Afrikaanse stories hoor. Die amptelike album launch vind eersdaags plaas, so mense kan op die uitkyk wees daarvoor. Ons beplan iets buitengewoon en interessants. Intussen het ek onlangs my oupa se musiekwinkel oorgeneem in die Paarl en begin werk aan ’n paar original tracks wat ek by Jo Ellis in Ladismith record het. Baie lekker trip om te maak en kan dit vir enigiemand aanbeveel. Wilken en Wietsche het beide onlangs pa geword, terwyl baie girls wens Du Toit kan die pa van hulle kinders word, wanneer hy as drummer optree vir Assembly, ’n ander band waarby hy betrokke is.
Onmiddellike toekomsplanne vir Kelderflux: bemark die album, perform die album, wees die album. Verdere toekoms: collaborate met ander kunstenaars en vestig onsself in die internasionale mark. Verre toekoms: neem die wêreld oor (sinister laughter follows).
Wat is die sin van die lewe?
Blou Halls. Dit maak alles beter.
The post Kelderflux: "Ons hou van ongewoon en interessant" appeared first on LitNet.