Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Op 'n goeie dag in die vroeë somer van 1969 het 'n mev Roos van Parow verby 'n oop erf gestap waar die munisipaliteit besig was om gras te sny. 'n Klip is deur die grassnyer opgeskiet en het mev Roos teen die hand getref en een van haar vingers ernstig beseer.
Die grassnyer was 'n menéér. Dit is deur 'n trekker wat aan die munisipaliteit behoort het, getrek. Die bestuurder was 'n werknemer van die munisipaliteit.
Mev Roos het daarna 'n aksie om skadevergoeding teen die derdepartyversekeraars van die trekker ingestel. In haar dagvaarding het sy aangevoer dat die trekkerbestuurder nalatig was deurdat hy gras met die besondere apparaat gesny het sonder om behoorlike maatreëls te tref om te voorkom dat verbygangers beseer word.
Ten einde met die aksie te kon slaag, moes mev Roos onder meer bewys dat haar besering die gevolg was van die nalatige bestuur van 'n “motorvoertuig”, soos in die destyds geldende derdepartywet bedoel is. En dis waar die knoop gelê het, want terwyl die omskrywing van "motorvoertuig" in die betrokke wet wel 'n trekker ingesluit het, het dit nie ook 'n grassnyer wat deur die trekker getrek is, ingesluit nie.
Mev Roos het gelukkig 'n vindingryke advokaat gehad wat tydens die verhoor namens haar in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn het. Hy het getuies geroep wat bewys gelewer het dat die trekker en die grassnyer eintlik 'n integrale eenheid gevorm het, omdat die snyer aan die werking van die enjin van die trekker gekoppel was. Die spoed van die trekker het die spoed waarteen die snyer gefunksioneer het, bepaal.
Regter Van Winsen, wat die hof se uitspraak[i] gelewer het, was tevrede dat die skade voortgevloei het uit die bestuur van die trekker. Mev Roos was dus oor die eerste en moeilikste hekkie ten einde met haar eis te kon slaag.
Die tweede hekkie waaroor sy moes kom, was om te bewys dat die klip as gevolg van die nalatigheid van die bestuurder van die trekker opgeskiet is. Namens haar het 'n amptenaar van die munisipaliteit getuig dat hoewel daar 'n skerm aan die agterkant van die grassnyer was, die snyer voorheen al 'n klip 50 m ver tot teen die buffer van 'n motorkar geskiet het. Die terrein is ook nie vooraf skoongemaak van klippe, bottels en blikke nie en daar was niemand om verbygangers teen die gevaar van vlieënde voorwerpe te waarsku nie.
Regter Van Winsen was tevrede dat die feite vanself gespreek het, en het skadevergoeding ten bedrae van R1 750 aan mev Roos toegeken. In vandag se geldwaarde sou ek reken dat dit al maklik R40 000 sou kan beloop; selfs dalk méér.
Wat is die relevantheid van hierdie uitspraak vir 2016 se omstandighede? Byna nul, want die omskrywing van "motorvoertuig" in die huidige derdepartywet[ii] is duidelik wyd genoeg om ook so 'n soort grassnyer te dek.
Die volle bewoording van die wet lui soos volg:
"motorvoertuig" enige voertuig wat ontwerp of aangepas is om deur middel van brandstof, gas of elektrisiteit op 'n pad voortbeweeg of getrek te word, met inbegrip van 'n sleepwa, 'n woonwa, 'n landbouwerktuig of enige ander werktuig wat ontwerp of aangepas is om deur so 'n motorvoertuig getrek te word.
Dit sal dus vandag nie meer nodig wees om skerpsinnige argumente aan te voer dat die grassnyer en die trekker eintlik 'n eenheid vorm nie.
Die indien van 'n derdeparty-eis is normaalweg ‘n ingewikkelde proses en daar is heelparty wetsvereistes waaraan voldoen moet word. Dit is beslis nie 'n terrein waarop leke en ongekwalifiseerde mense hulle behoort te begeef nie. Die mense wat hierdie werk die beste kan doen is prokureurs wat in derdeparty-eise spesialiseer. As jy dus onlangs in 'n ongeluk met 'n motorvoertuig beseer is en daardeur skade gely het, gaan spreek gerus ‘n ervare prokureur om jou oor 'n moontlike eis te adviseer.
[i] Roos v AA Mutual Insurance Association Ltd 1974(4) SA 295 (KPA)
[ii] Padongelukfondswet, Wet 56 van 1996
The post Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig” appeared first on LitNet.