Titel: My low carb-kombuis
Skrywer: Vickie de Beer
Uitgewer: Quivertree Publications, 2016
ISBN: 9781928209539
My low carb-kombuis van die kosskrywer en sjef Vickie de Beer is gebore uit ’n leefstylverandering vir haar gesin toe haar seun, Luca, met tipe 1-diabetes gediagnoseer is. Die boek is ’n ware reddingsboei vir soveel mense wat sukkel met te veel suiker en koolhidrate in hul dieet, maar nie weet hoe om die patroon te verander nie.
My low carb-kombuis is ’n maklike, toeganklike, stap vir-stap-gids tot ’n laekoolhidraatlewenstyl. Dit verskaf riglyne oor watter kos om uit jou dieet te sny en wat om in te sluit vir optimale gesondheid en hope energie. Met meer as 50 resepte, weeklikse maaltydplanne en inkopielyste om jou vinnig op dreef te kry, kan dit werklik jou lewe verander.
Vickie het by die bekendstelling van die boek by Quivertree se kantore in Claremont aan gaste verduidelik dat jy steeds gesond en lekker kan eet sonder al die suikers en koolhidrate waaruit meeste gesinne se daaglikse spyskaarte bestaan.
Sy het ontbyt bedien waar daar geen koolhidrate of suikers bygevoeg is nie, met onder meer tuisgemaakte joghurt en bessies, gebakte eiers met spek en vars koffie.
Sy gee in haar boek alternatiewe vir disse soos hoenderpastei se deeg, tuisgemaakte joghurt sonder suiker, koeke wat met amandelmeel gebak word en selfs alternatiewe vir lasagne wat sonder meel gemaak word. Sodoende kan jy ’n gebalanseerde maaltyd sonder die graan en suiker beplan.
Die idees vir kinderkosblikke is ook van groot hulp sodat kinders genoeg energie het vir die skooldag sonder die kortstondige hoogtepunte wat deur suiker veroorsaak word.
Vickie de Beer is reeds 13 jaar lank al betrokke by die ontwikkeling van voedsame resepte as kosskrywer en kosstilis. Haar vorige boek wat deur Quivertree Publications uitgegee is, The Low Carb Solution for Diabetics met pediatriese dieetkundige Kath Megaw as medeskrywer, het verlede jaar die Sunday Times se toekenning vir Kookboek van die Jaar gewen.
Die boek wys ook hoe ’n laekoolhidraatdieet kan help met seliaksiekte, diabetes, chroniese moegheid, gluten-intoleransie en inflammasie.
Vickie is tans kosredakteur van Rooi Rose en is ook reeds drie keer bekroon met die toekenning Galliova Food Writer of the Year.
Foto’s: Clifford Roberts
The post Boekresensie: My low carb-kombuis deur Vickie de Beer appeared first on LitNet.