- Lees ook: Terugkeer na moedertaalonderrig?
Die afskaling en inderdaad afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan histories Afrikaanse universiteite herinner my aan die onlangse Britse referendum en die besluit om die Europese Unie te verlaat.
'n Dag later het die Britte die ware impak van hul onbesonne besluit besef, nie net op die politiek en die ekonomie nie, maar ook op die rol van die Verenigde Koninkryk in die internasionale wêreld. Dit was 'n besef dat jy nie die spreekwoordelike baba met die badwater kan weggooi en later die water kan probeer herwin nie. So 'n besluit is dan onomkeerbaar tot nadeel van die breë gemeenskap.
Die implikasie van die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan die histories Afrikaanse universiteite is soortgelyk op medium tot lang termyn. Dis 'n besluit wat vorentoe betreur gaan word en waarvan ons die wrange vrugte vir lank nog gaan pluk. Boonop gaan die afskaffing van Afrikaans nie noodwendig lei tot die verbetering van onderriggehalte in ons skole of universiteite nie. Veral swart leerders vaar swak en het 'n enorme agterstand omdat hulle swak presteer in Engels, wat vir hierdie benadeelde groep 'n gedwonge medium van onderrig is.
By die bekendmaking van die toppresteerders in wetenskap en wiskunde deur die Minister van Basiese Onderwys in April vanjaar het dit geblyk dat die Wes-Kaap skoonskip gemaak het by hierdie jaarlikse toekennings vir uitnemendheid in verlede jaar se Nasionale Seniorsertifikaateksamen. Die toekennings is oorhandig aan onderwysdistrikte en skole van dwarsoor die land. Veral in die kategorie vir prestasie in wiskunde en fisiese wetenskap het die Wes-Kaap kop en skouers bo die res van die land uitgestaan.
Die onderwysdistrikte Eden/Karoo, die Kaapse Wynland en die Overberg het die eerste, tweede en derde plek vir prestasie in wiskunde en wetenskap tussen 2012 en 2015 ontvang. Hierdie distrikte en skole is almal in Afrikaanse gemeenskappe geleë, 'n verdere bewys van die voordeel van moedertaalonderrig. Die Minister het dit met groot fanfare aangekondig, maar het skromelik nagelaat om te erken dat hierdie skole funksionele, presterende Afrikaanse skole is, bruin Afrikaanse skole ingesluit, omdat hulle die belang van moedertaalonderrig besef.
Wat die US moet besef, is dat die Wes-Kaap oor die meeste Afrikaanse skole in die land beskik. Daar is 658 Afrikaans enkelmediumskole in die Wes-Kaap, waarvan 457 parallel- en 145 dubbelmediumskole is; die res, 217, is Engels-mediumskole uit ‘n totaal van 1 457 skole. Dit is heel moontlik die rede waarom die Wes-Kaap in die 2015- matriekeksamens die beste gevaar het. Die taaldemografie in die Wes-Kaap regverdig dus die aanvraag na Afrikaans as onderrigtaal aan die US, anders as wat die geval is in die res van die land. Dit is hierdie skole wat jaarliks Afrikaanse studente aan die US kan lewer. Die voorsiening van en toegang tot gehalteonderrig vir alle kinders in Suid-Afrika rus op die skouers van elke individuele skool en universiteit. Die verantwoordelikheid lê by Afrikaanse ouers om daarop aan te dring dat hul kinders in hul moedertaal onderrig word.
My vraag aan histories Afrikaanse universiteite wat Afrikaans afskaal en selfs afskaf is: Het julle hierdie statistiek in ag geneem voordat julle drastiese besluite oor die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal geneem het? Dit wil voorkom asof hierdie kortsigtige besluite, wat nie die breër Afrikaanse gemeenskap dien nie, hoofsaaklik polities-ideologies of heel moontlik besigheidsgedrewe was.
Om Afrikaans op alle kampusse af te skaf en Engels die verstektaal te maak, werk nie transformasie in die hand nie. Dit beteken slegs dat daardie studente wat van huis uit Engels is, die grootste voordeel trek. Taal is een van ons land se grootste bates. Ons moet dit aanwend om van Suid-Afrika 'n wenland te maak, 'n baken van hoop op die vasteland van Afrika.
Die Suid-Afrikaanse onderwysowerhede, of dit nou hoër of basiese onderwys is, moet ophou om met onderwys te eksperimenteer ten koste van leerders/studente. Uitkomsgebaseerde onderwys was so 'n eksperiment wat klaaglik misluk het en duisende kinders skade berokken het. Ons kan nie bekostig om voort te gaan op hierdie trant waar besluite polities-ideologies gedryf word in plaas van op grond van suiwer opvoedkundige oorwegings nie. Nog so 'n eksperiment is dat die staat mediese studente teen groot onkoste na Kuba stuur vir opleiding. Die eerste studiejaar word bestee om Spaans onder die knie te kry, waarna die werklike studie 'n aanvang neem. Is dit ook ‘n eksperiment wat die staat oor 'n jaar of drie sal moet staak?
Suid-Afrikaanse universiteite vaar swak op internasionale ranglyste. Ons sal iets drasties moet doen om ons basiese onderwys te verbeter sodat ons universiteite daardeur versterk kan word. Ons kan nie bekostig om ons kinders weer te faal nie. Ons moet die eksperiment van Engels-eentaligheid aan ons skole en universiteite stopsit voordat ons deur die gevolge van onbesonne en onomkeerbare taalbesluite getref word.
Danie van Wyk
Bestuurder: Wes-Kaap
Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
The post "Brexit" van Afrikaans kan studente en skoliere laat onderpresteer appeared first on LitNet.