Op 16 Augustus 2016 is joernaliste bekroon vir uitmuntende joernalistiek. Die Homo naledi-pakket, wat Elsabé Brits van Die Burger en Gys Visser en Debrée Kluge van Netwerk24 saamgestel het, het die toekenning ontvang vir die beste multiplatform-pakket.
Naomi Meyer het met elkeen van die drie joernaliste gesels oor hul onderskeie rolle in die skep van 'n bekroonde artikel.
Elsabé Brits
Elsabé, jy het die navorsing gedoen en die artikel geskryf wat bekroon is. Vertel ons lesers die agtergrond hiervan. En ook van jou navorsing.
"Online at exactly 11:00 when the embargo broke!"
Die oomblik toe Lee Berger op Donderdag 9 September 2015, om 11:00 die nuus aankondig oor Homo naledi die oggend by die Wieg van die Mensdom, Maropeng, het ons pakket (stories, foto’s, interaktiewe grafika en video’s) op Netwerk24 aanlyn gegaan. Dit danksy laatnag-joernalistiek, “embargoed” materiaal en onderhoude wat ek voor die tyd gevoer het.
Maar wat my materiaal uniek gemaak het, was dat dit in Afrikaans geskryf is, en ek baie daarvan moes vertaal in wetenskaplik akkurate taal – ek kon nie, soos die meeste van die Engelse media, net die mediapakket van Wits “cut & paste” nie.
Vertel my van daardie paar dae waartydens die storie geskryf is?
‘n Baie klein groepie van sowat 15 joernaliste is deur Wits genooi om die Maandag na Wits te kom om “belangrike nuus van die Rising Star-grot” te hoor. Ek het van die Kaap soontoe gevlieg. (Die Burger het ‘n baie streng begroting en ek moes motiveer om te gaan. Ek is ook opdrag gegee om ánder stories te doen terwyl ek daar is.) Ons het nie geweet wat die nuus behels nie. Honderde ander mediamense is later net vir die aankondiging die Donderdag (drie dae later) uitgenooi.
Die Maandag is al die fossiele in ‘n kluis aan ons gewys. Ek is ‘n wetenskapjoernalis en het besef die nuus gaan internasionaal opspraak maak! Wits het ons daarna na die grot geneem en ons kon al die onderhoude doen. Die resultate was verstommend. Voor die tyd het ek nie geweet dit gaan sulke groot nuus wees nie, en het ‘n vol program en week se werk vir my in Johannesburg (ek is in Kaapstad gebaseer) geboek. Die Maandagaand – nadat ons die hele dag by Wits en die grot was – het ek besef hoe groot dit is en dat ons iets baie meer aanlyn moet aanbied as net ‘n storie en foto’s.
Ek het Netwerk24 en Die Burger gekontak en ‘n plan voorgelê: baie foto’s, stories, twiets, interaktiewe grafika en video’s.
Was daar probleme ook?
Toe ek die Maandagaand wil begin werk en materiaal van Wits in my Dropbox in die hotel by Maropeng wou begin aflaai, het die probleem begin: dit het vier uur lank geneem om 200 GB af te laai. Die internetsein was ook te swak – ek kon nie met die koerant se netwerk kontak maak nie. Laat Maandagaand het ek my raamwerk deurgestuur.
Dinsdagoggend is ek terug na Wits om die beplande diepte-onderhoud met Lee Berger te doen, soos ek vir BY belowe het, en nóg ‘n afspraak na te kom. Ek het so gejaag om terug te kom ek het ‘n spoedboete van R1 000 gekry (vir my eie rekening).
- Ek het die aand en nag die foto’s wat ek self geneem het, asook dié van Wits, deurgestuur vir die interaktiewe grafika en die inligting om dit te bou.
- National Geographic het intussen foto’s aangebied, maar met ‘n lang lys voorwaardes vir gebruik. Dié het ek aan die koerante deurgestuur. Ek het van dit gekies.
- Omdat ek nie op kantoor was nie, kon ek nie aanmeld op die aanlyn woordeboek nie en moes al die wetenskaplike vertalings uit my kop doen.
- Al die foto’s het ek individueel aan die Netwerk24-span deurgestuur, asook die onderskrifte.
Woensdag was ek die hele dag by die Maropeng-opgrawingsterrein en by Sterkfontein, vir ánder stories, omdat ek vooraf gereël het om dit te doen. Die plan om die hele nuwe miniwebtuiste met die brekende nuus vir Netwerk24 te doen het ontstaan eers toe ek gehoor het wát die nuus is. Die aand het ek tot lank na middernag gewerk om al die stories en feitekassies gereed te kry vir die volgende dag.
Die videomateriaal van Wits is laat die aand deurgestuur. Hulle het solank die stories gesub en “gelaai”, maar dit was alles onder embargo. Die stories was geskryf ek moes net aanhalings byvoeg.
Maandag, Dinsdag en Woensdag het ek van 06:00 tot na middernag gewerk.
Donderdag: Vroeg die oggend het ons ‘n video gemaak en ek het deur die warboel van honderde joernaliste gereël om ‘n opname te maak met van die kenners kort na die aankondiging.
Brekende nuus! Presies om 11:00 toe Lee Berger begin praat het, en die embargo verby is, was die hele pakket aanlyn. Ons lesers kon dadelik alles van die vonds aanlyn lees. Twee dae se na-ure werk was onmiddellik beskikbaar omdat ons vooruit gedink het. Indringende verslaggewing dadelik beskikbaar terwyl dit gebeur. Alles was eerste aanlyn.
Twiets: Dit was baie moeilik om twiets te stuur met my foon en rekenaar. Die sein was baie swak en daar was honderde verbruikers. Maar daar kon darem heelwat deurkom. Debrée het ook getwiet.
Gedrukte media: Die res van die dag is gespandeer om vir Die Burger, Volksblad en Beeld ander berigte te skryf wat verskil van dié wat aanlyn is. Daar is die vertolking van die harde nuus. “Human interest”-berigte met foto’s, asook feitekassies en nóg nuwe foto’s met onderskrifte is aangestuur na die drie koerante. Dit is gedoen met dieselfde pynlik stadige internetverbinding. Teen 18:00 die aand was alles by die koerante.
Hier is 'n skakel na die uiteindelike artikel.
Debrée Kluge
Debrée, jy het video's geredigeer – is ek reg? Hoe het jy dit gedoen en wat was jou rol by die saamstel van hierdie pakket?
'n Paar van die video's het ons voor die tyd geredigeer en Gys kon vooraf beplan hoe hy dit op die blad wou gebruik. Op die dag van die onthulling was die meeste van die werk reeds gedoen. Die oomblik wat die embargo gelig is, het ons live gegaan met die spesiale projek. Op die dag van die onthulling het ek party van die video's met my selfoon geskiet en aan die kantoor gestuur om te redigeer. Die res van die video's is op my kamera geskiet en ons het na die tyd so vinnig as moontlik terug kantoor toe gery om die laaste video's te maak. Ek dink nie ek het dit juis anders as enige ander storie benader nie.
Gys Visser
Gys, ons leef in 'n joernalistieke era waartydens alles onmiddelliker as onmiddellik is. Was dit vir jou 'n uitdaging terwyl jy by die saamstel van hierdie pakket betrokke was?
Om die aanbieding van een van die jaar se grootste stories in ‘n paar uur te konseptualiseer en uit te lê plaas jou natuurlik onder groot druk wat tyd en kwaliteit aanbetref. So vir my gaan dit tot 'n groot mate oor hoe jy daai druk verwerk, want jy het heelwat mense wat oor jou skouer loer en ook hul eie insette gee, en dit het uiteindelik 'n groot impak op die projek.
My werkwyse is as volg: Gewoonlik sal ek eerste ‘n paar sterk foto’s kies en in plek sit sodat die verslag struktuur kan kry en indien moontlik solank vir hulle opskrifte skryf (want dit vat gewoonlik langer as wat jy dink). Daarna die teks deeglik deurlees sodat ek weet waarmee ek werk en besluit waar goeie plekke is om dit te breek. Daarna geld die basiese reëls van uitleg. Jy gebruik visuele elemente (soos foto’s, grafika, video, slim koppe en kragtige aanhalings) om die leser in te trek. Daarna moet jy hulle soos wegwysers aanwend dat jy jou leser op ‘n reis deur die verslag neem en verseker dat veral foto’s, video’s en grafika die teks verryk maar nooit blok nie.
Ek is baie dankbaar vir die goeie kommunikasie wat geheers het in ons span en die uitstekende gehalte van verslaggewing wat Elsabé en Debrée verskaf het – sonder dit sou daar geen spesiale verslag gewees het nie.
Kan jy sien of die stories wat julle skryf ook jul lesers se aandag hou – en hoe?
Die koms van analitiese sagteware het natuurlik die wyse waarop op ons stories aanlyn aanbied vir ewig verander. Met Chartbeat kon ek byvoorbeeld oor tyd monitor hoe lank die meeste lesers op so ‘n verslag spandeer en tot waar hulle lees. So my groot doel is om te probeer verseker dat die leser verder “vorder” in so ‘n verslag as wat hy of sy tipies doen. Om daai rede poog ek om 'n soomlose lees-kyk-ervaring te skep deur al die komponente daarin so te rangskik dat ‘n leser al die stories van voor tot agter wil deurlees en terselfdertyd te verseker dat elke stuk media daarbinne tot sy reg kom. In kort: dat die teks, foto's, video’s en interaktiewe grafika nie kompeteer vir die leser se aandag nie maar dat hulle mekaar eerder komplementeer.
Wat was vir jou lekker van hierdie storie?
Ek dink een van die interessantste goed vir my van hierdie storie is die metode daaragter. Dit getuig van die wonderlike geleenthede in joernalistiek wat die digitale revolusie moontlik gemaak het.
Die aangaande digitalisering van nuus ontlok heelwat negatiewe sentiment weens die ontwrigtende impak wat dit op die ou sakemodel het. En alhoewel ek dit verstaan, is dit vir my weer ‘n baie opwindende tyd. Ons sit met tegnologie aan ons vingerpunte wat toelaat dat ‘n handjievol mense ‘n multiplatformstorie in ‘n paar uur kan skep, sub, saamstel en publiseer – soveel so dat dit ‘n prys wen. Dit is iets wat jy nooit kon doen in die dae van slegs drukmedia nie en dit maak my opgewonde om ‘n joernalis in 2016 te kan wees.
The post 'n Toekenning vir multimedia-Homo naledi appeared first on LitNet.