Daar is, reg of verkeerd, ʼn ontluikende narratief onder sommige Suid-Afrikaners dat dit onafwendbaar is vir die ANC om in die afsienbare toekoms te skeur om hom van sy huidige verknorsing te bevry en te steriliseer.
Dié sentiment eggo nie net uit die geledere van die ontluikende binne- en buiteparlementêre opposisie nie. Dit is ook nie net ʼn vermaaklikheidsklaaglied uit die geledere van die agtergeblewene en lui-denkende reaksionêres nie.
Uit die ANC se blomtuin van redelikes weergalm dié gemoedsuiting versnellend. In so ‘n mate dat ʼn mens hoop dat dié redelike stem binnekort oor die korrupte, hebsugtige en arrogante bliksems gaan seëvier.
Winnie Madikizela Mandela (80) het die ander dag gewys sy het nog nie haar aanvoeling vir die politieke argitektuur van die land verloor nie. Sy het, soos dit ʼn ware leier betaam, na vore getree. Die probleme van die ANC erken. Verantwoordelikheid aanvaar. En trots verklaar: “Ek is die ANC.”
Madikizela Mandela met haar politieke bewussyn, wie weet hoe om deur die politieke landskap met sy slaggate en landmyne te navigeer, is geen politieke naïewe nie.
Ja, miskien het sy met haar “Ek is die ANC”-uitlating die kuns van alle moontlikhede soos enige politikus beproef. Maar sy weet goed haar sukses as politikus (en ook die ANC s’n) lê opgesluit in die smee van vriendskappe oor politieke, rasse- en etniese grense heen. Met die opposisie, met dissidente binne die ANC en selfs met die reaksionêres.
Sy het goed gedoen om verlore steun en aansien vir die ANC vir ʼn wyle terug te wen, met die onderliggende nuanses van haar boodskap duidelik. Neem verantwoordelikheid en herstel die ANC weer tot in sy volle glorie wat in diens staan van menslikheid, geregtigheid en nederigheid.
Die ANC se grootste probleem is egter dat hy sedert 1990 ʼn ongemaklike deelnemer op die politieke verhoog is. Dié organisasie verkies om wydsbeen as ‘n politieke party én as ʼn bevrydingsbewing bekend te staan. Nie dat die ANC nie oor die intellektuele, rigtinggewende en strategiese vermoëns beskik om homself suksesvol te herskep nie. Ek dink liewer die etiket om as Afrika se oudste bevrydingsbewing bekend te staan is bloot te sentimenteel om prys te gee.
Dié onwilligheid is onlangs deur Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal, bevestig toe hy gesê het: “Ons is steeds halfpad ʼn bevrydingsbeweging en net halfpad ʼn regerende party.”
Met ander woorde, die ANC is ʼn onwillige regerende party. En onwillige deelnemers aan enigiets is selde suksesvol.
Neem byvoorbeeld Allan Hendrickse en Allan Boesak wat deur die politieke omstandighede van apartheid uit hul gemaksone van die kerk tot binne die politiek geslinger is. Hulle was in wese onwillige deelnemers aan die politiek wat nooit in werklikheid ʼn deurwinterde politieke strategie gehad het nie. Hulle het, soos die meeste predikante en teoloë, gewerk vanuit ʼn teologiese raamwerk wat min of geen ander sosiale invloede in berekening gehou het nie. Hendrickse was byvoorbeeld van weifelende leierskap beskuldig omdat hy nooit oudpresident PW Botha hardhandig (soos PW hom behandel het) kon teenstaan nie.
Ter verdediging van dié twee groot kolosse moet ek tog byvoeg dat hulle (soos dit van alle predikante, geestelike leiers en teoloë vanweë hulle beroep verwag word) mense vanuit ʼn “menswaardigheidshoek” behandel het.
Dus, die ANC sal hom spoedig tot ʼn volle moderne politieke party moet transformeer en van korrupte en arrogante elemente moet suiwer, anders gaan die party disintegreer.
Om verandering teweeg te bring moes die Nasionale Party hom in die laat sestigerjare en vroeë tagtigerjare suiwer van verregse elemente soos Albert Hertzog, Jaap Marais, Andries Treurnicht, Ferdi Hartzenberg en andere wat die Herstigte Nasionale Party (1969) en die Konserwatiewe Party (1982) tot stand laat kom het.
Nou is dit die ANC se beurt om homself te suiwer.
The post Skeuring van die ANC? appeared first on LitNet.